Prent: Canva
............
In die November 2023-uitgawe van The Economist skryf John Prideaux dat Amerika ’n nuwe leksikon benodig om vanjaar se verkiesing te bespreek. Met net meer as ’n maand oor tot stemdag voel dit asof woorde ontbreek om te beskryf wat tans in die VSA gebeur. Die Amerikaanse politieke alfabet, asof in ’n tuimeldroër gegooi, blyk ontoereikend te wees vir die ontleding van die gang van sake.
.............

Twee sluipmoordpogings op Donald Trump in minder as twee maande is uiters kommerwekkend. Dit sou gewoon onverantwoordelik wees om te dink dat nog ’n poging in die volgende weke om Trump te skiet, nie waarskynlik is nie. ’n Suksesvolle poging kan die spreekwoordelike vonk in die kruitvat wees wat ongetwyfeld sal lei tot algehele chaos in die land wat deur baie mense as die bakermat van die Westerse demokrasie beskou word. ’n Gevaarlike situasie wat geensins bevorderlik sal wees vir internasionale stabiliteit nie.
Wat is aan die gang in hierdie land wat oor dekades heen te koop loop met “die Amerikaanse droom” en wat so dikwels as voorbeeld vir die res van die wêreld voorgehou word? Een ding is seker: Die 2024-verkiesing is ’n maak-of-breek-oomblik vir die VSA. En ons hier in Suid-Afrika het rede om asem op te hou.
.........

Die mees voor die hand liggende rede vir die onaangename politieke atmosfeer in Amerika tans is die presidensiële kandidate. ’n Situasie wat die foutlyne van daardie land duideliker as ooit vantevore beklemtoon.
Kamala Harris is besig om met bekwame spoed te red wat te redde is aan die Demokrate se kant nadat president Joe Biden genadiglik teruggestaan het. Paradoksaal het die drama rondom Biden ’n verrassende energie onder Demokrate losgelaat toe wyslik besluit is om Harris as kandidaat te aanvaar. Dit is egter ook waar dat sy nie by almal ewe gewild is nie.
Selfs met Harris nou in die prentjie bly die vraag steeds of hierdie kandidate die beste is wat ’n land soos Amerika met ’n bevolking van oor die 300 miljoen mense kan oplewer? Tot ’n groot mate, dus, sien ons ’n leierskapsvakuum wat bydra tot ’n gebrek aan visie en gebrekkige sosiale kohesie onder gewone Amerikaners.
Is hierdie toedrag van sake moontlik die gevolg van ’n ongebreidelde kapitalisme waar die smagting na materiële rykdom edele motiewe soos diensbaarheid aan jou land en sy mense oorskadu? So beskou, bevind al hoe minder bekwame mense hulle in die politieke arena. Daar is geld om te maak en basta met die res.
Die Trump-faktor: Hy is die verpersoonliking van alles wat verkeerd is in Amerika. Onverdraagsaam, egogedrewe en ’n argetipiese chauvinis. Om nie te herhaal wat al tot vervelens toe oor hom geskryf is nie en te volstaan met sy totale gebrek aan karakter wat vereis word om as leier van die vrye wêreld verkies te word. Moreel bankrot, visieloos en onbetroubaar. Met erkenning teenoor Koos Prinsloo, die hemel help ons as hy op 5 November as president verkies word.
Met min of geen sin vir verantwoordelikheid nie skep Trump ’n toksiese klimaat met sy omstrede uitsprake wat nie alleen lagwekkend is nie. Dit het ’n duidelike innuendo wat geweld regverdig. Met hierdie retoriek wat die Demokrate as vyande van Amerika uitbeeld, word die vatbaarheid vir geweld vererger.
Die werklike Amerika sien veel anders daar uit as die Hollywood-weergawe van daardie land. Polarisasie as vernaamste merker van die geopolitieke landskap word deur veral drie faktore gekenmerk: ekonomiese ongelykheid, Christelike fundamentalisme en ’n geweldskultuur wat nie langer ontken kan word nie.
...........

