ATKV-Crescendo Goud – Divas in Afrikaans: waar herinneringe weer begin sing

  • 0

Karin Hougaard en Anna Davel sing vir die eerste keer 'n duet, "Sweef soos 'n arend", deur hulle vriendin Mynie Grové, saam. (Firefly Studio het skriftelik toestemming gegee dat hulle foto mag verskyn.)

Daar is oomblikke wat ’n mens onverwags terugneem na ’n tyd wat jy gedink het lankal verby is. Nie omdat jy doelbewus onthou nie, maar omdat ’n stem, ’n melodie of ’n enkele liriek herinneringe wakker maak wat stilweg onder die oppervlak gelê het. Só ’n ervaring was ATKV-Crescendo Goud – Divas in Afrikaans wat verlede Saterdag by Daisy Jones-teater by Summerhill-landgoed op die planke was. Leon Botes skryf oor hoe hy dit beleef het.


Die produksie bring verskillende generasies van Afrikaanse musiek op een verhoog bymekaar en herinner ’n mens waarom hierdie liedjies steeds ’n plek in mense se harte het. Toe die musiek begin, was dit nie bloot ’n konsert nie – dit was ’n reis deur die klankbaan van Afrikaanse musiek.

Wie onthou nie die ikoniese “Kaalvoetvrou”, ook deur Karin Hougaard nie, die tydlose elegansie van Anna Davel, of Andriëtte Norman se energieke verhoogpersoonlikheid? Hierdie kunstenaars het oor jare heen hul merk op die Afrikaanse musiekbedryf gemaak en vorm steeds die inspirasie vir ’n nuwe geslag sangers. Die veelsydige aktrises en sangeresse Ilse Klink en Stephanie Baartman het die verhoog met hulle gedeel.

Daardie nuwer geslag het op die verhoog gestaan in die vorm van Gracia Louw, Lizl Simoes, Tamryn Madalé Paulse en Janine Fourie. Elkeen het hul eie unieke persoonlikheid en styl na die verhoog gebring, maar saam het hulle iets besonders geskep. Hulle het nie probeer om die oorspronklike kunstenaars na te boots nie; hulle het die liedjies nuwe lewe gegee sonder om die oorspronklike emosie te verloor.

Die sang was van hoogstaande gehalte, die harmonieë indrukwekkend en die verhoogenergie aansteeklik. Die gehoor het nie net geluister nie, hulle het saam onthou, saamgesing en die musiek opnuut beleef.

’n Besondere hoogtepunt was Gracia Louw se poësie. Haar gedigte het die musikale gedeeltes op ’n natuurlike wyse aan mekaar verbind en ’n dieper emosionele laag aan die produksie verleen. Dit was veral met haar huldeblyk aan Anna en Karin waar haar woorde die gehoor herinner dat musiek en digkuns nog altyd hand aan hand stap.

Die grootste sukses van Crescendo Goud – Divas in Afrikaans lê egter nie net in die gehalte van die produksie nie, maar in wat dit verteenwoordig. Dit is ’n bewys dat die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram steeds nuwe talent ontwikkel en jong kunstenaars toerus om hul eie stem in die Afrikaanse musiekbedryf te vind. Vir enige jong kunstenaar wat daarvan droom om eendag op ’n verhoog te staan, is Crescendo veel meer as ’n musiekprojek. Dit is ’n geleentheid om onder ervare mentors te groei, jou kuns te slyp en deel te word van ’n trotse Afrikaanse musiekerfenis.

Die terugvoer van die twee tydlose, ikoniese sangeresse was vol lof en prys vir hulle mede-kunstenaars wat die aand vergoud het.

“Dit was vir my ’n baie groot lekkerte om saam met my gunstelingdivas op te tree. Ek het die grootste respek vir Ilse Klink. Wat ’n veelsydige kunstenaar is sy nie. Sy is baie gemaklik voor die kameras en tuis op die verhoog. Om saam met Karin ’n duet – ‘Sweef soos ’n arend te sing’ – op ’n verhoog te kon sing, benewens ons jarelange vriendskap, was ’n hoogtepunt vir my. Ek hoop in die toekoms is daar weer ’n geleentheid om met Karin saam te werk,” sê Anna wat die eerste keer saam met Karin gesing het.

“Andriëtte, wat ’n wonderlike kunstenaar en rotsvas. Ek lig my hoed vir iemand soos sy wat al jare uit musiek ’n lewe maak, toer en tyd in haar loopbaan belê, terwyl sy nog kinders ook grootmaak.

“Gracia se gedig het my tot in my menswees oopgeruk. Die gedig was onverwags op die eerste dag van die repetisie en het my in trane gehad. Met die tweede repetisie en die aand van die show het trane weer vlak gelê. Gracia se gedig lê my na aan die hart en beteken meer as enige beeldjie, oorkonde of sertifikaat wat ek nog ooit ontvang het. Gracia is ’n fenomenale talent en het ’n wysheid aan haar vêr bo haar lewensjare. Die drie jong opkomende divas was briljant.”

