Aspekte van Rapport as hibriede massakoerant – historiese aanloop, sukses en tydgenootlike kritiek

  • 0

Aspekte van Rapport as hibriede massakoerant – historiese aanloop, sukses en tydgenootlike kritiek

Johannes D. Froneman, onafhanklike navorser

LitNet Akademies Jaargang 23(3)
ISSN 1995-5928
https://doi.org/10.56273/1995-5928/2026/j23n3b9

Die artikel sal binnekort as PDF beskikbaar wees.

 

Opsomming

Rapport het in 1970 ontstaan as massakoerant met dieselfde gedeeltelik populistiese eienskappe as sy voorgangers, Dagbreek en Landstem en Die Beeld. Dit het ingesluit prominente berigte met ’n seksuele strekking en foto’s van skraps geklede vroue, maar ook wye sportdekking en ander inhoud van ’n ontspanne aard. Tog het Rapport ook leesstof van ’n ernstiger aard gehad. Vandaar die tipering van die blad as ’n hibriede of breëstrekkoerant.

Hierdie mediahistoriese artikel gee ’n oorsig van een kenmerkende aspek van Rapport en sy voorgangers, wat as populisties getipeer kan word. Die verskynsel word beskou aan die hand van tersaaklike literatuur, onderhoude en ’n kwalitatiewe inhoudsontleding (gegrond op ’n gerieflikheidsteekproef). Die artikel bied egter nie ’n inhoudsontleding van Rapport (of die ander betrokke koerante) in sy geheel nie. Dít sou ’n omvangryke ondersoek verg.

As uitgangspunt word geneem dat ’n bepaalde tipe populistiese joernalistiek tipies prominensie gee aan seks en skandes, melodrama, onbenullighede, growwe sosiale afwyking en sport. Ernstige temas word dikwels onderspeel, en minder belangrike gebeure en glanspersoonlikhede verhef tot groot nuus, versterk deur prominente opskrifte en foto’s. Dit word in hierdie artikel as sensasionele populisme getipeer.

Uit die inhoudsontleding is dit duidelik dat die betrokke koerante wel hierdie tipe berigte en foto’s op voorblaaie en binneblaaie geplaas het, maar dat dit later veral op die agterblad van Rapport se hoofkoerant ’n staanplek gekry het.

Die artikel toon aan dat hierdie tipe joernalistiek vroeër skerp kritiek vanuit kerklike oord ontlok het. Daarbenewens word aangetoon dat daar ook intern by Naspers ernstige besware was teen Die Beeld (waarvan dit die uitgewer was) – nie soseer oor sy soms uitdagende politieke beriggewing nie, maar oor die seks en sensasie.

Mettertyd het die openbare kritiek minder geword en het die leserspubliek klaarblyklik genoeë geneem met Rapport, wat as ’n breëstrek- of hibridiese koerant groot sirkulasiesukses behaal het. Daar was altyd ook sterk nuusdekking, asook politieke en kommentaarartikels wat die ernstiger lesers se leesbehoeftes in ag geneem het. Die blad het dus ’n breë spektrum van lesers en smake in een pakket probeer bevredig en het op sy hoogtepunt vir ’n wyle ’n gemiddelde sirkulasie van meer as 500 000 gehaal.

Dit blyk dat daar nie altyd redaksionele eensgesindheid was oor Die Agterblad en ander populistiese aspekte van Rapport nie. Die Agterblad, as simbool van ’n bepaalde populistiese tipe joernalistiek, verdwyn tydelik onder Johan de Wet se redakteurskap, maar herverskyn later – en verdwyn dan wéér. Maar tot met sy sluiting as papierkoerant in 2024 het Rapport opvallende kenmerke van die sogenaamde geelpers, oftewel sensasionele populistiese publikasies, gedra. Dit is egter deurgaans gebalanseer deur elemente van “harde” nuus en ernstiger meningsartikels, wat in geheel ’n hibriede koerant tot gevolg gehad het om ’n diverse lesersgehoor mee te dien.

Trefwoorde: Dagbreek; Die Beeld; hibriede koerant; kritiek; Landstem; populisme; Rapport; sensasie; Sondagkoerante

 

Abstract

Aspects of Rapport as a hybrid mass-market newspaper – historical origins, success, and contemporary criticism

Rapport was established in 1970 as a mass-market Sunday newspaper that inherited many of the partly populist characteristics of its predecessors, Die Landstem, Dagbreek and Die Beeld. These included the prominent display of sexually oriented stories, photographs of scantily clad women, extensive sports coverage and other forms of light entertainment.

This media-historical study examines one defining dimension of Rapport and its predecessors that may be characterised as populist journalism. Drawing on relevant scholarship, interviews and a qualitative content analysis based on a convenience sample, it traces the evolution of this journalistic style over time. The article does not seek to provide a comprehensive content analysis of Rapport or the other newspapers under discussion, as such an undertaking would require a substantially larger study.

The sample comprises available issues from the author’s private collection, supplemented by a small number of copies held in the Stellenbosch University Library. The analysis focuses primarily on headlines and is therefore necessarily limited in scope, leaving ample opportunity for further research.

Although ethical concerns underpinned much of the criticism directed at these newspapers, this article offers a media-historical analysis rather than a normative ethical evaluation. Its purpose is to examine the nature and development of this editorial style, with contemporary criticism considered in so far as it formed part of the historical context within which editors and journalists operated.

The study proceeds from the premise that one form of populist journalism is characterised by a strong emphasis on sex, scandal, melodrama, trivia, extreme social deviance and sport. Serious public affairs receive comparatively less prominence, while relatively insignificant events and celebrity figures are elevated to headline status through striking headlines and prominent photographic treatment. This article conceptualises this journalistic style as sensational populism.

Not all aspects of populism, however, are necessarily ethically problematic. Some may be regarded as democratically valuable because they make journalism more accessible to wider audiences. In this sense, populism can broaden the public sphere and should not automatically be dismissed as inferior journalism (Örnebring & Jönsson, 2004). As Rapport’s first business editor recalled, the newspaper sought “to bring business affairs within the understanding of every reader ... We also had to engage the housewife, the farmer and the school pupil” (Meades 1995; translations in this abstract are my own, unless stated otherwise).

The empirical analysis begins with Die Landstem and its editor, Piet Beukes. Ton Vosloo, later chair of Naspers, described Beukes as “the man who opened the windows of Afrikaans journalism to the wider world beyond – in the sense of human-interest stories” (Vosloo 2020), while recalling that the newspaper’s headlines could be “highly cheeky” (Vosloo 2018:265). In response to Die Landstem’s commercial success, Naspers managing director Phil Weber lamented that readers appeared to prefer “the sensational and the inferior” (Steyn 2002:87). Yet only a few years later, Naspers itself launched Die Beeld, successfully adopting a remarkably similar editorial formula.

Die Landstem’s populist orientation manifested itself most clearly in its sexually provocative headlines, stories and photographs, which, by the standards of the time, were highly controversial. This editorial approach paved the way for Dagbreek, Die Beeld and later Rapport, where comparable material occupied a prominent place.

Rapport inherited important elements of the populist style of the merged newspapers, including Die Landstem, while simultaneously developing into an unprecedented commercial success with a circulation of approximately 500 000 copies. Its back page became the principal location for stories and photographs with a sexual theme and remained a distinctive editorial feature under most successive editors, although it was periodically discontinued or published under different titles. The evidence also suggests that Rapport’s editors were not always united in their views of the newspaper’s populist orientation. As its most recognisable symbol of sensational populism, Die Agterblad disappeared during Johan de Wet’s editorship, later returned, and was eventually discontinued again.

The content analysis demonstrates that the newspapers under review regularly featured sensational stories and images on both their front and inside pages. Over time, however, this material became concentrated on the back page of Rapport’s main news section, where it evolved into a distinctive editorial trademark. As with Die Landstem, Dagbreek and Die Beeld, Rapport’s yellow-press component was not confined to its back page. Sensational front-page stories continued to attract readers, and this style of reporting, together with its accompanying images, remained evident until the newspaper’s final print edition in December 2024.

At the same time, Rapport consistently published serious news reporting, political coverage and commentary. It is, therefore, more accurately understood as a hybrid or broad-spectrum newspaper that combined elements of both popular and serious journalism. The controversial examples discussed here should not be taken as exhaustive representations of its editorial identity. Rather, Rapport deliberately sought to appeal to a broad readership by accommodating diverse tastes. As former editor Willem de Klerk (1995) remarked, “We wore both a suit and tie, and a pair of shorts with veldskoene.” The metaphor encapsulated the newspaper’s enduring ambition to combine authoritative journalism with lighter, more populist content.

The study further demonstrates that this editorial style attracted sustained criticism from church leaders during earlier decades and that considerable internal opposition existed within Naspers. Significantly, much of this criticism focused less on the newspapers’ political reporting than on their emphasis on sex and sensationalism.

Although criticism from both internal and external quarters may have moderated aspects of their editorial content, Rapport and its predecessors retained a distinctive form of sensational populism over several decades. In doing so, they left a lasting imprint on Afrikaans journalism and influenced later newspapers such as Die Son and Sondag. Public criticism gradually subsided, while Rapport achieved widespread reader acceptance and considerable commercial success as a hybrid, broad-spectrum newspaper.

Until the cessation of its print edition in 2024, Rapport continued to exhibit many of the defining characteristics traditionally associated with the yellow press, although these constituted only one component of its broader hybrid editorial identity.

Keywords: Dagbreek; Die Beeld; Die Landstem; hybrid newspaper; media history; populism; Rapport; sensationalism; Sunday newspapers; yellow press

 

1. Inleiding en doelstellings

Vir bykans 75 jaar het foto’s en berigte met ’n seksuele strekking in Afrikaanse week- en Sondagkoerante voorgekom en was dit ’n deurlopende skyf van kritiek – veral in die 1960’s, 1970’s en 1980’s toe populistiese joernalistiek met gevestigde idees van fatsoenlikheid gebots het. Met die sluiting van Rapport einde 2024 as papierkoerant het ’n era tot ’n einde gekom. Markkragte was uiteindelik sterker as enige vroeëre morele kritiek.

Die destydse kritiek het inderdaad min gedoen om die plasing van die gewraakte inhoud stop te sit. Sirkulasiesyfers het getoon dat daar ’n mark was vir gedeeltelik populistiese Afrikaanse koerante – of dan dat afkeer van bepaalde inhoud lesers nie daarvan weerhou het om die koerante in groot getalle te koop nie.1 Later is die gekritiseerde maar gewilde berigte en foto’s hoofsaaklik, maar nie eksklusief nie, op Rapport se Agterbladgeplaas.2 Nog later het dié omstrede blad verdwyn en toe wéér verskyn, hoewel dit nie ’n einde aan Rapport se gedeeltelike populisme gebring het nie.

Rapport het sy berigte en foto’s met ’n seksuele strekking asook sy omvattende sportdekking en leesstof wat suiwer op ontspanning gerig was, gebalanseer met ernstiger inhoud soos politieke rubrieke en ’n boekeblad. Vandaar dat dit as ’n hibriede of breëstrekkoerant bestempel kan word.

Hierdie artikel sluit aan by enkele vorige bydraes, soos verder aangehaal. Dit poog om die vraag te beantwoord hoe die betrokke koerante se inhoude by mekaar aangesluit het en uiteindelik Rapport voortgebring het. Sodanige ondersoek is nog nie voorheen gedoen nie.

Dié artikel is dus ’n mediahistoriese oorsig van ’n faset van die Afrikaanse koerantgeskiedenis: hoe Landstem, Die Beeld en Dagbreek3 ’n tipe joernalistiek begin bedryf het wat deel van die hibriede Rapport se eiesoortige aard sou word.

Die klem val op voorbeelde van inhoud wat dié koerante gekenmerk het, sonder om daarmee te beweer dat dit onder alle redakteurs van Rapport dieselfde prominensie sou kry.

Die kernvrae wat gevra word, is wat die kenmerke van hierdie populistiese, selfs sensasionele populisme, was, hoe dit in die betrokke koerante voorgekom het, en wat die tydgenootlike reaksie daarop was.

Dit noop die volgende navorsingsdoelwitte:

  • Om die kenmerke van sensasionele populisme te identifiseer.
  • Om aan te toon hoe sensasionele populisme eers in Landstem, Die Beeld en Dagbreek en Landstem tot uitdrukking gekom het.
  • Om aan te toon hoe hierdie populisme in Rapport as hibriede koerant voortgeleef het.
  • Om die kritiek op sensasionele populisme en redaksionele reaksie daarop aan te stip.

 

2. Metodes en teoretiese perspektiewe

Die artikel is gegrond op beskikbare literatuur oor die geskiedenis van genoemde koerante, ’n kwalitatiewe inhoudsontleding van gekose voorbeelde uit die betrokke koerante, belig deur enkele redakteurs en ander joernaliste se herinneringe, en gevolgtrekkings aan die hand van genoemde kritiek en teoretiese perspektiewe oor die aard van sensasionele populisme en hibriede massakoerante.

2.1 Literatuur

Rapport was die grootste gedrukte Afrikaanse koerante sedert sy ontstaan in 1970 en tot met sy sluiting as gedrukte koerant in 2024. Tog is betreklik weinig inhoudelike navorsing oor die blad en sy voorgangers gedoen. Vroeë hoofstukke deur De Villiers (1992) en Scholtz (1992) is wel belangrik, terwyl Richard in 1985 en 1986 feite en perspektiewe oor die stryd tussen Dagbreek en Die Beeld asook oor Rapport aangeteken het. ’n Enkele selfgepubliseerde werk deur oudredakteur Chris Moolman (2002) oor Rapport kon opgespoor word. Steyn (2002) se biografie oor Piet Cillié vul inligting aan oor kritiek wat vanuit Naspers se binnekring uitgespreek is. Daarbenewens gee enkele artikels deur redakteurs of oudredakteurs in koerantgedenkbylae hul perspektiewe weer.

Hierdie inligting bied ’n belangrike kontekstuele raamwerk waarbinne die inhoudsontleding gedoen kon word.

2.2 Kwalitatiewe inhoudsontleding

Die doel is nie ’n omvattende inhoudsontleding van die betrokke koerante nie, maar ’n oorsig van die inhoud ten einde begrip te kry van die mate waarin veral sekere kenmerke van sensasionele populisme deel was van Rapport as gedrukte koerant en van sy voorgangers. Daarom word op die gebruik (sedert die 1950’s) van sogenaamde prikkelfoto’s en gepaardgaande berigte in Die Landstem, Dagbreek en Sondagnuus, Dagbreek en Landstem, Die Beeld en Rapport gelet.4 Daar word spesifiek aandag gegee aan die populistiese aard van die betrokke koerante, wat in ’n mindere of meerdere mate ’n “geelpersbenadering” (soos hier onder bespreek) gevolg het ten spyte van ’n oorwegend konserwatiewe politieke en kulturele klimaat en die vroeëre invloed vanuit die Afrikaner-establishment.

Die steekproef is gedoen aan die hand van beskikbare uitgawes van die betrokke koerante in die artikelskrywer se private versameling, aangevul deur enkele uitgawes wat in die Universiteit Stellenbosch se biblioteek gehuisves word. Daarbenewens is gelet op twee gedenkuitgawes van Rapport waarin voorbladagendas bespreek word. Die klem is deurentyd op die opskrifte, wat impliseer dat die ontleding van beperkte aard is en die deur ooplaat vir verdere ondersoeke.

