Amper Frans – die perfekte antidoot teen styfhoofdigheid

  • 0

Louis Jansen van Vuuren se Amper Frans is die ideale medisyne vir lesers wat 2020-sat is. (Foto’s: verskaf)

Met die verskyning van Louis Jansen van Vuuren se Amper Frans word mens opnuut herinner aan die skynbaar eindelose veelsydigheid en vernuf van dié kunstenaar-skrywer. Amper Frans is ’n hoogs vermaaklike terugblik op die avonture van Louis en Hardy Olivier, sy lewensmaat met wie hy in 2013 getroud is. Dié twee is veral bekend vir hoe hulle La Creuzette, ’n vervalle château op die Franse platteland, met sorg en deursettingsvermoë in ’n boetiekhotel omskep het.

As kunstenaar het Louis Jansen van Vuuren wyd sukses behaal, en sy werke word in galerye in die Franse hoofstad uitgestal waar dit soos soetkoek verkoop. As skrywer het hy ’n rits boeke op sy kerfstok, onder andere die digbundel Tempermes wat in 2010 met lof deur kritici ontvang is.

“Ek is passievol oor uiteenlopende dinge,” vertel Louis. “Vir die skeptiese bitterbek bly ek ’n jack of all trades … maar daaraan stuur ek my nou nie meer nie. Die lewe is doodgewoon te kort om met lelike mans te dans.”

Uit Louis se kwas: Delft on my mind (Foto: verskaf)

Bedags doen Louis ’n “two-step tussen die atelier en die skryftafel”. Skryf is deel van die daaglikse roetine soos tandeborsel en vlos. “As ek skryf en verf, dink ek darem so ’n bietjie. Skryf en skilder loop reeds van my kinderdae af saam. Van my skool- en studente-krabbels is, met knip en snoei, in Tempermes opgeneem.” Louis het aanvanklik nie daaraan gedink om sy gedigte te publiseer nie, maar Riana Scheepers het hom aangemoedig om dié “wilde sprong” te neem. “Om die waarheid te sê, sy het my ’n stampie gegee. En my broek bewe nou nog. Ek werk graag aan gedigte laat in die nag wanneer dit donker en stil is en ek my hart kan hoor klop.”

En al het Louis al die 70-mylpaal verbygesteek, knaag die senuwees nog elke keer wanneer ’n nuwe boek verskyn of wanneer ’n tentoonstelling geopen word. “Ek is al amper honderd en dit voel steeds soos die eerste keer.”

Louis se Vermeer vir minder (Foto: verskaf)

Gewone sterflinge kyk met verwondering na Louis en Hardy se lewe in Frankryk. En Amper Frans is die beste medisyne vir mense wat sat is vir 2020 se uitdagings. Die boek is ’n vrolike, inspirerende ontsnappingsmeganisme uit die COVID-realiteit na ’n ander wêreld waar drome bewaarheid word. Trouens, as skoolseun in Middelburg (in die ou Transvaal) het Louis al visioene gehad oor ’n lewe in Frankryk. In Amper Frans vertel hy hoe ’n joernalis destyds haar neus opgetrek het vir ’n skildery met ’n Franse titel wat in sy skooltentoonstelling ingesluit was. Daardie einste skildery was ’n uitdrukking van die droom wat hy vroeg reeds gekoester het. En hóé het Louis se droom van ’n lewe tussen die Galliërs nie waar geword nie!

Maar Louis ondermyn enigiets wat “glamorous” mag klink met ’n kwinkslag: “Ek knyp myself elke nou en dan net om seker te maak alles is nie ’n hokus-pokus-affêre nie. Toeval, waagmoed en domastrantheid is die argitekte van my lewe. En miskien, vir dié wat daaraan glo, ’n flerts goeie karma.”

Al lyk dinge soms van ver af blinkgepoets, was daar oomblikke van mislukking wat Louis en Hardy se harte ’n paar keer byna laat staan het. “Ons is van die oortuiging dat niks onmoontlik is nie. Dit is miskien naïef en ’n raps kinderlik, maar dis ons baldadigheid wat ons gebring het waar ons vandag is.”

En moenie dink Louis rus op sy louere terwyl hy teug aan die heuningsmaak van materiële en ander sukses nie. Hy stort al jare lank sy energie in die ontwikkeling van jong kunstenaars. “Mense het my gehelp toe ek ’n kêskuiken was. Ek wil graag, waar ek kan, die stokkie aangee.” Elke jaar stel Louis ’n groepstentoonstelling met gevestigde en nuwe kunstenaars saam ten bate van nagraadse kunsstudente aan die Universiteit Stellenbosch. “Dié beursinsamelingsinisiatief neem my maande om bymekaar te sit. Die vreugde lê daarin dat ons reeds nagenoeg 18 nagraadse studente kon help sodat hulle hul studies kon voltooi.” In Maart 2021 maak hulle weer so.

