Die Afrikaanse Taalraad se Kokertoekennings is onlangs toegeken. Lees 'n oorsig van die geleentheid:
Hier is die motiverings wat ontvang is vir diegene aan wie die toekennings gemaak is. Die motiverings geskied anoniem:
Kategorie Bemagtig: Shamiega Chaudari, Department Afrikaans, Universiteit van Fort Hare
Hiermee benoem ek graag Shamiega Chaudhari vir die Kokertoekenning 2019, kategorie, Bemagtiging van Afrikaans. Chaudhari is verbonde aan die Afrikaansdepartement by die Universiteit van Fort Hare en die afgelope twee jaar as departementshoof. In haar werk by die departement en ook as navorser lewer sy ’n bydrae tot die bemagtiging en uitbou van Afrikaans op veral drie terreine. Die eerste terrein is in haar besondere ingesteldheid op die leerinhoud van die vakgebied, die oordrag daarvan aan studente en veral haar onvermoeide ywer om studente aan te moedig en toegang te gee tot die studie van Afrikaans in ’n oorwegend Engelse omgewing. Sy inisieer gereeld besoeke by skole waar leerders van Afrikaans vertel en aangemoedig word om ná skool Afrikaans as hul studierigting te kies. Ook op die gebied van haar navorsing lewer Chaudhari ’n besondere bydrae. Een van die fokusareas van haar navorsing is die Geskiedenis van Afrikaans, en by die Afrikaansdepartement by Fort Hare is ons trots daarop om meer as ’n dekade lank reeds die inklussiewe historiese feite oor die oorsprong van Afrikaans aan ons studente oor te dra, moontlik gemaak deur die passie en kundigheid van Chaudhari. Hierdeur word Afrikaans in al sy vorme en variante bemagtig en word die studente, dikwels uit bruin gemeenskappe, ook bemagtig deur tot die besef te kom dat hulle inklussief deel is van die oorsprong van Afrikaans. In haar doktorale tesis het Chaudhari ondersoek ingestel na die swye van die slavin soos uitgebeeld in geselekteerde literêre tekste, en die tesis self, sowel as die artikels wat uit hierdie navorsing voortspruit, lewer ’n besondere bydrae tot ’n onderwerp wat grootliks oorgesien is. Deur ondersoek in te stel na die stem van die dubbelgemarginaliseerde slavinkarakters, gemarginaliseer beide deur ras en geslag, het Chaudhari nuwe kennis en insig gebring oor ’n onderwerp wat tot nog toe nie op so ’n omvattende wyse in Afrikaans aandag ontvang het nie. Hierdie navorsing kan by uitstek gesien word as ’n bemagtiging van Afrikaans en stem gee aan dié wie se stemme stilgemaak is in die verlede. Chaudhari is ook betrokke by ’n voorgenome projek wat daarop gemik is om op ’n unieke en multidissiplinêre wyse stem te gee aan Afrikaanse vroue uit die bruin-gemeenskap. Hierdie projek word aangepak deur die akademici van twee universiteite, Universiteit Stellenbosch en Universiteit van Fort Hare, in samewerking met skrywers soos Diana Ferrus. Die derde bydrae waarop ek graag wil fokus, is die gemeenskapsbydrae wat deur Chaudhari gemaak word deur haar betrokkenheid by PANSALB waar sy in ’n adviserende hoedanigheid by die Provinsiale Taalkomitee (PLC) betrokke is. In haar hoedanigheid as lid van die Taalkomitee word die volgende verwag: Om die gebruik van aangewese tale deur die provinsiale regering te monitor; om aanbevelings te maak aan die LUR (Lid van Uitvoerend Raad) , die wetgewer en plaaslike owerhede in die provinsie ten opsigte van enige voorgestelde of bestaande wetgewing, praktyk of beleid wat direk of indirek die hantering van taalsake beïnvloed; moet die beginsel van meertaligheid bevorder; moet die voorheen gemarginaliseerde inheemse tale bevorder; moet die LUR adviseer oor enige ander taalaangeleenthede in of rakende die provinsie. Uit bogenoemde vereistes is dit duidelik dat deur dr. Chaudhari se verkiesing op hierdie raad, daar op provinsiale vlak groot vertroue in haar leierskap rakende Afrikaans en multitaligheid in die provinsie gestel word. Ek nominieer dr Chaudhari omdat ek glo dat sy aan al die vereistes voldoen om die gesogte Kokertoekenning te ontvang. Sy het duidelik in die verlede reeds haar merk gemaak, en ek glo dat sy ook in die toekoms sal voortgaan om ’n besondere bydrae tot die bemagtiging van Afrikaans as taal vir alle Afrikaanssprekendes te lewer.
