Ashwin Willemse: nog is het einde niet?

  • 20

Daar was geen rassisme te bespeur voor, tydens of na die voorval waartydens Ashwin Willemse die ateljee verlaat het gedurende 'n regstreekse uitsending van Supersport nie. Dis die amptelike bevinding na afloop van die ondersoek.

Toevallig val dit ook netjies saam met die uitspraak wat die Supersport-base, wat betaal vir die ondersoek en verslag, onmiddellik na die voorval gemaak het. Bloot toevallig, natuurlik.

Willemse se keuse om nie deel te neem aan die proses nie word nou uit alle oorde gekritiseer. Dit beteken hy’t goed geweet hy het nie 'n saak nie, word gesê. Maar is dit regtig so eenvoudig?

Heelparty mense verkies in 'n demokratiese bestel om, wanneer hulle ongelukkig met die regering en die verkiesingsproses is, weg te bly van die stembus in protes, of om hul stemme te bederf. Dis algemeen-aanvaarde praktyk. Dit word algemeen aanvaar dat dit beteken die persoon teken protes aan en is besig, in effek, om die proses as illegitiem te bestempel. Op hierdie oomblik is Suid-Afrika gewikkel in 'n proses om aan die Internasionale Kriminele Hof te onttrek omdat hulle, onder andere, voel dat die hof nie onpartydig staan teenoor misdade gepleeg deur lede in sg “swart” lande nie. Die VSA het sopas aangekondig dat hulle onttrek aan die VN se Menseregtekommissie, omdat hulle beleid ten opsigte van immigrasie skerp kritiek ontlok het.

Reg of verkeerd, die keuse om nie deel te neem aan 'n proses wat 'n party oordeel nie regverdig teenoor hulle gaan wees nie, is goed gevestig. So hoekom mag Willemse dan nie kies om hom te onttrek van 'n proses wat uiteindelik maar net 'n rubberstempel was op wat die Supersport-base vanaf Dag Een gesê het?

Dis moeilik om te weet wat deur sy kop gegaan het, aangesien Willemse tot nou toe nog stilgebly het, maar die vraag wat by my opkom is: het hy dalk geweet of vermoed dat dit die uiteindelike slotsom sou wees? Hy het tog aanvanklik deelgeneem aan die proses, en skynbaar eers onttrek nadat die myns insiens oorhaastige mediaverklaring uitgereik was wat rassisme ontken.

Sou dit vir hom beter wees om deel te neem aan die proses, en sy kant te stel? Dit hang af. Die vraag is seer sekerlik of hy vertroue gehad het in die proses, of hy gereken het hy sou gehoor word. Of sou sy deelname legitimiteit verleen aan 'n proses wat hy nie vertrou het nie? Willemse is die enigste een wat daardie vraag kan antwoord.

Dis egter onteenseglik so dat dit tyd geword het om opnuut te kyk na rasse-ingesteldheid in Suid-Afrika. Wat die verslag baie netjies uitgelig het, is dat daar overte en subtiele vorme van rassisme bestaan, en dat dit soms moeilik is om die subtiele vorme te onderskei.

Die ervaring daarvan is iets wat verskil van persoon tot persoon, en wat afhang van die persoon se sensitiwiteitsvlakke. Dit hang ook af van die persoon se geleefde ondervindinge. Iemand wat vantevore rassisme ervaar het, is geneig om meer bedag daarop te wees as 'n persoon wat dit nog nie ervaar het nie.

Beteken dit nou dat iemand meer sensitief is, dat sy ervaring nie geldig is nie? Natuurlik nie. Dit beteken juis dat daardie persoon se ervaring met groter omsigtigheid hanteer moet word.

Soms is die subtiele vorme van rassisme meer traumaties, juis omdat dit so moeilik is om die vinger daarop te lê, juis omdat dit makliker is om dit te ontken en die persoon van oorsensitiwiteit te beskuldig.

