Uittreksel uit: Die ontwaking - Essie Honiball Biografie

  • 0

Die ontwaking - Essie Honiball Biografie is geskryf deur Anoeschka von Meck en verskyn binnekort by Benedic Boeke.

-----

Mammie sit amper heeltemal regop. Die masker is van haar gesig afgeskuif en hang oor haar een wang. Asof iemand pas vir haar ’n skinkbord met tee gebring het en sy haarself regskuif om dit te geniet. Haar oë is oop en sy lyk heeltemal wakker. Selfs vrolik.

“Haai, en hier kom tannie Hannie en Oom Jasper dan aan!” sê sy uitgelate.

Sy sak terug in haar kussings en sug ’n paar keer diep.

Die klank daarvan hang vir ’n lang tyd sag in die kamer. So dis hoe dit lyk, dink ek? Wanneer die deur na die ankerkant toe oopgaan. Ek wil nie hierdie oomblik weg hê nie. Ek wil die belangrikheid en die totale vreedsaamheid, die vreeslose aanvaarding wat ek voel nie verbreek hê deur mense se emosies of trooswoorde nie. Vir ’n oomblik sal ek dit op my eie indrink. Die voorreg daarvan ten volle beleef.

Ek staan van my stoel af op en gaan sit langs Mammie se liggaam. Ek streel oor haar wang, haal die ou masker se rek agter haar oor af en druk ’n paar los haartjies weg. Ek gaan vir Hanna moet vertel hoe mooi sy gelyk het.

“Nag, Mammie”

Al was sy vroeg grys. Al was sy maar net drie-en-vyftig.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top