
Amanda de Witt (foto: verskaf); LUCA-logo: Penguin Random House South Africa
Louise Viljoen van Jeffreysbaai het ’n onderhoud met Amanda de Witt, redakteur by LUCA, die Christelike en inspirasiedruknaam by LAPA Uitgewers – ’n onderafdeling van Penguin Random House – gevoer. Louise wou graag meer oor die publikasieproses van geestelike en inspirerende boeke weet en Amanda was bereid om haar kennis en ervaring te deel.
Amanda, vertel so ‘n bietjie meer oor jou agtergrond, asseblief.
Ek was voorheen betrokke by ’n tydskrif, maar boeke is beslis my groot passie. By LUCA kry ek die geleentheid om fiksie, niefiksie en kinder- en jeugboeke te publiseer en geniet die diversiteit daarvan. Ek het ook kwalifikasies in berading en terapie, die bediening en onderwys.
Hoe het jy in die uitgewersbedryf beland?
Ek was lank werksaam in die korporatiewe wêreld, waar ek baie ervaring opgedoen het in administrasie en koördinering. Ek het graag liedjies vir sangers en ook vir die orkes waarby ek betrokke was, geskryf. Op ’n stadium het ek baie met mense in die musiekbedryf geskakel en onderhoude met bekende kunstenaars, plaaslik en internasionaal, gevoer. Ek het my taalvaardighede verder uitgebrei toe ek deeltyds aan die Universiteit van Suid-Afrika studeer het. Dit alles het daartoe gelei dat ek ’n pos by ’n bekende Afrikaanse tydskrif gekry het as produksiekoördineerder. Kort voor lank is ek toe ook die produksieredakteurspos aangebied, maar ek het besluit om eerder my liefde vir boeke te volg. Dis hoe ek by LUCA, wat toe ’n splinternuwe druknaam in die publikasiewêreld was, beland het.
Waaraan skryf jy jou passie vir boeke en lees toe?
Die skrywer Emilie Buchwald het gesê: “Children are made readers in the laps of their parents.” Dit was beslis vir my die geval. My ma en ouma was beide baie lief vir lees en het my vroeg al aan boeke en biblioteke blootgestel. Teen die tyd dat ek in standerd vyf was, het ek met my ma se biblioteekkaartjies elke denkbare boek van skrywers soos Ena Murray en Konsalik uitgeneem. Ek was toe al lankal klaargelees aan die Saartjie-, Trompie-, Uile-, Tessa- en ander jeugreukse.
Kan jy jou Christenskap in jou werk as redakteur uitleef?
Elke boek waaraan ek vir LUCA werk, het ’n Christelike element. My werkstyd is dus deurdrenk met Christelike inspirasie en literatuur. My uitgewer, Veronica Scholtz, is ook vir my ’n wonderlike inspirasie en voorbeeld van hoe om die besigheidsaspek van wat ons as Christelike uitgewers doen met ons geloofslewe te vereenselwig. Daar is beslis ’n fyn balans om te handhaaf, veral omdat ons deel vorm van ’n baie groter groep wat die sekulêre mark betref.
Aan watter kriteria meet jy manuskripte wat by jou beland?
Dit is belangrik dat daar ’n Christelike en inspirasie-element in al ons boeke moet wees. Geloof moet deursyfer in alles wat ons publiseer. Vir fiksie is dit altyd goed as daar positiewe karaktergroei en ’n spirituele ontwikkeling plaasvind waarmee lesers kan identifiseer. Vars nuwe stories wat stof tot nadenke bied en ons lesers inspireer om self ook te groei, is wonderlik om teë te kom.
............
Vars nuwe stories wat stof tot nadenke bied en ons lesers inspireer om self ook te groei, is wonderlik om teë te kom.
............
Vir niefiksie is dit van kardinale belang dat wat ons uitgee, deur die Woord geïnspireer is en gestaaf kan word.
