Anderkant die water deur Ronel du Plessis: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Anderkant die water
Skrywer: Ronel du Plessis
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781779860347

Die lewe kan wreed en onregverdig wees. Ons probeer sin maak van wat om ons gebeur, maar sommige dinge laat ons met vrae waarvoor daar geen maklike antwoorde is nie. Vir my is die dood van ’n kind een daarvan. Hoe aanvaar ’n ouer dat ’n lewe wat pas begin het, reeds verby is? Elke verlies dra sy eie pyn, maar om ’n kind aan die dood af te staan, voel soos iets wat teen die natuurlike gang van die lewe indruis. Tog gebeur dit. Baie slegte dinge gebeur met baie goeie mense.

Tydens Ronel du Plessis se vastydperk van 40 dae verdrink hulle seuntjie wat byna 10 maande oud was. Here? Hoe werk dit? Ronel het gevas. Sy en haar man, Jannie, ’n voormalige Springbokrugbyspeler, was by ’n biduur.

Ek het gewonder of Anderkant die water so geskryf is dat ek skuldig gaan voel omdat ek nie deur dieselfde hel is nie. Wat ’n verrassing het daar nie op my gewag nie! Ronel het haar vreugdes en seerkry op so ’n eerlike en opregte wyse gedeel dat ek saam met haar gevoel het, en nie as gevolg van haar pyn nie.

Hierdie boek lees ongelooflik maklik, in ag genome dat dit oor bitter moeilike en diep emosies gaan. Dit is ’n meesleurende vertelling wat jou gevange hou vanaf die eerste woord en skets. Sy vat jou hand en neem jou saam deur haar, Jannie en hulle ander kinders se lewens. Dit doen sy nie net met woorde nie, maar ook met haar treffende sketse en foto's. Die sketse gee ’n verdere dimensie aan die vertelling: Hulle laat jou stilstaan, nader kyk en iets raaksien waarvoor woorde alleen dalk nie genoeg is nie.

Terwyl die meeste mense nie hulle binnewêreld wil oopstel nie, het Ronel hulle diepste seer blootgelê in hierdie boek. Die gevolg was dat ek moed gekry het om verlies in my eie lewe vierkantig in die oë te kyk. Hoe gering ook al. Ek kon sekere hoofstukke afsluit, vergewe en met nuwe kennis en deernis voortgaan. Miskien het dit ’n verstaan in my wakkergemaak wat ek nie gehad het nie. Ek het besef dat my woorde tydens ander se verlies dinge net erger kan maak, en dat ’n stille nabyheid meer beteken as die onvanpaste uitdrukkings wat gewoonlik gesê word. Soos dat die Here Sy mooiste blomme eerste kom pluk.

Uit onkunde vermy ons dit om oor die oorledene te praat, terwyl dit nodig is om die bestaan van die persoon so lank as moontlik te bevestig en te vier.

Hierdie boek is kaalvoet-eerlik. Niks word met versiersuiker toegesmeer nie. Maar dit is nie ’n verhaal wat net met smart en rou gemoeid is nie. Ek het wel meer as een keer gewonder hoe hierdie gesin elke dag aangaan ná alles waardeur hulle is. Miskien is my grootste vraag: “Hoe bly jy vashou aan jou geloof as hierdie goed met jou gebeur?”

Ek glo dat daar steeds seer is, en vrae wat nooit beantwoord gaan word nie. Ten spyte hiervan bly hulle getrou aan die Hemelse Vader en hulle geloof. Miskien is dit hierdie storie se doel. Om aan te hou glo en vertrou, ten spyte van dit wat met ’n mens gebeur.

Ronel deel nie net die swaarkry nie. Daar is wonderwerke regdeur hierdie verhaal wat getuig van goedheid en genade. Met tyd en genesing kan daar weer ruimte kom vir dit wat mooi, goed en vreugdevol is. Die verlies bly deel van ’n mens se lewe, maar daar kan ook weer lig deurbreek. Sal ’n mens ooit weer dieselfde wees? Nee. Kan jy deur ’n dag kom sonder om aan jou verlies te dink? Nee. Maak hierdie dinge sin? Nee. Dit is in situasies soos dié waar jy jouself oorgee aan dit wat groter as jy self is. Dit is ontsettend moeilik, en ons kan dit nie alleen doen nie. Maar dit word elke dag, bietjie vir bietjie, moontlik. Al kies ek om nie vandag die son te sien skyn nie, gaan dit nie noodwendig ’n droewige dag wees nie.

Ronel, dankie dat jy julle storie met my gedeel het. My hart breek saam met joune. Jy het my hand gevat en my tot ’n dieper besef gelei: dat ek nooit volkome sal verstaan nie. En dit is oukei. Ek moet net nooit ophou glo in dit wat waar, mooi en goed is nie. En as ek dit nie vandag regkry nie, probeer ek môre weer. Eendag sal ons alles verstaan, maar dis eendag, nie vandag nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top