Jonk en roekeloos mooi – Louis saam met medestudente in sy Matie-dae (Foto: verskaf)

In sy Franse studio bied Louis ’n mentorskapprojek aan waarby jong kunstenaars soos Nhlanhla Nhlapo, Klara-Marie den Heijer en Ruan Huisamen al gebaat het. Dié opkomende talent kry geleentheid om saam met Louis te kan tentoonstel. Verder is hy besig met ’n aanlyn opleidingsprojek waardeur hy ’n jong kunstenaar van die Prins Albert-gemeenskapstrust (PACT), Alcado Blom, ondersteun en slyp vir sy eerste tentoonstelling in die nabye toekoms.

La Creuzette is steeds die spil waarom Louis en Hardy se lewe draai, al het hulle dié gesogte woning vier jaar gelede aan vriende verkoop. “Ons het vir 15 jaar in La Creuzette op die boonste verdieping gewoon,” vertel Louis. “Met die honde in die kelder. Dit het ál minder privaat geword met die vloed gaste wat weekliks kom en gaan. Ons koop toe ’n kleiner huisie op die rand van die dorp. Hardy wou nie meer in die ‘kantoor’ woon nie. Dit is net die eerste keer snaaks as jy met jou adamspak aan in gaste vasloop wat koffie soek.”

Hardy en Louis is steeds die kuratore van dié fabelagtige bestemming, en hulle het nou ook ’n bestuurder wat op die perseel woon. “Ons kook, skilder, skryf en kuier steeds saam met die gaste, maar ná ete gaan ons huis toe. Huis is ’n ou jagpaviljoen op die rand van ’n 75 hektaar-woud 19 kilometer buite Boussac.”

Amper Frans se subtitel, ’n Lewe van fanfare en faux pas, bevestig die humoristiese aanslag in Louis se narratief. Oomblikke van uitbundig lag is volop, veral omdat Louis nie skaam is om dinge ten koste van homself te vertel nie. “Ek lag dikwels hardop vir myself,” sê hy, “want ek kan soms simpel en hardkoppig wees. Lag, soos al ons oumas gesê het, is die heel beste antidoot vir styfhoofdigheid en ander hardnekkige nukke. Humor is vir my net so belangrik soos dankie en asseblief.”

In Amper Frans word daar heerlik draak gesteek met die Franse se reputasie vir sosiale etiket en hul obsessie met die korrekte toepassing daarvan. Louis se beskrywings van dié gewoontes en die vele faux pas wat hy as boerseun uit Middelburg al begaan het, is skreeusnaaks. Maar raak hy nie soms gatvol vir die Franse se maniertjies nie?

“Gatvol is ’n understatement. Ek kan partykeer iets oorkom wanneer die Franse so vol aansit en fiemies raak. Een van die dinge wat my nou nog dwars in die krop steek is wanneer jy by ’n Franse uithangete aankom, en almal moet wag tot die laaste gas opdaag voordat ’n kurk skiet of getrek word. Al is ’n gas veertig minute laat. Jy bly droëbek sit tot sy sonder verskoning opdaag. Nie eens ’n slukkie Perrier of pomwater nie.

“By die huis maak ons na dese ’n vinnige partytjie-toe-gaan-dop voordat ons die pad vat.”

Beskrywings van kos en allerlei geregte in Amper Frans laat die mond water. Louis en Hardy se hande staan natuurlik vir niks verkeerd wanneer dit by die kospotte en onthaal kom nie. En wie, volgens Louis, is die beter sjef van die twee?

Kunstenaar in die kombuis: Louis verf kos op gaste se borde. (Foto: verskaf)

“Hardy en ek is teenoorgesteldes in die kombuis. Hy kook rustig en instinktief. Al geselsend, met ’n glas wyn in die hand. Hy werskaf terwyl die gaste om hom saamdrom. Hy verduidelik tussen elke sluk wyn iets oulik van die resep wat hy maak. Wanneer iets skeefloop, soos ’n ligte aanbrandsel van ’n béchamelsous, lag hy dit gewoon af en begin van voor af.