Hoewel etiese vrae aan die hart was van die kritiek op die koerante, is hierdie ’n mediahistoriese oorsig van ’n aspek van die betrokke koerante se aanbod en geen ondersoek in normatiewe media-etiek nie. Dit gaan dus oor die aard van die inhoud en nie ’n etiese beoordeling daarvan nie. Waar kritiek uitgespreek is, word dit aangeteken omdat dit deel was van die konteks waarbinne die redaksies gewerk het. Steeds word in gedagte gehou dat die leserspubliek die blad in groot getalle gekoop het.

2.3 Onderhoude

Die konsepartikel is aan twee oudredakteurs gestuur vir kommentaar. Daarbenewens is per e-pos of WhatsApp enkele vrae aan redakteurs of oudredaksielede gestuur.

2.4 Begrippe en teoretiese perspektiewe

Joernalistieke en politieke populisme hou verband met mekaar, maar die een impliseer nie noodwendig die ander nie (Bobba, Mancosu, Nai, Seddone en Vegetti 2025). Die fokus in populisme word op die “gewone” mense en hul behoeftes geplaas – in teenstelling met die elite s’n. Waar dit hier om joernalistieke populisme gaan, is dit nodig om die begrip verder te verduidelik.

Rayner, Wall en Kruger (2001:223) sê ’n tabloid kan soos volg beskryf word: “A compact newspaper [...] designed to appeal to a mass audience. Tabloids, particularly at the lower end of the market, are associated with sensationalising the trivial event rather than comprehensive coverage of national and international news.” Maar dit is belangrik om daarop te let dat dié tipe koerante meermale daarin slaag om emosioneel met hul lesers te verbind (Burton 2010:233).

Kortom kan dit gestel word dat populistiese koerante doelbewus ’n bepaalde agenda daarstel wat op ’n bepaalde leser gemik is. Waar die koerant ’n hibriede koerant is wat vir ernstiger en minder ernstige lesers moet voorsiening maak, is die agenda noodwendig uiteenlopend en kan dit in verskillende dele van die koerant neerslag vind (Hiebert, Ungurait en Bohn 1991:79, 80, 111, 112).

Joernalistieke populisme is ’n wêreldwye verskynsel. Dit vind sy wortels laat in die 19de eeu in Amerika en die Verenigde Koninkryk (Encyclopaedia Britannica 2025). “Geelpers” (“yellow press”) as benaming vir populistiese koerante kom voort uit Amerika. Alternatiewe name is “poniepers” en “tabletkoerante” (“tabloids”), wat dui op die kompakte, dus kleiner formaat waarin hierdie tipe koerante meestal verskyn, maar wat geen akkurate benaming is nie, aangesien ook ernstige koerante nog altyd in hierdie formaat gedruk is (Hargreaves 2005:61). In Suid-Afrika is die Weekly Mail, Daily Maverick 168 en Die Papier voorbeelde hiervan.

Die term populisme word ook hier gebruik as aanduiding van ’n benadering waarin die klem sterk op minder ernstige materiaal val ten einde die breë massa te vermaak – selfs deur ernstige nuus verteerbaar aan te bied. Maar meestal dui dit op sensasie, met die gepaardgaande aanbiedingswyse. In Bobba e.a. (2025) se woorde:

Theoretically, tabloid journalism is often aligned with a direct and sensationalist approach to populist topics. Tabloids typically present stories in a provocative manner, leveraging populist narratives to capture reader attention. This journalistic style frequently emphasizes conflicts, controversies, and the emotional aspects of stories, aligning with populist rhetoric and reflecting an intent to resonate with the “common people” against elites.

Temas soos seks en sport word dan op ’n bepaalde wyse aangebied of geraam. Skandes, melodrama, onbenullighede en growwe sosiale afwyking kry voorkeur bo ernstiger nuus (Smith, Fourie en Froneman 2012; Botha 2009:26–8; Froneman 2012). Ernstige temas word dus onderspeel, en minder belangrike gebeure en mense opgeblaas tot “groot” nuus, versterk deur skokkende (groot) opskrifte en foto’s.

In die mate waarin ’n koerant se opskrifte nie genuanseerd genoeg is nie, feite weglaat, of nalaat om betrokkenes geleentheid te gee om ’n berig voor publikasie te lees (nadat dit beloof is), kan dit as swak joernalistiek bestempel word en tot klagtes by die persombud of dergelike instansie lei. Daar kan ook geargumenteer word dat dit juis dié tipe joernalistiek is wat met (sensasionele) populisme verbind word.

Tog moet beklemtoon word dat populisme as sodanig nie per definisie sensasioneel is nie, maar bloot kan dui op die gebruik van alledaagse taal (dus leesbaarheid vir gewone mense) en gebruik van korter sinne en paragrawe asook groter opskrifte en foto’s (Hargreaves 2005:62; Froneman 2010).

Nie alle aspekte van populisme is dus noodwendig eties kontroversieel nie en kan juis as eties beskryf word omdat dit joernalistiek toegankliker maak vir lesers. Anders gestel: Dit open ’n alternatiewe openbare sfeer en kan nie outomaties as swak joernalistiek beskryf word nie (Örnebring en Jönsson 2004). So skryf Rapport se eerste sakeredakteur dat hulle benadering was “om sake-aangeleenthede tot binne die begrip van elke leser te bring [...] Ons moes ook die huisvrou, die boer, die skolier betrek” (Meades 1995).

Die latere sukses van Daily Sun, (Die) Son en Daily Voice het dié joernalistieke styl soos dalk nog nooit voorheen nie op die voorgrond gestoot en waarnemers die meriete van doelgerigte populisme laat heroorweeg. Plaaslik verteenwoordig Wasserman (2010), Glen en Knaggs (2008), Jones, Vanderhaeghen en Viney (2008) en Smith, Fourie en Froneman (2012) stemme wat positiewe aspekte van die Daily Sun, Die Son en ander publikasies belig het.

Intussen het die tydskrif Huisgenoot met groot sirkulasiesukses sleutelkenmerke van sensasionele populisme getoon (Spies 1992:360–8; Froneman, Swart en Pretorius 2018). Dit het oor jare heen bewys dat daar ’n leserspubliek is wat gemaklik is met ’n tipe joernalistiek wat ander onaanvaarbaar vind.

Koerante wat breedweg as populisties beskryf kan word, het uit die VSA of Brittanje na Suid-Afrika oorgespoel. In die Afrikaanssprekende wêreld is ’n belangrike voorbeeld Die Landstem, maar die eerste voorblad van Dagbreek in 1947 het ’n foto met skokwaarde gehad en kan as populisties bestempel word. Later sou Rapport dit by geleentheid gebruik, soos toe ’n foto van lyke dwarsoor die voorblad geplaas is (25 April 1974) of toe ’n grufoto van ’n “terroris” (later “vryheidsvegters” genoem) op die voorblad geplaas is onder die opskrif AFGEMAAI5 (26 Januarie 1980).

Daar is min twyfel dat sirkulasie (en gevolglik die winsmotief) by hierdie koerante se redaksionele besluitneming oorheers het, hoewel Tim du Plessis, voormalige redakteur, insiggewend opmerk:

’n Koerant, veral een soos Rapport, is ’n komplekse amalgaam van vele impulse; die redakteur se sienings, dié van die ander redaksielede, die reaksie en oortuigings van lesers, die reaksie van politici en sakelui, asook die breë mandaat van die eienaar aan die redakteur.

Maar uiteindelik is die kruks dit: Die kernlesers moet die koerant waardeer en respekteer. Hulle hoef nie van alles in die pakkie te hou nie. (Du Plessis 2010)

Opvallend het D.J. Opperman reeds in 1949 in sy epiese gedig Joernaal van Jorik negatief na elemente van populistiese koerante verwys en ’n bepaalde – sommige sou sê eensydige – persepsie van hierdie tipe koerante en tydskrifte help skep:

Gee ontspanning, hou die massas dop;
Gee elke dag ’n mooi nooi en ’n moord,
en stoot die sirkulasiesyfers op.

As gevolg van die digitale revolusie is Daily Sun teen 2025 gereduseer tot ’n aanlyn publikasie en was Son weer ’n weekblad ná jare van sukses as ’n dagblad (Harber 2024; Hammann 2024; Business Tech 2024). Verder het Rapport, as die belangrikste navolger van ’n gedeeltelike geelpersbenadering (dus sensasiegerigtheid binne ’n pakket wat ook ernstiger stof bevat), in die slag gebly en ook net as ’n aanlyn publikasie oorgebly.

Rapport was altyd ’n hibriede koerant wat ernstige én populistiese komponente gehad het om ’n uiteenlopende Afrikaanse leserspubliek mee te bedien. Die persepsie dat daar ’n teenstelling is tussen populistiese en kwaliteitkoerante is vals, hoewel dié mening algemeen in die literatuur uitgespreek word (bv. Bobba e.a. 2025). In die geval van Rapport is ’n koerant met ernstige politieke inhoud uitgegee, gelyklopend met ’n ligter aanbod (maar dan gewoonlik in aparte seksies). Ook die ligter inhoud kon van gehalte gewees het, hoewel ’n gehalteoordeel nie hier gemaak word nie.

Waar politieke populisme in die jongste jare wêreldwyd sterk op die voorgrond getree het en daar heelwat navorsing gedoen word oor die rol wat populistiese koerante speel om populistiese politiek te bevorder, moet die voorbehoud hier gestel word dat politiek buite die bestek van hierdie artikel val, hoewel voorbeelde genoem sal word om die diverse nuusagenda van ’n hibriede Rapport uit te wys.

Die klem is dus op daardie niepolitieke inhoud in die hoofkoerant (tydskrifte dus uitgesluit) waar die genoemde kenmerke van populisme opvallend in die opskrifte van berigte voorkom, asook bepaalde foto’s.

Hoe dit gekom het dat Rapport se voorgangers, en Rapport self sedert sy ontstaan in 1970, elemente van populisme, selfs sensasionele populisme, naas ernstige stof bevat het, word vervolgens bespreek. Dié bespreking word egter gebalanseer deur die insluiting van enkele Rapport-voorblaaie wat tipies harde nuus en selfs politiek bevat het.

 

3. Die aanloop tot Rapport se verskyning as Sondagkoerant

Hoewel hier spesifiek op Rapport en sy voorgangers gefokus word, word dit ook kortliks binne die groter Suid-Afrikaanse koerantkonteks geplaas.

Die Sunday Times het reeds in 1906 sy eerste uitgawe beleef (Dreyer 2006:2), wat daarop dui dat daar geen wetlike beperking onder die destydse Britse bewind was op die publikasie van ’n Sondagkoerant nie. Tog was daar selfs voor die eerste uitgawe van die Sunday Times heftige protes van kerkweë teen so ’n koerant en is kerkgangers aangeraai om nie die blad te koop nie (Barron 2006:6). Die blad het egter dadelik ’n gewillige leserskorps gevind en die sirkulasie het vinnig geklim (Mervis 1989:45).

Die Afrikaanse gemeenskap was waarskynlik minder ontvanklik vir ’n koerant op Sondae, wat beteken dit het eers vier dekades later sy opwagting gemaak – dus in die naoorlogse jare toe gemeen is dat Afrikaanssprekendes buitendien Engelstalige Sondagkoerante koop en sulke inhoud eerder in hul eie taal sou wou lees (Erasmus s.j.:287–99). Daar was ook politieke en suiwer finansiële faktore wat gelei het tot die verskyning in 1947 van Dagbreek en Sondagnuus kort na mekaar. Enkele maande later is Sondagnuus by Dagbreek ingelyf (Richard 1985:70).

Onder die sobere Willem van Heerden, en vanweë die noue verbintenis met die politieke leiers Hans Strijdom en Hendrik Verwoerd, het die blad nie populisties geneig in die idioom van die latere Dagbreek en Die Beeld nie, maar daar was tog ’n groter klem op menslike stories, aldus Dirk Richard, stigterslid en latere hoofredakteur van Dagbreek (Richard 1985:86).

Werklike sensasionele populisme sou eers later kom, maar ook dit het ’n aanloop gehad. In die jare ná die Tweede Wêreldoorlog het die publiek se leesvoorkeure wesenlik begin verander. Volgens Spies (1992:356) het

die kuise en ingehoue styl van Die Huisgenoot vir die naoorlogse geslag flou afgesteek teen die hartstog, uitgesprokenheid en uitdagendheid van die bioskoop en die ingevoerde blaaie. Dit is daarom nie te verwonder nie dat ’n hele reeks klein blaadjies ontstaan het wat aan lesers wou gee wat hulle nie in Die Huisgenoot kon kry nie, blaadjies met name soos Fyn Goud (1952–1961), Hy en Sy, Die Beste, Romantiek en Fantasie [...].

Veral Fyn Goud het aftrek gekry – genoegsaam om nege jaar lank as onafhanklike blad te bestaan. Maar selfs nadat genoemde tydskrifte verdwyn het, het “die skade wat hulle gedoen het” nie saam met hulle verdwyn nie, aldus Spies (1992:356).

Die aanvaarding van hierdie publikasies deur ’n deel van die breë leserspubliek bevestig Spies (1992:355) se waarneming dat die verstedeliking van die Afrikaner in die tydperk voor en ná 1950 nie net ruimtelik was nie, maar ook ’n verandering in “lewensgewoontes en lewensbeskouing” meegebring het. Iets hiervan het in die 1950’s in Die Landstem neerslag gevind en later ook in Die Beeld, Dagbreek en uiteindelik in Rapport.

Waar Afrikaanse koerante van die eerste dekades van die 20ste eeu nie primêr kommersiële ondernemings was nie, maar draers van bepaalde ideale van die Afrikaner (Muller 1990:754–60; Erasmus s.j.; Vosloo 2018:242–4; Mervis 1989:225), het die kommersiële dimensie nou sterker na vore gekom. Soos ’n gewese hoofredakteur van Die Transvaler dit gestel het: “Hulle [die koerante] propageer nog standpunte, maar die groot oogmerk is dividende” (Richard 1985:98).

Tog het die kommersiële ingesteldheid nie voor die 1960’s die aard en inslag van veral Naspers se tydskrifte en koerante oorwegend bepaal nie. In die geval van Huisgenoot het dit eers teen die laat 1970’s gebeur (Froneman 2004; Rabe 2026). Die ommekeer by Naspers het ’n skerp kommersiële ingesteldheid en politieke moed geverg. Die gaping vir ’n populistiese (of dan ten minste deels populistiese) Afrikaanse Sondagkoerant moes nie net raakgesien word nie, maar daar moes ook oorgegaan word tot die daad van publikasie (De Villiers 1992:220–41).

Die verloop hiervan word verder aan kursories beskryf, maar dan teen die agtergrond van Die Landstem en ander populistiese publikasies van die 1950’s. Hulle het die mark voorberei vir wat sou kom.

3.1 Die Landstem

Hoewel Dagbreek voor Die Landstem verskyn het en met ’n opspraakwekkende voorbladfoto vir die tyd weggespring het, is daar geen aanduiding dat Dagbreek die werklike wegbereider vir Afrikaanse sensasionele populisme was nie. Dit was Die Landstem wel. Die blad het in 1950 op die toneel verskyn ná die ondergang van Die Burger se Afrikaanse mededinger, Die Suiderstem, ’n dagblad wat die Verenigde Party ondersteun het (Muller 1990:448, 458–9).

