André Schwartz oor die tweede kanse in die lewe

  • 0

André Schwartz spog met meer as vier dekades aan die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsfront. Behalwe dat hy onlangs sy lewe verruil het vir ’n rustiger bestaan op sy plaas, is sy nuwe enkelsnit, “Tweede kans”, pas vrygestel. Yolanda Wessels het ingeloer op die stel waar hy sy nuwe musiekvideo skiet.

André Schwartz en Yolanda Wessels | Foto: Dionne Jordaan

Wat was André se drome as kind – wou hy altyd ’n sanger word en wat was sy ideale?

André vertel hy wou sing vir so lank as wat hy kan onthou en op 14-jarige ouderdom het hy sy televisiedebuut gemaak. “Musiek en sing is in my DNA; dit is nie iets wat ék gekies het nie, dit het my gekies en ek is mal daaroor.”

Hy het onlangs die stadslewe ná soveel jare vir die plaaslewe verruil. Wat het dit teweeggebring en hoe het sy lewe sedertdien verander?

“Dit het ’n rustigheid en kalmte in my gebring. Dit laat ’n mens jouself leer ken én wie jou vriende is, want nou woon almal nie meer net hier om die draai nie. Skielik moet ’n mens beplan, moeite doen en ry om by mekaar uit te kom en tyd vir mekaar te maak. Ek is baie rustiger en beplan beter en ek het ook geleer dat as iets nie uitwerk nie, is dit fine. Dus is dit heeltemal ’n nuwe perspektief op die lewe.”

Nietemin blyk 2018 sover ’n besige jaar vir André te wees. Waarmee is hy alles besig?

André is ’n bekende gesig as dit kom by musiekblyspele en was al te sien as Josef in Joseph and his amazing technicolor dreamcoat, Christus in Jesus Christ Superstar, Frederick in Pirates of Penzance, die phantom in The Phantom of the Opera (waarvoor hy ’n legio toekennings gewen het en aangeprys is as een van die beste phantoms ter wêreld) en as Captain Von Trapp in The Sound of Music.

“Ek is pas klaar met die driemaande-speelvak van Sound of music, wat ’n enorme sukses was. Ek is tans besig met my nuwe enkelsnit en album en bo en behalwe het ek my eie bemarkingsmaatskappy wat my baie goed besig hou!”

André se enkelsnit “Tweede kans” is pas vrygestel en word later vanjaar met sy 14de solo-album (waarvan die meeste goue status bereik het) opgevolg. Wat het dié snit geïnspireer? Joe Foster het die lirieke geskryf van “Tweede kans”. Toe André dit die eerste maal hoor, was hy dadelik gaande oor die pragtige boodskap in die liedjie.

“Ek het dadelik besef hoe dit in my eie lewe op soveel vlakke van toepassing is en hopenlik is ook op ander mense s’n. Ek het net gewéét ek moet dit opneem, omdat dit so gepas is.”

Oor die musiekvideo voel André dat die primêre boodskap is dat hy voel hy het weer ’n tweede kans.

“Ek stap al só lank saam met my baie lojale gehoor en ek voel werklik ek het op ’n stadium te min gedoen en te min Afrikaans opgeneem. In die musiekvideo is daar flitse van oor my loopbaan heen. Dit is vir my soos ’n tweede kans en ek het weer my lus terug om konserte te hou en op te tree.”

Waarna kan gehore uitsien op die nuwe album? Volgens André beplan hy dat die volgende enkelsnit ’n ballade gaan wees.

“Die nuwe album gaan ’n mengsel van songs wees. Die belangrikste ding vir my voordat ek ’n song opneem, is dat ek met die lirieke kan identifiseer en ek hou van ’n beeldskone melodie, so dis altyd faktore met die keuse en opname van ’n nuwe album.”

Sy musiekstyl wissel tussen pop, Afrikaans, musiekblyspele en Big Band – het hy ’n gunsteling-genre?

“Elke genre het sy eie ding wat dit uniek maak en dis vir my lekker om wel al die verskillende genres te kan doen. Die oorgang tussen die genres maak dat ’n mens kan deel ook: wat een oomblik werk in pop kan jy inbring in musiekblyspele en omgekeerd. Alles werk saam om hopelik van jou ’n beter, volronde kunstenaar te maak.”

“Jy skryf jou eie lirieke en melodieë. Wie inspireer jou of waaruit put jy inspirasie?”

“Ek glo nie daar is regtig iets spesifiek nie. Soms kom daar net ’n oomblik dat ek dink ek wíl iets hieroor skryf, of ek sien ’n foto wat my aan iets herinner, of daar gebeur net iets in ’n mens se kop en dan pen jy dit neer.”

André is ’n man van vele talente, en van stilsit is daar nie sprake nie. Sy talente strek van televisieaanbieder en beoordelaar tot akteur en sanger, en hy besit sy eie bemarkingsmaatskappy. As kunstenaar wat al van jongs af Suid-Afrikaanse gehore bekoor, wat laat hom aanhou en beplan aan ’n volgende album en projek?

“Ek doen wat ek doen en sing omdat ek dit geniet. Ek dink ek is op ’n stadium in my lewe dat ek nie iets gaan doen waarvan ek nie hou nie. Ek sing, want dis vir my lekker en dít is hoekom ek aanhou en hoekom daar altyd ’n nuwe liedjie is. Soms in ’n konsert is daar ’n oomblik of ’n noot in ’n lied waar ek totaal onwrikbaar voel en niks anders kan daarmee vergelyk word nie. Ek is mal daaroor om te sing!”

“Vertel vir LitNet se lesers iets van jouself wat hulle nie geweet het nie?”

André sê hy is mal daaroor om verskillende spyskaarte en geure te probeer en is nuuskierig oor hoe alles by mekaar aansluit, dus probeer hy self verskillende disse tuis én hy bak graag prettige poetse vir sy vriende.

“Ek wil altyd weet en verstaan hoe werk ’n ding, byvoorbeeld wat hou ’n vliegtuig daar bo in die lug of hoe bly die trein op sy spoor. Sulke dinge fassineer my.”

“Wat is jou passie, laat jou tick en elke dag opstaan?”

“Soggens wanneer die hane my wakker kraai en ek trek my gordyne oop, sien ek die buitewêreld met sy koppies en natuurskoon, my diere en honde op die plaas. Dan besef ek ek het soveel dinge om voor op te staan.”

Foto: Dionne Jordaan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top