Die immergroen liedjieboer Anton Goosen bly omtrent besig – buiten aanhou toer en opneem is sy RSG-program Liedjieboer Rumoer weer op die lug. Hy beantwoord ’n paar vrae oor die geskiedenis, die toekoms en die lewe.
Goeiedag, Anton. Hoe's dinge?
Winter, maar warm.
Jou RSG-show Liedjieboer Rumoer is weer in volle swang. As mens so luister, klink dit na ’n projek wat jou nogal pret besorg. Jy werk volgens temas vir die episodes – hoe word hierdie temas bepaal, en hoe moeilik is dit om met vars idees vorendag te kom? Hoe werk die saamstelproses vir jou – is dit ’n geval van ’n gedagte aan ’n tema en dan gepaste liedjies uitsoek, of hoe verloop dit?
Die huidige tema vir die reeks van 13 episodes reeks is "Liedjieboer rumoer onder die ladies”. Dis die vyfde reeks in vier jaar. Die temas, soos byvoorbeeld singer-songwriters, akoesties, rock, ens word voorgelê aan Magdaleen Kruger, die stasiebestuurder. Aanvanklik het ek ’n paar voorbeelde aan Magdaleen gestuur via Lydia Winchester. Magdaleen het daarvan gehou en dit het die hele Maandagaand-spesialismusiek-ding begin vier jaar gelede. Die samestellingproses is vir my baie soos dié van ’n gig. Dis drieledig: kry hul aandag; later as jy hul hopenlik het, kan jy eksperimenteer of nuwe materiaal probeer; en dan moet die slot weer ’n “bang" wees. Ek moet bieg, ek is verstom oor die gewildheid van die reekse sover. Onderhandelinge is tans aan die gang met ’n groot CD-maatskappy wat al vyf reekse op CD wil uitreik. Jippie.
Dit klink ook of jy moeite doen om luisteraars bekend en bloot te stel aan hoëgehalte-musiek vanuit alle uithoeke van die wêreld. Is dit ’n opsetlike ding, dat jy dink Suid-Afrikaanse musiek- en radioluisteraars kort ’n bietjie opvoeding in hierdie opsig, of hoe beskou jy die saak? In hoe ’n mate is Liedjieboer Rumoer vir jou óók ’n opvoedingsproses?
Van die begin af was die beskrywing “kultusmusiek-muti”. Goeie en regte musiek, as ek dit mag byvoeg. RSG wil spesifiek toegevoegde waarde hê vir die skakels en vir daardie doel doen ek baie navorsing en hou ore oop vir verwikkelinge, soos byvoorbeeld Sinéad o'Connor onlangs oor Rolling Stone wat vir Kim Kardashian op die voorblad gaan sit het. Of manlief Kanye West se verkragting van "Bohemian Rhapsody" by Glastonbury. Of net interessante stuff, soos die storie agter "Smoke on the water".
Nee, ek probeer nie opvoed nie – die program is geweldig gewild en dit bewys dat daar heelwat mense met soortgelyke smaak is oor alle genres heen. Daar is hoop. Als het nie in die kitsmusiekblik verdwyn nie. Engelse luisteraars vind dit verstommend dat daar sulke programme op Radio Sonder Grense in Afrikaans aangebied word en nêrens elders nie. Ek sorg ook dat ek weet waarna die studente tot dertigjariges luister in die sogenaamde “real music” genres van rock. Sonder daai kennis gaan die program nie gebalanseerd wees nie.
Gelukkig het ek ’n baie goeie kontak op NW-varsity omdat my dogter Moya daar klasgee in kunsgeskiedenis, wat sommer die studente in die klas kan vra! (As ek reg onthou, was “Die Kommunissokkie” van ene groep Die Skynmaagde eenkeer in daardie selfde klas bespreek!) Die sosiale media speel ook ’n groot rol om op hoogte bly, en dan natuurlik ook veral YouTube.