Die redakteur en mede-eienaar van Die Landstem, Piet Beukes, was ’n flambojante figuur wat, in die woorde van ’n tydgenoot, Donald Woods, “broke out of the whole somber partylining mould of the Afrikaans-language press and founded the rip-roaring, disreputable mass-circulation weekly Landstem, based on sin, sex, and sensation” (Woods 1986:54). Hy was ’n sterk ondersteuner van genl. Jan Smuts, eerste minister tot 1948. Beukes se sakevennote was onder andere sir De Villiers Graaff, later lank die leier van die Verenigde Party asook van die amptelike opposisie in die destydse wit parlement (Froneman 2021; Schoombee 2025).

Die Landstem kan inderdaad beskou word as ’n sensasiekoerant (Vosloo 2018:17) – ’n volgrootte koerant, maar uitgegee in die styl van die Britse tabloids of poniepers. Benewens groot, skokkende opskrifte en bladsye se sport met prominente foto’s het die blad talle foto’s en berigte geplaas wat later tipies in Die Beeld en Rapport aangebied sou word. Die Landstem is, soos alle ander Suid-Afrikaanse koerante destyds, nie in volkleur gedruk nie, maar het wel ’n rooi mashoof (of “gewel”) gehad. Dit was geen bepalende kenmerk nie, maar het wel die blad van die konserwatiewe Die Burger met sy destydse sober swart mashoof onderskei. Die rooi mashoof het later kenmerkend van Dagbreek, Die Beeld en Rapport geword en ook só aansluiting gevind by wat die Britte “red tops” (dus tabloids) genoem het.6 Dagbreek is in ’n stadium in ponieformaat gedruk, maar het later, soos die ander plaaslike weekblaaie, in volgrootte formaat verskyn.7 Dit het nooit om die formaat gegaan nie, maar wel om die inhoud.

Nog ’n kenmerk was die redakteur se persoonlike styl, wat ’n bepaalde intimiteit met sy lesers geskep het. So skryf Beukes ná die moord op die eerste minister, H.F. Verwoerd, in ’n voorbladhoofberig: “Aan my het Frankie Waring [...] toe dr. Verwoerd se bloed nog op sy sitplek gelê het, die wond gewys in sy been waar die sluipmoordenaar se mes hom ook gesteek het” (Die Landstem, 7 September 1966). En in ’n tweede voorbladberig skryf Beukes: “Ek was daar in die wandelgange van die Parlement waar daar nog chaos geheers het [...].”

Hierdie resep was duidelik suksesvol. Die Landstem haal in die eerste ses maande van 1959 ’n gemiddelde syfer van 148 170 per week, die hoogste van alle Afrikaanse koerante. Dagbreek en Sondagnuus het op 123 534 gestaan, terwyl Die Burger se Saterdaguitgawe maar 59 876 gehaal het (Steyn 2002:87). Senior mense by Naspers (uitgewer van Die Burger) het Die Landstem as “snert” bestempel (Steyn 2002:86). Die Burger se mense het daarom op Die Landstem neergesien, en Piet Cillié, redakteur van Die Burger, het Die Landstem selfs met ’n bordeel vergelyk.

Figuur 1. Die Landstem waarna hier bo verwys word. Die redakteur, Piet Beukes, skryf in die eerste persoon oor die gebeure wat op 6 September 1966 in die Volksraad afgespeel het.
Klik op die figuur vir ’n groter weergawe.

Hoewel Die Landstem ’n weekblad was wat in die middel van die week verskyn het, en só gesien nie ’n regstreekse mededinger van Die Burger was nie, het Die Burger se redaksie noodwendig kennis geneem van die menslike inslag van Die Landstem se stories wat tot stewige sirkulasiesyfers bygedra het. Een so ’n storie is deur die jong Ton Vosloo geskryf. Hy vertel dat hy van Oktober 1958 tot Julie 1963 by Die Landstem gewerk het en daarná, toe hy Dagbreek en Sondagnuus se politieke beriggewer was, steeds vryskutwerk vir Die Landstem gedoen het (Vosloo 2018:17, 264). So skryf hy ’n “roerende berig” oor ’n “verwese” Springbokkrieketspeler wat ná die dood van sy vrou en drie kinders deur “sy bedroefte familie omhels” is. Die probleem was net dat die betrokke vliegtuig nié die Vrydag aangekom het nie en dat Vosloo se berig bloot “in antisipasie” geskryf is en dat dit dus fopnuus was.

Van die Naspers-publikasies, soos Die Byvoegsel (’n Saterdagbylae tot Die Burger) en selfs die tydskrif Sarie Marais, het volgens Steyn (2002:86) met Die Landstem “probeer meeding”. Hy haal Die Landstem se redakteur, Piet Beukes, aan wat sou gesê het: “Dit help julle nie. Julle kan nie wen nie, want as julle standaarde sak, dan sak ek net laer!”

Die Landstem van 29 November 1967, wat inlywing by Dagbreek aangekondig het met die groot hoofopskrif HOU ONS NOU DOP! se nuusagenda het só gelyk: Op die voorblad: Sou Haar Man Geskiet Het, Hou Nou Saam Vakansie en Ontug: Dominee Se Vrou Gaan Nie Van Hom Skei. Op die binneblaaie is die menslike stories ook swaar beklemtoon: IN HARTSTOGTELIKE GEBED HET VROU VAN HAAR MAN SE SKULD GEHOOR (bl. 3); Langer Dae ... Korter Rokkies (met vier foto’s van vroue in kort rokkies) (bl. 5); Vandag Se Modes Is ’n Sirkus (met die foto van ’n vrou in ’n rok met ’n deurskynende middelgedeelte) (bl. 8) en ’n “sonskynnooi” (bl. 14).

Opvallend het Ben Schoeman, die voorsitter van Dagbreektrust, die beherende liggaam van die Afrikaanse Pers (1962) Bpk., die belang van die oorname van Die Landstem en inlywing by Dagbreek as van grootse belang vir die regerende Nasionale Party bestempel (Die Vaderland, 24 November 1967). Maar eintlik was die doel om Dagbreek se totale sirkulasie te versterk in sy stryd teen Die Beeld (De Villiers 1992:239).

Die Landstem het ook in sy gedaante as “Dagbreek en LANDSTEM” (dus as aparte midweekse uitgawe van die saamgesmelte blad en met Landstem prominenter as Dagbreek in mashoof) normaalweg ’n meisie op die voorblad gehad – telkens in ’n bikini of kort rokkie (vgl. 1, 8 en 15 November 1967 asook 20 Julie 1969). Beukes se benadering sou op grond hiervan (en bogenoemde voorbeelde) as kommersiële joernalistiek gemik op die massas beskryf kon word.

Tog was hy iemand met ’n Oxford-meestersgraad in internasionale politiek en het hy graag in hoë sosiale kringe beweeg (Schoombee 2025). Hy het egter die mark se behoeftes goed verstaan en was nie skaam om dit uit te buit nie. Ton Vosloo, eertydse redaksielid en later voorsitter van Naspers, het opgemerk: “Hy is die ou wat die Afrikaanse joernalistiek se vensters oopgemaak het vir die breër wêreld daar buite – in die sin van menseverhale” (Vosloo 2020). En die blad se opskrifte kon “baie stuitig” wees (Vosloo 2018:265).

Naspers se destydse besturende direkteur, Phil Weber, het in die lig van Die Landstem se sukses sy kommer uitgespreek oor die voorkeur wat lesers aan “die sensasiewekkende en minderwaardige” gee en waarmee Die Burger nooit kon hoop om mee te ding nie (Steyn 2002:87). Maar enkele jare later het dieselfde Naspers Die Beeld gestig en ’n soortgelyke resep begin volg, met groot sukses.

Die Landstem se populistiese inslag het, soos aangetoon, verskillende dimensies gehad, waarvan die (vir destyds) seksueel uitdagende opskrifte, berigte en foto’s opvallend was en die pad vir Dagbreek, Die Beeld en Rapport aangedui het – waar dié tipe inhoud ’n betekenisvolle plek gevind het. Hoewel Die Landstem nooit ’n Sondagkoerant was nie, word dit by hierdie bespreking ingesluit omdat dit as weekblad die sensasionele styl help vestig het en in 1967 by Dagbreek ingelyf is om Dagbreek en Landstem te vorm. Die inslag van dié blad is weer by Rapport ingedra toe Dagbreek en Landstem en Die Beeld in 1970 saamgesmelt het, soos wat verder in die artikel aangetoon word.

3.2 Dagbreek

Sondagnuus (Afrikaanse Pers Bpk.) en Dagbreek (Marius Jooste en vennote) is bykans dieselfde tyd in 1947 van stapel gestuur (Richard 1985:70). Die koms van twee Afrikaanse Sondagkoerante vanuit wesenlik dieselfde kring was die resultaat van interne meningsverskille (Erasmus s.j.:287). Dit was ernstig genoeg vir Marius Jooste, Willem (Wollie) van Heerden, Mynhardt (A.M.) van Schoor en Otto Schwellnus om weg te stap van Afrikaanse Pers Bpk. (APB) en te soek na kapitaal om Dagbreek mee te begin. Die dryfkragte agter die stigting van Dagbreek het gemeen dat ’n groot aantal Afrikaanse lesers die bestaande Engelstalige Sondagkoerante koop en dat daar dus ’n mark was om te ontgin.

Die eerste uitgawe van Dagbreek in 1947 het op 24 Junie met ’n voorblad verskyn wat herinner aan die sensasiekoerante van 70 jaar later (bv. Daily Sun) (Richard 1985:71). Daarop is aangedui dat My Weekblad daarby ingelyf is, ’n kenmerk van Dagbreek tot met sy samesmelting met Die Beeld: Nog drie keer is blaaie daarby ingelyf. Ná slegs vyf maande is Sondagnuus deur Dagbreek oorgeneem (danksy ’n transaksie tussen die nuwe persmaatskappy en APB) en het die blad nou Dagbreek en Sondagnuus (kortweg Dagbreek) geheet – ’n reëling wat tot 1968 sou geld toe Die Landstem by Dagbreek en Sondagnuus ingelyf is om Dagbreek en Landstem te vorm (Erasmus s.j.:273–4).

Daar was aanvanklik enorme praktiese probleme om die blad gedruk te kry; ook met die poging om met die hulp van Engelse mynboukapitaal ’n vennootskap tussen Afrikaanse en Engelstalige belange te snoer (Erasmus s.j.:294–7). Toe Nasionale Pers die Transvaalse leier van die Nasionale Party, Hans Strijdom, in 1953 inlig dat hulle van plan is om ’n Sondagkoerant in die Noorde te begin, het Strijdom sy steun gegee aan Marius Jooste se plan om die Engelse mynboubelange uit te koop (vgl. Richard 1985:67–73). Nasionaliste se steun is verkry om £100 000 bymekaar te bring om Dagbreek op eie bene te laat staan (met Strijdom as voorsitter, en later H.F. Verwoerd). Hierdie band tussen koerant en party sou later ’n belangrike faktor in die stryd tussen Dagbreek en Die Beeld wees.

Uit die staanspoor was hier dus twee hooffaktore ter sprake: die behoefte aan ligter leesstof op ’n Sondag en (veral vanaf 1953) die Nasionale Party (NP) se behoefte om sy boodskap by Afrikaanse kiesers te kry. Sowel Strijdom as Verwoerd het ’n noue band met Dagbreek en sy besturende direkteur, Marius Jooste, gehad (Erasmus s.j.:298–9). Erasmus (s.j.:302–3) stel dit vanuit Afrikaanse Pers (1962) Bpk. se perspektief en ietwat blomryk soos volg:

Dagbreekpers het nie alleen as sakeonderneming algou welslae behaal nie. Ook as boodskapdraer sou die blad reeds vroeg in sy bestaan vir hom ’n eie, warm plek in die harte en agting van die grootste leserstal van alle Afrikaanse nuusblaaie in die Republiek verower.

Wat Erasmus nié noem nie, is dat Afrikaanse Pers pas voordat Dagbreekpers dit effektief oorgeneem en Afrikaanse Pers (1962) Bpk. tot stand gekom het, nogmaals (“in ’n dom wanhoopspoging om ’n bankrotpers te red”) kortstondig Sondagblad uitgegee het (Richard 1986:4). Steyn (1998:923) vermeld dat die voorsitter van Dagbreektrust, H.F. Verwoerd, kommer uitgespreek het oor hierdie nuwe opposisie vir Dagbreek (soos hy later ook Die Beeld se stigting teengestaan het). Sondagblad het ’n sirkulasie van 80 000 gehaal “en ongerieflik naby aan Dagbreek begin kom”, aldus Richard (1985:84), maar die eienaar se geld het opgeraak en Dagbreekpers en Afrikaanse Pers Bpk. (APB) is saamgevoeg tot Afrikaanse Pers 1962 Beperk (met Dagbreektrust as beherende liggaam). Sondagblad is dus ook by Dagbreek ingelyf. Die stryd om heerskappy in die Sondagmark was vir ’n kort wyle verby.

Teen hierdie agtergrond word die vraag nou gevra na die inhoud van Dagbreek, wat uiteindelik net twee hoofredakteurs gehad het: Willem van Heerden en Dirk Richard (Richard 1985:106; 1986:5). By Van Heerden se uittrede is gewag gemaak van sy rol as “skerpsinnige kommentator wat sy volk help dink en voorberei het vir die onvermydelike veranderinge wat gewag het” (Richard 1970). Dit stem ooreen met die lofbetuigings wat Schalk Pienaar van Die Beeld te beurt geval het (kyk afdeling 2.3).

Van Heerden se opvolger by Dagbreek, Dirk Richard, herhaal sy vroeëre woorde wanneer hy opmerk: “Sy erns en geestelike diepgang het egter meegebring dat die bevrediging van die massasmaak – die taak en ook nagmerrie van die gewone werkende joernalis – nooit heeltemal binne sy forte sou val nie” (Richard 1970; vgl. ook Richard 1967). Richard, wat vir soveel jare onder Van Heerden gedien het, brei later op bogenoemde waarnemings uit en gee daardeur ’n insig in die redaksionele beleid van Dagbreek onder sy eerste hoofredakteur: “Die moderne redakteur moet ’n kenner en ontginner van die massasmaak wees, sonder dat hy bloot ’n massabevrediger word. Die handhawing van ’n gesonde balans tussen die ernstige en die ligte is een van die moderne redakteur se hoofpyne.”

Vir hierdie soort hantering van massaspyse was Van Heerden nie toegerus nie:

Daarvoor was hy te konserwatief en verhewe. Hy het die “handel dryf” aan ondergeskiktes [...] oorgelaat. Hy sou net met streng nougesetheid oor die aansien en inhoud van sy blad waak om te keer dat sy assistente hulle nie vergryp aan te veel “human interest”, seks, misdaad, onthullings of wandelings in donker stegies nie. (Richard 1985:109–10)

Hierdie ingetoë benadering van Van Heerden het meermale tot botsings met senior kollegas gelei, soos geïllustreer deur sy nuusredakteur by Die Vaderland, Hint Hyman, se opmerkings (Richard 1985:110):

Seks en sensasie was heeltemal taboe. Toe ek hierdie en ander populêre leesstof begin inlaat, was daar opstand – eers, van alle mense, die setters. Hulle het eenvoudig geweier om die stories te set. Maar die bestuur was aan my kant [...] Daarna was dit Willem van Heerden. Ons het nie goed oor die weg gekom nie.

Van Heerden het “meer as een dag oor die ‘verjongingskuur’ by Die Vaderland gefrons” (Richard 1985:111) – hoeveel te meer oor wat later by Dagbreek sou gebeur. Dagbreek en Sondagnuus was onder Van Heerden stewige, sober nuuskoerante (tot 96 bladsye in ponieformaat) (vgl. die uitgawes van 31 Mei 1951 en 23 April 1961).