Dis maklik om Willemse nou uit te maak as die “author of his own misfortune”. Die genie is nou uit die bottel. Dis moeiliker om dit terug te probeer druk, veral aangesien daar groeiende onvergenoegdheid is van heelparty mense wat presies weet waarvan Willemse praat omdat hulle dit aan eie bas ervaar.

In 'n land waar politici hulle politieke kapitaal verstrek deur rassespanning aan te blaas, in 'n land waar organisasies vir hul finansiële voortbestaan afhanklik is daarvan dat daar vrees tussen rassegroepe is, het Supersport 'n gulde geleentheid om sport te gebruik om met groter sensitiwiteit die gesprek voort te sit, gemis.

My pa het altyd gesê die spelers het botter aan hulle vingers as hulle die bal laat val. Dit lyk my die bottervingers kom van bo af.

Die bal gaan nie lank op die grond bly nie. Dit gaan volgende keer dalk nie in rugby-konteks opkrop nie, maar die gesprek, en die spanning, is nog lank nie besweer nie.

Kom ons hoop die volgende persone het nie botter aan hul vingers nie.

  • 20

Kommentaar

  • André Badenhorst

    Hierdie "insigte" lyk my na 'n paar bokspringe deur 'n nugter denker van wie ek dit allermins verwag het.

    Die proses was van die begin af deursigtig en legitiem. Hulle het uit hul pad gegaan om dit reg te doen. Daar is absuoluut geen rede om dit verdag te maak nie.

    Ongelukkig is dit egter nie imuun teen "ek glo wat ek glo, maak nie saak wat nie".

  • Retha Alberts

    Veg of vlug blyk die verkose opsies vir Ashwin Willemse. Hy skep 'n dilemma vir sy werkgewer, Supersport, en weier dan om aan die objektiewe ondersoek deel te neem? DIT is manipulasie, nie uitoefening van enige "demokratiese reg" nie. As hy homself steeds 'n slagoffer voel, waar kan hy aanklop vir persoonlike bemagtiging?

  • In hierdie geval was dit vir hierdie kyker al lankal duidelik dat daar ernstige persoonlikheidsverskille was tussen spesifiek Nick Mallet en Ashwin Willemse. Mallet het 'n sterk persoonlikheid, as hy met jou verskil, of dit nou Willemse of Naas Botha is, sal hy sy standpunt baie sterk stel en bo-oor jou loop. Hy sal heel gemaklik die vloer met jou vee! Hy sal jou ook baie maklik lekker laat sleg voel sonder om dit werklik eers te besef. Dis hoe mense met sulke persoonlikhede optree. Mallet ken sy vakgebied, het sterk opinies en gaan hom nie maklik van hierdie opinies en menings laat afsien nie. Hy was baie duidelik lankal glad nie beïndruk met dit wat Willemse kwyt geraak het tydens uitsendings nie, dit was tog baie duidelik vir almal, of moontlik nie, maar vir my was dit baie duidelik. Dit blyk dat hy die situasie self aan die SuperSport- mense oorgedra het. Op een of ander manier moes daar dus 'n uitval of insident plaasvind. Die realiteit is die persoonlikhede was nie versoenbaar nie, daar kan ook geargumenteer word oor wie se menings meer gewig gedra het en dan was Mallet die enigste van die drie betrokkenes wat hierdie werk in sy moedertaal gedoen het en dus heel gemaklik was. Nou is dit ook so dat ons tans in 'n land is waar die rassekwessie ongelukkig nog lank met ons sal wees. Hierdie voorvalle sal nog lank met ons wees en hulle sal altyd uitbasuin word, dis maar die realiteite waarmee on in Suid-Afrika sal moet saamleef.

  • Pienkes du Plessis

    Wyngaard se ondersteuning van Willemse se onverklaarbare uitstappery is nie eens subtiel nie; dis blatant! En nou kom Wyngaard Supersport ook nog by. As daar een organisasie is wat tot vervelens toe sport gebruik om die kloof tussen kultuur- en rasgroepe te probeer oorbrug, is dit juis Supersport. Wat anders kon die Bestuur van Supersport nou eintlik doen?