Jy het nou onlangs deelgeneem aan die Legendes-konsert by die Innibos-fees. Hoe was dié ervaring vir jou? Dit lyk of jy nogal in die algemeen nie skrik vir toer en optree nie – daar's elke nou en dan ’n toer of ’n gig van jou wat geadverteer word. Is daar iets soos ’n punt waarop jy halt sal wil roep, siende dat jy nou al ’n paar dekades lank dit doen, of wat is dit aan toer en optree wat dit oor en oor vir jou die moeite werd maak?
Innibos was heuglik. En die band – Schalk Joubert, Vinnie Hendrico en Danny Smoke – het geweldig gat geskop. Ons was gevra om af te sluit en die driekwartier-set was heerlik, veral om Sonja onbepland aan die einde op te roep dat sy kan voel hoe voel ’n live hot band as jy "Harlekyn" rock. En sy het! Dit was een van daai gigs wat ek baie lank sal onthou.
Nee, ek wil nie halt roep ooit terwyl ek kan nie. Ek is ’n liedjieboer. Dis wat ek van hou om te doen. So pas ’n twee maande lange landwye toer (akoesties) agter die blad en Sondag 9 Augustus Oppikoppi akoesties.
Ns: Ek sien daar is groot kompetisie vir Oppikoppi dieselfde naweek by Kleinvallei en die “Afriskaam"-konserte of iets ... bwaaah.
Anton Goosen was nog altyd bekend daarvoor dat hy kaalvuis kan inklim onder “musiek”-gebruike wat hy as oneg of kunsmatig beskou – die backtrack-gebruike, die viering van onoorspronklike of vertaalde liedjies, en so meer. Op sosiale media blyk dit dat jy steeds daai vuur in jou het. Dink jy hierdie stryd is al soort van gewonne, of goeie vordering is gemaak? Of is dit maar ’n ewigdurende ding? Wat is die nodige kopskuiwe wat gemaak moet word deur Suid-Afrikaanse musiekvervaardigers en -aanhangers, en hóé kan dit gemaak word?
Daardie stryd sal nooit gewonne wees nie. Solank geld as die wêreld se ruilhandelmiddel gebruik word, sal daar altyd mense in die musiektempel wees wat daar is vir die verkeerde redes en om Mammon in daardie tempel te dien. En met soveel bucks as moontlik uit te stap. Aan die ander kant is dit die kunstenaars – skeppend, uitvoerend – die mense wat musiek as kunsvorm gekies het. Karaoke is seker pret by partytjies of ’n saloon, maar soos vertalings en backtracks kan dit nie van die kunsliefhebbers verwag om dit as kuns te ervaar nie – soos hierdie geestelike pastoor wat Dylan se werk so vrot vertaal het terwyl hy veel eerder iets nuuts kon geskep en die Afrikaanse musiekskat sodoende kon verbreed het.
Liedjieboer is die bynaam wat nog altyd saam met jou geloop het. Dit blyk egter dat daar lanklaas nuwe liedjies uit jou pen die lig gesien het (dalk kyk/luister ek net op die verkeerde plekke?). Skryf jy nog met die plan om op te neem of iemand anders dit te laat opneem, of hoe lyk jou handel en wandel in hierdie opsig? Hoe beskou jy die standaard van liedskryf in Afrikaans deesdae, ook met kompetisies soos die onlangse AfriVisie in ag genome?
Liedjieboer steeds, ja, maar ek boer net bietjie stadiger as voorheen – daar was die Madiba-liedjie(s) van twee jaar gelede en Carike Keuzenkamp het so pas "Die Laaste Tango"-temalied van Deon Meyer se movie uitgereik op haar jongste album. Iets waaroor ek baie opgewonde is, is die temamusiek vir Jeanne Goosen se ’n Pawpaw vir my darling, wat deur Koos Roets verfilm is. Ek was al klaar gek oor haar boek destyds. en ek hou van haar. Ek dink die prent gaan betyds wees vir die Silwerskermfees.
AfriVisie was ’n baie goeie ding.