Onder Richard se redakteurskap moes Dagbreek die aanslag van Die Beeld trotseer en die “volume” (lees: sensasie) noodwendig harder gestel word. Richard verwys in sy herinneringe na die politieke storms en die botsings tussen pers en party wat hy moes oorleef (Richard 1986:15–78, 97–109, 115–46). Oor Dagbreek en Die Beeld se “bevrediging van die massasmaak” ná 1965 skryf hy: “Die wedywering tussen die twee Sondagblaaie (Dagbreek en Die Beeld) het soms ’n soort ‘exposé’-joernalistiek na vore gebring wat die grens van onsmaaklikheid oorgesteek het.” (Richard 1985:120).

Maar dit sou volg op ’n roete wat Piet Beukes se Landstem reeds in die 1950’s begin volg het en van dié blad ’n belangrike wegbereider van dié tipe joernalistiek in Afrikaans gemaak het. Voeg daarby Hint Hyman se populistiese vernuwing vroeër by Die Vaderland (Richard 1985:111).

Dagbreek was nie onder Willem van Heerden ’n populistiese koerant nie. Maar die koms van Die Beeld het Van Heerden se opvolger, Dirk Richard, genoop om sy houding te verander en sy koerant se styl metterwyl aan te pas in die stryd om Dagbreek se sirkulasie voor Die Beeld s’n te hou.

’n Dagbreek uit 1967 lewer min op wat as geelperspopulisme beskryf kan word. Wel word die volgende opskrifte, berigte en foto’s in die hoofkoerant van 32 bladsye opgemerk: Onder die opskrif Minirokke aanskoulik met foto’s van meisies in minirokke, berig die koerant: “Astertjies in die skamelste ‘mini-blaartjies’ [...] het gister kleur verleen aan die Randse skoumiernes” (Landstem en Sondagnuus, 26 Maart 1967:3); asook: Skolier-bruid Se Huwelik Op Rotse wat opduik op bl. 21 en vertel van ’n 14-jarige skoolmeisie wie se huwelik misluk het. Die koerant belowe op sy voorblad ’n uitgebreide tydskrifbylae, Fleur, wat klaarblyklik ’n poging was om die sukses van Die Beeld se volkleurtydskrif teen te werk.

Teen 1 November 1970, toe Dagbreek en Landstem aankondig dat die blad met Die Beeld gaan saamsmelt, lyk die inhoud van die hoofkoerant enigsins anders. Bladsy 2 bevat vier foto’s van vroue in bikini’s langs of bo-op motors by ’n Londense motorskou; bladsy 3 se hoofberig lui: Dominee In Hof Oor ‘Onwettige’ Troues;8 ’n foto van wat glo verpleegsters se nuwe uniform kan wees – ’n vrou in ’n rok met ’n spleet tot by die heup (bl. 7); BLONDE SPIOEN KRUIP NIE MEER WEG (met prominente foto’s van die jong vrou in bikini en kort rokkie) (bl. 13); Mej. Oudtshoorn erken dat sy stout was (bl. 14); Meisie Wat ’n Man Was Word Dalk Sy Erfgenaam (plus foto van die vrou in ’n rok met lae hals) (bl. 19). Dit is nie inhoud wat onder Willem van Heerden toelaatbaar sou gewees het nie.

Die tweede seksie bevat verskeie features met temas soos: Waarom So Min Afr. Nooiens Mej. SA Word (met bygaande foto’s van drie Mej. Suid-Afrikas) (bl. 7); MY EERSTE VROU DROS OP ONS HUWELIKSNAG (ble. 8–9); en ’n Emosielose Monster Word Vrygespreek (ble. 10–1).

Die uitgawe van 20 Julie 1969 het die volgende berigte en foto’s ingesluit:

‘My Kinders Brand Dood’ met bokop: Moeder Se Rou Angskreet In Nag (bl. 4); en Dominee Vertrek Stil-Stil Na Twis In Gemeente (bl. 4). ’n Berig met ’n sterk persoonlike inslag was dié een deur Heinie Otto onder die opskrif FRIK EN MIEMIE SE HUWELIK IS OP DIE ROTSE (bl. 2). Dit handel oor ’n egpaar wat tronk toe is weens moord op die vrou se eerste man, later getrou het en nou wil skei. Otto skryf: “Frik en Mienie van Jaarsveld se huwelik van drie jaar is op die rotse. Dit is vir my pynlik om dit te berig, want ek het die paartjie gehelp trou.” Hy vervolg dan in die eerste persoon en vertel hoe hy Miemie besoek het. Hy sluit die berig soos volg af: “Miemie was ontrou aan Spokies (haar eerste man), en nou is sy oortuig dat Frik ontrou aan haar is. Is die twee nie jare lank genoeg gestraf in die tronk dat hulle mekaar nou self moet straf nie?”

Pas voor die samesmelting van Dagbreek en Landstem met Die Beeld om Rapport te vorm, lyk die bestanddele soortgelyk. Dagbreek en Landstem se uitgawe van 1 November 1970 bevat onder meer die volgende opskrifte: ‘Goeie Ontug-Besigheid’ Met Blanke Mans In Transkei (bl. 2); die gebruiklike foto van ’n “mini-mini-nooi” (bl. 7); en Pas Op! Jy Word Aan Jou Vrou Geken (wat ’n geleentheid gebied het om ’n foto van die aktrise Raquel Welch in ’n bikini te plaas) (bl. 13).

Die uitgawe van 8 November 1970 het verskeie foto’s van meisies in bikini’s (ble. 2, 3, 17), asook berigte soos SKOK EN BEROERING OOR ONTUG IN EXCELSIOR (bl. 2); MAN GEVONNIS OOR OMGANG MET SKOOLMEISIE (bl. 5); Vader Soek Baba Wat Hof Aan Hom Toegeken Het (bl. 10); en Bejaarde Sê Sy Vrou Het By Loseerder Gekuier (bl. 17).

Die uitgawe van 15 November 1970 het dié styl voortgesit met berigte en foto’s soos: Dominee Ontken Dat Hy Vrou Probeer Liefkoos Het (bl. 2); ’n bladsy vol foto’s van deelnemers aan die Mej. Wêreld-wedstryd (bl. 3); Maria Groesbeek Se Laaste Woorde, waarin vertel word hoe die koerant die moordveroordeelde se man, Gerhard Groesbeek, van Harrismith na Pretoria gebring het om 20 minute met haar te praat voor haar teregstelling (bl. 5); ’n foto van ’n 17-jarige meisie in ’n bikini en die opskrif Welkom, Son! (bl. 7); Spesiale Pil Vir Aborsies Is In Aantog (bl. 8); Sy’t Sharon Se Hare Net Voor Moord Gekap (bl. 13); en MODES VIR MILJOENÊRS (met vier foto’s van vroue in min klere) (bl. 17).

Figuur 2. Dagbreek en Landstem se samesmelting met Die Beeld is in 1970 só aangekondig – die einde van ’n duur stryd wat ’n merk op die aard van Afrikaanse joernalistiek gelaat het. (Kyk ook 3.4.)
Klik op die figuur vir ’n groter weergawe.

Die stigting, styl en sukses van Die Beeld was selfs belangriker as Die Landstem se baanbrekerswerk as populistiese koerant. Die Beeld het immers voortgekom uit die gerespekteerde, konserwatiewe Nasionale Pers (Naspers), en uiteindelik sou Rapport die produk van Dagbreek en Landstem én Die Beeld wees. Nog later sou Naspers volle besit van Rapport verkry (Vosloo 2028:145).

3.3 Die Beeld

Dat Die Beeld ’n politieke visie gehad het – meer nog, ’n visie van intellektuele verruiming – was uit die staanspoor duidelik. In ’n redaksionele kommentaar in die tweede uitgawe van Die Beeld is die Van Wyk Louw-begrip oop gesprek soos volg bepleit:

Suid-Afrika, die Afrikaner en die Nasionale Party kan goed klaarkom met minder van die fluistergesprek en meer van die oop gesprek waarin ons mekaar kan vind, en so dan nie vind nie, dan tog beter sal verstaan oor die groot en dringende vraagstukke wat per slot van rekening vir ons almal geld [...]. (Soos aangehaal deur Steyn 1998:1017)

Piet Cillié se siening van die saak is só deur Davis (1983:13) opgesom:

Die Pers se doel met Die Beeld was nie net om ’n boodskap te gaan versprei nie, maar ook om die Pers se belange oor die algemeen uit te brei daar waar die meeste van die land se blankes woon, en waar die kern van die land se ekonomie en gevolglik ’n potensieel vrugbare sirkulasieterrein en adverteerdersmark geleë was. ’n Gesonde sirkulasie was lewensbelangrik.

Die doel van die projek is verder deur Ton Vosloo, destyds nuusredakteur en later ook politieke korrespondent van Die Beeld, soos volg geformuleer:

Ons het nie ’n koerant in Transvaal gaan begin bloot net om die Nasionale Pers se belange uit te bou nie – ons doel was om ’n Afrikaanse Sondagkoerant uit te gee wat die grootste in Suid-Afrika sou word. Ons het Dagbreek in sy eie gebied gaan pak. (Davis 1983:13)

Waar Dagbreek se noue historiese band met die NP-regering sy politieke beriggewing soms getemper het (kyk bv. Richard 1986:52, 57–9) het Die Beeld uit die staanspoor geensins teruggehou in sy ongekende openlike beriggewing oor meningsverskille binne NP-geledere nie (De Villiers 1992:229, 245–50). Dit is gedoen terwyl die regering onder Verwoerd teen 1966 “’n skynbaar onaantasbare houvas op die volksbeweging” gehad het (Giliomee 2004:488). Teen blote volgelingskap het Schalk Pienaar hom egter lynreg verset, soos blyk uit sy verdediging van N.P. van Wyk Louw se Die pluimsaad waai ver – ’n toneelstuk wat, tot Verwoerd se ontsteltenis, kritiese vrae gevra het (Steyn 1998:1034–54; Giliomee 2004:489).

Die joernalis en uitgewer Piet Muller noem dat diegene wat nie tuis gevoel het “onder die ou konstellasie (in Transvaal) nie, het uitgekristalliseer rondom Die Beeld en sy onafhanklike standpunte” (soos aangehaal deur Steyn 1998:1017).

Maar lewendige, openhartige politieke beriggewing en meningswisseling was nie genoeg om Die Beeld teen die lank gevestigde Dagbreek te laat meeding nie. Volgens Mouton (2002:57) het die hoofredakteur, Schalk Pienaar, besef die koerant moes lesers lok “met berigte oor sensasionele gebeurtenisse”. Verder: “Jong vroue in minirokke en skraps bikini’s, wat steeds goed geklee was vergeleke met wat toe reeds gangbaar was, het tot ontsteltenis van baie gereeld in die koerant verskyn.”

’n Politieke koerant kon dus ook op vermaak ingestel wees. Trouens, die sensasionele aanbieding van nuus was volgens een Britse redakteur ’n diens aan die demokrasie (Hargreaves 2005:62). Schalk Pienaar, stigter-hoofredakteur van Die Beeld, het juis gemeen ’n Sondagkoerant moet jou ook seksueel prikkel (Claassen, Muller en Van Tonder 1998:184). Voorbeelde hiervan is volop, maar hier is enkele:

Op 15 Januarie 1967 het een van Die Beeld se mees opspraakwekkende voorbladhoofberigte verskyn – oor ’n hofsaak waarin bekendes in die Bloemfonteinse gemeenskap van seksuele oortredings van homoseksuele aard sou verskyn. Die eerste uitgawe van die blad het Saterdagaand verskyn en gelei tot ’n dringende hofbevel wat die publikasie van die berig verbied het en toe tot die landwye konfiskering van die betrokke uitgawe (De Villiers 1992:233–5). ’n Spesiale uitgawe sonder die hoofopskrif of berig, maar met heelwat oop ruimte en ’n opskrif, SPESIALE UITGAWE: HOFBEVEL TEEN DIE BEELD, plus ’n kort verduideliking, is toe inderhaas gepubliseer.

Figuur 3. Die Beeld in 1967 met leë spasies op die voorblad nadat die berig oor seksoortreders deur ’n interdik verbied is. Die koerant is uiteindelik nie vervolg nie, soos hier onder aangedui.
Klik op die figuur vir ’n groter weergawe.

Uiteindelik het die staat nie die koerant vervolg nie en is ’n “massa publisiteit” deur die insident gegenereer (Pienaar 1979:89) en “belangstelling vir Die Beeld opnuut geprikkel” (De Villiers 1992:235).

Twee weke later kon Die Beeld op die voorblad berig dat die saak tussen die vier aangeklaagdes en die koerant buite die hof geskik is en dat die minister opdrag gegee het dat die reg sy normale loop moet neem (Die Beeld, 29 Januarie 1967). Daarmee is Die Beeld ten minste deels in die gelyk gestel.

In die omstrede uitgawe van 15 Januarie 1967 verskyn onder meer foto’s van ’n vroulike toeskouer by ’n tenniswedstryd wat deur ’n konstabel aangesê is om haar “beter te klee”; en ’n berig onder die opskrif Man se swakheid lei tot moord (die “swakheid” was dat hy gay was).

In die uitgawe van 29 Januarie 1967 verskyn ’n berig met vier foto’s van ’n staatsamptenaar se “baie mooi dogters” (twee in bikini’s, twee in minirokke), terwyl 3 Desember 1976 berigte soos die volgende bevat: Bokop: Predikant wen saak oor “ander vrou”; hoofkop: KERK WIL HOM DALK WEER AANKLA (bl. 5); Bokop: Meisies knaend kerk toe; hoofkop: GLENCOE SE LOS DOMINEES (hulle was bloot ongetroud) (bl. 6); Ma se kêrel lol met kind, sê pa (bl. 9); en Kort rokkies by hoë troue (bl. 9).

Hierdie tipe beriggewing het ernstige besware ontlok, soos hier onder bespreek word.

Serfontein (1970:223) se oordeel oor die stryd tussen Naspers (Die Beeld) en Afrikaanse Pers (Dagbreek) was dat laasgenoemde in eerste en laaste instansie “kommersiële joernalistiek” beoefen het. Dit mag in bepaalde opsigte waar gewees het, maar Afrikaanse Pers se koerante het ook ’n politieke inslag gehad wat binne ’n komplekse noordelike konteks in die koerante neerslag gevind het. Dit is ook duidelik dat Die Beeld eweneens kommersiële joernalistiek beoefen het. Dit was immers ’n stryd om (politieke) oorlewing waarin kommersiële sukses (wins) ’n kernelement was.

3.4 Rapport

Die meedoënlose stryd tussen Dagbreek en Landstem en Die Beeld het negatiewe finansiële implikasies gehad. Dit het uiteindelik die samesmelting van die twee koerante genoop, al het die eienaars geen erg aan mekaar gehad nie (Scholtz 1992:254, 255; Richard 1985:149, 150; Moolman 2002:1–3).

Nasionale Pers het wel redaksionele beheer van die nuwe koerant gekry, maar die redaksie is saamgestel uit joernaliste wat vroeër vir al die samestellende koerante gewerk het (Wepener 2010). In watter mate dié koerante se inslag by die nuwe blad ingedra is, sal uit die onderstaande blyk.

Die eerste uitgawe van Rapport het ’n voorbladfoto van ’n meisie in bikini geplaas, wat die Landstem-resep voortgesit het. Maar dit het uiteraard oor veel meer as sodanige foto’s gegaan. Ander elemente van populisme, selfs sensasionele populisme, sal uit die onderstaande blyk.

