ANC delenda est: Partydogma is onbestaanbaar met die Grondwet

  • 18

Na miljarde rande se belastingbetalersgeld, ure en ure se regsproses en talle uitstelle, begin die poppe behoorlik voor die Zondo-kommissie te dans. Kommentators was gaande oor maande se plofpolitiek wat in ’n kwessie van ’n week of twee plaasgevind het. Zuma se weiering om voor die kommissie te verskyn, selfs nadat die Konstitusionele Hof beslis het dat hy moet, asook die skrikwekkende openbaring van die gekorrupteerde Staatsveiligheidsagentskap, was die eerste knippie speserye.

Daarna die Nkandla-teepartytjie (wat vroeg reeds aan die Mad Hatter en sy makkers in die ikoniese Alice’s adventures in Wonderland-teeparty herinner het), gevolg deur die dramatiese ontmaskering van wat almal nog altyd vermoed het: die ideologies-gemaskerde sinisme van volslae onverantwoordbaarheid in die diepste binnewerke van die ANC. Wortel en tak, van koukus tot Luthulihuis, van die kabinet tot die mees afgeleë wyke en takke. Voormalige ANC-LP’s soos Makhosi Khoza en Zukiswa Rantho het vertel hoe selfs die mees immorele versuim om ondersoek na die tentakels en akteurs van staatskaping in te stel, op grond van maskertaal soos “antirevolusionêr” en “teen-transformasie” geregverdig is. Soos ’n menigte bankrot regimes, van Bolsonaro se Brasilië tot Venezuela, Zimbabwe, Birma en China, word welige mooimaakwoorde geuiter, maar die teenoorgestelde gebeur agter die skerms. Dit is ’n siniese houding wat iets kommunikeer van hoe die magtiges van ons wêreld die realiteit sal kommunikeer soos dit hul pas, ’n proses wat in die dae van sosiale media en kitsinligting soveel makliker geraak het om te versprei. Kyk gerus die HBO-minireeks Chernobyl om te verstaan hoe ideologiese maskertaal gebruik word om selfs die ooglopendste krisisse en grootste swaarkry as onwaarheid verwerp.

Lank was daar die desperate geloof dat die ANC intern kan hervorm, iets wat deur Ramaforie op die spits gedryf is. Die heer wat nou as ANC- en staatspresident dien het vir jare beleef hoe sy voorganger die staat in sy persoonlike feodale koninkryk verander. Hy probeer oënskynlik nou baie hard om sake om te draai. Wat niemand tot vandag toe met sekerheid kan sê nie, is of Cyril Ramaphosa ’n ontsettend geduldige lang spel speel, op grond van ’n vaste vertroue op die krag van ons inklusiewe grondwetlik-demokratiese instellings, en of die situasie dalk bo sy vuurmakplek is en hy nie weet watter kant toe nie. Dalk is daar soveel geraamtes in soveel kaste, en soveel gevestigde en onbreekbare binnepartylojaliteite, dat selfs die moeë voorman van 11 Februarie se Staatsrede nie in staat is om enigiets radikaal om te keer nie. Sy versuim byvoorbeeld om die ernstig bedenklike model van SEB in hierdie ekonomies-benarde tye te herverbeel, dui waarskynlik op die ANC/RET-hiënas wat dreig om hom dood te byt sou hy dié Klub vir Gekonnekteerde Korrupte Kaders vasvat.

Hy moes sekerlik al in sy vele slapelose nagte gewonder het of hy regtig sy Grondwet se visie tot uitvoering kan bring met die huidige ANC in die saal. As die eerlikes, fluitjieblasers en ongekompromitteerdes die party uit vrees en verjaging verlaat (soos die twee vermelde parlementslede hier bo), en as jou eertydse vertrouelinge, soos jou eie woordvoerder, Khusela Diko, hul aan vergrype tydens die grootste menslike krisis in ’n halfeeu skuldig maak, wonder jy seker: Wat bly dan oor?

Jesse Duarte slaan toe op 10 Februarie die spyker in die doodskis met ’n Daily Maverick- meningsartikel waarin sy reëltjie vir reëltjie die Zondo-kommissie verdag maak en kortliks in weerwil van die Grondwet verklaar hoe partylojaliteit ’n strukturele kleinood is, so in die gesig van wat sy nie sal erken ’n grootskaalse gesteel uit die monde van die kwesbaarstes is nie. Soos Hans Pienaar in ’n gevleuelde dog skerp jeremiade oor Suid-Afrika se skyndemokratiese moment betreur, het die ANC se boosste plunderaars hulself binne die letter van die Grondwet in alle magsposisies ingegrawe, met die gevolg dat betekenisvolle veelpartydemokrasie straks ’n yskasmagneet geword het. Die revolusionêre swier en metodiek van die bevrydingsjare het net so in hierdie strukture ingewriemel. Die skelmstes het besef dat struggle-nostalgie ’n volmaakte masker geword het om ’n skyn van ’n morele hoë grond met die een voet te behou, maar met die ander op die nasie se nekke te trap en van maatskaplike hulpbronne te besteel.

