Anoeschka von Meck (1967–)

  • 0

Gebore en getoë

Anoeschka von Meck is in Maart 1967 in Namibië gebore en die familie kom van 'n plaas in die Mariental-distrik, maar het later Hentiesbaai toe getrek. Anoeschka is die oudste van ses kinders.

Anoeschka se ma en biologiese pa, Vloog Theron, is later geskei en Theron het Suid-Afrika in 1977 verlaat. Anoeschka het hom van tyd tot tyd in die buiteland besoek. Hy het later na Palm Springs in Amerika verhuis.

Haar ma het haar na die baronnes Anoeschka von Meck vernoem. “’n Divine intervention, want hoe’t Ma geweet die naam sou anonimiteit bied van die Vloog Theron-etiket?” (aan Hanlie Retief,  Rapport, 29 Januarie 2011).

Haar ma het geweier om enige onderhoud van Theron te ontvang en van die welsyn ondersteuning gekry: "Maar dan sou my pa vir my ma op ’n dag ’n sportmotor stuur of vir my en my broer vliegkaartjies vir die skoolvakansie Amerika toe sodat ons daar vir hom kan gaan kuier. Dit was bisar – ons het die heeltyd beweeg tussen brandarm en stinkryk."

Anoeschka het 'n deel van haar kinderlewe by haar oupa en ouma, Gustav en Aletta Weich, in McGregor deurgebring – aanvanklik in Oupa se pastorie en toe die Ou Meule. “Ons het aalwyne in die koppies gesoek. Ek onthou Ouma hurkend in die tuin besig om onkruid uit te trek in die kerk in die hoofstraat se tuin. En Oupa se enorme hande wat die pomporreltjie speel” (Finesse, April 1999).

In 2011 (Rapport, 29 Januarie) vertel sy aan Hanlie Retief dat haar jare voor skool by haar grootouers op McGregor vir haar die gelukkigstes was. "Ek onthou my oupa se worteltroshande, hoe ons saans gaan stap het met die platannas wat onder die outydse straatlampe sit en insekte vang. Dan sê my oupa: ‘Kyk, selfs die platannas weet wie die Skepper is; hulle hou biduur.'"

Anoeschka vertel aan Elmari Rautenbach van haar eerste dag in sub A op McGregor (De Kat, Julie 1999): "Die eerste dag [...] het ek honger geword en huis toe gestap na my ouma toe. Daarna het ek vir die res van die jaar verseg om terug te gaan skool toe."

Sy vertel verder aan Rautenbach dat haar ma later weer getroud is, met ’n "wonderlike" man, en drie seuns bygekry het. Een boetie het ’n ongewone geskiedenis wat te doen het met die rol wat toeval in haar lewe speel.

"My stiefpa het my ma ontmoet deur sy werk vir welsyn. Hy's ’n sagmoedige mens en het gereeld kinders huis toe gebring wat op pad was na die weeshuis. Op ’n dag het hy hierdie donkerkop babaseuntjie gebring. Ons het so lief vir hom geword dat hy as pleegkind by ons gebly het. Toe, ná drie jaar, kry ons ’n brief om te sê dat hy permanent aangeneem gaan word. Ons was verpletter, maar hy moes gaan en in dieselfde tyd het my ma-hulle Namibië toe getrek om te gaan boer.

"Jare later het ek by die Herberg-kinderhuis op Robertson begin werk. In die maatskaplike werkster se kantoor was die kinders van die huis se foto's opgeplak. Een het my aandag getrek. Ek het van nader gekyk en yskoud geword. Iets in sy gesig, sy houding het my net laat besef dis hy. Dis my boetie. Toe laat roep ek hom en toe hy voor my staan, vra ek hom baie sag, baie versigtig of hy die mense onthou by wie hy gebly het toe hy klein was. Daar was so ’n stilte. Toe sê hy hy onthou blonde kinders en toe begin ons al twee huil. Hy was al die jare waaragtig in die kinderhuis."

Terug na Anoeschka se jeugjare: Aan die begin van standerd 8 het sy genoeg van skool gehad en werk sy op ’n skip in die Kaapstadse hawe nadat sy die skool gebel en vertel het sy kom nie terug na die vakansie nie. Sy het elke dag met die trein van haar ouma en oupa se huis in Parow hawe toe gery, waar sy soggens sommer saam met die prostitute deurgestap het. Dáár is sy vir drostery en prostitusie aangekla. Die aanklagte is teruggetrek en haar pa het haar voorsien van ’n vliegtuigkaartjie om Amerika toe te gaan.

Sy het vir drie maande by haar pa en sy nuwe gesin gaan bly, maar is gou daar weg om as huishoudster by ’n ouer man in Kalifornië te gaan werk. Daar het sy haar standerd 9 voltooi. “In ’n stadium het ek op ’n universiteitsrekenaar gaan soek na ‘die mees konserwatiewe skool in Amerika’ en afgekom op die Lynchburg Christian Academy in Virginia.

“Ek het nog altyd belanggestel in godsdiens – my oupa was immers ’n NG predikant. En Virginia was toe waar ek my matriek gemaak het,” vertel sy aan Elmari Rautenbach (De Kat, Jullie 1999). “Maar daardie plek het gemaak dat ek finaal my rug gedraai het op Christelikheid soos ek dit toe geken het, en in die okkulte ingegaan het. Ek wou ’n okkulte skrywer word.”