Voorblaaie is uiteraard enige koerant se uitstalvenster. In die geval van massakoerante sal dit nie soseer op belangrike of ernstige nuus fokus nie, maar op nuus wat selfs die terloopse potensiële koper se aandag sal trek. ’n Enkele omvattende studie oor Rapport se dergelike temas se voorblaaie in die jaar 2000 – dus die agenda wat aan kopers gestel is – het die volgende aan die lig gebring: 35% van die voorblaaie het sport as tema gehad en 29% hofsake of soortgelyke temas (Naudé en Froneman 2003:88, 89). Menslike stories (“human interest”) en ongelukke het sowat 13% van die voorblaaie oorheers. Politiek het wel op 11% van die voorblaaie verskyn.9

Hierdie tendens is nie noodwendig in jare voor of na 2000 gevolg nie. Hier is wel enkele voorbeelde van Rapport-voorbladhoofopskrifte wat iets van die koerant se voorbladagenda weergee:

BRULLENDE DOOD (6 Maart 1977)

MOOI SO, BOKKE! (15 Junie 1980)

DIE STAAT TREE OP OOR HOMO-SIEKTE (9 Januarie 1983)

LEEF HUL NOG? (21 Januarie 1990)

STEVE H. WÉÉR LIEFDESPA (3 Oktober 1993)

FW in Griekse drama (1 Februarie 1998)

Dis Bok-rugby! (20 Augustus 2000)

Nuwe TV-planne vir rugbytoetse (21 April 2002)

Ek wou op my Bok-trui braak – Luke (12 Oktober 2008)

Wees mannie, nié sissies – Angus (18 April 2010)

Seks-kinkel onthul (26 Augustus 2012)

Kallie in trane (25 November 2012)

Skoondogter vat FW hof toe (2 September 2012)

Raaisel van kolf vol bloed (17 Februarie 2013)

Was daar nog ’n vrou? (19 April 2015)

‘Magnus Malan was ’n pedofiel’ (5 Augustus 2018).

Die noem van hierdie opskrifte dui nie daarop dat hulle noodwendig sensasioneel was nie; wel dat dit die emosionele styl eie aan populistiese koerante weerspieël en die belang van rugby as tema aantoon. ’n Uitsondering was die hoofberig oor die prediker Angus Buchan, wat ’n voorbeeld is van ’n tema wat nie normaalweg as groot nuus beskou sou word nie, maar wat in ’n populistiese koerant soos Rapport waarskynlik ’n goeie keuse was en lesers gelok het.

Figuur 4. Die prediker Angus Buchan het landwyd opspraak gewek en haal die voorblad in 2010, al was dit kwalik groot nuus.
Klik op die figuur vir ’n groter weergawe.

Die persoonlike styl wat Piet Beukes vroeër in Die Landstem sy eie gemaak het, duik by uitsondering in 1993 op wanneer Zelda Jongbloed onder die banieropskrif ARME DR. PIET! haar onderhoud met die gewese minister en ambassadeur Piet Koornhof weergee (Rapport, 24 Januarie 1993, bl. 1). Sy skryf uit Amerika in die inleiparagraaf:

Daar sit hy oorkant my in een van die restaurante van die weelderige Reno Hilton – dr. Piet Koornhof, die man wat Suid-Afrika al langer as ’n week aan die gons het oor sy “warm, mooi verhouding” met sy vyf maande swanger bruin sekretaresse, Marcelle Adams.

Sy vervolg in die tweede paragraaf: “En ek kan nie help om te dink: ‘Jou arme man’ [...] nie, want dis duidelik die storm om sy kop is besig om oud-minister en ambassadeur Koornhof – of sommer Oom Piet in die wêreld van mej. Adams – tot by breekpunt te bring.”

Die sensasionele populisme – waar openbare belang kwalik ter sake was – het meer dikwels ’n plek op die agterblad van die hoofkoerant gevind. Rapport van 24 Januarie 1971 gee ’n vroeë aanduiding van die nuwe koerant se diverse resep. Die hoofberig op die hoofnuusseksie se agterblad het gelui: SPEL TE GEVAARLIK – DOKTER IN BRIEF AAN SKOONSUSTER en bevat besonderhede van ’n tugverhoor van ’n dokter. Hy is onskuldig bevind. Die bladsy bevat twee foto’s van jong vroue, soos dit gebruiklik op hierdie bladsy sou word.

Die Agterblad het teen 1975 ’n instelling geword en danksy naakfoto’s van Mej. Suid-Afrika nogmaals opspraak gewek. Vosloo (2018:270) skryf: “Om sensuur as koerante te ontwyk, plaas ons dit op die agterblad met strategiese plakkers.”

Die uitgawe van 17 Oktober 1976 se agterbladhoofberig (bl. 24) het gelui: ‘GODINNE VAN SONDE’ BOER IN ‘WOESTYN’ plus ’n foto van ’n meisie; 18 September 1977 (bl. 24) se hoofberig en foto handel oor die “seksbom van die jare sestig” en rolprentster Gina Lollobrigida: La Lollo praat oor die liefde; dié van 25 Maart 1978 lui: Warm nooi laat Kobus koud plus ’n foto van ’n “eksotiese danseres” (bl. 28).

Figuur 5. Die Agterblad op 17 Oktober 1976, waarna hier bo verwys word
Klik op die figuur vir ’n groter weergawe.

Tydens sy redakteurskap (1983–1987) het Willem de Klerk en sy redaksie Rapport se tradisie voortgesit. Hy skryf:

Dis ’n tradisie van ’n fokus op mense se prestasies, drama en hartseer vanuit die houding van deernis. Dis ook ’n tradisie van ’n knippie stoutigheid, ’n katspoegie skinderstories en ’n smeerseltjie spot, saamgeroer met sensasie waar sensasie gepas was (dis ’n joernalistieke dwaling om iets wat werklik sensasioneel is, nie sensasioneel aan te bied nie en dis ook ’n dwaling om nonsens op te blaas in skreeuende opskrifte). (De Klerk 1995)

Tog skryf Anna-Marie Mischke, destyds De Klerk se politieke regterhand, oor sy redakteurskap:

Maar iets het dalk ontbreek, die drukkersink in die are dalk, van iemand wat via die kerk en/of die akademie in die joernalistiek beland het. (Soos D.F. Malan, H.F. Verwoerd en Andries Treurnicht.) Hy het nie die populistiese aanslag gehad wat Rapport dalk toenemend nodig gehad het nie. Die sirkulasie het bly sukkel. (Mischke 2021)

Teen 24 Januarie 1993 het die agterblad effe verander en bevat dit nou ’n kleurfoto van ’n “Britse prikkelpop” in onderklere plus brokkies oor rolprentsterre. Die bladsy heet nie meer “Agterblad” nie, maar ’n strook bo-aan lui: “Mense en hul streke”.

Rapport onder redakteurskap van Izak de Villiers het Die Agterblad-gebruik voortgesit. Vroue in bikini’s (2 Januarie 1994), foto’s van vroue in onderklere (23 Januarie 1994) en ’n bostuklose foto van die model Claudia Schiffer (met strategiese sterretjies, soos in die 1980’s deur die tydskrif Scope gedoen is om die sensuur van die Publikasieraad te ontwyk (vgl. Froneman 2011).

Die uitgawe van 1 Mei 1994 se agterblad van die hoofseksie (wat in dié geval die sportblaaie ingesluit het) is deur ’n volbladadvertensie opgeneem en geen soortgelyke blad is elders in die koerant te vinde nie. Die Agterblad verskyn dus nie konsekwent elke week nie, maar foto’s in die agterbladstyl duik op binneblaaie op.

Johan de Wet was van 1999 tot 2001 die hoofredakteur; hy het min smaak gehad vir populisme en het ’n hoë premie op nuus gestel. Hy skryf later:

Ek het redakteur van Rapport geword in ’n stadium dat vernuwing baie nodig was. Dié behoefte het ek volledig met die hoofredaksie bespreek, en daarna met die res van die redaksie, die bestuur en die tegniese mense. Almal het spontaan ingekoop. Deel van die vernuwingplan was dat Die Agterblad afgeskaf word – bloot omdat dit nie ingepas het by ons vernuwingsplanne nie. (De Wet 2026)

De Wet noem ook: “Ons wou ’n ‘ordentlike’ koerant aan lesers bied – ’n koerant wat ’n mens nie vir jou kinders wil wegsteek nie.” Dit was effe uit pas met die styl wat die koerant sedert 1970 gehandhaaf het.

Oor groot opskrifte, wat tipies van populistiese koerante is, sê De Wet: “’n Belangrike vereiste van die tipografiese regruk van Rapport was dat ‘groot opskrifte’ wat ten doel het om te ‘skok’ in die slag moes bly. Groot foto’s het net staanplek in die koerant gekry danksy nuuswaardigheid, tegniese en fotografiese gehalte.” Daardeur is Rapport, aldus De Wet, (ten minste tydelik) weggestuur van populisme.10

Die Agterblad het op 9 Februarie 2003 onder die redakteurskap van Tim du Plessis herverskyn. Tog onthou hy dat “baie redaksiegesprekke oor die agterblad met die mooi vrou” in sy tyd gevoer is. “Veral die jonger vroulike joernaliste het gereeld daaroor gemopper” (Du Plessis 2024). Maar dit het nogmaals ’n kenmerk van die koerant geword. Volgens Du Plessis het “marknavorsing [...] gewys die lesers leef gemaklik daarmee saam. Maar teen die einde van my redakteurskap (2008) was die skrif aan die muur vir die agterblad-nooi van Rapport” (Du Plessis 2024). Dié stukkie populisme het onder ’n opvolger verdwyn.

Rapport is in 2009 nogmaals, onder redakteurskap van Liza Albrecht, herontwerp met Die Agterblad wat nou ’n prominente rooi mashoof gekry het. Die “eerste sexy wenner” is met ’n prominente foto bekendgestel (25 Oktober 2008). Voortaan sou daar ook ’n wedstryd vir mans wees, soos blyk uit 4 April 2010 se Die Agterblad waarop ’n manlike model (uiteraard sonder hemp) op die hooffoto verskyn (bl. 24), met ’n prominente aankondiging op die voorblad. Ter wille van geslagsbalans is drie foto’s van vroulike “smeulende donkerkoppe” geplaas.

 

4. “Mooimeisiekultuur” verdwyn uiteindelik

Openbare kritiek teen Rapport het in die 1980’s en 1990’s minder geword, hoewel die inhoud kwalik minder uitdagend was. In die 1990’s het sensuur in die lig van die komende nuwe politieke bedeling sodanig verdwyn dat tydskrifte wat voorheen verbied is (bv. Playboy en Penthouse), plaaslike weergawes gekry het. Scope het eers meer eksplisiet geraak, toe sonder foto’s van vroulike modelle, voordat publikasie gestaak is (Froneman 2011). Dit het saamgeval met die inploffing van Perskor, maar die hele mediabedryf was aan die verander vanweë tegnologiese vernuwing en ’n nuwe Grondwet.

Die koms van die internet en ’n stortvloed van TV-kanale danksy die DStv-aanbod het bygedra tot alternatiewe ligte (selfs seksuele) vermaak, iets wat voorheen deur sommige tydskrifte en koerante verskaf is.

Rapport het ondanks twee gewese predikante as hoofredakteurs (Willem de Klerk en Izak de Villiers) steeds berigte en foto’s van ’n seksuele aard bly publiseer. Trouens, De Villiers het nie openlik afkerig daarteenoor gestaan nie, terwyl De Klerk dit eerder verduur het (vgl. De Klerk 1982). Of soos ’n gewese hoofredaksielid dit stel: “Dit was maar een van daai dinge [...] Ek kan nie onthou dat dit ooit ’n kwessie was of om die hoofredaksietafel bespreek is nie” (Mischke 2024).

Die einde sou eers kom nadat Liza Albrecht, die eerste vroulike redakteur van die blad en Du Plessis se opvolger, dit waarskynlik beëindig het (Gerber 2024; Du Plessis 2024 en Kühne 2024).11 Bogenoemde faktore het moontlik ’n rol gespeel, maar ’n krimpende aantal nuusblaaie het bes moontlik ook daartoe bygedra, en die populistiese materiaal het veral op bladsy 3 staanplek gekry (Malan 2024). Dat Albrecht Die Agterblad aanvanklik omarm het en selfs uitgebou het met die aanstelling van Gavin Prins om spesifiek inhoud vir hierdie blad te vind, is egter ook so.

Het feministiese oorwegings op die ou end ’n rol by Albrecht se besluit gespeel? Daaroor het sy haar nooit uitgelaat nie. Daar is geen getuienis dat klagtes van die direksie, of lesers, of vanuit geloofsgemeenskappe daartoe bygedra het nie.

Onder Bokkie Gerber en Waldimar Pelser se redakteurskappe het Rapport steeds ’n deels populistiese inslag gehad met die plasing van foto’s van meisies. Die “mooimeisie-kultuur is op daardie manier steeds lewend gehou lank nadat ‘Die Agterblad’ gesneuwel het,” meen Pieter Malan (Malan 2024). Hy wys tereg ook daarop dat Rapport Ekstra, die seksie wat veral op die koerant se bruin lesers gemik was, ook die “mooimeisie-kultuur” ondersteun het. Verder: “Dis daar waar die genre sy absolute hoogbloei gehad het. En beide Rapport en Rapport Ekstra se blaaie sou nie bestaan het as dit nie vir Bernard Jordaan en Sharief Jaffer was nie. Hulle het (as fotograwe) ’n baie groter invloed op die genre gehad as enige redakteur voor of na hulle.”12

Die koerant se voorblad was steeds ’n belangrike plek om berigte met ’n seksuele strekking te plaas. Daar het prominente opskrifte soos Seks-kinkel onthul (26 Augustus 2012) bevestig dat Rapport nie gehuiwer het om sensasie met dié soort strekking na te jaag nie.

Figuur 6. Voorbladstories met ’n seksuele strekking het gebly lank nadat Die Agterblad verdwyn het. Hierdie voorblad het op 26 Augustus 2012 verskyn.
Klik op die figuur vir ’n groter weergawe.

Onder Inge Kühne se redakteurskap (vanaf 2022) is Rapport se hibriede of breëstrekbenadering noodgedwonge volgehou: Rapport moes steeds as die enigste Afrikaanse Sondagkoerant ’n baie uiteenlopende (maar krimpende) leserspubliek probeer tevrede hou met ’n hoofkoerant wat, as deel van die mengsel, berigte in die styl van Die Landstem en Die Beeld van ouds geplaas het terwyl veral Weekliks as intellektuele bylae die ernstiger lesers moes dien.

Dit was in wese ’n voortsetting van die benadering wat Willem de Klerk as volg geformuleer het: “Aan mense van die-stywe-bolip en mense van die-loslit-lyf het Rapport gelyke mate goeie leesstof vir die Sondag probeer bied” (De Klerk 1995). Dit was wel makliker toe Rapport ’n dik koerant met vele uithaalseksies was.

Soos met Die Landstem, Dagbreek en Die Beeld, was Rapport se geelperskomponent nie tot die agterblad beperk nie. Opspraakwekkende voorblaaie is steeds aangebied om kopers te lok. Opvallende voorbeelde is:

‘Sy wou moor ná ek nee sê vir seks’ (2 Mei 2021)

Matras, kers in stoor: ‘Só het hoof my verlei’ (20 Oktober 2023)

Vrou bieg in kerk oor ‘affair’ met haar dominee (23 Oktober 2023)

‘Div gooi my op bed – toe begin ek vég’ (18 Februarie 2024).

