Maanskyn, maagdelikheid en die ophef van rokkies: ontmoet Die Skynmaagde

  • 0
Die Skynmaagde is die mees gewilde postapokaliptiese Afrikaanse folk-grunge band in die hele wêreld. Hulle is ook waarskynlik die enigste postapokaliptiese Afrikaanse folk-grunge band in die wêreld. Hierdie satiriese outfit is so bietjie soos The Flight of the Conchords, so bietjie soos Nicholis Louw met ’n letterkundegraad, en so bietjie soos Monty Python, maar met instrumente. Iets wat hulle nie bietjie is nie is snaaks. Hulle is baie, baie snaaks. Bibi Slippers gesels met Henry Cloete (H) en Wilken Calitz (W), die breine agter die lirieke en die vingers op die snare.

Wat het tot die ontstaan van Die Skynmaagde gelei?

H: Baie laat aande in Van Hunks met die groeiende besef dat ons iets interessants met ons lewens moet doen.

W: Lirieke is Henry se sterk punt, musiek is myne. Jy het albei nodig vir ’n nuwe stem in enige musiekbedryf. Dit is ons mikpunt, en ek dink dit kan werk. Én, ek is moeg vir klassieke musiek.

Is julle alter ego’s, Ewig en Blackie, baie anders as Henry en Wilken?

H: Ek dink Blackie het meer selfvertroue as ek. Hy is ook slimmer en meer astrant.

W: Ewig is meer gemaklik in sy vel en speel beter viool as Wilken. Ewig is ook meer hubaar.

Op julle website verkondig julle die postapokaliptiese-folk-grunge-evangelie met die volgende woorde: “Die Skynmaagde het asof vanuit nêrens alombemind geword en aan bewind gekom. Hulle vul die swanger stiltes met postapokaliptiese Afrikaanse folk-grunge. Henry (ook bekend as Blackie Swan) en Wilken (ook bekend as Ewig Verwey) lei die epiese tog na ’n nuwe bewussyn.” Wat kan ons van julle termyn aan bewind verwag? Gaan dit ’n skrikbewind wees, en het julle ’n manifes?

H: Ons dink graag eerder daaraan as ’n man-ifes. Dit sal slegs ’n skrikbewind wees vir liggeraakte luisteraars. Die termyn aan bewind sal ewigdurend wees, aangesien postapokaliptiese Afrikaanse folk-grunge nooit uit die mode sal gaan nie. Nooit nie!

W: Ja, liggewigte moet warm sjokolade drink en sepies kyk. Ons aanhangers sluk dubbels weg en basuin ons waarhede die buitenste ruim in. Die einde van die aarde se klankbaan sal vir seker ’n Skynmaagde-lied bevat.

Julle het onlangs julle eerste album opgeneem by die invisiblenightclub se studio’s in Observatory. Ben Ludik van invisiblenightclub is veral bekend vir sy werk aan die klankbaan van Oliver Hermanus se film Skoonheid, waarin jy ook ’n verskyning gemaak het, Henry. Het julle met Ben saamgewerk aan die produksie van hierdie album?

H: Ben was ’n ware ster wat die opname en produksie betref. Hy het in ’n groot mate leiding geneem en rigting gegee met presies hoe elke oomblik van elke lied moet klink. Hy is ook nogals lank.

W: ’n Vars paar ore vir jou eie liedere is goud werd. Waar ons onseker was, het hy gelei, en waar ons vol vertroue was vir ’n klank-ideaal, was hy bankvas agter ons.

Vertel ons meer van die nuwe album.

H: Die album is nog nie heeltemal klaar nie. Hoewel ons dit klaar opgeneem het, wag ons nog op die finale twee liedjies. Die album (dis eintlik ’n EP) bestaan uit ses songs: “Die Kommunis Sokkie”, “Winter in my Hart”, “’n Boodskap van die Departement van Gesondheid”, “Ballade van ’n Nuusleser”, “Die Kunssinnige Kelnerin” en “Hey Kleine Meisie”. Dit gaan alles gratis aflaaibaar van ons webwerf, www.dieskynmaagde.co.za, wees.

W: (Stem saam.)

