Vaselinetjie – ’n stukkie realiteit vir die siel

  • 1
Michael le Cordeur is hoof van die B Ed-program aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch waar hy Afrikaansonderwys doseer op voor- en nagraadse vlak. Hy het tydens die afgelope US Woordfees diskoerse en teateraanbiedings saam met sy studente bygewoon. Hier deel een van sy studente haar mening oor 'n opvoering wat hul klas bygewoon het.

Geskryf deur Anoeschka von Meck. Teksverwerking deur Hugo Taljaard. Vervaardig deur Herman Pieters en Alma Rossouw. Onder regie van Shirley Ellis. Musiek deur Wilken Calitz en beligting deur Mari Borstlap. Aangebied vanaf 9 tot 11 Maart 2015 in die Hoërskool Stellenbosch-skoolsaal tydens die Universiteit Stellenbosch Woordfees.

Anoeschka von Meck is in Maart 1967 in Mariental, Namibië, gebore. Sy het aan die Lynchburg Christian Academy in Virginia in die VSA gematrikuleer. Sy het haar studies voortgesit by ’n Amerikaanse universiteit, waarna sy ’n graad aan die Universiteit Stellenbosch ontvang het. Van haar ander bekende werke is die kortverhaal “Bokse met druiwe en drome”, asook die roman Annerkant die longdrop, wat in 1998 vrygestel is. Vir haar roman Vaselinetjie ontvang sy verskeie pryse, onder andere die Rapport/Jan Rabie-prys (2005), die MER-prys vir jeugliteratuur (2005), die M-Net-prys vir ’n Afrikaanse teks in kort formaat (2005) en die ATKV-prys vir graad 8–10 (2006).

Shirley Ellis het haar BA-graad in spraak en drama in 1984 aan die Universiteit van Kaapstad voltooi. Sy is nie net ’n regisseur nie, maar ook self ’n bekende aktrise wat bekend is vir haar rol as Malherbe in die TV-reeks Arsenaal.

Vaselinetjie is die verhaal van ’n optelkind, Helena “Vaselinetjie” Bosman. Sy is ’n wit kind wat grootword by haar Oumie en Oupie, wat bruin mense is. Op die ouderdom van 11 jaar word sy weggeneem van hulle af en na ’n kinderhuis in Gauteng gestuur, waar sy dan ook haar skoolloopbaan voltooi. Hier maak sy kennis met verskillende kinders uit verskillende agtergronde. Sy maak kennis met dinge waaraan sy nie gewoond is nie, soos alkohol en dwelmmisbruik, bendes en prostitusie, om net ’n paar te noem. Tydens haar tyd in die kinderhuis ontdek sy haarself. Sy maak baie dinge deur wat bydra tot die persoon wat sy word. Dit is egter nie net slegte dinge wat met haar gebeur nie. Sy raak ook verlief op Texan, een van die seuns in die kinderhuis, en dit verskaf ’n bietjie vreugde in haar lewe.

Die verwerking van die boek na die verhoog was ’n absolute meesterstuk. Elke deel van hierdie opvoering het soos ’n koeksister inmekaar gevleg: van beligting tot musiek, tot die eenvoudige dekor wat gebruik was, het elke toneel perfek uitgebeeld. Andrea Streso, wat die rol van Vaselinetjie vertolk het, was absoluut fantasties. Sy, tesame met June van Merch (Oumie), Cedwyn Joel (Oupie) en David Louw (Texan), het die karakters wat hulle vertolk het, tot perfeksie uitgebeeld. Hulle het hulself in die rolle ingeleef en het een geword met hul onderskeie karakters. Selfs hul verteller-dele het hulle uitstekend uitgevoer. Wys jou net weer: talent kan nie gekoop word nie.

Daar was ook ’n groot aantal onbekende akteurs: Brendan van Zyl, Caleb Louw, Carla Schmidt, Du Toit Albertze, Jessica Badenhorst, Johan Jordaan, Jumaine Hansen, Nicola van der Westhuizen, Patricia Baadjies, Samuel Jumat en Sesethu Ntombela. Ek haal my hoed af vir hierdie groep. Hulle was uitstekend en jy kon nie sê dat hulle nuut in die bedryf is nie. Elkeen van hulle het hul rolle uitmuntend uitgebeeld en elkeen was op sy plek. Daar was nie een akteur op die verhoor wat nie op standaard was nie.

Shirley Ellis verdien applous. Sy het dit reggekry om die boek op die verhoog lewe te laat kry. En al is daar dele uitgelaat, het sy steeds die belangrikste gebeure uitgebeeld en die gehoor vermaak. Die hele opvoering was briljant, maar wat vir my meer uitgestaan het, was die slottoneel. Die manier waarop musiek, beligting en die emosie saamgekom het was definitief ’n magiese oomblik. Ek sal hierdie opvoering definitief aanbeveel vir vriende en familie, maar as jy ’n probleem het met kru taal, bly maar liewer weg. In die geheel gesien was dit die beste opvoering wat ek in ’n lang tyd gesien het.

 

  • 1

Kommentaar

  • ... 'n ander stukkie realiteit vir die siel.
    Destyds is ek deur 'n boekklub gevra om die boek te lees en my mening te lig.
    Want, ek was self 'n kinderhuiskind.
    In kort - dit is jammer dat die belangrikste verhoudings wat in kinderhuise bestaan nie in die storie na vore kom nie.
    Die skrywer het as jong dame self by 'n kinderhuis gewerk, en dit is te verstane dat sy gekonsentreer het op dié een kind.
    In werklikheid word kinders wat as enkelkind ouerloos raak eerder oorweeg vir aannaming. Daar is bitter min kinders in kinderhuise wat werklik wees is.
    Die meeste kinders in kinderhuise is daar agv die feit dat die betrokke gesaghebbendes nie boeties en sussies wil skei nie.
    Baie sterk bande tussen boeties en sussies ontwikkel dan, soms selfs sterker as wat normaalweg die geval sou wees, en die belangrike werklikheid kom glad nie in die storie eers ter sprake nie.
    ... net om die realiteit reg te stel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top