  • Gustaf Claassens

    SuperSport is ook Ashwin se werkgewer Bettina. Hoekom sal hulle die een individu ten koste van die ander een te na wil kom? Die klimaat is in elk geval nooit gunstig vir 'n minderheidsgroep waarvan Mallett en Botha lede is nie. Diegene wat wat namens SuperSport by die saak betrokke was en al die praatwerk en verklarings gedoen het, was swart. Hulle het dit op hulle beurt verwys na 'n swart advokaat wat skynbaar 'n ongelooflike goeie CV het. Gaan kyk na sy werkprosedure en jy (as regsgeleerde jouself) sal met 'n oog-opslag sien hoe deeglik hy na die saak gekyk het. Ook hy bevind niks! Maar natuurlik kan dit, en mag dit nie so wees nie.
    Hierdie hele voorval en die reaksies van mense wys dat subjektiwiteit deel van ons menswees is. Dit was so en sal altyd so wees. Mense kies kant, dikwels objektief maar meesal subjektief, ek maak my daaraan skuldig en ek dink jy ook. Tog dink ek dat ons land so verpolitiseer is, dat ons dikwels ons eie grootste vyand is. Die klem word geplaas op daardie gevalle waar dinge verkeerd loop en dan as sodanig verpolitiseer word. Sosiologies gesproke assosieer die mens homself met 'n ander en hy doen dit (bewustelik of onbewustelik) op verskillende gronde en dis nie altyd op ras nie, alhoewel ras in ons land dikwels erg dominant kan wees. Ook daarvoor is daar redes en ook dit kom by alle groepe voor. Dit weet jy tog goed.
    Het jy al vir 'n oomblik daaraan gedink dat die here Willemse en Mallett net glad nie as mense van mekaar hou nie en dat ras eintlik niks hiermee te doen kan hê nie? Gaan kyk bietjie na die hartlikheid wat in daardie ateljee is op Saterdae en hoe die klomp met mekaar skerts. Daarby sê ek nie dat die klompie oor-en-weer kuier en altyd in mekaar se geselskap wil wees nie. Tog sal ek dit as hartlik beskryf ... op uitsonderings na. As daar inherente rassisme is sal dit so wees teenoor 'n groep en nie 'n blote individu nie.
    Jy (en ander) sê mens moet meer dikwels kyk en daaraan dink hoe individue (meesal van kleur) dinge ervaar in gespanne situasies en dat dit nie altyd gaan oor wat gesê word nie, maar hoe of hoe nie. Natuurlik is daar waarheid in maar ek dink en weet dat daar individue is wat dikwels ook situasies misbruik vir eie gewin en vinnig die troef, naamlik die rassekaart speel wanneer dinge verkeerd loop. Ek het 'n sterk vermoede dat Ashwin in hierdie geval daardie kaart gespeel het. Dalk is dit die begin van 'n politieke loopbaan vir hom? Hy word na bewering gereeld by ANC-vergaderings opgemerk en die toekoms sal vir ons wys ...
    O, en hy behoort nie te sukkel met finansiering vir 'n veldtog nie want die R61 miljoen wat hy uit 'n BEE-transaksie ontvang het behoort sy veldtog nie skade te doen nie. Is ek moedswillig as ek die ding bysleep? Jip, ek is, net om te wys dat die uitval tussen Willemse en Mallett-hulle waarskynlik net so min met ras te doen het as wat die R61 miljoen van Ashwin iets met sy storie in SuperSport-ateljee te doen gehad het. Of dalk het dit as ek nou daaraan dink want die vraag wat by my opkom is of iemand wat nie daardie sekuriteit (R61 miljoen) het het nie, so iets (uitstap) onder normale omstandighede sal doen.
    Nietemin, jy's reg Bettina wanneer jy sê die saak is nog lank nie afgehandel nie. Ashwin gaan aan met die saak en Cosatu dreig ... Ek glo die oplossing lê in opvoeding en uit dit spruit basiese goeie maniere en ordentlikheid. Dit beteken bloot eenvoudig dat almal met respek en menswaardigheid behandel moet word. As dit nie gedoen word nie beteken dit nie noodwendig dat dit altyd iets met ras te doen het nie. Dit kan en is dikwels net basiese onbeskoftheid en swak maniere. Sou dit wel met ras te doen hê, behoort ons mekaar te ondersteun en die 'oortreder' te berispe op 'n manier waar hy/sy as die sondebok uitgewys en berispe word. Ek dink ons maak 'n groot fout om woorde en uitsprake te kriminaliseer. Waar begin vryheid van spraak en waar hou dit op en dieselfde geld vir haatspraak. Waar begin en hou dit op? Dis mos 'n uiters subjektiewe onderwerp. Niemand gaan altyd dieselfde oordeel aan die dag lê as dit kom by uitsprake nie. Al wat ons doen is om die rasse-skeidslyne nog duideliker te trek. En dan is almal op die uitkyk waar die een die ander "uitvang" of troef en vergelding is aan die orde van die dag. Dit raak 'n "tit for tat"-storie en ons bereik presies die teenoorgestelde as wat ons wou/wil bereik.
    Waardes en norme behoort te geld en laat individue of gemeenskappe self met diesulkes (haatspraak-"oortreders") handel. Eks-kommunikeer sulke mense en moenie vriendskapsbande sluit nie. En as mense wel by mekaar aanklank vind op sulke gronde (iets wat wel gedoen word) sal ons nuut en skeppend moet dink in terme van optredes. Groot boetes en tronkstraf gaan nie die oplossing wees nie, net so min as wat die doodstraf die oplossing vir kriminele misdadigers sal wees.
    So, dis goed jy skram nie weg en swyg oor onderwerpe soos dié nie. Dis goed en reg om gedagtes en menings te deel en te wissel en dit help om beter te verstaan. Jy's 'n bekwame, wel gerespekteerde mens en met reg so. Daarom moet mens luister want jou standpunt is asook die van baie ander. In die proses vind ons hopelik 'n gemene deler.