Anoeschka het nog altyd, vandat sy kan onthou, geskryf. En hoewel sy nie altyd stories geskryf het nie, het sy dagboeke geskryf. “Sommer oor allerhande goed. Ek het ’n hele trommel vol dagboeke by die huis, maar ek draai dit met draad toe sodat my broers nie daarin kan krap en lees nie,” vertel sy aan Terésa Coetzee (Rooi Rose, 18 Augustus 1999).

Verdere studie en werk

Anoeschka was in Amerika op universiteit, en op 23 kon sy nie meer behoorlik Afrikaans praat nie. Haar pa “dare” haar toe om na die Universiteit Stellenbosch te gaan. “Ek het opgedaag by eksamens sonder om ’n klas by te woon. En elke keer het ek my notas weggegooi omdat ek heilig oortuig was dat ek sou deurkom. En toe dop ek Afrikaans in my eerste jaar!”

Sy het as eerstejaarstudent met 'n prokureur getrou, ook omdat iemand haar ge-“dare” het. “Ons is getroud: een reëndag voor ’n stokou Paarlse landdros. En met dié dat ons nie een enige ringe het nie, skud ek toe maar blad met die man. Ek en my vriendinne het hom nog weggesteek in ons studente-huis wat net vir dames was."

Sy en die man is toe geskei, nadat albei besef het die huwelik gaan nie uitwerk nie. "Maar nou ja, al was ek regtig lief vir hom, was hy een van daai tipe mans wat huislenings aangaan en kinders het. Nie dat ek nie wil kinders hê nie," sê sy aan Elmari Rautenbach. "By die kinderhuis het hulle my mak gemaak. Ek wil hulle net nie baar nie. Ná drie jaar is ons geskei nes ons getroud is: elkeen het die helfte betaal."

Sy verwerf op Stellenbosch ’n meestersgraad cum laude in Egiptologie, terwyl sy saans stapels borde was en okkultiese slagspreuke in hiërogliewe skryf. Haar stokperdjies is godsdiens, antieke kulture en tale.

In 1994 trek sy vir die eerste keer as skrywer die aandag toe ’n kortverhaal van haar, “Bokse met druiwe en drome”, opgeneem word in LyfSpel, ’n bundel erotiese kortverhale wat deur Rachelle Greeff saamgestel is.

Vanaf 1995 het sy vir drie jaar kinders opgepas in die kinderhuis op Robertson, waar sy huismoeder was van 11 seuns. Dit was egter vir haar baie traumaties, want sy was, soos almal wat by 'n kinderhuis werk, aan die diep kant ingegooi. “Ek het nie ’n vae benul gehad hoe om teenoor hierdie stukkende en dikwels woedende en rebelse kinders op te tree nie,” vertel sy aan Schalk van Wyk in Kerkbode (25 Junie 2004). “Die eerste paar maande was vir my nag, want daardie kinders is horrible. Maar ek het leer bid, al was my gebede meestal in die trant van: Here, heeelp! Jesus, wat sou Ú doen???"

Schalk van Wyk skryf oor Anoeschka: "Dat ons lewe deur God as ’n reis, ’n ontdekkingstog, bedoel is, is ’n stukkie van Von Meck se geloofsbelydenis." Sy vertel self verder: “Die kinders is by uitstek besig met ’n journey. Hulle het hierdie sterk drang om te ontdek. Dit is hoekom ons dink hulle is stout. Maar hulle moet alles ondersoek, dis in hulle. Daarom moet grootmense verstaan as hulle dwelms gebruik en met goed eksperimenteer. Maar ons moet húlle help om te verstaan hoe God se reis met hulle lewe loop. En dit loop verder as die vinnige trip wat dwelms gee."

Von Meck se eerste roman, Annerkant die longdrop, word in 1998 by Queillerie uitgegee. Sy het hierdie boek binne drie weke voltooi. Dit was in 1997 een van die vyf finaliste in De Kat en Sanlam se romanwedstryd en is spesiaal vermeld. Sy het dit ingeskryf onder die titel Skreeu tot jy lag. As Annerkant die longdrop was dit ook ’n finalis vir 1999 se M-Net-Boekprys.

Sy sê aan Johan van Zyl (Die Burger, 17 Desember 1998) dat sy die gevoel gehad het, nog voordat ’n enkele woord op papier was, dat die boek gepubliseer gaan word. “Ek het nie ’n idee gehad waaroor ek gaan skryf nie, geen struktuur nie, en ek dink nie ek het by die storielyn uitgekom nie.”

Annerkant die longdrop vertel die verhaal van Ginkelsnoek wat, soos Hestertjie Haarnaald, reis deur landskappe vol karakters met name soos Oom Boekevat, Ouma Slapiesnou, Oom Pervertus en Die Sluiper. Daar is ook drie selwe: SyWatDink, SyWatDroom en SyWatDoen.