In die jare 152–146 vC het die Romeinse senator Cato die Sensor herhaaldelik sy toesprake in die Romeinse senaat met die frase Carthago delenda est afgesluit, vertaalbaar uit die Latynse konteks as “Kartago móét vernietig word.” Rome was gewikkel in ’n koue oorlog met die stadstaat Kartago. Die twee moondhede kon in die handels- en politieke wêreld van die Middellandse See bloot nie saam bestaan nie, en reeds twee oorloë het Cato se toesprake voorafgegaan, waarvan die stryd teen Hannibal en sy olifantweermag een was. Kartago was Rome se groot mededinger en aartsvyand, en was alles wat Rome nie was nie. Rome was ’n republiek, geregeer deur die mense se verkose verteenwoordigers. Kartago was ’n oligargiese stadstaat, geregeer deur ’n adelstand van ryk seehandelaars. Ideologies kon Rome nie die Middellandse See met ’n staat deel wat Rome se demokratiese stelsel aanhoudend uitgedaag en dit teen haar probeer gebruik het nie. Oplaas het Kartago haar ambisieuse en magsgierige vingers verbrand, en Rome het tydens die derde oorlog gehoor gegee aan Cato se gepleit: Kartago is met die grond gelyk gemaak. Slegs daarna kon Rome weer as handelsrepubliek floreer, en het ons vandag haar basiese demokratiese instellings en tradisies oorgeërf.

Dit is lankal tyd om op te hou genadig wees met die ANC en te hoop op nuwe invloedryke kaders met demokratiese en dienaarsinstinkte. Rome het vir baie generasies tussendeur die Kartaagse oorloë gewag op ’n vreedsamer mededinger, maar die Kartaagse leiers se leefwyse van patronaatskap, hebsug en oorheersing het aangebly en gegroei. Die hoop het beskaam, en so ook het enige hoop dat die diep verrotte ANC sal herstel. Die ANC sal heeltemal moet ontbind en veroordeel moet word vir die onwettige misdaadkartel wat dit werklik is. Die ANC is nie bestaanbaar met ’n grondwetlike Suid-Afrika nie, en sal soos Kartago tot op die grond toe afgebreek moet word sodat die armes, verraaides, ontneemdes en teleurgesteldes sout oor die ruïnes kan strooi. Vir die nasie om te leef, sal die ANC moet sterf.

Korrupsie, gekamoefleer deur ideologiese sentralisme, is nie met die Grondwet van ’n liberaal-demokratiese ontwikkelingstaat bestaanbaar nie. Ons sal altyd die ANC van die 1990’s in die geskiedenisboeke kan bestudeer en selfs waardeer. Nou is dit egter die tyd om aan te dring, gewapen met die oppergesag van die reg en die stembus, of selfs deur burgerlike ongehoorsaamheid: “ANC delenda est!

  • 18

Kommentaar

  • Henning Janse van Vuuren

    Nogtans desnieteenstaande omdat skryf André P. Brink heel gevat in 'Kennis van die Aand':

    ‘Toe Segismundo dié keer wakker word, opnuut geketting en misrabel, was daar ʼn stukkie dialoog wat Calderon nie sou herken het nie:

    “Was dit ʼn droom?” vra die prins aan sy bewaker Clotaldo. “Maar jy was tog ook daar, ek het jou gesien. Nou is ek weer hier, kyk my kettings. En jy? Waarom is jy nie ook geketting nie?”
    “Ek is wit,” antwoord Clotaldo.
    “Jou dag sal kom,” sê Segismundo.
    En toe ons by daardie woorde kom, toe staan die hele saal soos een man op, al daardie honderde mense, en hulle skreeu:
    “Jaaaaaa!”

    Nogtans desnieteenstaande omdat.

  • Gustaf Claassens

    Jy hoef nie onseker te wees oor die heer Ramaphosa nie, Frederik. Daar is min, indien enige, verskille tussen hom en sy kamerade. Dis soos vinkel en koljander, die een soos die ander. Ons mors ons tyd om op 'prinse' te vertrou. Ramaphosa dra sy eie mense se belange op die hart al is dit ook meestal net lippediens. Al sy aksies en uitsprake wys dat hy nie 'n duit omgee vir ons as 'n minderheidsgroep nie. Inteendeel...

