As stilte praat deur Kobie Lötter: ’n Lesersindruk

  • 0

TITEL: As stilte praat
SKRYWER: Kobie Lötter
UITGEWER: Ns. Skrywershuis
ISBN: 978-0-7962-5437-8

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Kobie Lötter se boek, As stilte praat, is nie sommer so ’n boek nie. Die kleurvolle voorblad maak mens dadelik nuuskierig om die boek te lees. Die non, ’n kat en ’n hond, opgeneem in die goue agtergrond van ’n sterwende herfstema – nuwe lewe – is knap mistiek vir die omslag. Ns. Skrywershuis se kunstenaarinstink het hier raak gevat!

In hierdie boek deel Lötter gedeeltes van sy kinder- en grootwordjare, asook sielsgesprekke met suster Liz, ’n non. Stilte is vir Kobie niks vreemds nie. Tydens sy kinderjare op ’n Vrystaatse plaas waar hy grootgeword het, het hy geleer om ingestem te luister. Tog het hy eers ná sy aftrede, onder die koepel van die Groot Karoo, eers werklik verstaan wat stilte is. Kobie is ook ’n ywerige Afrikaanse vertaler van klassieke geestelike en kontemplatiewe werke.

Niemand arriveer so pasklaar vir die lewe om vir seker te weet waarheen hulle weer op vertrek staan nie. Die hoe, waar en wat van menswees is ’n goeie aanduiding waarheen ons op pad is. (bl 7)

In die voorwoord van As stilte praat, skryf vader Leon D Mostert CO (Die Oratorium Oudtshoorn):

As stilte praat spreek van ’n lewe geleef in geestesaanskoue waar stilte, oorpeinsing en uitdagings sakramentele gereedskapsmiddele word vir dieper wese en wording. Kontemplasie gebeur inderdaad wanneer die stilte praat.

Hierdie stelling oor kontemplasie is ook deel van die tema van die boek.

Kobie is wyd berese en belese – sy soeke na geestelike begeleiding betrek die leser spontaan en mens kry ’n goeie indruk van geestelike begeleiding wat prakties tussen geloof en paradoks grondvat.

Dit is opvallend dat Kobie met deernis en empatie sy verhaal vertel. Die afsterwe van sy broer en sy pa was soos ’n dolk in sy hart. Verbroude kanse en swaarkry word beleef en moeilik verstaan. Op ’n ligte noot en tong in die kies skryf hy: “Ek het my pa belowe ek maak seker hy is dood wanneer hy dood is, hy het erge engtevrees gehad” (bl 40). Hierdeur het ek besef hoe na Kobie se hartsmense aan hom was.

Elke hoofstuk is deel van temagesprekke tussen hom en sr Liz. Met kleurvolle en goeie taalgebruik vertel Kobie van sy geestesgesprekke met sr Liz. Selfs Kazoo, die Duitse herdershond, en ’n klein swart katjie het spore in sy hart getrap.

Kobie Lötter skryf met outoriteit en die gebruik van sielsgesange is aangrypend en prysenswaardig. “Die mens is liggaam, siel en gees ’n psigomatiese eenheid, waar die liggaam stilweg telling hou van lewensstyl, wel en weë.”

As inleiding skryf hy oa: “My herinneringe vertel van die stilte verskans in ’n dekadelange gesprek (geestelike begeleiding) met ’n Katolieke non, kruis-broodkrummels vir ’n honger mossie.

Kobie verduidelik as volg tydens ’n onderhoud met Naskrif:

Die boek verwys vlugtig na die aard van geestelike begeleiding. Na 12 jaar in my korporatiewe loopbaan het my bestuurder aanbeveel ek doen iets vir selfontwikkeling, dit kon enigiets wees. Ek het op ’n kursus in Christelike Spiritualiteit besluit maar dit moes in en om my grondvat. Die gevolg was ’n mentor in die konteks van ’n Geesgeleide gesprek in die ware sin van die woord. Wat dit so anders met Suster Liz gemaak het, was haar werklike gawe om sielsverlange en sielsbehoefte te peil. Aldus haar waarskuwing dat die geestelike tuin ’n baie private tuin is. Die vertelling gaan dus nie oor my nie, maar lig effe die sluier oor ware wese en wording. Dit is iets wat die Christelike mistiek in die konteks van die lewe as sakramentele belewing goed verstaan. Daarom die Katolieke nuanses wat oop Godsoekers nie hoef af te skrik nie.

Wat is Kobie Lötter se doel met hierdie boek – wat kan die leser hieruit put? Twee aanhalings uit die boek stel dit die beste. In die aanloop noem hy:

Die memoir wil geensins ’n vertoonstuk wees van ’n geestelike belegging wat met rente opbetaal het nie, veral nie kyk hoe lyk ek nou nie! Die lewe werk nie so nie, want die Gans Andere moet meer word en ons minder. Welkom as hierdie Stilte ook met jou gaan praat.

En aan die einde in die nabetragting:

Liewe sielsgenoot, as die Stilte ook met jou praat, selfs diep verwese, hoor, loof, weet, doen en vertrou, jy behoort seerbemind aan die Beminde. Want wie anders wag só in opstanding en lewe vir ons?

Die boek vertel van Stilte wat met ons praat en graag wil praat. Sheila Cussons se weergalose gedig, “Christ of the Burnt Men”, verdig aangrypend hoe God met elkeen besig is. As stilte praat voer as’t ware gesprek vanuit die lewe se brandende doringbos. Die loutervraag is: Besef ons, soos Moses, die heilige grond waarop ons nederig kaalvoet staan?

My enigste waarneming as resensent is dat die begin van hierdie outobiografiese vertelling die leser dalk abstrak mag vind, maar die konsep moet fondament kry van onder die sluier na die ontknoping van “stilte wat praat”.

As stilte praat is portale na die geesteswêreld – geheimsinnig en tog so bekend dat jy voel jy is tuis. Wanneer mens dié boek lees raak mens verlore in die wonderlike wete dat Jesus die fokuspunt is van ons aanskoue en reik uit na ons met ’n straal uit Sy Heilige Hart (bl 53).

Hierdie verhaal maak ’n onuitwisbare indruk in jou brein – maak nie saak hoeveel keer jy dit lees nie.

’n Merkwaardige boek wat beloof om die leser se hart aan te raak.

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top