Wat maak jou opgewonde wanneer jy ’n manuskrip lees?
As dit nie die standaardtema en -resep is nie. En natuurlik wanneer skrywers weet hoe om so te skryf dat hulle hul lesers uit die staanspoor aangryp. Enigiets wat te oorgekompliseerd en ingewikkeld geskryf is, maak dit moeilik vir lesers om te ontspan en hulleself oop te maak vir die boodskap in die teks. ’n Toeganklike skryfstyl met ’n interessante tema wat nog nie holrug gery is nie, vang altyd my oog.
.............
Enigiets wat te oorgekompliseerd en ingewikkeld geskryf is, maak dit moeilik vir lesers om te ontspan en hulleself oop te maak vir die boodskap in die teks. ’n Toeganklike skryfstyl met ’n interessante tema wat nog nie holrug gery is nie, vang altyd my oog.
...............
Wat laat jou dadelik jou neus optrek vir ’n manuskrip?
Wanneer daar geen struktuur aan die manuskrip of die boodskap is nie. Ook oormatige spel- en taalfoute, want dit wys dat die skrywer nie genoeg omgegee het om seker te maak hulle doen die bes moontlike voorlegging nie. Ek kan dadelik sien wie het moeite gedoen en watter boeke is baie oor nagedink en goed nagevors.
Wat gebeur vandat jy besluit ’n manuskrip het potensiaal tot dit finaal goed- of afgekeur word?
Wanneer ’n manuskrip potensiaal toon, bespreek ons as redaksiespan dit eers om seker te maak dit is wel iets wat LUCA graag sal wil uitgee. Net omdat ’n manuskrip belowend lyk, beteken dit nie die boek sal ideaal vir ons druknaam wees nie. Ons kyk na die skrywers se biografieë, hulle sosialemediaplatforms, vorige publikasies (indien enige), en of hulle aktief betrokke sal kan en wil wees met die bemarking van hulle boeke, sou dit verskyn. Ons vors ook verkoopsyfers na van soortgelyke boeke in die mark, asook van die skrywers se moontlike vorige publikasies. Dan stel ons ’n volledige voorlegging op met die versamelde inligting tesame met moontlike voorbladkonsepte en lê dit aan die eerste paneel voor in ’n konsepvergadering. Indien die eerste paneel die konsep goedkeur, word dit dan aan die tweede paneel voorgelê vir finale goedkeuring.
Watter stappe volg nadat ’n manuskrip aanvaar word vir publikasie?
Nadat ’n manuskrip aanvaar is vir publikasie, stel ons ’n kontrak op met die skrywer. Ons werk ook ’n sakeplan vir elke boek uit om vir die kostes te begroot en die formaat, aantal bladsye en oplaag te bepaal. Dit word dan op die rekenaarsisteem gelaai, drukkostes word aangevra en by die berekeninge gevoeg. Die finansiële span moet dit dan goedkeur.
En dan begin die groot werk! Redigering, uitleg, setwerk, omslagontwerp, proeflees, titelinligtingstukke vir bemarking en verkope, en ’n hele rits proewe om telkens na te gaan voor die finale drukgereed kontrolering gedoen word. Wanneer die manuskrip en omslag uiteindelik drukgereed is – twee maande voor dit op die rakke moet verskyn – stuur ons dit na die drukkers, wat weer vir ons aanlyn bladproewe beskikbaar stel om goed te keur.
Die laaste stappe is die goedkeuring van die F&Gs (folded and gathereds) wat die los bladsye is wat die drukkers aan die hoof van ons produksiespan vir goedkeuring verskaf. Eers dan kan die drukkers voortgaan om die boek te bind. Ek as die redakteur en die hoof van die produksiespan ontvang dan die vooruite (advances) om goed te keur. Dit is voorbeelde van hoe die boeke gaan lyk. Indien ons tevrede is, word die drukkers aangesê om voort te gaan en die res van die oplaag te druk vir aflewering by die pakhuis waarvandaan dit versend sal word.