Oor die gunstige ontvangs wat die boek gekry het, sê sy verder aan Johan van Zyl: “Niemand het die boek tot dusver diep ontleed nie. Daar is ’n klomp goeters weggesteek ... drie vlakke waarvan die diepste een totaal geestelik is. Ek skryf elke dag briewe aan God. Diep, huh? En ek lees nie fiksie nie, want dan vergelyk ’n mens jou werk met dié van ander – ’n intimiderende ervaring. Ek lees eerder kaarte, atlasse en reisjoernale.”

Die eerste vlak van die boek handel oor drie susters en hulle lief en leed. Lesers wat die tweede vlak ooplees, sal besef dat hulle te doen het met karakters wat besig is om deur onverwerkte traumas te werk. En die derde vlak is die soeke en die reis na God. Die boek is ook grootliks die produk van Von Meck se eie soeke.

"Vir my is skryf ’n private, egotistiese en spirituele oefening. My boek het ’n punt gesit agter die einde van ’n deel van my lewe, en as ek terugdink, besef ek hoe ek jare lank ’n keuse gemaak het om met New Age-filosofieë en okkulte deurmekaar te wees. Maar na ’n mistieke ervaring in 1994 het ek tot bekering gekom. Ek weet nou alles is in God se handpalms gegraveer.”

Sy vertel aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 3 Augustus 1999) dat sy een nag ’n visioen gehad het. En dat dit uit die gesprek wat sy as nie-Christen met die Man gehad het, duidelik was dat dit Jesus was. “Terwyl ek met Hom gesels het, het ek ’n onbeskryflike liefde ervaar. Ek het besef dat ek alles vir Hom sal gee.

"Dit was ’n lang en moeilike pad om my lewe aan Christus te wy. Net soos die karakters in Longdrop met onder meer losbandigheid en dwelmgebruik worstel, het ek dieselfde dinge ervaar. Uiteindelik lei die reis deur die drie susters van die boek – wat onderskeidelik die lyflike, die verstand en die gees simboliseer – tog na die Oppergesag."

In haar boek beskryf sy die reis van ’n dwelmverslaafde: “Ek wou self met 'n klomp dinge eksperimenteer en met Longdrop het ek ook probeer verwys na die lang val, die skeiding tussen normale mense en ander mense. En dis self ook ’n probleem wat ek het, ek is ’n alleenloper. Ek kyk altyd hoe ander mense lewe. Die grootste verleidings in my lewe is seks en drugs, maar groter as dit is my liefde vir Jesus.”

Jaybee Roux skryf in Beeld (1 Maart 2010) dat die verteller in Annerkant die longdrop haarself Ginkelsnoek noem, soms Sprankelsnoek of SyWatDink. "Sy deel ’n ongure studentehuis in Stellenbosch met haar susters, SyWatDoen en SyWatDroom. Drie uiteenlopende jong vroue, maar so vervleg dat dit nie altyd duidelik is waar die een eindig en die ander begin nie. Ginkelsnoek is lief vir reis. Na eksotiese, Derdewêreldse bestemmings waar sy interessante, soms grillerige goed saam met die armes en agterlikes beleef. Sy dink dikwels aan haar grootwordjare in die ‘woestyn’, aan ander interessanthede uit die verlede. Die susters is jonk, maar het al heelwat beleef.”

Roux het die boek aanvanklik vervelig gevind, met onsamehangende herinneringe en vertellings. “Maar woord vir woord kruip dié boek onder jou vel in. Word jy geboei en meegesleur. Besef jy dáár is soveel aan die gebeur, soveel konflik en roeringe en energie, ’n bruisende mengeldrankie waarin elke denkbare emosie skuimend opgeklits is. Veral humor, soms subtiel en soms banaal; soms glimlag en soms skater jy. Maar die humor is soos ’n laag ys waaronder ’n diep, donker droefheid lê (...)

Annerkant die longdrop is een van daardie stories wat jou laat voel jy het nie werklik gelewe totdat jy dit ervaar het nie, wat jou behoorlik wakker skud. Ek het laas so gevoel met die lees van The alchemist, wat deur ’n sielkundige as psigoterapie ‘voorgeskryf’ is.”

Vir Lucas Malan (Rapport,17 Januarie 1999) is Annerkant die longdrop ’n roman wat nie sommer in jou klere kom sit nie, hy kom kruip baie dieper in as dit. “Maar dan moet jy nie sommer net op jou rug wil lê en lees nie, want sy laat haar nie so ruglangs maklik lees nie. Miskien moet ek dit anders sê: die lees is heerlik, want hierdie debuutroman is net nie so maklik nie. Nogtans, as jy my vra, sê ek jou dis ’n Afrikaanse boek wat nog opslae gaan maak.

“Von Meck doen net mooi alles wat die skryfkunsteorie sê jy moenie doen nie: sy tell, sy show nie; die plot sal ek moeilik agterna vir jou kan teken, en die teken van karakter lyk op die oog af verdag; tyd en ruimte loop hulle eie gang. Maar dit werk, teorie of te not! Die lees word dan vir my juis spel tussen verteller en leser, en nes jy dink jy het die verteller uitgevang, dan sien jy verleë jy’s die een wat uitgevang is.”