Jy het onlangs ’n bedonnerde collaboration met Churchil Naudé gedoen vir “Boy van die Suburbs” vir die projek Vat die Rap. Hoe het hierdie samewerking gebeur, en hoe was die ervaring vir jou? Is daar nog kunstenaars met wie jy dié soort collabs sal wil doen? Watter waarde dink jy is daar in die algemeen in collabs wat “genres” oorkruis, en hoe belangrik is dit vir jong kunstenaars om aan hierdie soort projekte deel te neem?
Churchil en Frazer van Tribal Echo en ek het vier jaar gelede ’n soortgelyke ding met die song "Potjiekos" gedoen. So, toe Coenie my bel oor die projek, was ek met hom en het Church voorgestel vir die rap-deel. Dit was nogal ’n heerlike ervaring en die zef-ding van "Boy van die suburbs" en ook soos in "Pawpaw ..." bestaan steeds in 2015. Ook omdat Jack Parow dit ’n groot gatskop gegee het.
Maar – en hier stem David (Kramer) en ek saam – ons hou eintlik baie van deuntjies. Dis nogal ironies dat die hip-hoppers praat van doef-doef-musiek en ’n hele ander betekenis aan die term het as wanneer ons praat van die doef-doef in die Afrikaanse musiekbedryf.
Genre-samewerking oor grense heen is baie goed. Dit verbreed die musiekreis. En dis goed om na nuwe of ander dinge te kyk en te luister.
Om te sê jy't al ’n klomp toere, gigs en ervarings agter die rug, is ’n moerse understatement. Tog – is daar een of twee wat spesifiek vir jou uitstaan as hoogtepunte in die herinneringboks? Enige vreemde agter-die-skerms-staaltjies wat jy nie gou sal vergeet nie? Enige plekke of gebeure wat jy eerder wel sal wil vergeet?
Daar is geweldig baie – ek dink die heel eerste keer toe "Kruidjie ..." op die hit parade verskyn het en ek by ’n petrolstasie nadat iemand my herken het, besef het dat ek baie lank nie weer gou incognito sal kan wees nie – nie in Suid-Afrika of Namibië nie. En twee jaar gelede toe Denzl, my vioolspeler van Clarens, en ek in Bilbao, Spanje, ’n world music show met die klem op sensuur gaan doen het, waar mense nie Afrikaans of Engels verstaan het nie, net die musiekvibe. En dit het gewerk. Ek dink ek het nog die beat êrens in die Taylor-ghitaar! Maar al die jare van toer – hier, Namibië, die Kongo, Londen, Holland, België – was almal lekker en uniek. Dis ’n geweldige voorreg om te mag reis terwyl jy jou beroep beoefen.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir Anton Goosen in, in so verre jy dit kan beheer?
Die voltooiing van my nuwe album, waarvan vier songs klaar en opgeneem is, die res geskryf is en nou hierdie volgende maand of twee opgeneem en gemeng word. Soos gewoonlik werk ek en Peter Pearlson saam aan die produksie – nie net omdat hy al George Martin se hand geskud het met ’n “Thank you for Sgt Peppers” nie, maar omdat ons al van die middel-tagtigs af beste vriende is en saamwerk. En omdat hy baie goed is.
Die nuwe album gaan baie weer teruggryp na die aardse “roots” van die suburbs-tyd – rouer, dalk. Soos ’n mens ouer word, word jy eerliker ook. Mense hou nie altyd daarvan nie. Dis wat ons onderskei van die res – hulle vertel vir die mense wat hulle wil hoor, en ons bekyk die waarheid en verkondig dit ...
Wat is die sin van die lewe?
(Gelukkig nie 7 deadly sins nie – net een!)
Enkelfout “sin” = om voluit te lewe terwyl dit gegun is (dalk beter beplan volgende keer ... haha).



Kommentaar
Oe lekker om al die vrae en antwoorde met ons geliefde Liedjieboer te kan lees. Lief jou Anton Goosen, jou musiekkennis verstom my elke keer! Boer so voort.
Uitstekende artikel en onderhoud!
O my magtig dit was nou lekker. Mal oor die Boy vd Suburbs-verleiding... 🙂
Die lees hiervan het my onbeskryflik lig laat voel. Jy rock real, bra!