Die skrywer kry dan hulle skrywerskopieë, wat altyd ’n groot bron van opgewondenheid vir ons en hulle is. Die boeke word ook versprei na al die boekwinkels wat bestellings geplaas het.
Hoe lank neem dit vandat ’n manuskrip aanvaar word tot dit verskyn?
Ses maande is ’n goeie tyd om voor te mik, afhangende ook van hoe vol die publikasieprogram vir daardie spesifieke jaar is, maar ons het dit al in so min as twee maande gedoen.
Laastens, het jy enige wenke vir voornemende skrywers?
Liewe skrywer
Ek weet jy is baie opgewonde oor jou idee vir ’n nuwe boek, maar moet nie net gaan sit en skryf nie.
Doen eers deeglike beplanning oor vir wie jy skryf (teikenmark), wat jy wil sê, en wat reeds op die rakke is. Beplan vooraf wat moet gebeur in elke hoofstuk, byvoorbeeld die spesifieke temas vir niefiksiehoofstukke, en die verloop van gebeure in fiksiehoofstukke. Kry eers die geraamte gereed met al sy beentjies op hulle plek voor jy die vleis begin aanlas.
Maak seker dat jy ’n helder visie het van waaroor jy wil skryf, en dat dit iets is waaroor daar nog nie geskryf is nie of waarop jy ’n unieke perspektief het. As dit ’n fiksie is, maak seker daar is interessante dinge wat gebeur wat die leser nie noodwendig verwag nie, sodat hulle sal aanhou wonder wat volgende gaan gebeur. Sorg dat die karakters geloofwaardig oorkom. ’n Heldin gaan nie een oomblik kaalhand bergklim en in die volgende hoofstuk haar naels in ’n skoonheidsalon laat doen nie.
Dink aan jou lesers en die boodskap wat jy aan hulle wil oordra. Skryf duidelik, tot die punt, met die uitkyk dat “minder is meer”, en hou jou sinne redelik kort. Moet ook nie jou lesers onderskat nie; hulle het ’n goeie verbeelding, en te veel verduideliking en beskrywing kan ’n goeie fiksie se vloei heeltemal briek. Pasop ook vir info-dump wanneer jy ’n klomp inligting probeer weergee. Inkorporeer eerder inligting in dialoog sodat die leser inligting saam met die karakters kan leer. Gebruik uitroeptekens spaarsamig – as jy hulle móét gebruik.
Wanneer jy dialoog skryf, maak seker dat jy iewers in jou beplanning ’n karakterlys het met elke karakter se eienskappe: hoe hulle lyk, wat hulle motiveer en hoe hulle dink en klink. Plaas jou in hulle skoene wanneer jy dialoog skryf – dink aksente, ouderdom en gemoedstoestande. ’n Nors besigheidsman in sy laat vyftigs wat moeg is vir die lewe gaan nie dieselfde woordeskat gebruik as sy hoërskooldogter wat van die hoofseun hou nie.
En laastens, lees wat jy geskryf het hardop vir jouself. Jy sal verbaas wees hoe gou jy agterkom watter sinne en woorde skielik lomp, te lank en verkeerd klink.
Praktiese wenke is dat fiksie nie sommer langer as 90 000 woorde moet wees nie, en ’n goeie mikpunt vir niefiksie is tussen 60 000 en 70 000 woorde.
’n Goeie inhoudsopgawe, asook ’n goeddeurdagte opsomming van die boek, beoogde teikenmark en dubbelspasiëring laat enige uitgewer en redakteur juig.
As jy dink jou manuskrip voldoen aan die vereistes om moontlik gepubliseer te kan word, lees gerus meer hier oor voorleggings aan LUCA by https://www.lapa.co.za/manuskripvoorleggings-aan-luca en stuur dan jou voorlegging en manuskrip in MS Word-formaat na luca@penguinrandomhouse.co.za vir oorweging.

