ATKV-PEAAT se Vettie, Vettie is vet pret

  • 0

Victoria Hope, of Vicky, besit ’n boekwinkel, asook die huis wat direk aan die winkel grens. Hierdie huis se sitkamer is die toneel waarin Vettie, Vettie afspeel.

Vicky deel haar huis al vir baie jare lank met ’n flambojante gay man, Henry. Ongeveer agtien maande tevore het James ook ingetrek. Dié is aantreklik, is ’n uitstekende kok, skryf ’n roman en ... is verlief op Vicky.

Vicky is verlief op kos. Sy verduur Henry se bitsige kommentaar op haar lyf en haar kleredrag, want sy vriendskap, hoe katterig dan ook, is vir haar belangrik.

James, wat ook in die boekwinkel werk, kook vir haar. En kook kan hy kook. Wat meer het sy nodig?

Dinge gaan dus goed.

Tot Tom opdaag.

Tom is aantreklik, hy hou van lees en hy werk vir ’n oliemaatskappy wat hom die hele wêreld vol laat reis. Die aand voor hy vir vier maande lank na Iran moet vertrek, spandeer hy saam met Vicky. Die aand word die hele nag. Vicky het die skoot hoog deur.

Henry besluit om haar te help gewig verloor voor Tom oor vier maande terugkom. Sy begin oefen.

Vicky, dié keer vasberade, verloor ’n enorme hoeveelheid gewig en ... wel ... Dis waar die verhaal interessant raak. Wat gaan gebeur wanneer Tom uiteindelik terugkom en die nuwe Vicky sien?

Gaan kyk die stuk self. Dis die moeite, geld en tyd werd.

Ek het die openingsaand bygewoon. Die saal was deeglik gevul. Die tannies wat voor my gesit het, se kommentare op die stuk was kostelik – ek het hulle byna soveel geniet as die spelers.

Was dit ’n treffer? Vra die tannies. Hulle het elke beweging op die verhoog bespreek en elke karakter is deeglik uitmekaargetrek asof hulle ware mense is.

Heerlik.

Die teks

Charles Laurence, ’n Brit, het die stuk reeds in die 1970’s geskryf. My fat friend het in die Theatre Royal geopen. Dit het ook ’n goeie speelvak gehad in The Globe in Londen se West End. Dis groot name in die teaterwêreld daardie – baie van Athol Fugard se stukke het daar gespeel.

Hierna is My fat friend na die VSA, waar dit ook gewild was op Broadway.

In die ’80’s is die teks van My fat friend in Afrikaans vertaal deur Johan Bernard, wat lank verbond was aan Sukovs. Ook hier ter lande was die stuk gewild. Tobie Cronjé was byvoorbeeld al ’n baie populêr Henry, en Lizz Meiring het al mense laat lief word vir die lywige, bekkige Vicky.

Vettie, Vettie dra dus nogal swaar aan die gehoor se verwagtinge.

Hoe gemaak met jou voorgangers se spoke?

Net soos Vicky ’n winkel van haar pa geërf het en vragte van sy ou boeke later moes weggee omdat hulle nie meer verkoop het nie, so moet akteurs ook besluit wat om van hul voorgangers te behou en wat om vir die mense wat in die saal gaan sit, te gee.

ATKV-tak PEAAT (Port Elizabethse Afrikaanse Amateurtoneelvereniging) wat die stuk opvoer, is volgens hul eie mededeling die oudste amateurtoneelvereniging in die land. Hulle weet wat hulle doen, en hulle ken hul gehoor. Ek het al ’n hele aantal van hulle stukke gesien. Ek sal baie beslis weer gaan kyk.

So, hoe pak jy ’n bekende teks aan? Jy maak dit jou eie. Jy speel vir jóú gehoor en jy laat húlle lag.

PEAAT kan ernstiger stukke ook doen – hulle onlangse vertoning van Annelie Botes se Duiwelsbrood byvoorbeeld was besonder knap. PEAAT weet egter ook dat pittige, skoon Afrikaans, met ’n tikkie aweregsheid, die mense van Gqeberha sal laat kaartjies koop en sal laat lag.

Die ander ding wat PEAAT dikwels baie goed doen, is om een bekende, professionele akteur te nooi om saam met die plaaslike spelers die verhoog te betree. Dié keer is Neels van Jaarsveld genooi om die rol van Tom te speel. En hoe. Dit was ’n uitstekende besluit.

Die akteurs

Om Neels van Jaarsveld op die verhoog te sien is wonderlik. Hy is boonop in die korrekte rol geplaas as die misterieuse vreemdeling. Sy kleredrag het nogal herinner aan James Bond uit die ’70’s, en sy houding was sonder twyfel Bond in Afrika.

’n Goeie akteur laat alles so maklik lyk, en dis presies wat Van Jaarsveld aan Tom se karakter kon bied: ’n kalmte in die chaotiese huishouding van Vicky en die ander manne.

Daar was ’n wonderlike oomblik waar Tom gevra word wat hy wil drink. “Whiskey,” antwoord hy. En voeg toe by: “Met ys, ja. Met ys.”

Almal van my ouderdom het dit gesnap. Almal het gelag. In die tweede helfte is die karakter toegelaat om weer die grappie te maak.