    As ons werklik wil vorder moet ons op ons eie mense se kundigheid en vermoëns staatmaak. Ons sal meer moet omgee en mekaar help. Die ANC leierskap is inherent korrup. Ramaphosa is net meer gesofistikeerd as van sy kollegas. Hy het die debat van die kombuis na die sitkamer verskuif. Dis al. Ons toekoms lê in ons eie hande.

    Soos meesal die geval, het ek jou bydrae geniet en insiggewend gevind.

  • Johann Basson

    Puik gestel. Dankie.

    Die ANC DNS met sy "principle of democratic centralism" is in sy diepste wese sosialisties-kommunisties met korrupsie as voedingsbron. Die partydogma van gesentraliseerde mag is onbestaanbaar met geregtigheid, naasteliefde en die wese van demokrasie en die Grondwet.

  • Ek stem saam met die voorwaarde dat daar 'n ander party of beweging ontwikkel wat kan regeer. Die partye wat tans opponeer wys ooglopende tekortkominge uit en dit is te betwyfel dat daar leiers is wat sterk genoeg is om die leisels oor te neem. Jong nie-rassige politici met nuwe idees oor hoe om die land te verenig is broodnodig en so opvallend in hulle afwesigheid.

  • Johann Basson

    Ek sien geen toekoms vir 'n Suid-Afrikaanse nasie tensy al die huidige ANC- en EFF-leiers, hul kinders en kleinkinders oorlede is nie, TENSY die ANC en EFF se stemvee se harte en denke gewen kan word vir 'n ander toekomspad en hulle spoedig gespeen kan word van afhanklikheid en aalmoese van enige politieke party.

  • Johann Basson

    Lesers kan gerus die artikel van RW Johnson in Politicsweb van 17 Februarie 2021 lees, getiteld: "Thinking about state failure (1)".

  • Ons kort nuwe politieke leiers. Nierassige, eerlike leiers wat die kiesers dien en nie hulle eie belange nie. Die ANC is korrup en mens kry die gevoel dat die huidige opposisie nie ver agter is nie.

  • Anthony "Speedo" Wilson

    President Ramaphosa het 'n baie goeie voorbeeld genoem tydens sy Staatsrede. Hy't gepraat van die fynbos wat afgrebrand word sodat daar nuwe gewasse kan groei; dalk het die ANC ook so 'n suiweringsvuur nodig om nuwe lewe voort te bring! Want die Here weet, SO KAN DINGE NIE VOORTGAAN NIE!

  • Hans Richardt

    Baie pro grondwet besef skynbaar dat na die grendelstaat, Wet 108/1996 net nog 'n stuk papier is, waarin 'n klomp idealistiese postulasies is, wat met regulasies ignoreer word deur ANC bevelsraad, wat met opposisie partye se instemming, sagte staatsgreep uitgevoer het. Die konstitusie en grondwet is 2 goed in SA, want wat in praktyk gebeur is nie wat veronderstel was nie in tasbaar geskrewe konstitusie nie. Die grondwet in praktyk toegepas, was reeds met wetgewing en regulasies ingrypend verander. Bv die konstitusie postuleer 11 amptelike tale, maar net Engels is in praktiese toegepasde grondwet amptelike taal. Almal is gelyk, maar politieke gedefinieërde swartes is meer gelyk, veral kaders in dampkring van Luthuli-huis.

  • Gerry Mostert

    Goeie artikel.
    Net soos Deon Meyer in sy boek, "Koors" die huidige virus vooruit was, was Eben Venter met sy boek, "Horrelpoot", RW Johnson se nuutste artikel in Politicsweb, "Thinking of State Failure (II)" vooruit met wat ons te wagte kan wees in die nie so verre toekoms.

