ANC-verkiesingsmanifes: skisofrenie of kollektiewe geheueverlies?

  • 8

Bron: Twitter

Die ANC het hierdie afgelope naweek hulle verkiesingsmanifes bekend gestel. Perfekte tydsberekening: almal is al terug van vakansie, so daar’s oorgenoeg bums in seats. Terselfdertyd is mense nog in ʼn partytjiegees en nie lus om te diep te dink nie – hulle kom vir die gewaarborgde partytjie en eetgoed soveel soos vir die hernuwing van huweliksbeloftes.

Geniale idee van Cyril om dit in Durban te hou: bearding the lion in its den. Slim. Kry Zuma om ʼn rukkie van Twitter af te klim en vir eers weer bietjie relevant te voel en in die glorie van onkritiese bewondering te baai. Neem foto’s met hom hand om die nek. Keep your friends close, and your enemies closer.

Maar watter een is Zuma?

Ek hoop die presidensiële lyfwagte het eers seker gemaak die hand om Cyril se nek is leeg voor ons twitterer-in-chief op die verhoog toegelaat is.

Showmanship op sy beste. Kyk hier, Suid-Afrika, selfs in Zuma se agterplaas word ek nie geboe en uitgejou nie.

Wat was die prys? Dalk ʼn sangloopbaan vir ʼn ekspresident? Of is ons nog so naïef dat ons dink daar was nie baie hard agter die skerms gewerk en deals aangegaan om seker te maak die geleentheid verloop glad nie?

Maar terug na die manifes. Dit lyk fantasties. Skoon regering, ʼn geveg teen staatskaping, opvoeding, werkverskaffing, grondverskaffing, einde aan misdaad, ʼn effektiewe staatsdiens vir die mense deur die mense en so aan ensovoorts. Agt-en-sestig bladsye daarvan. Sou enige fiksieskrywer groen van jaloesie maak.

Want dis wat dit is. Fiksie.

Die manifes werk as mens die ANC as ʼn tabula rasa sien. Geen vorige regeringsondervinding nie; nuut verkies; moet die vorige regering se gemors kom skoonmaak. Soos staatskaping, soos korrupsie. Soos ʼn ekonomie wat nou nog vassit in die hek waarin dit twee jaar terug geduik het.

Dit werk as mens vergeet dat elkeen van daai beloftes al vir 25 jaar gereeld afgestof en recycle word net voor die verkiesing. Met ʼn klein verhoginkie in die Sassa-lone wat seker by die staatsrede belowe sal word. Dan ook die uitdeel van geskenkies by geleenthede, nevermind of die geskenk pas by die geleentheid, soos om sanitêre doekies vir graad R’s uit te deel.

Die manifes werk as mens vergeet dat die ANC alreeds ʼn kwarteeu lank regeer, en nog steeds nie hond haaraf kon of wou maak op enige van daai beloftes nie. Seker moeilik om te regeer as jou snoet so diep in die trog is.

Die eenvoudige vraag wat ek het, is: Hoe? Hoe gaan al daai beloftes uitgevoer word? Hoe gaan staatskaping hokgeslaan word as die kapers in die regering sit en die besluite neem? Hoe gaan dienslewering verbeter as die “diensleweraars” al so ingeburger is en hulle netwerke in posisie het dat bitter min hulle van hul troontjies kan afstoot? Hoe kan dienslewering verbeter as mense aangestel word nie op grond van hul bewese vermoë en bereidwilligheid om moue op te rol en aan die werk te spring nie, maar op grond van watter comrade hulle mee hand om die blaas is?

Hoe gaan werksverskaffing verbeter word as comrades heel eerste familielede aanstel voordat hulle kyk na mense wat die werk kan doen?

Hoe gaan eenheid bewerkstellig word wanneer die meeste werksplekke so toksies is dat elke interaksie die potensiaal van ʼn rassekonflik inhou?

Die ANC-manifes ignoreer gerieflik dat hulle nie veel van ʼn vinger verroer het die afgelope kwarteeu om enige van daardie dinge aan te spreek nie. In 2019 is daar steeds skole sonder boeke en toilette. In 2019 is daar steeds gogo’s wat in in haglike omstandighede plakkershutte woon. In 2019 is daar steeds meisies wat uit die skool bly omdat hulle nie toegang tot sanitêre doekies het nie. In 2019 is daar steeds kinders wat kilometers moet loop om by ʼn skool uit te kom, terwyl skole gesluit word.