  • Nee wat Bettina, hierdie onlogiese rubriek van jou doen jou reputasie geen goed nie. Net soos Ashwin Willemse, wat die dag na sy onprofessionele gedrag op die TV-stel deur af te stap, verklaar het dat dit nie agv enige rassistiese optrede van Mallet en Botha was nie, sy reputasie geen goed aandoen deur nie op te daag vir die ondersoek nie. Hy het vooraf besef dat hy geen saak het om te verdedig nie, en hardloop nou na 'n ander forum toe om sy saak te verhoor, nogal met die hulp van 'n prokureur.

  • 'n Veiligheidswag het geweier om my te help, omdat ek hom nie eers gegroet het voor ek hom gevra het: "Kan ek jou 'n vraag vra?"... Overte of subtiele vorm van rassisme? Of bloot ongeskik? Wat is rassisme?

  • Kan ons nou asb aanbeweeg? Die ANC hou aan met die ras-ding en apartheid net omdat hulle nie 'n brug kan bou en daaroor kan kom nie. Die Engelse het met apartheid begin net na die Boere-oorlog. Die swartes was nie uitgenooi deur die Engelse in die stigting van die unie nie. Niemand het grond gesteel nie, etc etc etc. Jy sien jouself as 'n kwotaspeler, jy is 'n swart Suid-Afrikaner oor JY so sê, Jy is 'n swart lawyer oor JY so sê. Kan ons ASB net aangaan met die lewe? Ons moet ekonomies kompeteer met die Chinese, Amerikaners, Britte, Duitsers maar ons kerm en kla oor 'n TV-aanbieder. Word groot asb!

  • Bettina, sê my net as die rolle omgedraai was en Mallet het geweier om aan die proses deel te neem of jy dieselfde opinie sou gehandhaaf het?

  • Gogo de Bruin

    Ek sien vanoggend weer die opskrif "Ashwin wil rassisme in hof ontbloot" en ek vra myself as nugtere mens: en dan? Wat wil hy dan doen? Met wie en waar wil hy altemit dan saamwerk?