“Ek beplan weer dae voor die tyd. Prep alles soos vir ’n hartoperasie. My glas wyn staan uit die pad op ’n rak in die hoek van die kombuis. Die gaste sit by die tafel en wag terwyl ek en my trawante die disse een vir een tafel toe bring. Met wit handskoene en al. Ek hou van ’n show.”

En raak Louis soms lus vir ’n sny brood met grondboontjiebotter en stroop?

“Grondboontjiebotter op neutbrood is my gunsteling-snack. En wanneer niemand kyk nie, sit ek ’n marshmallow bo-op. Ons kry nie goue stroop hier nie.”

In Amper Frans bring Louis hulde aan Annette de Villiers, ’n vriendin, nou ter siele, wat hom gehelp het om opgang in Franse sosiale kringe te maak. Wanneer hy vertel van die mense wat hy ontmoet het, klink dit maklik na “name-dropping”, maar alles behalwe. Skeptici mag dit dalk as oppervlakkig beskou, maar iémand moet skouers skuur met wêreldberoemdes. Só het Louis al met Philippe Junot, prinses Caroline van Monaco se eerste wederhelf, praatjies gemaak.

“Dis bitter jammer dat Annette nie meer met ons is nie. Sy was die goue sleutel tot die Franse who’s who. Ongelukkig het nie een van die hoë holle wat ek saam met haar ontmoet het, my op speed dial nie,” vertel Louis. “Ek moet nou tevrede wees met die eentand hertog en ’n brandarm gravin wat in ’n half kaal château oorleef. Meeste van die tapisserieë en Louis IV-meubels is reeds verpand.”

En soos dit ’n avonturier betaam, hou Louis se voornemens om hom tydens “grênd geleenthede” te gedra, nooit lank nie. “Ek probeer gewoonlik my bes om ordentlik te wees, maar met ’n aksent soos myne hou die charade nie lank nie. Dan word ek stout en moedswillig. My nek is gewoonlik teen daai tyd uit lit uit van al die rondkyk sodat ek niks misloop nie.”

Louis in aksie in sy studio (Foto: verskaf)

Graaf Hubert James Marcel Taffin de Givenchy, die modeontwerper wat mense soos Audrey Hepburn en Jacqueline Bouvier Kennedy uitgedos het, is maar een van die vele beroemdes met wie Louis paaie gekruis het. “Hy het my beïndruk met die vriendelike en natuurlike manier waarmee hy met lightweights soos ek verkeer. Dit was wel sý partytjie, maar hy het heel rustig met my gestaan en skerts. Sy oë natuurlik die heeltyd op my mooi vriendin gerig.”

Louis se verbintenis met Suid-Afrika en Afrikaans staan sterk soos altyd, en hy sien uit na ’n besoek aan die Weskus aan die einde van die jaar. “As ek in Frankryk is, dan is ek dáár en as ek in Suid-Afrika is, dan is ek hiér. Ek verlang selde na die een of die ander. Wat ek wel soms mis, is sekere smake. Soos pain au chocolat as ek op die Weskus na iets soet soek, en roosterkoek as ek in Boussac na iets sout soek.”

Dit het byna 21 jaar geneem om werklik tuis te raak in Frankryk, vandaar die boek se titel. Volgens Louis knipoog die opvolg reeds op die tekenbord met “Uiteindelik Frans” as werkstitel.

Dis nie aldag dat jy skrywers of kunstenaars kry wat finansieel welvarend soos Louis is nie. Wat is die geheim van sy sukses? Moet ’n mens ryk erf, of het jy ’n eks-bankier soos Hardy as lewensmaat nodig om die geldwa deur die drif te trek? Louis lag lekker wanneer hy verduidelik: “As skrywer sukkel-sukkel ek ook maar. As prentjiemaker gaan dit effe beter. Dis miskien goed om die illusie van welvaart so effe te besweer, alhoewel ek die make-believe aantreklik vind.

“Ek het 26 jaar se universiteitspensioen, en Hardy al sy bankbêregeld, ingeklok vir ’n rammelkas-château in Frankryk. Om die finale betaling te kon bybring, moes ek vóór oordrag ’n blitstentoonstelling in Kaapstad hou. Die bankwolf was toe vir eers van die kasteeldeur af weg.”

