Alles en almal dra bagasie: Donnay Torr gesels oor die ATKV, Clover Aardklop en Afrikaans

  • 0

Donnay Torr

Donnay Torr is die besige bestuurder van tydskrifte en sosiale media by die ATKV en ook redakteur van Taalgenoot en Hoezit!. Sy het by die Clover Aardklopfees met Naomi Meyer gesels en deel ook ’n paar van haar feestelike foto’s.

Hallo Donnay, ek hoop jy is besig om die Clover Aardklop-kunstefees te geniet. Jy is bestuurder van tydskrifte en sosiale media van die ATKV. Beteken dit dus jy is een van daardie mense wat hope kuns en kultuur kan geniet en dis jou wérk? As ek die vraag omkeer: Voel dit inderdaad soos werk – die feit dat jy by al die lekker dinge wat jy moet bywoon, ook jou oë moet oophou en jou oor teen die grond om stories te versamel? Dalk wil jy vir ons lesers van jou agtergrond vertel, want as joernalis leef jy eintlik mos al jare met jou oor teen die grond ...

Hi Naomi! Jip, dit is beslis ’n besonderse werk – en ek is baie bevoorreg om te kan doen wat ek doen. ’n Mens ontmoet ongelooflike mense (en soms ’n paar vreemdes en, wel, nares ...). Soos vandag: Ek het vir die heel eerste keer vir PG du Plessis van aangesig tot aangesig ontmoet. En ek’s aangesê om my Engelse kant dood te slaan (grinnik), en sommer op die plaas te kom kuier. Vir iemand wat so ’n groot aanhanger is as ek, is dit pure poeding. En gisteraand het ek myself bankrot gekoop aan kuns tydens die kunssafari: Craig Müller se "Dubiously benevolent hospital dirigible". ’n Mens leer soveel meer van jouself deur in aanraking te kom met ander mense se denkwyses en hulle skeppings, of dit nou musiek, kuns, digkuns, prosa of teater is - en of dit sommer ’n gesprek met die klankman van die gratis verhoog is.

PG du Plessis en Hans du Plessis

Dit ís rof ook: As jy nie jou oë en ore oophou nie, mis jy dalk die oomblik, die klankgreep, wat jou storie verhef van gewoon tot iets besonders. Veral op die gebied van sosiale media: Twitter en Facebook is alles oor die hier en nou. Om so gefokus te wees op jou selfoon, beteken dat jy dikwels die fynere detail rondom jou in die "werklike wêreld" misloop. So dis maar ’n balanseertoertjie.

En moenie van ver stap, pap selfoonbatterye en sonbrand vergeet nie – dis bloedig warm hier by Aardklop!

Skildery deur Daniel Naudé, feeskunstenaar

My geskiedenis? Ek het in 2003 afgeskop by die JIP-jeugbylaag in Beeld, en het vir amper ses jaar daar gewerk en gespeel, onderhoude met hopeloos te veel bands gevoer en elke vuil grap op die horison by Angola Badprop geleer.

Daarna was ek vir ’n kort rukkie by New Media Publishing as die redakteur van Edgars se jeugtydskrif, Off-Limits.

Kort daarna het ek by die tydskrif heat aangesluit as adjunkredakteur. Ek kan boeke vol skryf oor al die stories daar, voor en agter die skerms! Drie jaar later sluit ek in Mei 2011 aan by die ATKV as bestuurder: tydskrifte en sosiale media. Kom ons kyk wat’s volgende ...

Van stories versamel gepraat: Jy is redakteur van die tweede oudste Afrikaanse tydskrif in die land, Taalgenoot. Een van julle Oktoberstories handel oor 80 redes om gek te wees oor Afrikaans. Hier’s ’n moeilike vraag vir enigeen wat betrokke is by ’n taalorganisasie: Dink jy nie daar’s ’n gevaar dat mens dikwels naeltjie-beskou en net praat oor die taal eerder as om bloot die taal aan te wend as die medium en oor enige ding te skryf en te gesels nie?

Ons almal loop beslis die gevaar om verstrengel te raak in die "maar is dit Afrikaans?" vraag. Ek kyk uit ’n ietwat aweregse oogpunt daarna: My ma is 100% Afrikaans, my pa 100% Engels. Ek het in twee denkwêrelde grootgeword, en dit is versterk deur my ervaring in Afrikaanse sowel as Engelse mediawêrelde. Ek beskou Afrikaans as ’n kommunikasiemedium, weliswaar een met ’n ryk kulturele en kunserfenis. Maar deur die taal bloot te definieer as ’n "kultuurding" vervreem ons waarskynlik mense wat nie eerstetaalsprekers is nie, bloot van die taal hou en dit graag wil gebruik as ’n manier om te kommunikeer. Met Taalgenoot poog ons om met mense te práát: Ons soek na universele stories wat in Afrikaans ’n nuwe baadjie kan aantrek, stories wat mense sal interesseer en ophef en fassineer en aan die lees sal kry en hou. Die ATKV se vier hooffokusse is immers taal, die kunste, onderwys en gemeenskappe. Oor dié vier pilare heen skuil miljoene stories wat net wag om ontgin te word.

"noudat die tyd sleur sonder lees of skryf..." Uit: Skilder met Woorde III

Afrikaans as taal dra baie bagasie. Mens kan nie daarvan wegkom nie. Of dink jy mens kan? Wat is vir jou lekker daarvan om by ’n Afrikaanse organisasie betrokke te wees en wat is vir jou moeilik?