Kategorie Bevorder: Ingrid Glorie, vryskut vir Zuid-Afrika Huis
Vir die mense wat in die Lae Lande kom en iets met Afrikaans te doen het, het Ingrid Glorie geen bekendstelling nodig nie. Ingrid is sinoniem met die bande bou tussen die Lae Lande (spesifiek Nederland) en Suid-Afrika. Motivering: Ingrid se kennis van Suid-Afrika, die Suid-Afrikaanse letterkunde (spesifiek Afrikaans) en taallandskap, maak haar ’n ongelooflike ambassadeur van Afrikaans in die Lae Lande. Sy praat nie net oor Afrikaans nie, maar sy is veral ’n doener en sy neem leiding (vandaar haar bynaam hoofmeisie!). Haar doenwerk vir Afrikaans in die Lae Lande: • Vertaalwerk van Afrikaans na Nederlands, onder aandere, Magersfontein (Etienne le Roux), ’n bundel verhale van Herman Wasserman, een van die Deon Meyerverhale, Kerneels Breytenbach se boek Offerland uit die TV-reeks geskryf deur Deon Opperman, twee boeke van SD Fourie, Simon Bruinders se boek (Die Sideboard). • Haar joernalistieke werk vir die Zuid-Afrikahuis (ZAH) in Maandblad Zuid-Afrika https://www.litnet.co.za/ingrid-se-glorie-imaandblad-zuid-afrikai/ (dit is nou die Zuid-Afrika Spectrum) en in Voertaal https://voertaal.nu/over-voertaal/ o Zuid-Afrika Spectrum https://www.zuidafrikahuis.nl/zuid-afrika-spectrum • Afrikaanse kultuuraktiwiteite (ZAH) o Festival voor het Afrikaans saam met Isabelle Vermeij (2018) https://www.festivalvoorhetafrikaans.nl/, Week van de Afrikaanse Roman (2014, 2016, 2017, 2019) http://www.weekvandeafrikaanseroman.nl/. Sy het saam met Corine de Meyer die leeskring by die Zuid-Afrikahuis op die been gebring. Sy is ’n vryskut is en nie formeel verbonde is aan die ZAH nie, maar haar hele wentel om die bevordering van Afrikaans en om die inklusiewe gesig van Afrikaans in die Lae Lande te wys. Sy doen dit alles sonder die beskerming van ’n vaste betrekking en dit verdien erkenning.
