ATKV se Filmverse by die South African Book Fair 2015

  • 0

filmverse7

'n Gesprek oor die ATKV se Filmverse-projek: Nita Cronjé beantwoord Naomi Meyer se vrae.

  1. Hallo Nita, dankie vir jou tyd! Filmverse is 'n projek van die ATKV - kort animasiefilms waarin Afrikaanse gedigte deur kunstenaars geïnterpreteer word. Is ek reg? Wil jy dalk in jou eie woorde hierdie projek verduidelik?

Filmverse kan beskryf word as 'n "visuele bloemlesing". Ons het 'n DVD saamgestel met animasiefilms van 12 Afrikaanse gedigte, elk met sy eie klankbaan.

  1. Waarom het die ATKV hierdie Filmverse-projek aangepak?

Diek Grobler het ons genader met die idee vir so 'n projek. Ek was dadelik opgewonde oor die idee, want dit sou 'n unieke en vernuwende kunsteproduksie wees waarin die digkuns, animasiekuns, stemkuns en musiek sou saamkom om iets nuuts te skep. Die ATKV fokus boonop op taal, die kunste en onderwys. Al drie hierdie fokusse sou by so 'n projek baat vind. Ons wil natuurlik ook Afrikaanse digkuns bevorder.

filmverse1

  1. Die kunstenaar agter Filmverse is die uitsonderlike Diek Grobler. Wil julle in die toekoms ook ander kunstenaars betrek en hoe sal julle besluit wie ook betrokke sal wees as illustreerders?

Diek was die artistieke regisseur van Filmverse. Verskillende animasiekunstenaars was betrokke by die films vir die twaalf gedigte. Diek was dus een van sowat twaalf animeerders wat by ons projek betrokke was.

filmverse2

  1. Interpretasie is 'n ingewikkelde storie – of dit kom by wetgewing, of enige tekste. Elke mens lees of sien die wêreld op 'n ander manier. Is die doel van Filmverse om verse te "verduidelik"? Op 'n ander manier te laat kyk? Of wat nog?

Dit was vir ons van groot belang om ten eerste die gedigte deur middel van die animasiefilms te verbeeld en te ontsluit. Die digters se teks was voorop gestel en met groot respek geïnterpreteer om die betekenis daarvan te probeer vasvang. Dit kan dus as visuele interpretasies van die gedigte beskou word.

 filmverse3

  1. Watter gedigte het julle alles verfilm en waarom hierdie spesifieke gedigte?

Dit was 'n baie moeilike taak om by 'n seleksie van twaalf gedigte uit te kom. Daar bestaan 'n skat van Afrikaanse digkuns om van te kies. Ons het toe met die insette van 'n paar kenners by 'n finale keuse uitgekom. Die werk van 'n aantal klassieke digters is gekombineer met van ons jonger digters se werk, asook 'n aantal voorgeskrewe gedigte vir hoërskool.

filmverse5

  1. Die afgelope tyd is daar sigbaar meer aandag wat aan Afrikaanse gedigte gegee word, en hier dink ek ook aan die betreklik onlangse projek rondom die “100 gewildste gedigte” (http://gewildstegedigte.litnet.co.za). Dink jy dis om doelbewus aandag te gee en te keer dat mense se kennis van gedigte verwaarloos raak? Dink jy mense ken nog gedigte?

Ek is van mening dat daar 'n oplewing in die digkuns is. Daar is talle nuwe produksies met die digkuns as vertrekpunt. Kyk maar na die groter kunstefeeste se programinhoud. Ons sien dit ook tydens die ATKV se poësiewerkswinkels en kompetisie vir hoërskoolleerlinge. Digkuns is deel van die Afrikaner se DNS. Daarom wil ons deur middel van Filmverse vir soveel moontlik jongmense blootstelling gee aan ons Afrikaanse digters en digkuns. Ons sien ook hulle positiewe reaksie nadat hulle die films gesien het.

  1. Filmverse vertoon by die South African Book Fair eerskomende naweek. Hoe werk dit – waar gaan dit vertoon, wanneer, en wat is die toegangsgeld?

Filmverse kan gesien word by die Turbine Hall in Newtown. Daar word 'n spesiale lokaal vir die vertoning van ons films gebou. Besoekers kan net die aanwysings volg om daar uit te kom. Toegang is gratis.

  1. Ek hoor daar is 'n Filmverse 2-projek iewers in die vooruitsig. Kan jy enigiets daaromtrent verklap?

Inderdaad! Ons mik daarvoor om te première by volgende jaar se Silwerskermfees einde Augustus. Meer hieroor sal binnekort in die media bekendgemaak word.

South African Book Fair: Afrikaanse aanbod

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top