Armand Aucamp en Du Toitskloof kook kaal

  • 1

Wanneer een van die land se begeerlikste celebs ’n kookboek maak en ’n kelder met eindelose toekennings agter hulle naam besluit om saam te speel, dan kook dinge, en nie net in die kombuis nie.

Op 9 November het Armand Aucamp, Du Toitskloof Wyne en LAPA Uitgewers ’n deel van The Stack, ’n restaurant in die Kaap, oorgeneem om gesonde kos en heerlike wyn te vier.

Armand Aucamp is ’n ster. Kykers van Boekklub kan nie genoeg van hom kry nie, in Stroomop het hy sy moses teëgekom en menige vroue het gedroom daarvan om daardie lyf op te tel en te laaf ... Hy is ook die aanbieder van “Afrikaans is groot” en was onlangs weer te sien in die Fugard-teater se Shakespeare in love. ’n Hengse klomp manne wil naby hom wees, ander wil weer soos hy wees.

Om mooi te wees, is harde werk. Armand is mooi, en hy werk daarvoor. Ruiterlik erken hy egter, daar voor almal in The Stack, dat sy kookboek, Armand kook kaal, uit ydelheid gebore is. ’n Model moet dikwels hemp uittrek vir ’n foto. Dan moet jy goed lyk.

Vir Armand het sy lyf aanvanklik nóg meer werk gekos. Hy stel egter baie belang in die wetenskap en in biologie en het hard gewerk daaraan om die regte dieet te probeer volg.

Aanvanklik het hy gedink Noakes is mal toe die bom bars oor die laekoolhidraat-hoëvetdieet. Tog het Armand besef dit sou dom wees om nie te probeer nie, al was dit dan ook om vir Noakes eens en vir altyd verkeerd te bewys. Toe probeer hy Noakes se idees. Dit het vir hom gewerk.

Die probleem was dat daar nie juis pasklaar banting-maaltye te koop is nie, en hy begin toe self sy gesonde kos kook. Sy ma het hom van kleins af touwys gemaak en omdat Armand so wetenskaplik dink, kon hy ander se resepte aanpas by sy nuwe dieet.

Oor ’n paar jaar het Armand 100 laekoolhidraatresepte, wat banting- of keto-vriendelik is, gekook en neergeskryf.

Toe LAPA se Marida Fitzpatrick hom bel en sê: “Ek hoor jy maak ’n kookboek,” was die skrif reeds op die papier.

Vir 10 dae het Armand en ’n aantal vriende sy ouerhuis oorgeneem en 10 resepte per dag gekook, gestileer en afgeneem. Armand het die kos self voorberei. Marcelle van Rooyen het dit gestileer en Donna Lewis het die foto’s geneem.

Armand het juis sy boek opgedra aan sy ouers, Petra en Chris. Hulle was dus ook by die geleentheid.

Armand kook kaal is nie net ’n mooi boek nie, dit lok ook goeie reaksie uit. Tim Noakes sê self: “Sonder twyfel een van die beste laekoolhidraat-kookboeke ter wêreld. Armand verskuif grense!”

Ed Beukes, Du Toitskloof Wyne se bemarker, het Armand genader en gesê Du Toitskloof glo in ’n gesonde leefstyl en in boeke. Du Toitskloof borg immers reeds die Eerste Slukkie op LitNet en is ook betrokke by die US Woordfees se kortverhaalbundel.

Johan de Wet, 'n direksielid van Du Toitskloof Wyne, het ook die geleentheid bygewoon.

So, op 9 November 2018, het Armand smuldisse gekook en Ed het Du Toitskloof se pryswennerwyne saam met elke dis geskink.

Dit was ’n smaaksensasie.

Die aand is geopen met Armand se geroosterde Midde-Oosterse sade (bladsy 33) en die Quest Méthod Cap Classique uit die Du Toitskloof Premium-reeks.

Volgende was Armand se kaastjips (bladsy 50) en Du Toitskloof se Land’s End Sauvignon Blanc.

Armand se haloumi-vingers en artisjokdoopsous (bladsy 34) is bedien met ’n yskoue Du Toitskloof Pinotage Rosé.

Armand was voortdurend aan die gesels met die kombuis.

Vir die vegetariërs het Armand sampioensop (bladsy 84) gemaak en Ed se wynkeuse was ’n volronde versnit, die Du Toitskloof Dimension.

Die aand se musiek was analoog.

Pret was die wagwoord; gesond wees en kwaliteit as tema.

Heerlike soutterthappies (bladsy 75) is bedien saam met Du Toitskloof se Land’s End Syrah.

Ed het ’n groot kanon, die Quest Heroes Journey, uitgehaal om saam met die lamsvleis-koftas (bladsy 158) bedien te word. Dié wyn is ’n Bordeaux-styl versnit en het goud gewen by die 2018 Veritas-toekennings.

Armand hou van ’n lekkerny en het moeite gedoen om ook gesonde, laekoolhidraathappies vir soettande te ontwikkel. Ketoklapperstafies (bladsy 206) is bedien met ’n Du Toitskloof Red Muscadel, een van Du Toitskloof se mees bekroonde wyne.

Armand se Sjokoladebruintjies (bladsy 202) en die Du Toitskloof Cape Ruby het die aand afgesluit.

Die geleentheid op 9 November was vir uitgesoekte gaste in die pers, die teater- en  wynbedryf, maar hou Armand en Du Toitskloof se sosiale media dop, want hulle gaan op verskillende plekke deur die land hierdie idee herhaal en enige een kan kaartjies koop.

En natuurlik, koop die boek en kook daaruit. Die resepte is maklik om te maak. Du Toitskloof se wyn is by goeie winkels, ook op die internet te koop. Besoek hulle gerus by www.dutoitskloof.co.za en maak van hierdie pryswennerwyne jou eie. Du Toitskloof kan landwyd aflewer. LAPA ook.

  • 1

Kommentaar

  • Hi

    Lyk na wonderlike boek!

    Van Namibië (klein dorpie) - waar kan ek die boek koop (Armand kook kaal)?
    Ek sal dalk waardeer as ek kan bestel oor pos.

    Groete

    Anri Olivier

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top