André P Brink skryf in Insig (November 1998): “Trek jou asem diep in, hou jou oë wyd oop, en duik dan in. Dis ’n heerlike, mal, deurmekaar, omgeëlliede boek dié. (...) Ons letterkunde het dit goed getref met vroueskrywers, lof en dank; maar met dit en al het niks ons heeltemal voorberei op ’n verskynsel soos hierdie roman nie. (...) Dit kom jy gou agter die oomblik as jy probeer saamvat waaroor dit gaan. Want hier is geen sout of water aan op te som nie. In die hart van die onnutsige – én diepsinnige – maalkolk is daar drie susters, in ’n studentewoning op Stellenbosch. Ginkelsnoek heet die een wat meestal in fokus is. Sy deel die grootste kamer met ’n paddavis en haar jongste sus, net bekend as SyWatDoen (’n doenigheid wat meestal mans insluit terwyl sy ‘’n effense BA’ doen); bo op die solder bly middelsus, SyWatDroom, ’n ‘boekhoer’ wat darem ook prakties genoeg is om loodgietery te beoefen, en wat mettertyd voel ‘soos een wat deur ’n baalgooier gesluk en uitgespoeg is.’ (...)

“Liewe leser, vat hierdie roman en lees en lees en lees; grinnik, skater; en moenie skaam wees om nou en dan die odd traan weg te pink nie. Dis ’n donnerse mooi boek.”

Herman Wasserman (Die Burger, 23 Desember 1998) beskryf Annerkant die longdrop as ’n skerpsinnige debuut met ’n besonder eiesoortige blik op die wêreld. “Al sou dit met ’n effense inkorting of dissipline ’n duidelike fokus kon hê, vang dit veral die tydsgees van die twenty- en thirtysomethings vas. Of miskien eerder: laat dit vry om te dwarrel en te dwaal waar dit wil.”

Vir Rachelle Greeff (Volksblad, 21 Desember 1998) spoel Annerkant die longdrop jou saam soos ’n witwaterrivier: eers in, kan jy nie maklik uit nie. “Die teks, van een kort sin (dikwels staccato) tot die volgende, rol voort van blerrie eienaardig tot so bekend soos jou eie naaktheid, van digterlik tot onbewoë koel. Haar karakters bevolk jou kop nes ’n kerkbasaar. Von Meck skryf ’n stuk bedompigheid wawyd oop."

Ander opinies is dat Longdrop spreek omdat dit ’n eerlike boek is. Dit is ook ’n boek met humor, ’n boek wat teen ’n dolle vaart sy eie loop kry. Dit slaan ’n eiesinnige koers in en is ’n moet vir elkeen wat ’n boek met pitkos soek. Dit is ’n wonderlike boek, volgens Vrydag.

Von Meck se opregtheid verbaas en skok ’n mens byna, skryf Terésa Coetzee (Rooi Rose, 18 Augustus 1999). Sy vertel vrolik van haar enigste bewonderaar waarvan sy weet. “Ek het ’n regte fan! Dis ’n meisie wat Honneurs in Afrikaans-Nederlands doen en sy’t al vir my blomme en ’n bottel rooiwyn gebring. Ek was tegelykertyd skaam, stom en verleë en al wat ek die heeltyd dink is ‘Og, maar sy’t ’n mooi vel’, terwyl sy ewe intellektueel oor my boek wil praat.”

Gedurende 2000 vertoef Von Meck vir ’n wyle in Bloemfontein. Sy vertel aan Adri Herbert (Volksblad, 1 Desember 2000): “Ek het met my travel pillowlaptop en ’n sak hier aangekom en ek stap waar ek wil wees.” Sy bly in ’n studentehuis. Sy moes Namibië, waar sy die vorige twee jaar gebly het, weens visumvoorwaardes verlaat. Aanvanklik sou sy net ’n paar weke in die Vrystaatse hoofstad bly, maar sy het ’n pos by ’n weekblad aanvaar.

Von Meck se volgende boek, Vaselinetjie, word in 2004 deur Tafelberg uitgegee. En ook dié een is ’n sukses. In 2009 het ’n Engelse vertaling deur Elsa Silke verskyn. Sy het Vaselinetjie ingeskryf vir ’n jeugboekwedstryd.

Vaselinetjie het in 2005 drie belangrike literêre pryse verower: die Rapport/Jan Rabie-prys vir vars, nuwe stemme in Afrikaans, die MER-prys vir Jeuglektuur en die M-Net-prys vir ’n Afrikaanse teks in kort formaat. Ook die ATKV-Kinderboekprys vir graad 8–10 is (in 2006) aan die roman toegeken.

Vaselinetjie is gegrond op Von Meck se ervarings as versorger in die kinderhuis waar sy gewerk het, en volgens die beoordelaars bring dit “’n wêreld onder woorde wat aan min mense bekend is”. Die beoordelaars vir die MER-prys het só verslag gedoen: “Met Vaselinetjie keer sy (Anoeschka) met haar eeue oue oog terug met ’n roman wat op die jeugdige leser (onder meer!) ingestel is. Daar word die karakter, Vaselinetjie, van haar onskuldige oorspronge, deur haar hartverskeurende deurgangsrites in ’n kinderhuis en tot by die wêreldwyse ‘Vaseline’ met ’n oortuigingskrag uitgebeeld wat dit vir enige jeugleser eienbaar sal maak.”