Alles en almal dra bagasie! 🙂 Lekker: Die Afrikaans kuns-/kultuurlandskap is terselfdertyd so groot en vol potensiaal, maar tog ook klein en amper gesellig – jy kan mense ontmoet, met hulle praat, by hulle leer. Dis nie kuns/kultuur/musiek/mense betrag van ’n afstand af nie – dis deel wees van alles. Dis soos my ma, wat deesdae op Gansbaai allerhande bekendes se ouers raakloop en my dan opgewonde laat weet sy’t "so en so" ontmoet en ken ek sy/haar seun/dogter, ’n bekende musikant/dramaturg/skrywer? Amper soos ’n kreatiewe klein dorpie ... En juis omdat Afrikaans as taal, en die Afrikaanse kultuur, al deur soveel vure en dinge getemper is, is daar dikwels die ongelooflikste kreatiewe denke wat uitspring en "word". Skep of sink!

Moeilik: Vir elke verligte, kreatiewe, besonderse, intellektuele Afrikaanssprekende persoon is daar ook die moeilikes: die konserwatiewes, die patriarge, die mense wat nie te gelukkig is oor verandering nie en ook nie regtig daarin belangstel om hulle opinies te verander nie. Maar daar’s iets by elkeen te leer!

Jy’s ook redakteur van Hoezit! – die ATKV se tydskrif wat hoofsaaklik gemik is op nege- tot twaalfjariges. Dis ’n bont en uitbundige tydskrif en ek dink ook jonger kinders sal dit geniet. Hoe doen julle jul navorsing hier as jul opvoedkundige materiaal plaas – werk julle saam met die onderwysdepartement, byvoorbeeld?

Sjoe! Hoezit! is vet pret. Dit hou my kop jonk! Kinders is ’n ongelooflike wispelture, fassinerende mark. Ek dink my jare by JIP het my deels voorberei daarop om met ’n jonger mark te kan gesels. Dis die truuk: Gesels met hulle, moenie "afpraat" nie. En neem hulle ernstig op; respekteer hulle – kinders leef in ’n totaal ander wêreld as waarin ons grootgeword het, en hulle is onder GEWELDIGE druk. Kindwees is nie meer net "sorgelose tye" nie. Hulle het dikwels regtig ’n oor nodig wat kan luister, en wat verstaan, en wat op ’n manier hulp kan gee wat werklik hulle ervarings in ag neem. Navorsing? Wees bewus van elke enkele nuwe fliek, CD, boy band, modegier, skaatsplanktoertjie, Jaco Jacobs-boek en SMS-app wat sy verskyning maak! En gesels gereeld met jongmense: As jy ’n tydskrif vir hulle wil publiseer, moet jy immers seker maak dat die teikenmark ook hulle gedagtes en menings kan gee: Wat pla hulle, wat laat hulle tiek, waarvan hou hulle en wat’s slegter as broccoli. Ons werk saam met twee bekroonde skrywers, Jaco Jacobs en Fanie Viljoen, ’n kindersielkundige, Angelique Biagioni, Speurhond Willem en Anna Atoom-skrywer, dokter en professor in mediese mikrobiologie, prof Elizabeth Wasserman, Maja Serada (kinderillustreerder) en heelwat mense wat genoeg weet oor skoolsillabusse, flieks, techie-goeters en jongmense om seker te maak ons maak nie ’n verskriklike fout nie!

Die belangrikste ding van alles: Moenie dink jy’s cool en probeer om cool te wees nie. Jy is nie! Wees net wie/wat jy is, en jou mark sal dit respekteer. Dis immers hoekom hulle jou produk lees!

ATKV-vlaggies buite ATKV-tent

Ek kyk die sosiale gemeenskap wat gebou word op jul Facebook-werf so: Matrieks wat vakansie hou in die ATKV se vakansie-oorde, die gevoelvolle foto’s van die Tygerberg-kinderkoor wat onlangs ’n ATKV-prys gewen het, die items op die Aardklop-program wat julle borg. Vertel my wie jy dink die ATKV se sosiale gemeenskap is.

Ongelooflik uiteenlopend! Dit is natuurlik deels omdat die ATKV self ’n uiteenlopende organisasie is, met projekte op soveel gebiede, en natuurlik ook die oorde. Enigiemand wat belangstel in die doen en late van die ATKV, kom gesels met ons op Facebook en Twitter. Bygesê, ons aanhangers op Twitter is jonger en meer aweregs (waarskynlik omdat Twitter self ’n bietjie anders is! Terwyl Facebook ’n klein bietjie ouer is. Studentejol, Postmatriek, Tienertoneel en Jeugleiersimposiums gaan dit egter begin verander. Ons sosiale netwerke is nog jonk – dit gaan interessant wees om te sien hoe dit groei.

Elgro Hotel, Potchefstroom

Van sosiale media gepraat ... Jy skryf op jou persoonlike Facebook-werf van die hotel waar jy in Potchefstroom bly. Spook dit toe daar?

Haha! Ek is doodseker dit spook. En ek gaan daai spook opspoor. Sy kruip iewers weg tussen die art deco-lampskerms en die radio’s in die beddens se kopstukke en die kreunende pype in die mure en die vreemde nat kol op die badkamerplafon ... Ek hoor hoeka daar is al ’n moord gepleeg – ’n liefdesdriehoek nogal!

Lees ’n onderhoud met Fanie Viljoen oor Hoezit!.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top