  • Hans Richardt

    My eerlike opinie is dat skrywers van Grondwet kortsigtig was in Art 235 en ook Hoofstuk 7, wat uitgebrei kon word, vir privaat stadsrade en/of distriks-munisipaliteite.
    Soos die regeringstelsel tans funksioneer, is dit onbekostigbaar en totaal disfunksioneel.
    Bv nasionale gesondheid, provinsiale gesondheid en metro/distriks-munisipaliteite gesondheid departmente? Dis duur triplisering van dieselfde department en lei tot baie swak dienslewering. Onlangs was storie oor Koster, Swartruggens distrik-munisipaliteit se riool en watervoorsiening oorgeneem deur gemeenskap en binne weke uitsorteer. Ek huldig die opinie dat politici apart moet funksioneer van die tegnici en pennelekker burokrate. Bv 'n kader "councillor" wat aan 'n tegniese ambagsman opdragte gee as "baas" is onding, tensy "councillor" dan behoorlik opgeleide en gekwaliseerde engineur is. Partybeleid is nie tegniese kennis of kwalifikasies nie. Moenie "doktor" Pallo Jordan vergeet nie...wat toe geen "doktor" was nie. Of NDZ wat 'n mediese kwalifikasie het as minister van Grondwetlike en Tradisionele aangeleenthede? Terselfdetyd is ons huidige minister van gesondheid nie regtig opgewasse vir sy taak nie. Partydogma is ellendige verleentheid vir SA bevolking, maar seker wat IMF en Wêreldbank wil hê, want enige nasionalistiese neiging is mos misdaad teen mensdom...

  • 100% saamgevat, dankie!
    Laat my met misnoeë terugdink aan die laat 80's, toe nog deel van die duisende passievolle studente wat gretiglik die UDF ondersteun het, wat toe maar net nogmaals gebruik is, om sodoende die ANC as die 'Verlosser' van die nasies aan te dui. Hoe het menigte van ons nie geval vir daai idilliese Utuopia nie!
    Nee wat ANC beslis: "Dalenda est!"

  • Besin voor jy begin. As die Kodesa-onderhandelaars veral die wat vroeg aanknopingspunte met die verbanne ANC dit ingedagte gehou het, het sake dalk anders gelyk.

    As enigiemand 'n sg "bevrydingsorganisasie" wat nie geskroom het om van sy eie
    afwykendes met RPG aan flarde te skiet nie en die sekuriteitsmagte van ander lande ingespan het om enige interne opstand te onderdruk as moreel verhewe beskou het - word nou wreed ontnugter.

    Dit is welbekend dat korrupsie hoogty onder die ANC-elite in ballingskap gevier het en dat skenkingsgeld op grootskaal vir eie gewin misbruik is en die misleide MK-soldate in armoede en onder swak omstandighede geleef het.

    Op plaaslike regeringsvlak het dit nie beter gegaan nie. Wit amptenare is op talle vegaderings verneder en uitgelag en so het een kameraad op 'n vergadering, waar amptenare die werking van 'n moderne munisipaliteit deur middel van Power point-voorleggings probeer verduidelik het, glo wreed onderbreek met:
    "I have listened to the clowns - now I want speak to the boss of the circus."

    Hiermee het hy dit duidelik gemaak dat dit eintlik net gegaan het om uit te vind hoeveel geld die ryk wit stadsraad in die skatkis het.

    Vandag is die sogenaamde "clowns" weg en is die middedorp van die stad wat eens die die juweel van die Oos-Rand was, 'n vervalle hool waar misdaad hoogty vier en die eens historiese Stadsaal in 'n vervalle toestand met onkruid en gras wat meters hoog staan. Wie die arme belastingbetaler wat 'n dag laat met sy betaling is - die volgende dag is 'n finale waarskuwing in jou posbussie en word 'n vet boete by die uitstaande bedrag gevoeg.

    Ja daar is maniere om te onderhandel en dat die sg "wigte en teenwigte" wat vir balans sou sorg net papiergewigte wat soos mis voor die son verdwyn wanneer
    die ANC sy besluite teen alle gesonde verstand in sy besluite stoomroller? Hoe anders het 'n korrupte president 'n dekade lank aan bewind gebly en Suid-Afrika tot rommelstatus bestuur?

  • Hans Richardt

    Die destydse "verregses" was nie versiende skeppende denkers of pragmatiese skeppers nie. Nou het Solidariteit gegroei in volgende Afrikaner kollektief, wat tasbaar in toekoms vir kollektiewe regte kan onderhandel, met ANC. Die konsep "wit tuisland" was grootste kniehalter en verspeelde geleentheid.
    Noudat ek afgetree het, het ek met rustigheid kon dink. Ek weet nou dat al het ons die veldslag in 1994 verloor, is ID du Plessis se gedig in my agterkop, solank mens slimmer die stryd voorsit en onthou om aan te hou asemhaal, is die stryd nog nie verlore nie.

  • Hans Richardt

    Ek het hoegenaamd geen respek vir Frederik se opinie nie. Die Zondo-kommissie is doodgebore, net soos die destydse WVK. Daar moet sondebokke gestraf word, maar die ANC bly oorleef? Die ANC is vrot en met die huidige sagte staatsgreep en korrupsie dien Zondo geen doel anders as om Zuma by te kom nie. Staatskaping gaan steeds voort met die ANC aan bewind.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top