Hoede af vir Leandi Fontini, die regisseur, wat ’n karakter kon toelaat om goedig die spot te dryf met die akteur wat hierdie rol speel.

Dalk moet ek volgende juis ’n byna terloopse karakter noem: Reg deur die stuk is daar ’n misterieuse vrou wat Violetta, die buurvrou, blyk te wees. Sy kom steel gereeld kos uit Vicky se huis, of kom leen suiker. Violetta blyk veel later ’n redelik belangrike rol te hê, maar dit kan die gehoor self uitpluis. Heila Erasmus het hierdie klein rol, byna ’n kamee, deeglik haar eie gemaak.

Vicky is gespeel deur Melandri Koekemoer. Ek het deurgaans gedink sy is jonger, en speel ook jonger, as die Vicky wat Charles Laurens moontlik in gedagte gehad het, maar die voordeel was dat sy in die gehoor se harte ingekruip het. Die meeste van ons wou vir haar ’n drukkie gee. Die tannies wou haar opvreet. Haar kyke en houding was Gen Z, die meisie wat onlangs uit die skool gekom het. Vir Gqeberha se gehoor het dit gewerk. Ná sy reg aan die begin van die stuk effens benoud voorgekom het, was die gehoor se reaksie genoeg vir haar om te ontspan. Ek het haar spel uiteindelik geniet. Sy het Vicky se karakter met oortuiging vir haarself aangetrek. (Dis ’n bietjie van ’n woordspel gemik op diegene wat die stuk gesien het – Vicky se klere word sonder ophou bespreek as deel van haar ontwikkeling.)

Daneel Strydom het die effens afstandelike, maar smoorverliefde James baie goed hanteer. Aan die een kant moes hy genoeg van ’n romantiese figuur wees vir Vicky om sy heimlike liefde ook raak te sien en daarop te reageer; aan die ander kant moes hy juis nie Casanova wees nie. Hy moes sterk genoeg wees om Vicky te laat wonder of Tom ’n beter keuse sal wees, en ook genoeg van ’n bleeksiel dat Vicky die hele nag saam met Tom sal rondloop en gewoon aanneem dat James haar weer sal bedien van alles wat sy benodig. Strydom het dit reggekry. Toe hy in die slottoneel smoordronk opdaag, was die hele gehoor reg vir dit was moes gebeur.

Wat ons bring by Cobus Lombard se Henry. Hoe speel jy ’n rol waarin Tobie Cronjé se gees elke woord en beweging bepaal? Weer eens: Jy probeer nie om Cronjé wees nie. Nee, jy luister na jou gehoor en jy gee vir hulle alles wat hulle wil hê.

Vreemd, nie waar nie, hoe konserwatiewe kerkgemeenskappe hulle verlustig in stoute grappies en effens banale woordspelings. In die literatuur is die gay man ook alte dikwels ’n wonderlike weerligafleier vir die stoere Afrikaner se psige. Lombard het eenvoudig die krane oopgedraai. Hy was nooit simpel nie, maar, oe, hy was camp galore. Met ’n hoë stemmetjie, flappende hande en knypboudjies kon hy met sy gehoor doen net wat hy wou. Lombard was ’n besonder sterk teenwoordigheid op die verhoog.

In die teks is hy gemeen en katterig. Dit kon Lombard deeglik oordra. Maar daar was ook genoeg van ’n weerloosheid wat Lombard kon uitstraal om ’n baie onthoubare Henry te skep.

Leandi Fontini was die regisseur wat hierdie diverse spul moes in toom hou. Ek vermoed hulle het haar nogal uitgedaag, maar uiteindelik was Vettie, Vettie ’n heerlike klug. Ek, en die res van die lekker groot gehoor, het die skouspel geniet. Haar hand was sag genoeg om die spelers toe te laat om die gehoor te toets – maar ook ferm genoeg dat hulle hul perke geken het.

Gqeberha is geseënd met heeltemal te veel om te doen. Die opkoms op die openingsaand toon dat ATKV-PEAAT vir hulself ’n deeglike reputasie opgebou het en dat talle mense, soos ek ook, bitter graag wil sien wat hulle volgende projek sal wees.

Vettie, Vettie speel in die Savoy Teater. Koop jou kaartjies by Webtickets.

Akteurs

Tom: Neels van Jaarsveld
Vicky: Melandri Koekemoer
Violetta: Heila Erasmus
James: Daneel Strydom
Henry: Cobus Lombard

Produksiespan

Regisseur: Leandi Fontini
Klank en beligting: Dewald Vermeulen
Stelbou: David Jordaan
Stelinkleding: Alicia Botha en Mariné Botha
Verhoogbestuur: Lance Bright
Verhoogassistente: Amanda Mcleod en Lorea Koekemoer
Spelersorg en souffleuse: Alicia Botha
Reklame: Mariné Botha

Spesiale dank

Luister!FM: mediaborg
Colonial Antiques: meubels
ATKV, Elda Kruger en Christie Rossouw: finansiële bystand en drukwerk
Kraak-Beskuit: geskenke vir akteurs
Juan van Dyk Transport: vervoer
Cars@Moffet: Voertuig vir Neels van Jaarsveld.

Lees ook:

Teaterresensie: My fat friend by Theatre on the Bay

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top