
Omslag: Jonathan Ball
As ek jy was
De Wet Hugo
Humann & Rousseau
ISBN: 9780798185271
“Judgement” is iets wat elke kind, tiener en volwassene op een of ander stadium van hul lewe ervaar en vrees. Met As ek jy was (2025) spring De Wet Hugo sowaar by die diep kant in.
Hugo is ’n skrywer wat hou van buite die boks dink en skryf. Waarom sal sy karakters dan nie juis buite dié boks leef nie. Hy woon in die buiteland, tans Hangzhou, China, en is ’n laerskoolonderwyser. Hy spandeer dus gereeld tyd met sy skrywersmark. Van sy gewilde titels sluit die volgende in:
- Grilgrypers, ’n lekker grilreeks oor verskillende grillerige monsters en gebeure, soos mummies, riviermonsters en spoke.
- Kies-jou-avontuur-reeks, ’n reeks boeke waar jy as leser jou eie avontuur bestuur deur keuses te maak soos jy lees. Met titels soos Die gevaarlikste speletjie op aarde, Die gevaarliste boek op aarde en Die gevaarlikste fliek op aarde.
- ’n Besonder lekker titel is Die 13de dag in Chengdu (2025) wat selfs op die kortlys vir die LAPA-Jeugromankompetisie was.
Hy het ook al ’n hele paar toekenning ingeoes: ’n ATKV-woordveertjie in 2021 vir Grilgrypers 6: Die geheim van die spookwerf (2020), en in 2023 vir Die holderstebolder hondepartytjie (2022).
Met die deur in die huis val
Die titel As ek jy was (2025) verskaf reeds ’n leidraad vir die leser vir wat op hom of haar wag. Dit is ’n storie wat oor mense se oordele en vooroordele handel. Jy kan daardie wysneuserige, selfgesentreerde stem reeds in die titel hoor: “As ek jy was …”, maar terselfdertyd die waarskuwing van ’n opregte vriend.
“As ek jy was …” Hierdie frase word dikwels gebruik wanneer iemand voel hulle weet beter, maar ook wanneer iemand opregte raad wil gee en wil wys dat hulle jou perspektief in ag neem. Ongelukkig impliseer dit soms vir die ontvanger van die raad dat die persoon dink hulle verstaan die situasie en oplossing beter. Dit is egter nie altyd die bedoeling nie – dit kan ook net goedbedoelde raad wees. Dit is juis hierdie dubbelsinnige aard van die uitdrukking wat die storie laat seëvier.
Hierdie uitdrukking beteken om jouself in iemand anders se skoene te plaas. En dit is wat beide figuurlik en letterlik met Gretchen en Barbara gebeur.
Wie onthou die rolprent The parent trap (1998)? Of Freaky Friday (2003)? In hierdie boek gebeur iets soortgelyks: Gretchen en Barbara ruil letterlik lewens om, alles te danke aan ’n geheimsinnige sakkie wenspoeier, en ervaar hoe dit is om in mekaar se skoene – in mekaar se vel – te leef.
Die eerstepersoonsvertelling lees gemaklik waar dit uit beide perspektiewe vertel word. Die leser kry dus twee perspektiewe op gebeure wat in elke van die hoofkarakters se lewens afspeel. Ons lees vanuit perfekte-lyf-Barbara sowel as die voller-figuur-Gretchen se perspektief. Hierdie vertelmodus bied vir die leser die geleentheid om twee kante van dieselfde situasie te lees en ervaar. Dit maak dat jy as leser jouself maklik in die karakters kan inleef, veral in “Vetchen” met haar uitdagende kwessies, asook die ooglopend perfekte Barbara se omstandighede tuis, veral vir jonger lesers wat sukkel om hul te vereenselwig met ’n ander se perspektief buite hul eie.
As ek jy was kan van groot waarde wees vir byvoorbeeld biblioterapie, waar boeke gebruik word om emosionele en sosiale begrip te ontwikkel. Dit kan ook nuttig wees vir kinders wat sukkel met sosiale interaksie, soos kinders met AGHS of outisme.
Hierdie kinders vind dit soms moeilik om hulself in ander se situasies in te leef – nie omdat hulle onsensitief is nie, maar omdat hul brein anders werk. As ek jy was kan help om hulle te wys dat ander mense se lewens nie altyd is soos wat dit lyk nie.
Dit is ook van belang vir enige leser, jonk of oud, want sommige van ons moet van tyd tot tyd daaraan herinner word dat dit wat jy by die skool sien of dink die waarheid is, nie noodwendig die volle prentjie is nie.
Die temas van gewigsverlies, oorgewig wees en die sosiale aspekte daarvan word besonder goed hanteer. Dit lees geloofwaardig en die leser kan hul inleef in die karakters, waarskynlik omdat Hugo intiem verstaan hoe dit voel om aan die ontvangkant te wees. Hy het sy eie wedervaringe gehad met hierdie kwessies. Daar is ’n fyn balans tussen die brutale woorde wat tieners voor mekaar se koppe gooi en die simpatieke woorde van goeie vriende en familie.
Ons almal ken hierdie tipes mense. Daar is boelies, vriende en kinders of volwassenes wat dié boek sal lees en in die besonder by die situasies en karakters sal aanklank vind.
Niemand loop rond met ’n plakkaat wat al hul probleme wys nie. Daarom is stories soos hierdie baie belangrik. Dit help tieners om empatie te ontwikkel en om beter te verstaan hoe ander mense voel.
Hierdie boek is ideaal om enige leser aan die dink te sit en gesprekke te begin oor begrip vir ander, empatie en die kompleksiteit van ander se worstelinge in die lewe.
Gelukkig is daar goeie nuus in antwoord op hierdie belangrike boek: “Jy is nie ek nie!” Elke persoon loop met hul eie verhaal rond en elke storie is anders.
Lees ook:
Hoe die Franse dit regkry dat kinders lees – en wat Suid-Afrika dalk miskyk