  • Sy prokureur kon ook vir hom raad gegee oor watter forum die beste sou wees om die saak aan te hoor.

  • Daniel Kritzinger

    Dis ondenkbaar dat 'n ingeligte, intelligente persoon met so 'n naïewe, deursigtige verdagmakery van SuperSport en die tersaaklike verslag vorendag kan kom. Hoekom sleep sy nie die sportminister se impulsiewe, ongegronde uitlatings direk na die voorval ook by nie?
    Hoe dit ook al sy, al het Willemse 'n saak (gehad), was dit uiters onprofessioneel en onaanvaarbaar om uit die bloute met 'n tirade uit die ateljee te stap. Die kwessie kon agterna met sy werkgewer bespreek word.

  • Elke pos in enige werksplek vereis n mindere of meerdere mate van emosionele intelligensie, maw die vermoë om die druk van die spesifieke pos te kan hanteer. Hou tog net asb op om lang stories en verskonings wat nie relevant is nie tot vervelens deur te trap.

  • Corne Fischer

    Hier word dinge vergelyk wat niks met mekaar te doen het nie. Die VSA se onttrekking van die VN se Menseregteraad is 'n katastrofe, maar het niks te doen met iemand se weiering om aan iets deel te neem waar hyself in die middelpunt staan (en deur hom veroorsaak is) nie! Willemse kon tog deelneem en indien hy dan sien dis subjektief kon hy hom onttrek. Nou spekuleer hy net oor die proses.
    Die skrywer kan gerus hierdie uitstekende LitNet-artikel lui: https://www.litnet.co.za/whatabout-ism-ja-maar-wat-van/

  • Bettina, dalk moes jy, as kenner van artikels skryf, met die eerste paragraaf gestop het. Want dit was genoeg.

    Na die lees van paragraaf twee, het ek gedink: Regtig! Bespeur ek sarkasme?
    En daarna het ek gedink: hoe bring sy van haar genoemde kloutjies by die saak op die tafel se oor.

    En ten slotte het ek net gelag en geweet hierdie artikel gaan reaksie kry.

    Behoort ń mens so ń artikel hier te plaas?

  • Iemand het op sosiale media die volgende te sê gehad.'Disagreeing with a report that you refused to be a part of,is like giving an analysis on a game you did not watch.'

  • Teleurstellende artikel. Dit bevraagteken die integriteit van die advokaat en Adam Habib. Boonop het Willemse self gesê daar was geen rassisme nie. Daar was die Goldfields-episode en nou die. Naas moet ook onder Nick se sterk persoonlikheid deurloop. Maar rêrig, moet Nick om verskoning vra vir wanneer hy gebore was? En nog ’n fout in die artikel met verwysing na VSA se onttrekking uit menseregte-vereniging. Dit is nie oor die muur nie, maar die ‘hypocritical’ benadering tot Israel en niks word oor die Congo gesê nie.

  • WHI is omtrent op die regte spoor. Naas was kaptein en Nick 'n afrigter en beide het dominante persoonlikhede. Die probleem is die onderliggende meerder- en minderwaardigheidsgevoelens wat nie in hulle eie menswees reg bestuur word nie.

  • Dit bly altyd interessant hoe joernaliste, skrywers en mediamense ‘n storie kan opblaas. SuperSport het net soos alle organisasies van daardie statuur, ‘n personeelbeleid wat jy volg om geskille op te los sonder om die kollig te soek. Dit is nie gebruik nie, maar die forum waar die kykers na rugbykommentaar kyk is gekaap ... en dit laat jou wonder of dit georkestreer of op die ingewing van die oomblik was. Dit is hartseer wanneer iemand nie kan aanbeweeg en die verlede kan begrawe nie. Die boere-oorlog, groot trek, apartheid en andere het een gemene deler, hulle behoort aan die verlede en ons gaan dit nooit weer kan oordoen nie. Skryf liewer oor oplossings en voorstelle om almal se lewens in SA te verbeter.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top