Louis vertel dat hy en Hardy “ewe arm” in Frankryk aangekom het. “Maar dit help baie as jou lewensmaat ’n bankier was. Hy het my spandabelrigheid so gesnoei en ingeperk dat ek dit nou amper geheel en al afgeleer het.” Om sy “boek- en prentjieverkope” aan te vul, het Louis ’n “smouswinkeltjie in die dorp” oopgemaak, en hulle dop ook die euro’s en rande ’n paar keer om voordat hulle dit oor ’n toonbank skuif. “Ryk erf was in ons geval nooit ’n opsie nie. Hoe sê die Franse? Tant pis (never mind).”

Die enigste meevaller was “harde werk, rêrige harde werk, met ’n duidelike droombeeld op die horison”.

Louis en Hardy voor La Creuzette (Foto: verskaf)

En nou, met die 70-kerf verbygesteek, geniet Louis die vrugte van sy arbeid. Van pyne en skete is daar min sprake, want hy het in sy laat sestigs net plante begin eet. “Ek weet vir seker dat sommige mense nou hulle oë gaan rol. Dit het, glo my as jy wil, ’n paar van die meer gewigtige kwinte en kwale laat kwyn. Ek vermy opsetlik die vegan-woord omdat dit soos iets uit die Boek van Openbaringe klink, maar groen is my nuwe swart. My kombuistuin is my gunstelingplek. Jare gelede was dit Angelina’s in Parys, maar nou is ek op my gelukkigste tussen my rape, tamaties en pampoene. Die meeste van ons kos kom nou uit die tuin, wat ek – hold your horses – met damwater self natlei.”

Maar elke week steek Hardy ’n braaivleisvuur aan, en dan rol Louis sý oë. Vir Hardy en die twee honde is die weeklikse braaivleis ’n hoogtepunt op “die werf se kalender”.

“Ek probeer om in die nou te leef asof daar geen môre is nie,” sê Louis. “Soms steek daar ’n ligte paniekaanvalletjie sy kop uit wanneer ek wankelrig voel. Veral laatnag ná ’n Netflix-binge. Dan sukkel ek om uit die diep rusbank op te kom. Maar ’n boerseun maak ’n plan: My oë is gerig op twee La-Z-Boy-stoele in die dorp se meubelwinkelvenster.”

Louis verwys na Hardy as sy “lewensmaat” omdat hulle “bowenalles sewe sakke sout en wavragte baguettes saam verorber” het. Lank verby is die dae toe Louis ’n kannetjie in Middelburg was en dit nog “sonde” was om gay te wees. “Dit was inderdaad ’n moerse sonde om in daardie dae jou buurman óf sy seun te begeer. Genadiglik is dinge nou makliker as toentertyd,” sê hy.

“Die dorpsmense het nie veel van ’n oog geknip toe ons La Creuzette gekoop het nie. Ons is uit die staanspoor saam uitgenooi as meneer en meneer. Wat agter die hortjies gesê is, weet ons tot vandag toe nie.”

La Creuzette in die winter (Foto: verskaf)

Mense wat vir Louis ken, kan dit nie verhelp om hom in rojale terme te beskryf nie. Riana Scheepers vat dit raak wanneer sy vertel hoe Louis mense met sy “vreeslose, verbysterende tuimeling die onbekende in” op nuwe avonture meesleep. Leonie Scholtz beskryf Louis as volg: “Hy is nie snoep met sy talente nie en hy strooi dit soos pêrels ruimhartig en wyd, meelewend uit, na ons almal wat gretig hunker om ’n stukkie van hierdie uitsonderlinge skoonheid in ons eie bestaan vas te vang … en om dit soos ’n kosbare halssnoer om ons nek te dra, en trots uit te stal vir dié wat na skoonheid smag, die middelmatige wil besweer, en die felheid van die verganklikheid wil verdoof.”

Maar wat sien Louis Jansen van Vuuren wanneer hy soggens voor die badkamerspieël staan?

“Die spieël-kyk-ding is nie elke slag dieselfde nie. In die oggend wanneer ek tande borsel (en vlos) sien ek gewoonlik my slaapkepe en deurmekaar hare raak. In die oggendlig is die sakkies onder my oë en die voue om my mond heeltemal aanvaarbaar.”

Maar meeste van die tyd staan daar ’n man voor hom: “Jonk en driftig en net ’n klein bietjie bang.”

Vir Louis lê skoonheid in kuns en die gawe om te skep, en natuurlik in die oog van die waarnemer. “Daar is skoonheid in die ongerekende werksproses. Die saamsnoer van kleur en vorm. Om ’n prentjie uit ’n denkbeeldige impuls te skep.

“Soos woorde wat soms sinne word.”

 

* Amper Frans het onlangs by Jonathan Ball verskyn en is in Engels beskikbaar as Almost French.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top