Andrew Murray, Desmond Tutu en die pryswenners

  • 0

Bettina Wyngaard

Die Andrew Murray Prysfonds, met sy verskeie onderafdelings, het oor die afgelope 41 jaar sinoniem geword met uitnemendheid in Christelike media. Die afgelope aantal jare word Desmond Tutu, onbetwisbaar die moderne gesig van Christelike waagmoed, ook met hierdie prysfonds vereenselwig.

Op 24 Mei 2019 is die jaarlikse prysuitdeling dan ook op luisterryke wyse by Neethlingshof te Stellenbosch gevier. Voor die feestelikhede het die ledevergadering, bestaande uit verteenwoordigers van onder meer Die Valsbaai Bisdom van die Anglikaanse kerk, die VGKSA: Streeksinode Kaapland, ATKV, Lux Verbi, FAK, Christelike Lektuurfonds, Bybelmedia, NGK Kuratorium, Stellenbosch, die teologiese fakulteite van US, UV, NWU, UV en vele meer vergader. Besigheid voor plesier, soos altyd. Sekerlik die belangrikste item op die agenda was die verkiesing van nuwe lede van die uitvoerende raad. Mediaverklarings hieroor sal binnekort verskyn.

Die hoogtepunt van die Andrew Murray Prysfonds se jaar is natuurlik die prysuitdeling. Die pryswenners se toesprake was soms lagwekkend, soms aangrypend hartroerend, maar in elke enkele geval het dit stof tot nadenke gebied.

Buiten die gewone pryse en toekennings is daar hierdie jaar twee spesiale toekennings gemaak, beide vir tekste wat verfilm is. Die bekende skrywer Dana Snyman het ʼn spesiale Andrew Murray-toekenning ontvang vir sy eenmanverhoogstuk Die Klaagliedere van ds Tienie Benadé, wat sekerlik ook verfilm is as Dominee Tienie.

Charl-Johan Lingenfelder, Zorada Temmingh en Dana Snyman

Charl-Johan Lingenfelder was die ontvanger van die ander spesiale toekenning, vir sy bydrae tot die musiek en inhoud van Kanarie, ʼn film wat nou ook oorsee opspraak verwek. Lingenfelder het sigbaar emosioneel geraak terwyl hy sy ontvangstoespraak gelewer het. Ook Snyman kon, toe hy sy toekenning aan sy afgestorwe pa opdra, die trane nie terughou nie. Wat my bybly uit albei toesprake, was die wyse waarop beide hierdie mans gepraat het van seerkry binne kerkverband, maar hoedat hulle steeds die hoop uitspreek dat kerk anders en meer inklusief gedoen kan word.

Dit het veral met my geresoneer, want is kerk nie al meermale kere beskryf as ʼn hospitaal vir gewonde sondaars nie?

Zorada Temmingh het die Andrew Murray-FAK-toekenning ontvang vir haar besondere bydrae tot die bevordering van Christelike musiek. Ek het haar nog nooit persoonlik sien speel nie, maar selfs die uittreksel uit die DVD wat gespeel is, het haar besondere passie en talent oorgedra. Temmingh was elegant en sjarmant. Sy was ook die enigste vrou wat vereer is. Ek hoop regtig dat daar in die toekoms meer toekennings aan vroue gemaak sal word.

Siya Khumalo het die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir ʼn debuutwerk in ʼn amptelike taal van Suid-Afrika gewen met sy boek You have to be gay to know God. Ek het die boek ongeveer ʼn jaar gelede vir LitNet resenseer, en kan net bevestig dat dit baie beslis ʼn waardige pryswenner is. Khumalo het na die funksie saam met my teruggery na die gastehuis waar ons albei oorgebly het, en ek was opnuut beïndruk met sy bedagsaamheid en intelligensie. Ek hoop van harte dat hy ʼn lang skryfloopbaan sal hê.

Siya Khumalo (foto: YouTube)

Die twee groot pryse van die aand was die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir ʼn Christelike/teologiese werk in ʼn amptelike taal van Suid-Afrika, en die Andrew Murray-prys vir ʼn teologiese werk in Afrikaans.

Beide pryse is vanjaar gewen deur skrywers wat gevestigde en gerespekteerde kenners in hul velde is.

Die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys, wat gepaard gaan met ʼn trofee, is gewen deur Jaap Durand vir sy In awesome wonder. Die Andrew Murray-prys, vergesel van ʼn spesiale goue penning, is verower deur Amie van Wyk vir sy boek Augustinus.

Elkeen van die pryse en toekennings het gepaard gegaan met ʼn kontantprys.

Wat my sekerlik vir ʼn lang tyd sal bybly, is die feitlik onopsigtelike wyse waarop die Andrew Murray Prysfonds inklusiwiteit binne Christelike konteks bevorder. In ʼn wêreld waar godsdiens al meer gebruik (en misbruik) word om uit te sluit, is dit ʼn baken van hoop.

Aan die ledevergadering en die uitvoerende raad: Doe zo voort!   

  • Foto's verskaf deur die Andrew Murray-prysfonds
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top