Die eerste track wat ek gehoor het (“Die Kommunis Sokkie”) het so ’n lekker-sokkie-treffers-go-acoustic-vibe, en toe dag ek nou ek het julle sound pegged. Maar op die tweede song (“Winter in my hart”) slaan daar ’n sterk Mumford & Sons-klank deur. Hoor ek die Mumford-invloed reg, en watter ander bands het ’n invloed op julle klank?

H: Ek skat daar was seker ’n mate van ’n Mumford-invloed, maar veral Wilken is al lankal bekend met die Keltiese vibe. Vir my is Flight of the Conchords, The Lonely Island en Tim Minchin die grootste invloede op wat ons doen. Bygesê, ons probeer om elke song anders te laat klink, sodat dit ’n uitdaging bly en gehore ook deurentyd geinteresseerd sal hou … Ook omdat ons dink ons kan.

W: Dis vreemd. Ek verkies doodse stilte by die huis. Dus het ek werklik min direkte invloede op hierdie album. Ons het vir die “Winter in my hart”-track bietjie country en Irish folk met ’n paar absurde lirieke in die mengbak gegooi en die resultaat was defnitief in die rigting van Mumford - van wie ek baie hou.

Al is die klank uiteenlopend op die verskillende tracks, dink ek dat die lirieke vir ’n tipe kontinuïteit sorg, as bindingselement funksioneer. Die lirieke is regtig skerp en skreeusnaaks. Ek glimlag heeltyd terwyl ek daarna luister. Die lirieke laat dit klink of julle navolgers is van die Hemingway school of thought: Write drunk, edit sober. Is dit hoe dit werk vir julle, of hoe skryf julle hierdie liedjies? Lag julle vir julle eie grappies terwyl julle skryf?

H: Iemand het nou die dag op Facebook gesê ons was seker op drugs toe ons “Kommunis Sokkie” geskryf het. Dit is nogal nie die geval nie - baie van die skryfwerk gebeur soggens (wat seker nie die moontlikheid van dronkenskap uitsluit nie …). Ek dink ons beste idees kom uit met ’n bier of vyf in die hand, maar die skryfproses is soms baie trial and error - iets is dikwels snaaks in ’n oomblik, maar nie buite daardie oomblik nie. Ons probeer maar werk aan goed wat in die meeste kontekste vir ons snaaks is – dalk kry ons dit reg, dalk nie.

W: Kreatiwiteit gaan oor jou persoonlike bydrae tot reeds bestaande idees of klanke. Ek vind dat enige bier na die tweede een my laat dink ek is kreatief maar die teendeel bewys. Ek lag wel myself simpel vir ’n liriek wat goed werk – dag of nag. Oggende is goed vir enige nuwe dinge. Skryf, musiek oefen, koffie, ens.

Kommunis Sokkie

Hier is ek weer, met my rooi hoed voor jou deur
ek wil jou hê, ek gaan jou kry
en die onderdruktes bevry
baby ek wens jy was kaal – Karl Marx
dan kon ek jou respekteer en jou boudjies
nasionaliseer
Want dis ’n kommunis sokkie vanaand my ding
ons gaan sing oor die ekonomiese gaping
dis ’n kommunis sokkie, kommunis sokkie vanaand
en baby dis jou lyfie wat so by my pas
ek wil jou rokkie ophef soos die werkersklas
ja dis ’n kommunis sokkie, kommunis sokkie vanaand
Oom Chris Hani, oom Chris Hani, wil jy nie nader staan nie
want my baby stem DA en ek kan dit nie verstaan nie
Maar baby jy is nog baie onseker, ek sê jou wat
kom ons raak gehamer, dan kan ek jou sekel
onder die maan
Want dis ’n kommunis sokkie vanaand my ding
ons gaan sing oor die ekonomiese gaping
dis ’n kommunis sokkie, kommunis sokkie vanaand
en baby dis jou lyfie wat so by my pas
ek wil jou rokkie ophef soos die werkersklas
ja dis ’n kommunis sokkie, kommunis sokkie vanaand
Baby ek het jou lief
maar ek is veel liewer vir die idee van sosiale bevryding binne die skema van historiese materialisme
so baby kom (baby kom! baby kom!)
ons kap dit flou (kap dit flou! kap dit flou!)
soos joe slovo (watwou! hey-ho!)
ons moet ’n rooi toekoms bou, nou!
Want dis ’n kommunis sokkie vanaand my ding
ons gaan sing oor die ekonomiese gaping
dis ’n kommunis sokkie, kommunis sokkie vanaand
en baby dis jou lyfie wat so by my pas
ek wil jou rokkie ophef soos die werkersklas
ja dis ’n kommunis sokkie, kommunis sokkie vanaand.