So goed en vooruitstrewend as wat dit gaan daar hoog bo in die wolkekrabbers neffens Central Park in New York, so ellendig gaan dit soms in die meer landelike dele van die land waar die voetsoolvlak-ekonomie die knie moes buig voor ongebreidelde kapitalisme. ’n Mens dink hier aan korporatiewe sakeryke soos Walmart. Die werkersklas in die algemeen is dikwels in ’n finansiële oorlewingstryd gewikkel. Dit is sulke mense wat aanklank vind by Trump se populisme. Voeg hierby die kwessie van immigrante, veral waar toestroming ’n probleem blyk te wees, en jy het ’n teelaarde vir opswepery en aanhitsing tot geweld.
Ongelukkig verander geloof baie keer in ’n tipe goedgelowigheid wat nie bevorderlik is vir rasionele gesprekke rondom die uitdagings van ’n snel veranderde wêreld nie. Weer eens onderskei Trump hom daarin om hierdie swak plek by mense tot sy voordeel uit te buit. Dat hy twee sluipmoordpogings oorleef het, is mos ’n duidelike teken van die voorsienigheid. God is aan sy kant. Hoe kan jy teen hom wees? En almal in diens van die duistere magte (lees Demokrate) moet verslaan word. Die spoed, intensiteit en reikwydte van sosiale media vertienvoudig die effek van riskante politieke aansprake. Voeg hierby baie Amerikaners se oënskynlike vatbaarheid vir samesweringsteorieë.
Sluipmoorde is op ’n manier deel van die Amerikaanse verhaal: Abraham Lincoln, John F Kennedy, Martin Luther King jr, om enkele voorbeelde te noem. Die Wilde Weste as leitmotief? Die geweldskultuur word verder versterk deur die verspotmaklike verkryging van vuurwapens in Amerika. Dat daar vanjaar reeds 45 skietvoorvalle by skole in daardie land was, is ’n bevestiging van ’n trigger-happy mentaliteit. In 2023 was daar 82 skietvoorvalle by skole. Ontkenning van die probleem is ’n probleem op sigself.

Veral die eerste sluipmoordpoging op Trump het ernstige gebreke by die geheime diens en wetstoepassingsagentskappe in die algemeen beklemtoon. Veral kommerwekkend is gebrekkige intelligensie. Amerika se veiligheidsgemeenskap is juis nou, wanneer dit akuut benodig word, kennelik nie op peil nie. Veiligheidsprotokolle moet nougeset nagekom word en waaksaamheid in die algemeen mag onder geen omstandighede verslap word nie.
Die pad na die Withuis is nie vol duwweltjies nie. Dit is besaai met landmyne. Die situasie is meer plofbaar as ooit. Die spanning sal toeneem soos wat stemdag nader kom. En nog is dit het einde niet as die stemme getel is en ’n wenner aangekondig word.
Dit is ondenkbaar dat die euforie van ’n eerste vroulike president in Amerika met passiwiteit deur Trump se ondersteuners gade geslaan sal word. Die Demokrate sal as stemdiewe uitgekryt word en tot watter mate Trump-hulle hulle teen die uitslag sal verset, kan ons maar net raai.
Met Donald Trump in die Withuis kan ons politieke wraak, onvoorspelbaarheid en chaos in die algemeen verwag. ’n Verswakte Amerika is nie bevorderlik vir internasionale stabiliteit nie. Kenners is byvoorbeeld baie bekommerd oor die toekoms van Navo sou hy as president verkies word. Dit is ook te betwyfel of ’n Trump-presidentskap enige voordeel vir Suid-Afrika sal inhou. Met sy eng nasionalistiese benadering sal Suid-Afrika vir seker nie hoog op sy agenda wees nie.
Intussen kan ons net hoop dat al die troeteldiere in Springfield veilig is en dat daar eerder vroeër as later ’n leier in die Withuis sal wees met die tipe gravitas wat deur sy of haar landgenote en wêreldleiers ernstig opgeneem sal word.
Lees ook:
Wat sê Bettina? – Wat beteken die tweede Trump-sluipmoordpoging vir sy verkiesingsveldtog?