Hierdie tipe berigte en foto’s is tot die einde van Rapport as papierkoerant volgehou.

Voorbeelde van omstrede inhoud kan nie summier as ’n karakterisering van die betrokke koerante beskou word nie. ’n Koerant soos Rapport was altyd ’n breëstrekkoerant, dus een wat ’n verskeidenheid van inhoud bevat het om in ’n breë lesersgehoor se uiteenlopende smake te voorsien. In De Klerk (1995) se woorde: “Ons het ’n pak klere en ’n das aangetrek, sowel as ’n kortbroek en vellies.”

 

5. Politieke en ander berigte

Die koerant het hom veral in die jare voor 1990 sterk ten gunste van politieke hervorming uitgespreek en daardeur kritiek van die regerende Nasionale Party ontlok, in die besonder van president P.W. Botha (Moolman2002:17, 18, 20, 22, 24, 30). Die belang hiervan is dat Rapport nie ’n populistiese politieke standpunt ingeneem het nie, maar hom juis verset het teen “maklike” politieke oplossings – in die besonder die ondersteuning van voortgesette apartheid, soos deur die Konserwatiewe Party voorgestaan. Rapport was dus in dié opsig allermins ’n populistiese koerant wat sy gehoor na die mond gepraat het; inteendeel (vgl. Scholtz 1992:261–9).

Rapport se fokus op groot politieke sake word deur enkele voorbladhoofberigte geïllustreer:

NOU KOM ’n NUWE PARTY (22 November 1970)

VORSTER IN TAAI BERAAD (5 Januarie 1975)

GELEERDE OPSTAND (17 Oktober 1976)

VERANDER MAAR! (31 OKTOBER 1976)

MULLER: VORSTER LIEG (25 Maart 1979)

TREURNICHT IN HOEK (9 Maart 1980)

P.W. LOS N.P. (6 Mei 1990)

CHAOS OP CHAOS (1 Mei 1994).

Die sober voorblad van 5 Januarie 1975 was ’n uitsondering. Wanneer politiek die voorblad gehaal het, was dit werklik groot nuus (soos P.W. LOS N.P op 6 Mei 1990, of soos toe die koerant hervorming wou aanmoedig, soos VERANDER MAAR! op 31 Oktober 1976). In latere jare het politiek selde die voorblad gehaal. Die koerant se voorbladagenda het deur die jare aangepas na ’n meer sensasionele populistiese styl, soos wat voorbeelde in paragraaf 4 aantoon.

Figuur 7. Van tyd tot tyd is politieke voorblaaie gekies, maar hulle was selde so sober soos die voorblad uit 1975 wat hier getoon word.
Klik op die figuur vir ’n groter weergawe.

Die politiek het in die era sedert 1994 veel minder aandag geniet as toe Rapport ’n voorstander van wit politieke verandering was.

Die teenstelling tussen die emosionele voorblaaie wat vroeër aangehaal is en die ernstiger politieke voorblaaie is duidelik. ’n Verdere perspektief is dié van Herman Jansen, destyds nuusredakteur van Rapport, wat in 1995 die vorige 25 jaar se grootste Rapport-voorbladstories geïdentifiseer het – uiteraard volgens sy subjektiewe oordeel as nuusman (Jansen 1995). Dit sluit voorblaaie met seks en skandes, sport, onluste, politiek, mensstories, terreur, rampe en bedrog in.

In 2010 het Rapport 40 jaar gevier en plaas die blad ’n keuse van die 10 grootste voorblaaie. Dit sluit voorbladhoofstories in oor die politiek (’n eerste foto van Nelson Mandela in 1990), die moorde op Robert Smit en sy vrou (27 November 1977), Chris Hani (11 April 1993), Eugène Terre’Blanche (4 April 2010), die opspraakwekkende foto’s van die Rosenkowitz-sesling (13 Januarie 1974) en Margaret Gardiner se aanwysing as Mej. Heelal (30 Junie 1978). In geheel weerspieël hierdie keuses die wye spektrum van temas wat Rapport op sy voorblad gebruik het.

Die inhoud van al die bogenoemde koerantvoorblaaie moet beskou word binne die politieke en sosiale era waarin dit verskyn het. Daarom is die kritiek wat soms destyds uitgespreek is van belang en word dit vervolgens behandel.

 

6. Kritiek op seksueel uitdagende joernalistiek

Soos vroeër genoem, het mediagebruikers se smaak in die naoorlogse jare verander en het tydskrifte soos Fyn Goud dié behoefte probeer bevredig. Die uitgewer Koos Human (2006:36) stel dit soos volg:

Toe die omstandighede ’n paar jaar ná die einde van die (Tweede Wêreld-) oorlog normaal begin raak, was daar ’n ontploffing in die verskaffing van leesstof. Nuwe uitgewerye het soos paddastoele opgespring, boekklubs is georganiseer en tydskrifte het by die dosyn tot stand gekom. Met die toenemende kompetisie, het tydskrifte al hoe gewaagder geword, sowel wat teks as foto’s betref.

Hy meen egter dat die inhoud “bra mak” was vergeleke met wat vandag “byna alledaags in gesinsblaaie is”. Tog was dit “destyds vir baie lesers skokkend, produkte wat hulle as ’n geel, pornografiese pers beskou het” (Human 2006:36). Soos Richard (1986:111) opmerk: “Afrikaanse Sondagkoerante het in die sestigerjare al meer in onguns by die kerk, die kultuur en die politiek geraak – ten spyte van toenemende gewildheid onder die publiek.”

Kritiek op hierdie publikasies sou dus te wagte kon wees. Dit was immers nog ’n tyd waarin die ideaal van Nasionaliste was om die land volgens “Calvinistiese” beginsels te regeer (Van Rooyen 2011:17) – al het selfs dié Afrikaners wat die regering ondersteun het, nie almal dieselfde siening gedeel van wat moreel aanvaarbaar in die media was nie. Dit sou natuurlik ook metterwyl verskuif en meer liberaal word. Maar vir eers moes die koerante en tydskrifte wat hier bespreek word, kennis neem van allerlei kritiek – selfs moontlike wetgewing.

6.1 Wetgewing

Die koerante onder bespreking is by hoë uitsondering van wetoortreding aangekla, maar die wolk van vervolging het wel om meestal politieke redes oor Suid-Afrikaanse koerante gehang (kyk Tyson 1993). Tog was daar reeds in die 1950’s ongelukkigheid oor die morele vlak van sommige tydskrifte.

Volgens McDonald (2009:22–3) het ’n tydskrifartikel oor prostitusie ’n hofsaak in die 1950’s tot gevolg gehad en boonop aanleiding gegee tot “widespread moral panic in official circles”. Steyn (1992:161) meen weer ’n “kopieregsaak oor ’n ‘obsene’ artikel in Fyn Goud in 1955 was een van die aanleidende oorsake” tot die benoeming van ’n kommissie van ondersoek na ongewenste publikasies onder voorsitterskap van Geoff Cronjé. Die verslag is ’n jaar later (in 1956) voltooi, en die aanbevelings in September 1957 gepubliseer. Die voorstelle is eers in 1960 in die parlement gedebatteer en die nuwe wet op publikasies in 1963 aanvaar.

Die fokus het intussen na (Afrikaanse) letterkunde verskuif (vgl. McDonald 2009:25–33 asook Human 2006:36–41), hoewel die tydskrif Scope later die teiken geword het van ’n “vete” deur Jannie Kruger, die Publikasieraad se tweede voorsitter (Human 2006:38; vgl. ook Froneman 2011). In 1974 is ’n nuwe sensuurbedeling aanvaar wat uit die Kruger-kommissie voortgespruit het. Volgens McDonald (2009:58–9) is die Cronjé-kommissie se afwysing van Amerikaanse massakultuur vervang deur die klem op die gevare van internasionale kommunisme te plaas.

Belangrik is dat klagtes oor die inhoud van koerante en tydskrifte nou grootliks na ander terreine verskuif het, naamlik die opeenvolgende ondersoeke na die pers en media, die daaruit voortvloeiende selfregulering deur die pers, en die beperkinge wat deur wetgewing op politieke beriggewing geplaas is (Diederichs 1993:88–9; Barker 1998:269).

Intussen het wette wat nie spesifiek op die pers gemik was nie, ’n perk geplaas op wat koerante en tydskrifte mag publiseer. Daarbenewens het die gemenereg beswaardes die moontlikheid gegee om koerante en tydskrifte vir laster of privaatheidskending te dagvaar (vgl. Barker 1998:280–3; Burns 1990:139–78).

Feit is dat koerante en tydskrifte steeds onder die een of ander beperking gefunksioneer het. Hofsake teen koerante of tydskrifte weens die seksuele inhoud daarvan was egter – met die uitsondering van Scope – byna ongekend (vgl. Van Rooyen 2011:20–1). Tog is eksemplare van Die Beeld in 1967 landwyd gekonfiskeer nadat ’n dringende hofbevel teen die koerant verkry is weens ’n voorbladberig (De Villiers 1992:233–5). Die koerant is herdruk, maar sonder die gewraakte berig, wat Bloemfonteinse homoseksuele betrek het (homoseksualiteit was toe nog wetlik verbied).

’n Ander bekende geval was toe Rapport se redakteur en kollegas beboet is nadat die blad skuldig bevind is aan drie gevalle van minagting van die hof (Wepener 1995). Die blad het naamlik in een geval ’n onderhoud met ’n staatsgetuie in die sogenaamde skêrmoordsaak (1975) gevoer terwyl die getuie nog onder eed was.

Soortgelyk hieraan was ’n oortreding wat gelei het tot ’n boete van ’n “nominale bedraggie” (Crafford 1995). Die blad het naamlik name geplaas van Suid-Afrikaanse geheime agente in die Seychelle.

Rapport se mediaprokureurs, met name Sam Norval en Willem de Klerk, het volgens Johan de Wet “week ná week verseker [...] dat Rapport selde oor die tou trap sover dit [sowel] die letter as die gees van die wet betref” (De Wet 2010). Hulle het ook menige dreigende interdik afgeweer (Gerber 2024).

Wetgewing en die gemenereg het uiteraard aansienlik in die 1990’s verander en beperkinge op die media versag (vgl. Barker 1998:267–84).

6.2 Oortreding van kodes

Self- en mederegulering van die Suid-Afrikaanse pers het sedert die instelling daarvan in 1962 meermale verander (Press Council 2026). Benewens enige oortredings van wette was die koerante dus ook onderhewig aan kodes van verskillende rade, soos die Persraad en Mediaraad. Die huidige webwerf van die Persraad bevat hoofsaaklik uitsprake sedert 2008. ’n Omvattende weergawe van sodanige klagtes val daarom buite die bestek van hierdie artikel. Vroeëre klagtes en beslissings sal net in ander bronne, soos koerantknipsels, voorkom, wat gelukkig bekom kon word.13 Daaruit blyk dit dat Rapport in enkele gevalle aangekla is van oortredings weens berigte wat moontlik as sensasioneel getipeer kan word. Dit sluit die volgende in:

In 1976 is Rapport onskuldig bevind ná ’n klagte oor foto’s wat volgens die klaer “van onkiese of wellustige aard” was (Rapport 6 Junie 1976). Die Persraad het bevind dit is nie sy taak om oor goeie smaak te beslis nie.

In 1988 het Rapport twee foto’s geplaas van ’n “terroris” wat deur ’n bom opgeblaas is. Die negatiewe bevinding oor een foto is op 23 Oktober 1988 in Rapport geplaas en volledig deur The Star se ombud, James McClurg, bespreek. Hy noem dat die Mediaraad bevind het dat een foto ter wille van sensasie geplaas is (McClurg 1988).

Die plasing van ’n onderhoud met die sogenaamde Wit Wolf (Barend Strydom) in 1992 lei tot groot ontsteltenis – veral omdat die veroordeelde (maar begenadigde) moordenaar boonop vir die onderhoud betaal is (Van Deventer 2021:51). Maar die Mediaraad verwerp die klag, omdat die kode nie in daardie stadium ’n verbod op sodanige betaling geplaas het nie (Rapport, 6 Desember 1992).

In verskeie ander gevalle is Rapport aangekla – in sommige gevalle skuldig bevind, maar ook in ander gevalle onskuldig van oortreding van die pers- of mediakode.

6.3 Ander kritiek vanuit die lesersgemeenskap

Kritiek op die Sondagpopulisme moet gelees word teen die agtergrond van ’n besonder behoudende morele klimaat in die Afrikanergemeenskap, soos verwoord deur leiers van die Afrikaanse susterkerke. So het Die Transvaler (in die afwesigheid van sy hoofredakteur, Jannie Kruger), ’n berig in 1951 oor ’n leraar geplaas wat ernstige besware van ’n NG Kerk-afvaardiging onder leiding van ds. C.B. Brink, die destydse moderator van die Suid-Transvaalse sinode van die NG Kerk, ontlok het (Richard 1985:89).

Dit herinner aan ’n ervaring deur Schalk Pienaar soos vertel in sy postuum gepubliseerde memoires. Daar skryf hy hoe hy as assistentredakteur by Die Burger ’n berig oor ’n leraar gestroop het van gure besonderhede en daarvoor deur ’n moderator geloof is (Pienaar 1979:40–1). Maar Pienaar se reaksie was: Hy het dan tog nie sy kerk daardeur gedien nie; die sinodegangers lees dan almal daardie oggend die Engelse oggendblad wat glad nie terughoudend oor die feite was nie. Hy sou nie weer daardie “fout” maak nie – sekerlik nie toe hy hoofredakteur van Die Beeld geword het nie.

’n Destydse redakteur van Dagbreek en Landstem, Dirk Richard, gee toe dat Afrikaanse Sondagkoerante in die 1960’s al meer in “onguns” in kerklike, politieke en kultuurkringe geraak het – “ten spyte van hul toenemende gewildheid onder die publiek” (Richard 1986:111).

Die kritiek was deels weens die “nuwe soort joernalistiek” wat Dagbreek en Die Beeld beoefen het en wat minder versigtig was. Skandes in Afrikanergeledere is aan die kaak gestel, kritiek is op kerklike en politieke beleid jeens swart mense uitgespreek, en seksueel uitlokkende berigte en foto’s het gereeld verskyn (soos hier bo aangetoon).

Mouton (2002:84) noem “sensasie en vroue wat skraps geklee is” Die Beeld se “Achilleshiel vir sy talle vyande”. Maar die kritiek was nie net op Die Beeld gerig nie. Boonop het ook Dagbreek die NG Kerk se rassisme aan die kaak gestel (vgl. Richard 1986:112–4).

So neem die algemene sinode van die NG Kerk in 1966 ’n besluit “teen alle bestaande en beoogde Sondagkoerante, omdat hulle die heiliging van die Dag van die Here ondermyn en ons volk al meer vervreem van die Woord en die beste Afrikanertradisies” (De Villiers 1992:250).

Die Kerkbode, amptelike blad van die NG Kerk met Willie Lubbe as redakteur, verwys op 4 Junie 1969 spesifiek na Die Beeld as “Sondagontheiliger” en vervolg:

Die twisappel van ’n skoonheidswedstryd op Sondag werp hy onder jongmense in. Hoe ernstig die N.G. Kerk – én ander kerke – ook al ywer om die jeug ’n Bybelse Sondagsiening en Sondaggedrag in te prent, Die Beeld breek doelbewus af. Hy toon duidelik tekens van ’n anti-Christelike mag wat hom verlustig in die afbraak van Christelike oortuigings, sedes en waardes, ook by die jeug. (Soos aangehaal deur De Villiers 1992:250)

Hoewel nie in hierdie kritiek spesifiek na die seksuele aard van berigte en foto’s verwys word nie, is dit duidelik dat dit nie hier ten eerste oor die polities verdelende berigte gaan nie – veral gegee die verwysings na die jeug.