Van skryf gepraat: Wilken, een van jou kortverhale verskyn eersdaags in die Nuwe Stories-kortverhaalbundel; en Henry, jou onderhoude en artikels is gereeld in koerante en tydskrifte. Is hierdie hele musiek-ding eintlik ’n smokescreen? Is julle closet skrywers?

H: Alles sal mettertyd ontbloot word … Wat die artikels en onderhoude betref, kan ’n mens nie regtig jou eie stem en sin vir humor daarin plaas nie, jy is immers nie die onderwerp nie, so die musiek en ander skryfwerk is ’n beter uitlaatklep daarvoor.

W: Ek verken die skryfwêreld so stelselmatig. Die twee dissiplines vul mekaar goed aan. Ek sal beide bly beoefen tot een vir my ’n miljoen rand inbring, dan sal ek dit kies.

As julle julle besig hou met skryf, is julle seker ywerige lesers ook. Wat lees julle graag, en is daar invloede van julle leeswerk ook in julle lirieke te vinde?

H: Ek lees meestal op aanbeveling, so my boekrak se inhoud is redelik divers. Onlangs het Anthony Burgess se Clockwork Orange my eindeloos genot gebied (tot by die einde, natuurlik). Wat die leeswerk se invloed op die lirieke betref, dink ek Douglas Adams en Etienne Leroux se humor speel beslis ’n rol. Die invloede strek ook tot by films, soos die Monty Python-films, en televisiereekse, soos die Simpsons en ander verruklikhede.

W: Etienne Leroux. Ek lees nou Lolita van Nabokov. Enige skrywer wat die alledaagse se vlerke kan vaspen in ’n vertoonkas en my laat staar, is my held.

So ’n wyle gelede was daar, na Antjie Krog se NP Van Wyk Louw-gedenklesing, ’n hewige debat oor die digter as rockster en die rockster as digter. Die digters is oor die algemeen heel vocal oor wat hulle van die rockers onderskei. Miskien kan julle vir ons sê wat die verskil is tussen ’n digter en ’n lid van ’n postapokaliptiese folk-grunge band (wat baie soos ’n rocker is).

H: Die lekker ding, en die grootste uitdaging, van liedjies skryf en uitvoer is dat die musiek en die liriek perfek by mekaar moet pas. Dit is soms ’n stryd en verg harde werk, maar as die eindproduk iets is wat werk, is dit iets waarmee ’n mens kan werk (kan ek nog ’n keer die woord “werk” in hierdie sin gebruik? Werk.). Ek dink dis in daardie opsig twee verskillende kunsvorme. Met digkuns moet die woorde self ook musiek wees (kan ek nog pretentious goed sê? Argetipes.)

W: Die rede waarom musiek en liriek, of dan poësie (met akademiese onderskeid vir nou vergete), so ’n magtige medium saam is, sou ek dink is dat die een jou laat nuut dink oor die ander een. Dit word deur die liedjie bepaal watter een verrig watter funksie. Spesialis-digters werk met interne klank wat altyd teenwoordig is; so bepaal deur die leser. Ons voeg sommer die klankbaan by. Dis makliker so.

Ontmoet Henry Cloete, ook bekend as Blackie Swan, een angstige lid van die Skynmaagde

Stel jouself aan ons lesers bekend in presies 75 woorde.

My naam is Henry en my van is Cloete en ek het nie word count op hierdie program nie, so ek is op die oomblik baie angstig. Ek het ook ’n tweede naam, Jack. Julle mag my egter as Blackie Swan aanspreek. Ek is al 28 jaar oud en hou van lang stappies langs die strand en hondjies en babatjies en Silverchair.