Kategorie Beskerm: Frank Hendricks, Universiteit van Wes-Kaapland
Frank Sylvester Hendricks het sy professionele loopbaan in 1976 aan die Opleidingskollege Hewat begin, waarna hy sedert 1979 verbonde was as dosent in die Afrikaanse taalkunde by die Universiteit van Wes-Kapland. Sy akademiese loopbaan in die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van Wes-Kaapland strek oor ’n periode van 38 jaar waartydens hy betekenisvolle en rigtinggewende bydraes tot die taalkundige verrekening van veral histories gemarginaliseerde spreektaalvariëteite, spesifiek dan Kaapse Afrikaans, gemaak het. Met sy MA-studie in 1978 waarin hy ʼn sinchronies-diachroniese studie onderneem het na die taalgebruik in Adam Small se drama Kanna hy kô hystoe het hy ondersoeke na Kaapse Afrikaans ingelui en op die voorgrond geplaas veral in ’n tyd toe hierdie tipe dialektiese navorsing dikwels nie na waarde geskat is nie. Hierdie deeglike talige uiteensetting van verskynsels in Kaapse Afrikaans het as deskriptiewe model gedien vir verskeie ondersoeke na die spreektaalvariëteite van Afrikaans en kan met reg as ’n seminale werk oor Kaapse Afrikaans gereken word. Frank Hendricks het, as taalkundige, ’n bemoeienis gemaak met Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans en dit reg gekry om hierdie voorheen gestigmatiseerde en gemarginaliseerde variëteite as ondersoektemas op die voorgrond te hou. As sodanig het sy bydraes gedien as belangrike basisstudies vir verdere wetenskaplike (vergelykende) studies na hierdie spreektaalvariëteite. Hy lewer met sy bydraes oor Kaaps en Oranjerivierafrikaans nie net ’n waardevolle akademiese bydrae tot die terrein van die dialektologie en sosiolinguistiek in Afrikaans nie, maar bied ook met sy gelykevlakbenadering tot taalverskeidenheid ’n nodige teoreties-gefundeerde perspektief op die diskoers oor die herstandaardisering van Afrikaans. Die navorsingsbydraes van Hendricks het in resente jare ’n meer aktivistiese dimensie bygekry. In resente hoofstukbydraes soos “Die potensiële nut van ’n gelykevlakperspektief op die variëteite van Afrikaans” in die publikasie Veelkantiger Afrikaans: Streeksvariëteite in die standaardvorming (2012) en “Die aard en konteks van Kaaps: ʼn Hedendaagse, verledetydse en toekomsperspektief” in die publikasie Kaaps in Fokus (2016) lewer hy skerp kommentaar oor die marginalisering van Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans en beywer hom daarvoor dat hierdie variëteite as gelykwaardige kommunikasiekodes bejeën moet word en dus bevry behoort te word van hul staat van gemarginaliseerdheid en gestigmatiseerdheid. Hy moedig ’n bepaalde soort taalaktivisme aan deurdat hierdie variëteite bewustelik gebruik moet word in openbare domeine wat tradisioneel met Standaardafrikaans geassosieer word. Hy beywer hom voorts sterk vir die herstandaardisering van Afrikaans waarin Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans na behore verantwoord word. Sy bemoeienis dat gemarginaliseerde variëteite groter erkenning moet geniet, kan as ’n direkte gevolg gesien word dat hy vanaf 2010 lid word van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat gemoeid is met die standaardisering van Afrikaans. Met die verskyning van die jongste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (2017) is toenemende insluiting van leksikale items uit Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans (asook ander omgangsvariëteite) opmerklik, en die bydrae en invloed van Frank Hendricks (as ondervoorsitter van die Taalkommissie) is hier duidelik waarneembaar. Frank Hendricks het sy akademiese loopbaan afgesluit soos hy dit begin het, deur ’n verdere seminale publikasie oor Kaaps die lig te laat sien. Die akademiese publikasie Kaaps in Fokus (2016) was die resultaat van sy pogings om ’n simposium te reël wat uitsluitlik op Kaaps sou fokus, en wat daarop toegespits sou wees om die waardigheid van Kaaps en sy sprekers te aksentueer. Die publikasie Kaaps in Fokus (onder redaksie van Frank Hendricks en Charlyn Dyers) is daarop gerig om negatiewe persepsies oor Kaaps te bestry en die variëteit te bevry van sodanige persepsies. Die publikasie Kaaps in Fokus is onlangs bekroon met die C.L. Engelbrecht-prys vir Afrikaanse Taalkunde deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Frank Hendricks het hom tydens sy akademiese loopbaan daartoe verbind om voorheen gemarginaliseerde variëteite van Afrikaans, spesifiek Kaapse Afrikaans, deel van die akademiese diskoers te hou. Hy lewer betekenisvolle en gewaardeerde bydraes tot die terrein van die sosiolinguistiek, naamkunde, sintaksis en ortografiese normering, waarvan sy jongste bundel essays “Taalkundige opstelle: ʼn Gerf uit die vroegskemer” (2017) ’n goeie oorsig bied van die veelsydigheid van Hendricks as taalkundige. Hendricks het met sy navorsing na die literêre refleksie van veral Kaapse Afrikaans asook Oranjerivierafrikaans die weg gebaan vir verdere navorsing deur ‘n nuwe geslag navorsers. Ek nomineer Frank Hendricks vir die spesiale kokertoekenning vir lewenslange bydrae tot Afrikaans en veral vir sy navorsingsbydraes oor vier dekades heen waarin hy veral instrumenteel was dat Kaapse Afrikaans deel gebly het van die Afrikaanse sosiolinguistiese landskap.