Nadat sy gehoor het van al die pryse wat sy gewen het, het Anoeschka aan Mariana Malan (Die Burger, 7 Junie 2005) gesê dat sy oorweldig was en in ’n toestand van skok. “Maar ek weet hoekom ek die pryse gewen het. Dis omdat my ma op die plaas doer op die vlakte vir my sit en bid.” Oor die prysgeld was sy baie bly en het gevoel dat haar ma maar ’n lysie moet maak van alles wat sy wil hê en dat die Here vir haar sal sê wat sy met die res moet doen.

Sy voel dat die boek nodig was sodat sy ’n tydperk van haar lewe kon afsluit. “Dit was ’n katarsis vir my, en ek kon dit beheer deur dit ’n gelukkige einde te gee. Dit was vir myself nodig om my gedagtes en herinnering in ’n veilige kapsule te sit. Dis ongelukkig so dat dit nie werklik altyd goed gaan met kinders nadat hulle die kinderhuis verlaat nie.”

Von Meck vertel aan Annemarie Marais (Insig, Julie 2002) dat hierdie verhaal, anders as Annerkant die longdrop, ’n begin, ’n middel en ’n einde het, hoewel die grense tussen werklikheid en verbeelding ook in hierdie vertelling aan die vae kant is. “Die storie is waar, die karakters fiktief.” Of is dit andersom?

Volgens Louise Steyn, wat destyds by Tafelberg ’n uitgewer was, is dit ’n merkwaardige jeugverhaal en sal dit jammer wees as jongmense dit nie lees nie.

Die meeste karakters in Vaselinetjie is gebaseer op regte mense, en die verhale op regte gebeure, al is die name en tekening van persone genoeg verander om hulle te beskerm. Die model vir een van die hoofkarakters, Texan, is ’n ware suksesverhaal. Hy het werklik hoofseun geword en op Stellenbosch gaan studeer en het as boekhouer in Londen gaan werk.

Willemien Brümmer (Die Burger, 12 Junie 2004) skryf in haar resensie: "Die boek vertel die verhaal van Helena Bosman, maar haar ouma en oupa noem haar sommer Vaselinetjie, want toe sy klein was, het haar vel so droog uitgeslaan dat sy die hele tyd gekerm het vir ’n bietjie Vaseline. Op skool noem hulle haar egter ’n 'twiegevriet' wat altyd lieg – omdat sy soos ’n bruin mens praat, maar ’n ligte vel het. Die gevolg is dat sy op die Welsyn se aanbeveling weggestuur word na ’n kinderhuis in Gauteng.

"In die kinderhuis moet Vaselinetjie hoor sy’s ’n 'weggooikind' wat niemand wil hê nie. Sy behoort aan Madiba en moet in sy weeshuis bly 'sodat jy nie begin gom snuif en hoer op straat as die foreign investors van oorsee kom kyk hoe ons land lyk nie'. Gou word sy iemand heeltemal anders as die Vaselinetjie wat haar ouma en oupa geken het. Sy leer vloek en baklei en sy loop asof sy haar aan almal afvee. Langs die pad maak sy darem ook kosbare vriende soos 'Puck' en 'Killer'. Haar lewe bereik ’n keerpunt wanneer sy met Texan Kirby kys na ’n noue ontkoming met ’n groep Kaapse bendelede. Uiteindelik is sý die sterk een wanneer dit kom by aanvaar waar jy vandaan kom."

Brümmer (Die Burger, 12 Junie 2004) gaan voort: "Vaselinetjie is tegelyk ’n huil-mooi liefdesverhaal en ’n roman oor grootword in ’n kinderhuis – ’n omgewing waaroor tot dusver net gefluister is. Dit is ook ’n verhaal oor selfaanvaarding. Soos in haar debuutroman, Annerkant die longdrop, skryf Von Meck oor ’n omgewing wat sy deur en deur kén. Sy kén die jargon van die kinderhuis, asook sy hartseer en eiesoortige bekoring.

“Maar dié keer het sy selfs ’n stappie verder gegaan. Die skrywer erken self die leser het 

hier te make met ‘faksie’. (...) Die boek se storie is fiktief, maar heelwat van die gebeurtenisse is dinge wat régtig plaasgevind het. Al is Von Meck se jongste roman op tieners gemik, spring dit nie vir ’n oomblik haar aweregse sin vir humor vry nie. (...)

“Die toon van die roman is soms intens liries (soos wanneer gepraat word van die kinders met die ‘fluistersiekte’ wat die spook abba). Maar al is geleenthede vir clichés volop, kry Von Meck dit keer op keer reg om ’n ding ráák te sê (vloekwoorde en al) sonder om soetsappig te wees. Van die beskrywings – soos van ’n amper-verkragting of die hel van kinderprostitusie – is skreiend, en Von Meck deins nie ’n oomblik terug van die bloederige werklikheid nie. Soos in haar debuutroman is die karakters dikwels onkonvensioneel, maar jy leer hulle gou ken soos ’n broer of suster.