In Mei 1968 is die volgende brief uit die kantoor van die destydse eerste minister, B.J. Vorster, aan Recht Malan as voorsitter van die Nasionale Pers gerig waarin hy Die Beeld én Dagbreek en Landstem van agt “gevaarlike tendense” beskuldig, waaronder “oordrewe publisiteit aan dit wat lelik, immoreel, afwykend en afbrekend is”. In reaksie hierop het Pienaar en Phil Weber (toe ondervoorsitter van die Nasionale Pers) Vorster gaan spreek. “By die samespreking het mnr. Pienaar gesê dat hy onderneem om ’n noot of twee te sak betreffende sekere ‘ruhede’ in die koerant,” aldus Davis (1983:142). Maar of Pienaar net politieke beriggewing in die oog gehad het, sal ons nie weet nie.

Intussen het die pas afgedankte minister Albert Hertzog (wat leier van die Herstigte Nasionale Party sou word) hom op 9 Augustus 1968 heel spesifiek oor Die Beeld se inhoud uitgespreek: “Misdaad en roof en seks en immoraliteit en alles wat vuil en liederlik en gemeen is, word aan die leser opgedwing,” het hy aangevoer (De Villiers 1992:247). Jare later het hy sy kritiek só verwoord:

Schalk Pienaar en Piet Cillié het ’n hele verandering in die joernalistiek gebring. Hul hoofdoel was om sirkulasie te bou op die Amerikaanse manier: daar moet geen morele oorwegings by jou wees nie. Jy moenie dinge probeer wegsteek omdat dit sleg is vir die publiek om te hoor of omdat dit aanstootlik is nie. Hoe afstootliker, hoe beter. (Davis 1983:15)

Ander konserwatiewes was veral ontsteld oor Die Beeld se politieke berigte wat hulle in ’n slegte lig gestel het. Dit is daarom nie altyd moontlik om kritiek teen die seksueel uitdagende inhoud van Die Beeld te onderskei van polities gemotiveerde kritiek nie, wat ook soms vir Dagbreek gegeld het (vgl. Mouton 2002:89).

Die Burger se reaksie hierop was ook nie heeltemal ondubbelsinnig nie. Die Beeld is verdedig omdat hy “sy plig in verkenning, wegbereiding en eksponering vervul het”, maar daar is wel ook verwys na “regmatige kritiek” (soos aangehaal deur De Villiers 1992:248). Waarna sou dit verwys het?

Volgens Mouton (2002:58) was Piet Cillié, redakteur van Die Burger, “veral krities oor Die Beeld se beriggewing van moord en seks en het by Pienaar aangedring om die blad meer intellektueel te maak”. In ’n brief aan D.C. de Villiers, bestuurder van Die Beeld, meld Hubert Coetzee, wat as vader van Die Beeld beskou is, en tot sy vroeë dood besturende direkteur van Naspers, sy ontevredenheid met die “kaalstert” meisies in die koerant (Mouton 2002:84). Phil Weber en Die Volksblad (waar die konserwatiewe Bart Zaaiman redakteur was) het dit ook gehad teen die berigte oor NG Kerk-leraars wat afgedwaal het (Mouton 2002:58).

Die omstrede berigte het egter nie bloot oor seks gegaan nie, maar sou ook beskou kon word as ’n politieke protes teen artikel 16 van die Ontugwet, wat seksuele omgang tussen wit en niewit verbied het.

Mouton (2002:57–8) verwys ook na die kritiek van ’n skoolhoof wat “bitter omgekrap” was oor “die skraps geklede vroue” en gekla het “dat dit net pornografiese gedagtes en liberalisme sou bevorder”. Dit het bes moontlik die kritiek van vele ander behoudendes verwoord.

Selfs die SAUK-program Sake van die dag het Die Beeld aangevat en daarvan beskuldig dat hy, soos ander Sondagkoerante, “politieke rusies aandik”, hom toelê op stories met ’n “seksstrekking” en op “sappige skandale” teer in ’n poging om sirkulasie op te stoot (Davis 1983:106).

’n Jaar voor Dagbreek se oorname van Die Landstem het die redakteur van Dagbreek, Dirk Richard, Die Beeld openlik beskuldig van “geelpersjoernalistiek” wat Piet Beukes van Landstem hulle sou beny het (Serfontein 1970:221). Richard se skerpste kritiek teen sy mededinger, en wat Pienaar besonder seergemaak het, was ná die konfiskering van Die Beeld met die berig oor beweerde oortreding van die destydse wet teen homoseksualiteit, waarna vroeër verwys is. Volgens Pienaar (1979:90) het Dagbreek gesê dat Pringle en Fairbairn vervolg is omdat hulle geveg het vir die vryheid van die pers. “Anderhalf eeu later is Die Beeld gekonfiskeer omdat hy geveg het vir die vryheid van ons kinders om Sondagoggende homoseksualiteit op hul tafel te kry.”

Maar die meeste kritiek het gehandel oor Die Beeld se hantering van politieke geskille binne die Nasionale Party, wat buite die bestek van hierdie artikel val (vgl. Moolman 2002:18). Ondanks Coetzee, Weber en senior kollegas se kritiek, is Pienaar nie spesifiek aangesê om die blad se inhoud aan te pas nie (Davis 1983:16–7).

Rapport het eweneens onder kritiek deurgeloop. Benewens kritiek op die blad se verligte (“liberale”) politiek onder Willem de Klerk se redakteurskap, was daar suggesties dat die blad soms “onsmaaklik” of “sensasioneel” was (Moolman 2002: 32). Enige kritiek moet egter in konteks geplaas word: Die breë leserspubliek het die blad steeds in groot getalle ondersteun – totdat ’n verskeidenheid van faktore die voortbestaan van gedrukte koerante onder onmoontlike druk geplaas het (Froneman 2023:61–76).

6.4 Redakteurs se reaksie

Pienaar het homself (en sy koerant) telkens verbete verdedig. Teenoor sy kollega en vriend Piet Cillié se kritiek het hy “geïrriteerd” gereageer dat Die Burger ’n gevestigde koerant is en Die Beeld nog sy pad moet oopveg, en teenoor die senior kollega Phil Weber het hy kru gereageer dat ’n Sondagkoerant seksueel prikkelend moet wees (Mouton 2002:58). In sy herinneringe argumenteer hy (vir oulaas) dat daar altyd ’n spanning tussen establishment en pers bestaan; dat dit nooit by die kritici opkom dat die Afrikanersaak juis gedien word deur “ontoelaatbaarhede te onthul, dat daglig nodig is vir die gesonde groei van instellinge” nie (Pienaar 1979:131).

Waar hierdie verdediging duidelik op die politieke styl van Die Beeld slaan, vervolg Pienaar deur ’n stuk aan te haal wat hy in 1973 op versoek vir Standpunte geskryf het. Daarin verwys hy snydend na mense se skynheiligheid: “So baie mense is geneig om hul lof te gee aan die ‘soet’ koerant en terselfdertyd hul minagting vir hom te wys deur hom nie te lees nie” (Pienaar 1979:131).

Dirk Richard het later opgemerk: “Afgesien van Die Beeld se eiesoortige impak het die tweestryd tussen die twee Afrikaanse Sondagblaaie ’n nuwesoortige impak tot gevolg gehad: ’n soort exposé-joernalistiek wat die grens van onsmaaklikheid oorskry het” (Davis 1983:167).

Sy mededinger by die Sunday Times, Joel Mervis, het jare later soos volg geoordeel: “Die Beeld was nie meer of minder sensasiebewus as Dagbreek of die Sunday Times nie” (Davis 1983:36), maar dié uitspraak moet gemeet word aan Mervis se eie blad, wat nie geskroom het om seks-en-sensasie aan sy lesers op te dis nie – weliswaar in ’n mengsel wat ’n breë leserskring moes bevredig. Ton Vosloo, eertydse redaksielid van Die Beeld, beweer selfs dat ’n suksesvolle Sondagkoerant “altyd ’n bietjie ‘voor’ en ‘stouter’ as ’n dagblad moet wees” (Davis 1983:36), maar sy opmerking kan net in ’n eng konteks gelees word.

Ondanks sy vroeëre private kritiek (soos hier bo aangehaal) het Phil Weber later by navraag gemeen die aanklag van ’n najaag van sirkulasie word oordryf. “Schalk het nooit ter wille van sirkulasie skoktaktiek toegepas nie,” het hy aan Davis (1983:36) gesê. Moontlik het hy dit hier oor die politieke beriggewing gehad.

Hierby sluit Scholtz (1992:262) aan wanneer hy skryf:

By die mense van Rapport het die vermoede bestaan dat van die besware teen die sedelike gehalte van die koerant gekom het van mense wat dit eintlik teen sy politieke aanslag gehad het, en dat hulle die morele besware net as rookskerm gebruik het.

Willem de Klerk was meer dikwels onder skoot weens Rapport se fokus op swart politieke regte. Maar die kritiek op die algemene trant van nuusberigte het, soos met sy voorgangers, voortgeduur. Vandaar sy besluit om ’n ondersoek deur “professionele mense” oor die inhoud te laat doen (Moolman 2002:32). Dit het ’n gunstige prentjie van Rapport se aanbod geskets, wat De Klerk ter verdediging gebruik het.

Sy opvolger, Izak de Villiers, het sy koerant in ’n artikel in die 25-jarige gedenkbylae sterk verdedig deur spottend te verwys na verskeie sogenaamde maatskaplike euwels en die algemene konserwatisme van vroeër. Hy skryf dat Rapport deel is van Sondag se ontspanning, maar gee toe dat die redaksie in sy menslikheid soms “die grense van goeie smaak oorgesteek” het (De Villiers 1995).

Dit was ook Rapport se sewende redakteur, Johan de Wet, se gevoel, en hy het sensasie probeer beperk (De Wet 2026).

Maar ’n latere redakteur, Waldimar Pelser, het toegegee dat Rapport ’n element van “skandaal” bevat, maar soek na ’n balans tussen goeie ontledings en vermaak: “Engage the head, but also engage the heart […] those human stories that make you want to cry” (Leonard 2013). Kortom, hy het balans in ’n hibriede koerant nagestreef. Dit sluit aan by “mense by Rapport” wat vroeër geargumenteer het “dat hul koerant se gewraakte styl aan hom ’n groot leserskring besorg” aan wie “diepsinnige idees” oorgedra kon word (Scholtz 1992:262).

6.5 Waarom is dit verduur?

Die ongemaklike verhouding tussen die Sondagkoerante en die NP-regering het voortgeduur, selfs ná die samesmelting van Dagbreek en Die Beeld om Rapport te vorm (Richard 1986:103–5). Hoewel kritiek soms oor niepolitieke berigte uitgespreek is, was daar steeds ’n onderliggende politieke en kommersiële stryd aan’t uitspeel (De Villiers 1992:226, 246; Scholtz 1992:262,266).

Later, in 1969, vra ds. Dawie Beukes, skriba van die algemene sinode van die NG Kerk, dat die uitgee van Die Beeld heroorweeg moet word. Daarna volg ’n gesprek tussen die leierskap van die NG Kerk met Die Beeld se direksie, wat in “goeie gees” plaasgevind het (De Villiers 1992:251). Of Dagbreek se direksie dieselfde versoek van die kerk gekry het, is onbekend, maar kort daarna smelt Die Beeld en Dagbreek saam.

Teen 1982 het die klimaat effe verander. Willem die Klerk, voormalige redakteur van Die Transvaler en later redakteur van Rapport, het op uitnodiging ’n voordrag voor ’n groep leraars gehou waarin hy vir begrip gepleit het. Hy het aangevoer: Die kerk is die spieël van die sakrale; die pers is die spieël van die profane. Daar moet dus wedersydse begrip wees vir elkeen se taak en uitdagings. Só het hy aangevoer dat die koerant (lees: Sondagkoerant)

op die bal [moet] bly van die wye spektrum van sy nie-geselekteerde lesers. Van perde tot nagklubs, van blokkiesraaisels tot bikini-parades, van poporkeste tot filmsterre is die leefwêreld van sy lesers. Dis ’n riskante onderneming, gesien van die wette van die etiek, om vir 20ste-eeuse, gesekulariseerde Afrikaners van alle ouderdomsgroepe, wat roep om moderne vermaak, vermaak te gee. (De Klerk 1982)

Tog het De Klerk ook laat blyk dat die pers en die kerk mekaar kan vind as die pers sy verantwoordelikheid “dieper beoefen” en “sy terughoudendheid teenoor die onsmaaklike sterker toepas”. Dit was ’n erkenning dat die pers – ook Rapport – soms die perke van welvoeglikheid oorskry.

Of De Klerk se pleidooi in kerklike kringe inslag gevind het, is onduidelik, maar openlike kritiek van kerklike kant het in die daaropvolgende jare opgedroog. Selfkritiek was ook nie iets wat maklik in Rapport te vinde was nie, hoewel die voorgaande toon dat dit nie heeltemal afwesig was nie en dat daar tog aanpassings gemaak is. Dat daar altyd ook sterk nuusdekking asook politieke en kommentaarartikels was wat die ernstiger lesers se leesbehoeftes in ag geneem het, kon ook telkens as teenargument gebruik word.

Kortom, Rapport het homself as breëstrekkoerant oopgelaat vir kritiek, maar die werklik sensasionele is sodanig gebalanseer met ernstiger leesstof om enige teenreaksie te versag. Daarby kon die ideologiese tog ook gedien word.

Politieke veranderinge sedert 1990, en die verandering in morele opvattings, het bes moontlik ook bygedra tot aanvaarding van ’n koerant wat, naas ’n Huisgenoot, nie alte geïnhibeerd was nie – altans nie in die sin wat ’n Phil Weber, Piet Cillié of Bart Zaayman sou verkies het nie (kyk 3.1 en 5.2).

Uiteindelik kan aangevoer word dat Rapport as massakoerant met ’n groot sirkulasie sterk advertensiesteun geniet het en daarom oor baie jare ’n bron van inkomste vir sy eienaars was.

 

7. Samevattend

Die Beeld (1965) se toepassing van ’n populistiese joernalistiek was nie die eerste in Afrikaans nie, maar dit was wel die eerste keer dat ’n publikasie van Nasionale Pers (Naspers, later Media24) openlik ’n sensasionele aanslag gehad het, ondersteun deur foto’s van vroue wat skamel gekleed was (sekerlik vir die tyd).

Waar Die Beeld ook ’n sterk ideologiese motief gehad het, naamlik die vernuwing van Afrikanerdenke en ’n breër visie van Suid-Afrikanerskap, het die mark- en ideologiese motiewe naas mekaar bestaan. Hierdie situasie het in ’n mindere mate by Dagbreek en Sondagstem, en later Dagbreek en Landstem, ontplooi. Die populistiese inslag van Die Landstem en sukses van Die Beeld het Dagbreek egter al hoe meer genoop om sy joernalistiek op die minder intellektuele massamark toe te spits.

Met die koms van Rapport in 1970 is die sirkulasiestryd tussen Dagbreek en Die Beeld beëindig, maar die nuwe koerant het van die samesmeltende koerante se populistiese inslag bevat en op pad na ’n ongehoorde sirkulasie van 500 000 hul styl grootliks voortgesit.14 In die besonder het die koerant se agterblad die fokuspunt geword van stories en foto’s met ’n seksuele inslag. Hierdie kenmerk is onder die meeste nuwe redakteurs voortgesit, hoewel Die Agterblad soms weggeval of onder ’n ander naam aangebied is.