Kategorie Jeugtoekenning: William Sezoe, New Orleans Sekondêr
William Sezoe in graad 12 het’n groot liefde vir Afrikaans. Hy praat nie net nie; hy doen dinge. Hy het verlede jaar as skaam en skugter leerder by ons skool begin en het by die skoolkoerant ’n liefde vir Afrikaans ontwikkel. Deur die skoolkoerant het hy met die radio kennis gemaak en was ontsteld dat die radio grotendeels in Engels is. Hy en twee ander lede het die radiostasie oorreed om ’n Afrikaanse program te begin. Hulle was ’n tydgleuf gegee en hul progam Afrikaans is Tops het ontstaan . Hulle is elke Maandagaand op radio en laat Afrikaans daar LEEF. Hy het in onderhoude jongmense daarvan bewus gemaak dat jongmense Afrikaans kan LEEF en dat dit glad nie vervelig was nie. Hy het oor Afrikaans geskryf en die Taalmuseum se Skerpskryfkuns wat toevallig ook oor Afrikaans gegaan het gewen .Hy neem deel aan die Historium en Wow-debatte. Hy het deelgeneem aan Afrikaans.com-kompetisie en het elke keer leerders saam met hom getrek. Hy was betrokke by die stigting van die ATKV -jeugtak by ons skool. Vanjaar was William ’n spreker by die ATR se jeugberaad. Hy word gereeld genooi vir onderhoude oor Afrikaans en hy doen dit baie goed. Hy het ook ‘n onderhoud op RSG met Arehan Brand oor Afrikaans gevoer en glo my ’n hele paar dissipels gewen. Hy het geskryf oor Afrikaans vir Eikestadnuus en Paarl Post. Hy was een van 4 wat as ambassadeur vir Afrikaans.com ’n video moes maak oor sy liefde vir Afrikaans. As daar nou een mens is in wie se hande Afrikaans veilig is, is dit syne.As daar een mens is wat sy moue oprol en werk vir Afrikaans, is dit William Sezoe. Hy het ons oortuig dat daar ’n plek in Afrikaans is vir jong bruinmense.
Kategorie Jeugtoekenning: Renaldo Schwarp, Media
Renaldo Schwarp is ’n energieke radio-omroeper, TV-aanbieder en vervaardiger wat sedert sy kampusdae sy merk in die Afrikaans medialandskap maak. Op 27 het hy reeds ’n omvangryke nalentskap in die media. Renaldo is tans ’n omroeper by Jacaranda FM en is veldaanbieder op KLOP!, kykNET & Kie se jongste aktualiteitsprogram. Dit is veral sy onlangse Afrikaanse dokumentêr, SKEEF wat talle Suid-Afrikaners - oud en jonk - inspireer en bemagtig om hul waarheid (in Afrikaan) uit te leef. Die dokumentêr se première was vanjaar op die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad. SKEEF plaas ’n soeklig op LGBTI+ kwessies in die Afrikaanse gemeenskap. Met SKEEF het Renaldo ’n geleentheid gebied vir versweë LGBTI+-stemme oor ’n breë spektrum heen – onder meer bekendes soos, Marc Lottering, Joe Foster, en Charl-Johan Lingenfelder – om gehoor te word oor die realiteite van LGBTI+ en Afrikaans wees. Die dokumentêr maak later in 2019 sy Amerikaanse debuut op die Palm Springs LGBTQ Film Festival. Die Afrikaanse dokumentêr word as “nadenked”, ’n “opvoedkundige instrument” en ’n “moet-sien vir alle Afrikaners” beskryf. Renaldo is ook vanjaar deur Mail and Guardian as een van die invloedrykste 200 jong SuidAfrikaners aangewys. Hy is benoem in die ‘Vermaak en Kunste’-kategorie, en is, onder andere, vereer vir sy grondverskuiwende werk op SKEEF. Hy is die enigste Afrikaanse benoemdes in die kategorie. Sy belangstelling vir Afrikaanse vermaak en uitsaaiwese het tydens sy skooljare by die ATKV-Tienertoneel en -Redenaarskompetisies begin: as toneelspeler, individuele- en spanredenaar vir Hoërskool Centurion. Renaldo het in 2012 sy Drama en Teaterstudie-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf. In sy finale studiejaar het Renaldo begin uitsaai by MFM 92.6, US se kampus-radiostasie. In 2015 sluit hy by Kaapse radiostasie, SMILE 90.4 FM aan, en die daaropvolgende jaar maak hy sy debuut op die kassie as vervaardiger en aanbieder van ‘n weeklikse Afrikaanse vermaaknuusprogram op VIA. Sedertien, verseker Renaldo dat hy, deur sy werk op die kassie en op lug, nie net in Afrikaans werk en leef nie, maar dat hy talle ander ook hierdeur bemagtig. Meeste in die mediawêreld werk baie keer in ’n Engelse omgewing, maar die verbintenis met sy moedertaal, Afrikaans, bly sterk en onbreekbaar vir Renaldo.