“Sonder om afbreuk aan die misterie van die verhaal te doen, word daar nie soos in haar eerste roman heen en weer gespring, gedroom en gewonder nie. Dit is ’n storie wat jy kan onthou en oorvertel, en wat vir lank nog met jou sal bly gesels voordat jy snags jou oë toemaak.”

Fanie Olivier (Beeld, 24 Januarie 2005) meen: "Baie van die potensiële verhoudingspannings word nie uitgebou nie en sekere belangrike episodes word simplisties aangebied. Die werklike krisis rondom seksualiteit kom nooit ordentlik ter sprake nie en veral in hierdie opsig is daar ’n oppervlakkigheid in die werk waaroor skrywer én uitgewer ongemaklik behoort te voel. Dieselfde soort oppervlakkigheid tref ’n mens aan in die wyse waarop die taalgebruik van die karakters voorgestel word, en die onsekerheid van die idioom waarin die verteller aan die woord is.

“Daar is ongemotiveerde spronge, en die wyse waarop die hele matriekjaar binne een afdeling en die bestek van ’n paar bladsye afgehandel word, is sonder enige regverdiging, en volgens my ’n belediging vir die leser. Met die lees is daar hier en daar oomblikke wat ’n mens aangryp, maar as die novelle sy ‘bestaan’ wil regverdig (en uitgegee word) as gevolg daarvan dat dit op die skryfster se ‘werklike ondervinding as versorger by ’n kinderhuis’ gegrond is, is daar rede om bekommerd te wees. Ook tieners verdien om as lesers – ook, en juis in Afrikaans – met meer respek behandel te word.”

Jaco Jacobs (Volksblad, 13 September 2004) skryf dat Vaselinetjie wat toonaard en inhoud betref, heelwat verskil van Longdrop. “Vaselinetjie is moeilik kategoriseerbaar. Dit is wel ’n tienerroman soos die uitgewers dit bemark, maar dit is ’n boek wat volwasse lesers dalk meer sal geniet. Danksy die skrywer se ondervinding as oppasser in ’n kinderhuis, word die kinderhuisomgewing baie realisties uitgebeeld – en dit is nie altyd ’n mooi prentjie nie. Die taalgebruik is meestal oortuigend, die beskrywings grinterig en soms skokkend en Vaselinetjie se naïewe belewenis van die dinge om haar laat jou hart soms ineenkrimp.

“Von Meck gee by meer as een geleentheid toe aan die verleiding van sentiment en moralisasie. Dit is jammer, want die krag van die teks lê juis in die hartverskeurend onbetrokke manier waarop van die karakters oor hulle eie lot kan vertel. (...) Soms mis ’n mens die humoristiese manier van kyk wat die skrywer se debuutroman gekenmerk het. Vaselinetjie sou myns insiens baat vind by ’n bietjie snywerk – veral die gedeelte waar Vaselinetjie en Texan moet vlug van die bendes kom te uitgesponne en uit pas met die res van die verhaal voor. Maar Vaselinetjie is op die ou end ’n lekkerleesboek (iets wat deesdae ietwat van ’n rariteit in Afrikaans is), ’n storie wat bewys hoeveel krag daar soms in die swakste mense skuil, en een wat jou oë oopmaak vir ’n wêreld wat min mense ken.”

Na haar drie jaar by die kinderhuis op Robertson het Von Meck onder meer ook as ’n vrywilliger in ’n tehuis vir gestremdes in Bloemfontein gewerk en ’n paar ander draaie gemaak voordat sy in Namibië beland en ’n draaiboek geskryf het. Met hierdie draaiboek het sy die Namibiese deel van M-Net se New Directions gewen en daarmee saam ’n slypskool van tien dae in Zanzibar: “Dié tien dae het ek die eiland deurgewaggel: hierdie vet, blonde vrou wat skares plaaslike mense gelok het wanneer sy in die see swem.”

In 2001 was sy ’n verslaggewer in Windhoek by Die Republikein. “Ek kan nie glo ek doen dit nou eers nie, om by ’n koerant te werk.” Tog het dit nie toe gelyk asof sy haar wortels in die woestynsand gaan laat skiet nie.

In 2004 maak sy 'n Saldanha-kantoor vir Swartland & Weskus Herald oop en woon in Paternoster. Sy word bevorder tot subredakteur. In September word sy genooi om ’n foto te gaan neem by die Louwville-gemeenskapsentrum in Vredenburg by ’n betaalpunt waar staatstoelaes en -pensioene uitbetaal is. Terwyl sy daar gewag het, het sy gesien watter verskriklike dinge by sulke uitbetalings met die pensioentrekkers gebeur. Van hulle word deur bendes en skollies van hulle geld beroof en baie van hulle is die prooi van geldskieters. Von Meck het foto’s geneem en sy is toe rondgestamp, op die grond gegooi en gewurg. Haar kamera is van haar afgeneem en die film is verwyder.

In 2005 is sy aangestel as ’n senior verslaggewer by Rapport in Kaapstad. In 2007 het sy hierdie loopbaan vaarwel toegeroep en ’n ruk lank in Calvinia se Boekehuis gaan woon nadat sy besluit het om weer vir ’n slag dinge te doen wat vrede gee. Dit sluit in op grondpaaie ry, op klipkranse bid en in plaasdamme swem. Sy het ook vir die tweede keer haar eie rubriek vir die vrouetydskrif Finesse gehad.