Ondanks Rapport se populistiese inslag het faktore soos die invloed van die digitale revolusie (en die oorskuif van advertensies na Google, Facebook en ander sosialemediaplatforms) die voortbestaan van die koerant ondergrawe en is in 2024 aangekondig dat die blad as gedrukte koerant gaan sluit.

Daarmee het die dekades lange pogings om populisme met ernstiger inhoud te vermeng ten einde gekom. Die breëstrekbenadering is uiteindelik nie deur joernalistieke onbeholpenheid gekelder nie, maar deur eksterne faktore wat die koerantbedryf wêreldwyd drasties ingekort het (vgl. Froneman 2023:61–76).

Hoewel die kritiek op veral Die Beeld, Dagbreek en Landstem en Rapport (sowel intern as ekstern) dalk die inhoud effe versag het, het die blaaie vir lank ’n bepaalde tipe populisme – meestal binne ’n hibriede mengsel – gehandhaaf. Dit het ’n bepaalde stempel op die Afrikaanse joernalistiek afgedruk. Maar in laaste instansie kan gesê word dat die populistiese sy van die koerant gebalanseer is deur elemente van harde nuus en ernstiger meningsartikels, wat in geheel ’n hibriede koerant tot gevolg gehad het om ’n diverse lesersgehoor mee te dien.

 

Bibliografie

Barker, G. 1998. Media law. In De Beer (red.) 1998.

Barron, C. 2006. The paper that bowed to no one. The best of the Sunday Times, Part one: 1906–1931. Bylae tot die Sunday Times, bl. 6.

Beukes, W.D. (red.). 1992a. Oor grense heen. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

—. 1992b. Boekewêreld – Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990. Kaapstad: Tafelberg.

Bobba, G., M. Mancosu, A. Nai, A. Seddone en F. Vegetti. 2025. Investigating media populism worldwide. Journalism Studies, 26(2):181–99. https://doi.org/10.1080/1461670X.2024.2415423 (11 Julie 2026 geraadpleeg).

Botha, M. 2009. Die geelpers in Suid-Afrika: ’n analise van die Kaapse Son, Daily Voice en Daily Sun. MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit.

Burns, Y. 1990. Media law. Durban: Butterworths.

Burton, G. 2010. Media and society: critical perspectives. New York: McGraw-Hill.

Business Tech. 2024. Newspapers and magazines are rapidly dying in South Africa. https://businesstech.co.za/news/media/788518/newspapers-and-magazines-are-rapidly-dying-in-south-africa (20 Mei 2024 geraadpleeg.)

Claassen, G., P. Muller en M. van Tonder. 1998. Die groot aanhalingsboek. Kaapstad: Human & Rousseau.

Crafford, A. 1995. Vonkies in die vuur. Gedenkbylae tot Rapport, 26 November.

Davis, H. 1983. Die joernalistieke en politieke impak van die Sondagkoerant Die Beeld. M-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Deacon D. en D. Wring. 2025. Britain’s famous red top newspapers struggle to find their voice in general election. The Conversation, 22 April. https://theconversation.com/britains-famous-red-top-newspapers-struggle-to-find-their-voice-in-general-election-40580 (10 Julie 2026 geraadpleeg).

De Beer, A.S. (red.). 1993. Mass media for the nineties. Pretoria: J.L. van Schaik.

—. 1998. Mass media towards the millennium. Pretoria: J.L. van Schaik.

De Klerk, W. 1982. Kerk en koerant – riglyne en raakpunte. Die Kerkbode, 29 September.

—. 1995. Rapport – soos elke koerant – het ’n tradisie. Gedenkbylae tot Rapport, 26 November.

De Villiers, D.C. 1992. Die Beeld. In Beukes (red.) 1992.

De Villiers, I. 1995. Die dominee en die Sondagkoerant. Gedenkbylae tot Rapport, 26 November.

De Wet, J. 2010. Toe die reënboog begin verdwyn het. Rapport 40 jaar, 7 November 2010.

—. 2026. E-pos aan artikelskrywer, 17 Maart.

Diederichs, P. 1993. Newspapers. In De Beer (red.) 1993.

Dreyer, N. (red.). 2006. A century of Sundays. Kaapstad: Zebra Press.

Du Plessis, T. 2010. Respek maak saak, al verskil smaak. Bylae tot Rapport, 7 November.

—. 2024. E-pos aan artikelskrywer, 4 April.

Encyclopaedia Britannica. S.j. Yellow journalism. https://www.britannica.com/topic/yellow-journalism (2 Oktober 2025 geraadpleeg.)

Erasmus, L.J. S.j. ’n Volk staan op uit die as. Johannesburg: Afrikaanse Pers (1962) Bpk.

Froneman, J.D. 2004. Dominante motiewe in die transformasie van Huisgenoot, 1916–2002. Ecquid Novi, 25(1):61–79.

—. 2006. In search of the Daily Sun’s recipe for success. Communitas, 11:21–35.

—. 2010. ’n Saak vir ’n etiese populistiese media. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 46(3&4):1–16.

—. 2011. The rise and demise of Scope magazine: a media-historical perspective. Ecquid Novi, 32(1):49–65.

—. 2012. Op weg na ’n sensasionele populistiese gemeenskapspers? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 52(2):221–34.

—. 2021. Piet Beukes van Landstem: Vernuftige populis. Mediamense.com. https://mediamense.com/piet-beukes-van-landstem (1 Oktober 2025 geraadpleeg).

—. 2021. Anne-Marie Mischke: Leidende politieke joernalis en manuskripredakteur. Mediamense com. https://mediamense.com/anne-marie-mischke-leidende-politieke-joernalis-en-boekeredakteur/ (1 Oktober 2025 geraadpleeg.)

—. 2023. Ter wille van oorlewing, ideologie en geld. Centurion: Akademia Uitgewers.

Froneman, J.D., A. Swart en C. Pretorius. 2018. Huisgenoot se veranderende voorbladagenda: van Diana tot misdaad as ’n vorm van vermaak. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 58(4–1):770–87.

Gerber, B. 2024a. WhatsApp aan artikelskrywer, 29 September.

—. 2024b. ’n Rolprent op papier. Rapport Weekliks, 22 Desember.

Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners. Kaapstad: Tafelberg.

Glenn, I. en A. Knaggs. 2008. Field theory and tabloids. In Hadland, Louw, Sesanti en Wasserman (reds.) 2008.

Hadland, A., E. Louw, S. Sesanti en H. Wasserman (reds.). 2008. Power, politics and identity in South African media. Kaapstad: HSRC Press.

Hammann, J. 2024. Print publications face challenging future in South Africa. The Media Online. https://themediaonline.co.za/2024/07/print-publications-face-a-challenging-future-in-south-africa/ (2 Oktober 2025 geraadpleeg).

Harber, A. 2024. Newspapers in South Africa – chronicle of a death foretold. Daily Maverick, 17 Junie. https://www.dailymaverick.co.za/opinionista/2024-06-17-newspapers-in-sa-chronicle-of-a-death-foretold (2 Oktober 2025 geraadpleeg).

Hargreaves, I. 2005. Journalism. A very short introduction. Oxford: Oxford University Press.

Hiebert, R.E., D.F. Ungurait en T.W. Bohn. 1991. Mass media IV. New York: Longman.

Human, K. 2006. ’n Lewe met boeke. Kaapstad: Human & Rousseau.

Jansen, H. 1995. Grootste stories van 25 jaar. Gedenkbylae tot Rapport, 26 November.

Jones, N., Y. Vanderhaeghen en D. Viney. 2008. In Hadland, Louw, Sesanti en Wasserman (reds.) 2008.

Kühne, I. 2024. E-pos aan artikelskrywer, 12 September.

Leonard, C. 2013. Is Waldimar Pelser Afrikaans media’s last roll of the dice? Mail & Guardian, 13 April. https://mg.co.za/news/south-africa/2013-04-19-is-waldimar-pelser-afrikaans-media-s-last-roll-of-the-dice (10 Julie 2026 geraadpleeg).

Malan, P. 2024. E-pos aan artikelskrywer, 13 September.

McDonald, P. 2009. The literature police: apartheid censorship and its cultural consequences. Oxford: Oxford University Press.

Meades, D. 1995. Daardie Sondag begin met ’n boodskap van hoop oor geldkrisis. Gedenkbylae tot Rapport, 26 November.

Mervis, J. 1989. The fourth estate. Johannesburg: Jonathan Ball.

Mischke, A. 2021. E-pos aan artikelskrywer, 14 Oktober.

Moolman, C. 2002. Van baster tot bielie. Durbanville: Selfpublikasie.

Mouton, A. 2002. Voorloper. Die lewe van Schalk Pienaar. Kaapstad: Tafelberg.

Muller, C.F.J. 1990. Sonop in die suide. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Naudé, A.M.E. en J. Froneman. 2003. Trends in news agenda setting by the Sunday Times and Rapport during 2000. Ecquid Novi, 24(1):84–98.

Örnebring, H. en A.M. Jönsson. 2004. Tabloid journalism and the public sphere: a historical perspective on tabloid journalism. Journalism Studies, 5(3):283–95. https://doi.org/10.1080/1461670042000246052.

Pienaar, S. 1979. Getuie van groot tye. Kaapstad: Tafelberg.

Press Council. 2026. Press Council milestones. Press Council of South Africa. https://presscouncilsa.org.za/about-us/#history.

Rabe, L. 2016. Huisgenoot as tydgenoot: ’n mediageskiedkundige kroniek van ’n tydskrif as “skrif” van sy tyd. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 13(3):55–84. https://journals.co.za/doi/abs/10.10520/ejc-4cbc47307.

Rayner, P., P. Wall en S. Kruger. 2001. Media studies: the essential introduction. Londen: Routledge.

Richard, D. 1967. Einde van lang en luisterryke skof. Dagbreek en Sondagnuus, 26 Maart, bl. 16.

—. 1970. Willem van Heerden was die groot wegbereider. Dagbreek en Landstem, 22 November, bl. 16.

—. 1985. Moedswillig die uwe. Johannesburg: Perskor.

—. 1986. Tussen bid en droom. Pretoria: Constantia.

Scholtz, J.J.J. 1992. Rapport. In Beukes (red.) 1992a.

Schoombee, A. 2025. Anton Schoombee: ’n Onvergeetlike oggend in die geselskap van Piet Beukes. https://www.netwerk24.com/stemme/menings/anton-schoombee-n-onvergeetlike-oggend-in-die-geselskap-van-piet-beukes-20250612 (10 Julie 2026 geraadpleeg).

Serfontein, J.H.P. 1970. Die verkrampte aanslag. Kaapstad: Human en Rousseau.

Smith, A., L.M. Fourie en J.D. Froneman. 2012. Setting the tabloid agenda: What two Afrikaans-language tabloids offer their readers. Communicatio, 38(2):225–43.

Spies, J. 1992. Tydskrifte in ’n ander wêreld. In Beukes (red.) 1992a.

Steyn, J.C. 1992. ’n Nederige begin vir Tafelberg. In Beukes (red.) 1992b.

—. 1998. Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal. Deel II. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2002. Penvegter – Piet Cillié van Die Burger. Kaapstad: Tafelberg.

Van Deventer, H. 2021. Koerantkamerade. Naledi: Gansbaai.

Van Rooyen, K. 2011. A South African censor’s tale. Pretoria: Protea.

Vosloo, T. 2018. Oor grense. Kaapstad: Jonathan Ball.

—. 2020. E-pos aan artikelskrywer, 15 Maart.

Wasserman, H. 2010. Tabloid journalism in South Africa. Bloomington, Indiana: Indiana University Press.

Wepener, W. 1970. Aartsvyande baar frisste baba nog. Rapport 40 jaar, 7 November.

—. 1995. Die dag toe Rapport in die hof moes staan. Gedenkbylae tot Rapport, 26 November.

Woods, D. 1986. South African dispatches. Bungay, Suffolk: Penguin.

 

Koerante geraadpleeg

Die Beeld

Die Landstem

Die Vaderland

Dagbreek en Sondagnuus

Dagbreek en Landstem

Rapport

 

Eindnotas

1 Dagbreek en Die Beeld het in die laaste volle amptelike sesmaandesyfer voor hul samesmelting in November 1970 voorheen ongekende gemiddelde verkope van onderskeidelik 368 637 en 355 820 behaal (De Villiers 1992:241). Rapport, wat uit die samesmelting van dié koerante voortgespruit het, het in 1974 die 500 000-kerf bereik (Scholtz 1992:256).

2 Die berigte is meermale op die laaste bladsy van die hoofseksie van die koerant geplaas, maar volbladadvertensies het soms voorkeur gekry.

3 Omdat Dagbreek onder verskillende name bekend was en dit verwarrend kan wees, word bloot na Dagbreek verwys, behalwe as die volle naam pertinent ter sake is.

4 Die populistiese Son word nie by hierdie ondersoek ingesluit nie omdat dit ’n heel afsonderlike geskiedenis buite Landstem, Dagbreek, Die Beeld en Rapport se baan verteenwoordig. So was dit aanvanklik ’n weekblad, later vir lank ’n dagblad en toe weer ’n weekblad.

5 Opskrifte word in hierdie artikel telkens in vet letters asook oorspronklike hoof- en kleinletters gedruk. Geen aanhalingstekens word gebruik nie, behalwe waar dit so deur die koerant gebruik is.

6 In Brittanje is verwysings na “red-top press” algemeen. Dit verwys na die rooi mashoof wat die meeste van dié koerante verkies, maar veral na hul populistiese styl. Wikipedia verduidelik dit kortliks, maar kyk ook https://www.bbc.co.uk/bitesize/guides/zps4qty/revision/1 en https://dictionary.cambridge.org/dictionary/english/red-top.

7 Eksemplare van 31 Mei 1959 en 23 April 1961 is in die besit van die artikelskrywer en dien as voorbeelde.

8 Opskrifte word telkens presies weergegee soos dit in die publikasies verskyn het.

9 Die artikel het ’n duidelike verskil tussen Rapport en die Sunday Times aangetoon: Laasgenoemde het op sy voorblad meer aandag aan politiek, gesondheid en opvoeding gegee.

10 ’n Noukeurige ondersoek van Rapport onder verskillende redakteurs sal gedoen moet word om hierdie stylverandering te bevestig. Dit val buite die bestek van hierdie artikel.

11 ’n Voormalige senior joernalis by Rapport, Pieter Malan, ontken egter hierdie aanname.

12 Rapport Ekstra se eie aard is egter nie die fokus van hierdie artikel nie. Dié komponent van Rapport het later verdwyn.

13 ’n Kort oorsig oor die self- en gesamentlike regulering van die pers verskyn op die huidige Persraad se webwerf. Kyk by https://presscouncilsa.org.za/about-us/#history. Rapport se bibliotekaris, Leonie Klootwyk, kon egter ’n hele aantal opspoor. E-pos van haar in artikelskrywer se besit.

14 Interessant genoeg bevraagteken Rapport se destydse nuusredakteur, Ton Vosloo, die 500 000-syfer in ’n onderhoud met die latere redakteur Chris Moolman (2002:15). Tog kan die volgehoue hoë sirkulasiesyfers nie betwis word nie, totdat die latere inploffing van die koerantmark ook Rapport getref het. Selfs teen 1996 het Rapport se syfers nog op 390 000 gestaan. Kyk https://mg.co.za/news/south-africa/1997-02-28-print-on-the-skids.

 

LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top