Kategorie Jeugtoekenning: Bemagtig, Lara Erasmus en Jolene Potgieter (Gesamentlik genomineer), Reis Afrikaans
Beste Marekyn, Conrad en Kokers-beoordelingspaneel, Dit is met graagte dat ek Lara Erasmus en Jolene Potgieter (albei tans 25 jaar oud) wat in 2017 die beweging Reis Afrikaans begin het, vir ’n Jeugtoekenning in die kategorie Bemagtiging in Afrikaans wil nomineer. Reis Afrikaans is in 2017 gestig met die doel om Afrikaanse avonturiere te bemagtig en te verbind. Die volgende kopie verskyn op Reis Afrikaans se webtuiste, en is deur die stigters self geskryf: Die demografie van die moderne Afrikaner is aan die verander. Ons het grootgeword, en die wêreld klein. Daarmee saam het die destydse hunkering na trou en nes-skrop verander na ’n lus vir reis en vlerksprei. Reis Afrikaans is dus in Januarie 2017 gestig met die doel om Afrikaanse reisigers te bemagtig en te verbind. Die projek word gelei deur Jolene Potgieter en Lara Erasmus, en skryf tans uit talle verskillende lande .Ons kom agter die kap van die byl wat visa's, begrotings en meer aanbetref, en werk saam met ander Afrikaanse reisigers om die grootste hoeveelheid moontlikhede aan jou te bring. Ons is ook geweldig lief vir Suid-Afrika. In 2017 was ons amptelike ambassadeurs vir VIA-televisie se WMJ-veldtog. Ons het ook 'n staande verbintenis met Afrikaans.com. Ek is van mening dat Reis Afrikaans (dus Lara en Jolene) Afrikaanssprekendes bemagtig, veral diegene wat belangstel om in die buiteland te gaan woon en veral werk. Wanneer ’n mens so iets wil aanpak, is dit baie oorweldigend. Ek weet omdat ek self vir byna drie jaar in Engeland gebly het. Reis Afrikaans skep egter ‘n platform vanwaar persone maklik en met gemoedsrus die proses in hul eie taal aan die gang kan sit en kan deurvoer. Oor die afgelope twee bestaansjare, het Lara en Jolene versamel aan die sogenoemde Republiek van Afrikaanse Reisigers wat gesaam met Lara en Jolene persone bemagtig om die volgende dinge in die buiteland te kan gaan doen: studeer, op skepe werk, au pair, Engels gee, perdry lesse gee, by Disney World werk en by die somerkampe in die VSA te gaan werk. Hierdie bemagtiging word deur middel van artikels op hulle webtuiste en sosiale media-platforms gedryf. In die geval van Disney World en die somerkampe, skakel belanghebbendes deur tot maatskappye wat hulle stap vir stap lei deur die proses om uiteindelik van hierdie reisdroom ’n werklikheid te maak. Lara en Jolene het ook onlangs direkte ooreenkomste met skole in China en Korea aangegaan, en kan daarom direkte bemagtiging bied wanneer dit by Engels gee in die buiteland kom. Volledige inligtingspakkete vir China en Korea is op hul webtuiste beskikbaar. Namate ’n persoon aansoek doen, word hul stap vir stap deur die proses begelei. Bemagtiging vind laastens plaas in direkte navrae wat per epos ontvang word – wanneer ’n persoon byvoorbeeld meer oor Disney wil weet as wat aanlyn of in die artikel beskikbaar is, word elke navraag persoonlik per e-pos hanteer. Breër as die inligting en bemagtiging rakende werk oorsee, is die Reis Afrikaans-platform ook ’n