WhatAbout-ism (ja, maar wat van ...)

  • 2

Iets wat my absoluut dwars in die krop steek, is hierdie nuwe neiging (of dalk is dit al oud, en ek kom dit onlangs eers agter) dat mense dikwels by die beriggewing van ’n kontroversiële gebeurtenis vra “maar wat van sis of so …”. Hoekom kan ons nie ’n stuk nuus vat vir wat dit is sonder om dit te wil vergelyk met iets wat in jóú opinie en konteks, net so erg is nie?

Laat ek eers agtergrond gee: Ek het so ’n paar maande gelede ’n video gekyk van John Oliver waar hy die begrip “WhatAbout-ism” verduidelik. Hy sê daarin die idee kom daarop neer dat alle aksies, ongeag van die konteks, moreel gelyk gemaak word. 

Ek het die Henri van Breda-saak noukeurig gevolg en omdat ek ongelooflik nuuskierig is, gaan lees ek dikwels die kommentaar onderaan artikels, want ek wil graag weet wat die mense van ons land te sê het. En ongelooflik baie van die kommentaar was in die koers van “Ja, maar wat van Malema en sy trawante?” of “Ja, maar wat van plaasmoorde?” of “Ja, maar wat van die ANC wat ons mense rot en kaal besteel?”. Nou, ek sê nie ek is enigsins ’n kenner op politieke gebied nie, maar dit maak mos nie sin nie?! Hoe kan jy een saak vat en dit vergelyk met ’n ander kwessie wat nie eers daarmee verband hou nie? Die feit dat Henri van Breda skuldig bevind is, sê mos nie dat die res van die land sommer vergeet het van die uitdagings wat op ander gebiede bestaan nie.

En dit hoef nie eers ’n kontroversiële gebeurtenis te wees nie, ek weet ek het dit nou inleidend so bewoord, maar dit kan op enige plek voorkom. As iemand byvoorbeeld besig is om te praat oor goeie ma’s, kry jy dikwels daardie persoon wat vra “Ja, maar wat van al die pa’s?”. Dis mos nie die punt nie ... Nog ’n bekende wat onlangs in die sop hieroor was, is Matt Damon wat na die #TimesUp-beweging in die media gesê het daar word nie genoeg gepraat van mans wat nié seksuele oortreders is nie. Sjoe. Ek voel twee dinge oor so ’n kommentaar: 1. Nie die punt nie, en 2. Hoekom moet mans geprys word omdat hulle doodgewone mans is? My tweede punt is ’n berig vir ’n ander dag.

So hoekom gebeur dit dat ons vra “Maar wat van …?” Is dit oor ons bestaansangs? Of omdat ons te vinnig aanstoot neem? Of is dit omdat ons voel die media dek nie genoeg kwessies van dit wat vir ons belangrik is nie? Of het ons bloot net nie genoeg insig tot ander se geleefde ervaringe nie?

Ek weet nie wie die antwoorde het op hierdie vrae nie, maar wat ek vir seker weet, is dat WhatAbout-ism baie gevaarlik is, want dit verklap meer oor jouself en jou uitkyk op jou medemens as oor die stand van die land se sake ...

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top