Wat is jy wanneer jy nie ’n Skynmaagd is nie?

’n Semibekwame joernalis.

Henry oor Henry Hoe goed ken Wilken vir Henry?
Wat is jou gunsteling-kleur?

Swart. Soos my hart.

Wat is sy gunsteling-kleur?

Rooi (hy hou van bloed).

Die een ding wat jy glad nie eet nie, is ...

Olywe.

Die een ding wat hy glad nie eet nie, is ...

Appels (hy assosieer dit met outoriteit).

Dit is Saterdagaand. Waar sou ons jou waarskynlik aantref?

Van Hunks. (Maar dit geld vir die meeste aande.)

Dit is Saterdagaand. Waar sou ons hom waarskynlik aantref?

Van Hunks.

Wat is die Most Played Song op jou iTunes?

Dis tussen Arvo Part se “Silentium” en Jim James + Calexico se cover van Dylan se “Going to Acapulco”.

Wat is die Most Played Song op sy iTunes?

“Total eclipse of the heart.”
Waarvoor is jy die bangste?

Narre.

Waarvoor is hy die bangste?

Die beoogde drankwet.

Wie is jou held?

Bob Dylan.  

Wie is sy held?

Tshabalala-Msimang.

Wat is jou gunsteling-film van alle tye?

Dis tussen Fight Club, Finding Neverland en I’m Not There.

Wat is sy gunsteling-film van alle tye?

Life of Brian (Monty Python).

Jou gunsteling Skynmaagde-line tot dusver?

“Nuuslesers weet van beter, vra altyd vir ’n kweper, vra vir ’n kweper met peper, kry net kry net die peper.”  

Sy gunsteling Skynmaagde-line tot dusver?

“Wraak is ’n dis bes toegedien met nuus.”

Ontmoet Wilken Calitz, ook bekend as Ewig Verwey en die naaste ding aan ’n ware maagd in Die Skynmaagde.

Stel jouself aan ons lesers bekend in presies 75 woorde.

’n Groep Deense Wikings was in die 11de eeu op pad Frankryk toe en het deur ’n misverstand in Engeland beland. Een van hulle se naam was Wilken. My oerouma was tussen hulle. Voor die Wikings het my voorsate naby die Kongo in takke rongeswaai. En voor dit ... Noem my liewer Ewig. Ewig Verwey.

Wat is jy wanneer jy nie ’n Skynmaagd is nie?

’n Klassieke musikant en student (en ware maagd).

Wilken oor Wilken Hoe goed ken Henry vir Wilken?
Wat is jou gunsteling-kleur?

Swart.

Wat is sy gunsteling-kleur?

Blou, soos die lug en ewige optimisme.

Die een ding wat jy glad nie eet nie, is ...

Lewer.

Die een ding wat hy glad nie eet nie, is ...

Judging by die rommel wat hy in my kar gelos het toe hy dit laas geleen het, niks nie.

Dit is Saterdagaand. Waar sou ons jou waarskynlik aantref?

By ’n show waar ek speel.

Dit is Saterdagaand. Waar sou ons hom waarskynlik aantref?

By sy girlfriend se flat. (Maar dit geld vir die meeste aande.)

Wat is die Most Played Song op jou iTunes?

Enigiets van The Foo Fighters.

Wat is die Most Played Song op sy iTunes?

Waarskynlik wat hy ook al moet oefen daardie dag.

Waarvoor is jy die bangste?

My meisie se pa.

Waarvoor is hy die bangste?

Dat sy kar sal breek. (Maar dit gebeur die heeltyd.)

Wie is jou held?

Etienne Leroux.

Wie is sy held?

Etienne Leroux.

Wat is jou gunsteling-film van alle tye?

The Village!!!

Wat is sy gunsteling-film van alle tye?

Bridget Jones’ Diary

Jou gunsteling Skynmaagde-line tot dusver?

“Kom ons raak gehamer, dan kan ek jou sekel onder die maan.”

Sy gunsteling Skynmaagde-line tot dusver?

Waarskynlik “Kom ons raak gehamer, dan kan ek jou sekel onder die maan.”

Lees meer oor Die Skynmaagde op hulle webwerf.     

Foto’s:  Jan Gerber
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top