heerlike bron van inligting en idees vir elke persoon met swerflus in hul harte. Op die webtuiste is daar ook artikels rakende reis-idees en reisplanne vir bestemmings waarvan die Reis Republiek kennis dra. Lara en Jolene het oor die afgelope twee (amper drie) jaar hul aanlyn-Facebook-gehoor tot ’n volgtal van meer as 10 000 persone uitgebrei. Hulle het gebou aan ’n projek waarop hul kan trots wees en bemagtig persone van alle ouederdomme op ’n baie praktiese vlak. Hierdie tipe bemagtiging is ook broodnodig en uiters uniek, veral vir jong mense. Ek glo dat hul uitstekende kandidate is vir die kategorie waarin ons hul nomineer. kan gerus na die volgende gaan kyk: Reis Afrikaans Facebook - https://www.facebook.com/reisafrikaans/ Reis Afrikaans web - https://www.reisafrikaans.com/ Reis Afrikaans Engels oorsee info - https://docs.wixstatic.com/ugd/17eb1a_7822fcd157644f6791be87dab42d1e96.pdf https://docs.wixstatic.com/ugd/17eb1a_5f535b367f2a40208d215bdc065fff81.pdf CV templaat– aflaaibaar op hul webtuiste beskikbaar. Artikels : (veel meer aanlyn op Reis Afrikaans – Ontdek) https://www.reisafrikaans.com/drie-dae-in-parys?fbclid=IwAR15SBaf6RcQhp1H7LgkkQ6O9tu8qf2uADF86iAN45YN-z7nhFmaoV7Rlg https://www.reisafrikaans.com/verken-doha-in-vyfdae?fbclid=IwAR01nREEvzo1gdFcMSZ49v3U1mZsEz7o5ZHKQAzn9P08o_J30M033jPZCys Met dank vir u oorweging en dankbaarheid vir die heerlike Kokergeleentheid!
Kategorie Lewenslange bydrae: Marinus Wiechers, UNISA
Die oogmerk van hierdie skets is om aan te toon dat die Afrikaanse Taalraad ’n betroubare en waardige besluit sal neem indien die raad ’n Koker – vir die lewenslange bydrae om Afrikaans te bevorder – na-doods aan Marinus Wiechers toeken. Vervleg met sy uitsonderlike loopbaan as regsgeleerde, dra hy jare lank voortreflik by tot die ontwikkeling en beskerming van sy moedertaal. Marinus Wiechers – 14 Oktober 1937 tot 31 Augustus 2018 – matrikuleer in Pretoria, aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, en verwerf ’n LLD aan die Universiteit van Pretoria. In 1966 word hy ’n professor in Staatsreg en Volkereg aan die Universiteit van Suid-Afrika, terwyl hy verder studeer in Frankryk, die VSA, Duitsland, Engeland en Spanje. In 1970 en 1971 verteenwoordig hy Suid-Afrika in sake oor Suidwes-Afrika/Namibië voor die Wêreldhof. Hy werk mee aan die opstel van grondwette vir Bophuthatswana en Ciskei. Reeds vanaf 1965 slaan hy nuwe konseptuele weë in deur, met behulp van die Duitse en Franse reg, ’n Afrikaanse regsraamwerk te formuleer met sy doktorale proefskrif "Die sistematiek van die administratiefreg". In 1973 verskyn sy magnus opus, Administratiefreg, wat vanaf 1985 ook in Engels gepubliseer word. Hiermee ontwikkel hy Afrikaans verder as wetenskaptaal vir die werking van die regstaat, wat ná 1994 al hoe belangriker sal word. Afrikaanse vaktaal gee nog ’n stap vorentoe met sy publisering in 1981 van die derde uitgawe van Johan Verloren van Themaat se standaardwerk Staatsreg. Uit sy pen verskyn terselfdertyd rigtinggewende tydskrifartikels oor die Suid-Afrikaanse Administratiefreg, Staatsreg en die Volkereg. In