ATR-huldeblyk ter ere van Christo van Rensburg

  • 2

Die ATR betreur die heengaan van een van Afrikaans se grootste stryders. Op sy kalm manier het hy diep spore getrap in die stryd om die erkenning van Afrikaans met al sy variëteite. Ons is telkens ná sy referate opnuut gedwing om onbevange te kyk na al die vertakkinge van Afrikaans. Hy het sy standpunte oor die ontstaan van Afrikaans onverskrokke gestel, en dit gewoonlik met vers en kapittel bewys. Daar was weinig, indien enige, standpunte wat die inhoud van sy nougesette wetenskaplik nagevorsde werke kon weerlê. Sy passie om die status van al die variëteite van Afrikaans deur die breë Afrikaanse gemeenskap erken en aanvaar te kry, was ooglopend. Sy verbintenis daartoe behoort ons almal aan te spoor om ons daadwerklik vir ʼn soomlose Afrikaans te beywer. Ons sal sy innemende persoonlikheid mis.  Ons sal sy spitsvondigheid mis. Ons sal sy vriendelikheid mis. Ons dank die Almagtige dat ons toegelaat is om aan die voete van so ’n Gamaliël te sit.  By die Herkomsseminaar later vanjaar sal sy stem stil wees.  En by die loodsing van die bygewerkte weergawe van So kry ons Afrikaans later vanjaar, tesame met die vertaalde weergawe Finding Afrikaans, sal sy plek leeg wees. Prof Christo, die ATR gaan u ongekende bydrae tot die handhawing van ʼn taal gebore uit die some van vele nasies, altyd koester wanneer ons praat, dink en skep in hierdie mooi taal van ons. 

  • 2

Kommentaar

  • Hannes van Zyl

    Ons as vriende betreur die heengaan van ‘n Groot Gees, op Afrikaanse Taalgebied maar ook as empatieke gespreksvennoot en veral bedrewe luisteraar wat al sy toehoorders subtiel betrek en verhef het in enige gespreksituasie. Christo, ons as Klerksdorpers mis jou alreeds. Dankie vir wat jy vir Jan-Alleman beteken het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top