Hoezit, Fanie Viljoen!

  • 4
Die ATKV se tydskrif Hoezit! vir laerskoolkinders is vanaf 2009 in die winkels. Die tydskrif bevat artikels wat alles van vermaak tot skooltake dek. Fanie Viljoen is 'n bekroonde skrywer – veral van jeugboeke – en dikwels 'n bydraer vir Hoezit!. Hy gesels met Naomi Meyer oor die tydskrif, skryf en skoolprojekte.

Hallo Fanie, en dankie vir die geleentheid tot gesprek tussen jou skryfwerk en jou skilderwerk deur. Ek kyk na die ATKV se tydskrif Hoezit!, en daar verskyn jou naam by ’n paar artikels. Is dit vryskutwerk? Werk jy voltyds vir Hoezit!?

Nee, ek is ’n vryskutskrywer vir Hoezit!. Ek verskaf so twee artikels per maand aan hulle.

Waar vind jy idees vir ‘n teikengroep van 8- tot 14-jariges, so half nóg-vis-nóg-vlees-mense? Of dink jy juis nie so oor hulle nie, met al die eggo’s in jou ore van mense wat jou sekerlik sal aanraai om dinge onskuldig genoeg te hou om nie aanstoot te gee nie (spesifiek in ‘n vlagskip-jeugpublikasie van die ATKV), maar ook nie jou mark te onderskat nie (hulle is immers besonder streetwise en sal jou aflag as jy maak of hulle leefwêreld nie bestaan soos wat dit bestaan nie)? Het jy vriende of familie wat jonk is, of hoe bly jy vinger-op-die-pols met wat hulle lees? (Wees eerlik: léés hulle regtig?)

Vir Hoezit! breinstorm ons idees so via e-pos. Die artikels pas ook in by die skole se kurrikulum. Ons skrywers probeer net die onderwerpe op ’n vermaaklike, maar steeds informatiewe, manier aanpak.

Vir my boeke hou ek my oor op die grond. Ek luister na gesprekke, kyk hoe jongmense byvoorbeeld op Facebook praat, gaan na skole toe en kry natuurlik bewonderaarspos wat my ’n idee gee van wat kinders dink en wat vir hulle belangrik is.

Ongelukkig lees nie alle kinders nie, maar na ’n skoolbesoek kry ek en ander skrywers hulle gewoonlik nuuskierig genoeg oor stories en boeke dat ’n klompie van hulle wel begin lees. Ek kry ook gereeld e-pos van ouers wat sê hulle kind het nooit gelees nie totdat hy dié of daardie boek van my in die hande gekry het. Dit maak die harde skryfwerk die moeite werd.

Watter soort impak – indien enige – kan ’n tydskrif op skole en op kinders hê? Wat bereik mens? Kinders wat Afrikaans lees? Waarom op dees aarde is dit belangrik? Wat maak dit tog saak? Of mis ek nou die punt?

Hoezit! se uitleg en artikels is baie kleurvol en lewendig. Dit dek ’n wye verskeidenheid onderwerpe, soos vermaak, die natuur, die wêreld, emosies, en meer. Die kort brokkies inligting sorg dat dit nooit vervelig word nie. Dit maak die tydskrif ongelooflik gebruiksvriendelik vir kinders en skole (en volwassenes!). Ek hoor kinders gebruik Hoezit! baie vir skooltake, en die grootste impak is sekerlik dat dit hulle kennis oor hulself en hulle wêreld verryk. Die lesers word ook aangemoedig om op die internet wyer oor onderwerpe te gaan lees.

Jy skryf vir jongmense en jy hoor sekerlik terugvoer van jongmense. Het jy al ooit gehoor van projekte waarmee mense besig is wat kinders iets gee om na op te kyk? Iets waarheen of waarna hul kan aspireer? En van mentorskap gepraat – jy is natuurlik self ’n rolmodel: ’n skrywer. Sou jy iemand aanraai om te skryf as daardie persoon eenvoudig weet dis wat hy of sy moet doen? Indien wel, waarom, en indien nie, hoekom nie?

Een van die wonderlikste projekte is die Woorde Open Wêrelde-projek (WOW) van Fiona van Kerwel. Ek het hierdie jaar weer ’n paar praatjies vir hulle gelewer tydens die Woordfees. Ek verstaan dat prof Jonathan Jansen van die UV iets soortgelyks beplan hier in die Vrystaat.

Ek sou iemand aanraai om voltyds te skryf net as hy/sy al ’n paar boeke op die rak het en weet daar sal ’n redelike inkomste uit hierdie en komende boeke wees. Jy moet egter hard werk en ook bereid wees om ander skryfwerk, soos vir koerante en tydskrifte, te doen, en ook om te help met bemarking en optredes. Dis ’n taai, maar lonende beroep.

Jy stal jou skilderye op Facebook uit en ek kan nie anders as om daaroor uit te vra nie: Is dit “net ’n stokperdjie”, of stal jy uit en maak jy geld hiermee? (Gaaf, jy hoef nie die geldvraag te beantwoord nie. 🙂

Ek doen deesdae baie grafiese ontwerp, buiten die skrywery. Ek het byvoorbeeld my onlangse jeugboek, Betower, se voorblad ontwerp en doen ook illustrasies vir skoolhandboeke. Op die oomblik is skilder ’n stokperdjie wat ook geld inbring. Ek verkoop nie eintlik op Facebook nie, maar eerder by ’n galery in Clarens. As ander galerye van my werk wil aanhou, kan hulle my gerus kontak.

Kyk ook na Fanie Viljoen se webwerf vir nog besonderhede.

 

As jy nou op die ATKV se kraakvars kindertydskrif Hoezit! inteken, betaal jy slegs R260 vir 12 uitgawes.

Boonop kry AKTV-lede ’n verdere afslag en betaal net R230 vir 12 uitgawes! Vul die onderstaande vorm in en faks na 011 919 0208 of pos dit aan ATKV Hoezit!, Posbus 4586, Randburg 2125.

Laai die Hoezit!-intekenvorm af.

 

 

 

  • 4

Kommentaar

  • Marlize Leyden

    Ek was die stigtersredakteur vir Hoezit!. Die feite is verkeerd. Hoezit! se eerste uitgawe het reeds in Desember 2006 die lig gesien.

  • Isabel van Achterbergh

    Ek wil bittergraag op die elektroniese tydskrif inskryf - hoe gaan ek te werk? Ek het jarelank die hardekopie aangeskaf en vind dit onmisbaar met klaswerk en toetse/eksamens opstel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top