sy Afrikaanse bundel opstelle, ’n Politieke idiotikon vir Suid-Afrika, ontleed Marinus Wiechers in 1988 die 35 kernbegrippe in die debat oor vooruitgang in die land, waaronder apartheid, etnisiteit, groepregte, kapitalisme, leierskap, menseregte, selfbeskikking, staatsveiligheid en toekomsvisie. As een van die streek se mees vooraanstaande grondwetkenners, dra hy in 1989 en 1990 by om ’n grondwet vir Namibië op te stel, en tussen 1991 en 1993, om ’n nuwe tussentydse grondwet vir Suid-Afrika te ontwerp. Met die stormagtige en uitdagende geboorte van ’n nuwe bedeling in 1994, word Marinus Wiechers aangestel as rektor van die Universiteit van Suid-Afrika, waar sy termyn tot 1997 duur. Beïndruk met sy geniale r/egsbrein, gee kundiges in 1998 erkenning aan hom deur die publisering van 'n bundel met die gepaste titel: Suprema lex: Essays in honour of Marinus Wiechers. N sy aftrede neem hy musieklesse, skilder en woon byeenkomste by aan die Huis van Afrikaanse Poësie. Voorts, terwyl die openbare lewe in die nuwe bedeling die stem van Afrikaanssprekendes toenemend marginaliseer, word hy al meer prominent as 'n Afrikaanse denker. In ’n besprekingsdokument, in April 2010, voer hy aan dat waar, voor 1994, Afrikaanssprekendes dit dikwels aan die staat oorgelaat het om hulle taal te handhaaf, dit nou die taak is van Afrikaanse organisasies om "daadwerklik op te tree om binne die raamwerk van die grondwet hul regte op hul taal en kultuur op te eis en af te dwing". In ’n referaat in Oktober 2005, waarop hy uitbrei in Maart 2017, straal Marinus Wiechers die geloof uit dat Afrikaans in die toekoms wêreldwyd verder sal kan opbloei indien hy selfone en rekenaars benut. Vir die virtuele span – ’n groep Afrikaanssprekendes wat 'n Afrikaanse digitale netwerk bevorder – benadruk hy: "Kuberruimtes en die skepping van virtuele landskappe en instellings bokant en buite bestaande grense en inrigtings ... word daagliks meer en meer van ’n werklikheid." Toe die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, op 30 Mei 2018, kort voor sy afsterwe, aan hom die Jan H Marais-prys vir uitstaande bydrae in Afrikaans as wetenskaptaal oorhandig, beklemtoon hulle: "Marinus Wiechers se aansien strek verder as Afrikaans; maar Afrikaans het Marinus Wiechers sy aansien gegee." Ter samevatting. Enersyds dra een van ons land se briljantste konstitusionaliste, en later rektor van Unisa, daadwerklik by om grondwette te ontwerp so verskillende soos dié van Bophuthatswana en Ciskei, Namibië en Suid-Afrika. Andersyds ontwikkel hy sy insigte in Administratiefreg, Staatsreg en die Volkereg, terselfdertyd, in keurige en skerp Afrikaanse vaktaal. Tot met sy laaste treë benadruk hy dat elke Suid-Afrikaanse taal sy regte kragtens die Grondwet moet eis en dat die virtuele ruimte van selfone en rekenaars ’n onbegrenste Afrikaanse gemeenskap wêreldwyd ontsluit. Dit is ’n voorreg om Marinus Wiechers te nomineer vir ’n Koker vir lewenslange bydrae tot die ontwikkeling en bevordering, bemagtiging en beskerming van Afrikaans.
Sien ook die fotoblad deur Izak de Vries van die geleentheid:

