As jy van koors droom: boekbekendstellings in die tyd van korona

  • 2
 

As jy van moord droom
Deborah Steinmair
LAPA

Deborah Steinmair se boek As jy van moord droom het pas by LAPA verskyn. Die bekendstelling sou op 4 April by Protea-boekwinkel in Hatfield wees, maar LAPA het dit as gevolg van Covid-19 gekanselleer. Protea het ook vir eers alle bekendstellings en geleenthede afgestel. Deborah skryf hier onder oor boekbekendstellings in die tyd van die korona.

“To go viral” is nie meer gewens nie, as dit ooit was. Maar kunstenaars verlang blootstelling: Jy het lank in isolasie met jou skepsel gewroeg en nou wil jy haar graag te water laat.

Skrywers is steeds gelukkiger as uitvoerende kunstenaars wat van konserte en gehore afhanklik is. Mense kan jou boek op hul eentjie lees en almal gaan glo in die dae wat kom meer tyd hê vir lees. Maar ’n mens voel tog ’n gebeurtenis moet gemarkeer, ’n aankoms gevier word. Vier maande ná die verskyning voel soos mosterd na die maal. Daar is maar ’n klein venstertjie om te vier en ongelukkig tref sommige van ons se boeke die mark reg in die middel van Covid-19.

Dankie tog vir sosiale media wat ons almal met ’n virtuele spinneweb verbind. En as ’n mens gelukkig is soos ek, is daar maande gelede ’n onderhoud met jou gevoer oor jou boek, vir TV. So dring ek sitkamers virusvry binne en sê: Suid-Afrika, hier is my boek.

Izak de Vries van LAPA, wat die boek moet bemark, beskryf As jy van moord droom as “donker”. Netsowel ek stel nie ’n in hierdie tyd ’n boek vry wat louter sonskyn en vreugde is nie. Dis donker dae. Alles voel onwerklik, soos ’n surrealistiese nagmerrie. Almal voel alleen. Die laaste drie sinne is ’n goeie beskrywing van my boek. Ek dink ook aan Siener van Rensburg of Oom Niklaas, soos die moderator van sy Facebook-blad na hom verwys. Een van sy profesieë lui: “Ik staat op die veldstoel mijn voete es kaal.”

Is skrywers sieners? Dean Koontz en Deon Meyer is. Hulle het dit lankal sien kom. Ek gaan sommer weer Koors lees. Dis asof die tyd ryp is vir apokaliptiese koorsdrome.

In As jy van moord droom worstel ’n middeljarige vrou, Erin, om ’n greep op haar geestesgesondheid te behou. Eintlik is sy lankal die kluts kwyt. Sy is huishoudelike noir se klassieke onbetroubare verteller: Haar kneukels is wit, maar die werklikheid glip deur haar vingers. Sy het vir haar ’n realiteit saamgeflans waarmee sy kan saamlewe, dus kan die leser nie ’n woord glo wat sy sê nie.

Haar dogter, Maryna, haar enigste kind, is op ses voor die skool ontvoer. Haar huwelik het verbrokkel en sy het aan die drink geraak. Sy is nou nugter, maar voel asof sy droom. Sy wil graag glo haar dogter is groot en woon in Kaapstad. Totdat die dogter een stormagtige nag beteuterd op haar drumpel staan: Verwese, zombie-agtig, morbied oorgewig en bot. ’n Ernstig beskadigde wese. Hulle moet weer ’n emosionele woordeskat vind; ’n aanknopingspunt.

Erin was nooit juis die moederlike tipe nie, was nooit emosioneel, demonstratief of praatsiek nie. Sy swem in ’n staat van uitgestelde rou en ontkenning. Nou moet sy elke dag sonder padkaart aandurf. Soos gebruiklik in huishoudelike noir, wentel alles om verhoudings en die dinamika tussen beskadigde karakters, en boonop is daar sinistere elemente wat hulle van buite bedreig. Moord klop aan en uiteindelik gaan dit oor liefde.

Ek hoop die donker boek skyn vir ’n dag of wat ’n flou lig in die tonnel van iemand se isolasie.

  • Gisteraand was daar ’n gesprek rondom As jy van moord droom op DEKATv. Foto hier onder verskaf:

Lees ook:

As jy van moord droom: ’n onderhoud met Deborah Steinmair

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Michele Meyer

    Baie geluk met jou nuwe boek, Deborah! Dalk is daar eindelik iets bekoorliks omtrent die feit dat dit juis onderroks in ons lewens gaan inkartel in plaas van met ’n boem neerplof.
    Kan nie wag om dit te lees nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top