In 2008 begin sy by Hoërskool Calvinia skoolhou, vir twee jaar, hoewel sy self nie kan spel nie. Sy maak haar eie leerplan op wat onder meer Ingrid Jonker se sekslewe insluit, en Zuma se politieke agenda, en af periodes waar die kinders “ek-moer-jou” buite in die veld speel. 

Hugo Taljaard het Vaselinetjie in 2010 tot ’n verhoogteks verwerk en dit is op die Suidoosterfees in Kaapstad en by die KKNK op die planke gebring met Henry Mylne van 7de Laan-faam as regisseur. Mylne het aan Mariana Malan (Beeld, 12 Januarie 2010) gesê dat dit nie ’n tienerdrama is nie, maar ’n drama met ’n rolverdeling wat hoofsaaklik uit tieners bestaan. Hy het hierdie feit by herhaling beklemtoon: “Ek het die jong akteurs van die begin af gewaarsku dat ek hulle soos professionele akteurs gaan hanteer. Ek het hulle gewaarsku dat ek ’n slawedrywer is en net met die beste tevrede sou wees. Hulle het entoesiasties gereageer, maar nie geweet waarvoor hulle hul inlaat nie. (...)

“Ten spyte daarvan dat sommige van hulle dit as ’n voorgeskrewe werk gehad het, het hulle glad nie die subteks verstaan nie. Ons moes saam die wêreld van geweld, seks, kru taal en werklik ernstige emosionele verwaarlosing oopbreek. (...) Die trane het al geloop tydens repetisies. Dan sê ek maar net vir hulle niemand kan ’n akteur wees sonder dat jy ten minste een keer in trane uitgebars het nie. Dan sê ek ook vir hulle dat ek so moeg is dat ek nie meer kan loop nie, maar dat hulle my in die eerste keer in twee jaar laat voel of ek werklik weer lewe.”

Mylne het bygevoeg dat die boek vir hom ’n wêreld oopgemaak het en dat hulle saam met Von Meck selfs ’n paar dele wat uit die boek gesny is, na die boek teruggebring het. “Ja, die inhoud mag skok, maar elke karakter op daardie verhoog bestaan werklik. Dis nie ’n sprokie nie. Die skokkende elemente word met humor, musiek en dans in jukstaposisie geplaas.”

Von Meck se gunsteling-wegbreekplek is by die Beach Camp in die Tietiesbaai-reservaat naby Paternoster aan die Weskus. Daar word sy wakker met die see vlak voor haar tone en dit is iets baie besonders. “Die tente is op semi-permanente houtstrukture gebou met bed en matras ... lieflik! Soms hoor ’n mens die eienaardigste ‘harde asemhaling’ asof die seekoning, Poseidon, sooibrand het. Eers wanneer jy lank genoeg stil op ’n rots sit en dophou, sal jy miskien agterkom dis ’n walvis wat rustig dut en nou en dan hard proes. En blomtyd roep dit wit velde uit vir mense tjênd om op jouse rug te lê en net God’s grootheid in KLEUR te ervaar” (Sarie, September 2005).

Anoeschka kan nie skryf as die plek om haar deurmekaar en/of vuil is nie. Nie ’n portretraampie mag ’n millimeter skeef hang nie. Sy was jare lank ’n gedissiplineerde mediteerder en daarna het sy weer geleer om intensief te bid. “Bid en skryf voel vir my dikwels dieselfde, want die meeste van my skryfwerk oor die jare is private gesprekke tussen my en die Here” (Sarie, November 2005).

In 2010 verhuis sy na Leisure Isle en begin by die Knysna-Plett Herald as verslaggeefster werk. Haar boek oor die lewe van die bekende vrugte-eter Essie Honiball, Die ontwaking, sien die lig.

Essie Honiball het Anoeschka se lewe finaal kom omdop. “Daai tannie het ’n snap gesnap wat min mense kon doen. Sy lewe wat sy glo.”

Om die boek te kon skryf moes sy haar in die lyf van ­Essie Honiball plaas, vertel sy aan Hanlie Retief (Rapport, 23 Januarie 2011). “Tannie Essie het in ’n sta­dium 31 kg geweeg; so nou moet jy jou indink hoe dié grote lyf van my in daardie maer enetjie moes pas!”

Daar het ’n ánder ontwaking op Anoeschka gewag. ’n Deel daarvan gaan oor sterrekundige begrippe, oor die 13de-eeuse wiskundige Fibonacci se getalkodes, oor hoe ’n skulpie se fyn spiraal die universele spiraal eggo.

Karen Ebersohn het na die bekendstelling van Die ontwaking in Volksblad (11 November 2010) geskryf: “Honiball (86) en Von Meck (43) het oor die trane, vreugde en onlosmaaklike lewenslesse van hul lewe vertel wat in Von Meck se boek ingeweef is. En hoe dié twee aan mekaar se menswees geskaaf het.”

“’n Mens se lewe en ’n storieboek is nie dieselfde ding nie. Maar al die lewensdinge beïnvloed ’n mens se lewe,” sê Von Meck aan Ebersohn.

Dit het bygedra tot hoe sy die boek aanpak. “Ek moes tannie Essie word met die skryf van die boek. Dit was nie maklik nie. Dit was beslis die moeilikste skryfwerk wat ek nog aangewend het; ek weet nie of ek weer so ’n projek sal kan aanpak nie.”

Von Meck het ’n strandhuis gehuur met die skryf van die boek en het daagliks deur honderde stukke papierwerk oor Honiball se lewe gewerk. “Ek het met tye die Here buite in my tuin gaan smeek om my te help om die boek te skryf. Dan het ek ’n kussing oor my kop vasgemaak sodat daar stilte kan wees. Soms het ek dan met die kussing om my kop gebind af strand toe gerol sodat daar energie in my liggaam kan kom.”

Sy sê die boek het in haar eie lewe genesing gebring. “Ek weet hoe groot God is en my kop is gesond. Dit is ondanks groot hartseer, spanning en ’n eetsteurnis in my lewe.”

Honiball sê toe sy die boek oor haar lewe lees, het sy met tye gehuil. “Anoeschka het oor goed geskryf wat ek lankal vergeet het.”

Anoeschka was in Mei 2014 een van die finaliste in die kategorie "Hard news" vir die MDDA-Sanlam Plaaslike Media-toekennings vir 2013.

In November 2014 het Rooi Rose berig dat ’n rolprent van Vaselinetjie gemaak sou word. Boonop sou ’n tweede toneelstuk van die boek binnekort op die planke wees. Karen Meiring, M-Net se direkteur van Afrikaanse kanale, het dié aankondiging by die bekendstelling van die Nasionale Toneelspelkompetisie 2015 in Kaapstad gemaak. Die fliek se regie sal deur Corné van Rooyen behartig word.

Boonop is altesaam 12 leerders wat aan die 2014-toneelkompetisie deelgeneem het, gekies om saam met vier beroepsakteurs in die tweede verhoogproduksie van Vaselinetjie op te tree. Shirley Ellis behartig die regie. Die stuk debuteer in 2015 by die Woordfees in Stellenbosch en sal daarna ook by Kunstekaap opgevoer word. kykNET, RSG en die Woordfees ondersteun hierdie projek.

Vaselinetjie, in 2004 uitgegee, is tans in Wes-Kaapse skole voorgeskryf.

Oor die nuus dat Vaselinetjie ’n film gaan word, het Anoeschka as volg gereageer: "Ek is ‘deeply humbled’ en kan nie glo wat gebeur het nie. Ek het Vaselinetjie in 2000 op ’n geleende skootrekenaar geskryf toe ek ‘down en out’ was en nie ’n werk gehad het nie” (Republikein, 28 November 2014).

As deel van hul program om teater onder die jeug te ontwikkel en te bevorder, bied Kunstekaap in 2015 weer vier voorgeskrewe werke op die verhoog aan. Twee van hierdie werke is in Afrikaans en die kaartjieverkope is bo verwagting goed met net enkele plekke wat nog beskikbaar is.

Vaselinetjie, gebaseer op die boek (wat vir graad 11-leerders voorgeskryf is), is in April opgevoer. Shirley Ellis behartig die regie en bekende name soos Andrea Stresso, June van Merch, Cedwyn Joel en Dawid Louw speel die hoofrolle. Leerders wat verlede jaar in die Hoërskool-dramakompetisie uitgeblink het, is in die ander rolle te sien.

Vaselinetjie is aangebied in samewerking met Dagbreek Trust, die US Woordfees, die Nasionale Kunsteraad (National Arts Council), Hoërskool Bellville en die ATKV.

Wat ander mense oor Anoeschka sê

Minette Brink, ’n voormalige kollega: "’n Enigma wat nooit wortelskiet nie, maklik haar goed kan pak en aanbeweeg na ’n volgende plek toe, land, avontuur. Wat soggens en saans die honde langs die pad na haar huis toe polonie gevoer het, gestap het waar sy wou wees en nooit bang was vir die donker nie. Die enigste mens wat ek ken wat onvoorwaardelik lief is vir die mensdom. Met al sy geite." (http://peterjasie.co.za/minette_anoeschka.html)

Tom Dreyer en Jaco Botha: "’n Uitbundige blonde, ’n weird kettle of fish, ’n girl wat daarvan hou om dinge op haar eie manier te doen. Gut wat skrik vir niks." (LitNet)

Publikasies

Publikasie

Annerkant die longdrop

Publikasiedatum

  • 1998
  • 2009

ISBN

  • 1874901961 (sb)
  • 9780624048114 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Queillerie
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vaselinetjie

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624039811 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

  • Rapport/Jan Rabie-prys 2004
  • MER-prys vir Jeugliteratuur 2004
  • M-Net-prys vir ’n Afrikaanse teks in kort formaat 2005
  • ATKV-Kinderboekprys graad 8–10

Vertalings

Engels vertaal deur Elsa Silke 2009

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die ontwaking: ’n verhaal gebaseer op die lewe van Essie Honiball

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780981440835 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Benedic Boeke

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Anoeschka von Meck beskikbaar op die internet

Artikels deur Anoeschka von Meck beskikbaar op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top