En die kersie op die koek? Die besigheidswêreld moet inspring om te help. Dit sou nie nodig wees om hulp te vra as daar nie gedurende ANC-regering grootskaalse korrupsie en diefstal plaasgevind het nie. Om dit nou mooi te verpak as ʼn vennootskap tussen staat en besigheid is die bemarkingsfoefie van die jaar.

“Maar Cyril is anders,” hoor ek uit die agterbanke. Thuma mina. Batho pele. Nuwe ANC, want nuwe leier. Hm. Cyril, en elke liewe kabinetsminister en elke liewe LP, was deur die Zuma-jare daar. En elke keer wanneer die opposisie probeer het om die korrupsie en staatskaping te keer, het hulle soos een man gestem om Zuma te behou, om die kaping te laat voortgaan, om die stelery te enable. Elke een. Hulle het hom beskerm en ons vir die wolwe gegooi.

Ek word nêrens heen ge-thuma voor hy nie tronk toe is nie.

Hulle hardvogtigheid, hulle keuse om party bo land te stel, was nêrens duideliker as toe daar gevra is vir ʼn oomblik van stilte vir die Life Esidimeni-slagoffers en dit geweier is nie.

Hulle wil graag hê ons moet dit vergeet. Hulle hoop ons is al so vuisvoos dat ons aan kollektiewe amnesie ly. Of hulle is so skisofrenies dat hulle waarlik glo hulle is nou anders, want die gesig op die poster lyk anders. En ons moet dit saam met hulle glo. En nou moet ons asseblief weer vir hulle stem en hulle kans gee om reg te maak wat hulle verbrou het.

ʼn Klompie jare terug was daar ʼn kinderprogram op televisie. Groenie was ʼn drakie wie se grootste droom in die lewe was om ʼn brandweerman te word. Al wat hy wou doen, was om brande te blus. Probleem is, elke enkele brand wat Groenie ooit geblus het, was een wat hy self met sy vuurblasery gestig het.

Die ANC se manifes laat my aan Groenie dink. Elke enkele belofte wat hulle maak, is die gevolg van ʼn gemors wat hulle self geskep het en nou moet skoonmaak.

Suid-Afrika verdien beter.

 

  • 8

Kommentaar

  • Elke land vedien die regering vir wie hy stem. Dit is 'n duidelike bewys van ons onvolwasse demokrasie. (Apartheid se skuld.) Afrika het sy eiesoortige demokrasie wat op etnisiteit geskoei is. Die ANC was, en sal nooit 'n politieke party in die ware sin van die woord wees nie. Dit was 'n drukgroep wat 'n "bevrydingsorganisasie" was en nog steeds is. Politieke opportuniste.

  • Hoeveel bevrydingsorganisasies wêreldwyd het in suksesvolle regerings verander?
    Is daar iemand wat weet?

  • Is getuienis wat voor die 'Zondo Commission' gelewer is en word nie reeds mense
    wat in die diens van die ANC-regering is of was onthul as korrup?

  • Nie-Animal-Farm Plaasvark

    Uitstekende artikel Bettina.
    Die begrip "demokrasie" is in elk geval 'n drogbeeld. "It is all about greed and power". Bestudeer gerus George Orwell se Animal Farm.
    Die ANC is op pad met sy "National Democratic Revolution" na die "South African National Democratic Society Animal Farm" waar die "elite" die varke is en die armsalige misbruikte werklose oningeligte ongeleerde Suid-Afrikaanse plebs die skape. Die Suid-Afrikaanse "nasie" verdien beter. So, waar moet begin word vir 'n beter, voorspoedige en vredevolle regverdige Suid-Afrika? Antwoord: By ons gewetens en by ons verhouding met ons Skepper en medemens en ons natuur en regverdigheid. Immers, ons lewens is kortstondig. Welke legaat laat ons na aan ons nageslagte?

  • Vredevolle Toekomsvark

    O wee die dag as die Suid-Afrikaanse "nasie" nie uit die verlede leer nie en 'n vorm van kommunisme, onder welke drie-woord-slagspreuk ook al, omhels;
    O wee die dag wanneer enige regerende party my lewenswandel en denke tot in die fynste besonderhede wil dikteer asof ek 'n mier of by of skaap of slaaf of zombie van welke velkleur of kultuur of afstamming is;
    O wee die dag wanneer enige regerende party vir my wil dikteer hoe ek my godsdiens moet beoefen.
    Maar o wee, o wee, o wee as daar nie passievolle stryders vir reg en geregtigheid is nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top