Volgens Karin was dit ’n voorreg om al vir 35 jaar ’n verbintenis met die ATKV-Crescendo te hê.

Karin Hougaard, Ilse Klink, Anna Davel, Andriëtte Norman en Stephanie Baartman was die divas tydens ATKV-Crescendo Goud: Divas in Afrikaans-konsert. (Firefly Studio het skriftelik toestemming gegee dat hulle foto mag verskyn.)

“Ek was ontsettend geraak deur Gracia se huldeblyk en het dit glad nie verwag nie. Sy het nie net my musiek en reis as musikant raakgevat nie, maar ook Anna se reis. Dit is so wonderlik, want ek en Anna – ek’s ’n paar jaar ouer as Anna – maar ons het baie dieselfde verwysingsraamwerk en musiekinvloede gehad. Gracia het dit pragtig verwoord. Dit is ’n kleinood wat ’n baie spesiale plek in my ateljee gaan hê. Elke keer as ek daarna kyk, kry ek ’n knop in my keel. Normaalweg is ek die een wat die woorde en wysies maak en hier het iemand anders vir my woorde gemaak. Dit is baie spesiaal.

“Een van die lekkerste dinge was om tyd saam met die kollegas, Vrydag, tydens repetisie te kon spandeer. Ek dink ons het almal ’n eensgesindheid en egoloosheid wat baie spesiaal is. Dit was heerlik om die nuwer kunstenaars te ontmoet en hulle oë blink nog sterre. Ek sien uit daarna om te kyk hoe hulle paadjies vorentoe gaan lyk,” sê die Kaalvoetvrou.

”Dan natuurlik is daar Ilze Klink wat ek al baie, baie jare gelede as student ontmoet het en vir wie ek sang gegee het, wat nou ’n volwaardige superster geword het in die 18 jaar wat ek weg is.

“Anna Davel het ek mee kontak behou die afgelope dekades. Dit was heerlik om vir die eerste keer saam met haar ’n duet te kon sing. Mense soos Stephanie Baartman, wat ’n fenomeen is op haar eie en ook ’n sterk volronde kunstenaar is,” sê Karin Hougaard.

Die Bravo!-span met aanbieder Ewan Strydom het onderhoude vroeër die dag met die sterre gedoen en die vertoning verfilm. Die program sal einde Julie na Augustus uitgesaai word.

Wanneer die laaste noot wegsterf en die verhoogligte doof, bly daar meer oor as net applous. Daar bly die wete dat Afrikaanse musiek steeds nuwe stemme vind om ou stories te vertel, en dat hierdie stories nog lank nie klaar gesing is nie.

Met Crescendo Goud – Divas in Afrikaans het die ATKV nie net teruggekyk na die verlede nie, hulle het gewys dat die toekoms van Afrikaanse musiek in bekwame hande is.

Hier is die kunstenaar en digter Gracia se huldeblyk namens Crescendo aan Anna en Karin (die gedig verskyn met die digter se toestemming):

Vir Anna Davel en Karin Hougaard, met waardering

In die begin was daar stilte.
En silhoeëtte van stories wat saggies fluister
’n Simfonie van songs wat al lankal wag ...
Laat daar gehoor word,
laat daar gesing word,
stem op stem,
verhaal op verhaal,
laat mense geken wees, en geen stem getem wees
laat daar onthou word
en mense gebou word
in een groot Crescendo van
Vroue wat akkoorde kerf op komposisies om mure plat te trek.
Kaalvoetgodinne op die grondpad wat woorde weef wat gekneusde wonde genees. Vroue wat fakkels van verandering aan pass van vrou tot vrou,
vonk tot vlam,
geslag tot geslag
Tot die eggo ’n gesig kry.

Sy
wat sonder skroom sing, haar songs wat bevry.
Haar loopbaan die weg vir vele vroue wat nog vir hul stemme veg.
Vir sommiges is dit bloot musiek; vir ander is dit hoop met elke noot.
Sy is vrou: beeldskoon en sterk.
As sy move, verander die hele vertrek.
Sy is ’n kontras wat reg val.
Sy is kuns, geen matigheid.
Haar melodie, die katalisator van metamorfose in elke gehoor.
(Sy is) die muse vir elkeen wat hoor.
Sy is eg.
Die mooiste metafoor.
Sy is die punchline in elke strofe.
Beeldspraak wat aan die hart raak.
Sy is digkuns wat op dood se stilte dans.
En as sy dig, stig sy
’n Skeepsvrag vol heimwee wat rigting kry.
Haar pen ken die pad.
Sy’t gekom om ons huis toe te vat.

© Gracia Louw, 2026

 

Die veelsydige Stephanie Baartman, dra 'n lied, "Seeman" op aan Gé Korsten.(Firefly Studio het skriftelik toestemming gegee dat hulle foto mag verskyn.)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top