Allegaarkie vir ’n askeet: ’n onderhoud met Neil Sandilands

  • 1

Foto: verskaf

Neil Sandilands praat met Naomi Meyer oor Neil se album, Allegaarkie, wat pas uitgereik is.

Hallo Neil, baie geluk met jou album, Allegaarkie. Kom ek vra jou sommer dadelik: Reik mense nog deesdae albums uit? Voor YouTube, voor Spotify, voor die besige musiekuitreikingsisteem aanlyn was dit aan die orde van die dag. Maar deesdae is dit minder algemeen. Of hoe?

Inderdaad. Luidens Vonk Musiek wat my help met die digitale verspreiding van Allegaarkie vir ’n askeet is daar oor die laaste paar jaar, vanaf COVID se tyd, minder as 10 vollengte albums in Afrikaans uitgereik, waarvan my vorige album Sangoma Sandilands & Jou pa se posse een is. Jy’s reg, dit is minder algemeen en ek dink dis ’n moerse onreg. Ek weet nie van ander kunstenaars nie, maar my albums (ek’s nie ’n veteraan in die musiekbedryf nie) merk ’n passasie in tyd. ’n Klompie tunes kom jou kant toe binne ’n gegewe tyd en ruimte en dan verpak jy dit mooi en sit ’n strikkie daarop. Die aanbod is die totale album, of reis dan, nie soseer die enkelsnitte nie. Hopelik is die groei van die kunstenaar speurbaar met die verloop van tyd. 

My intensie vir die luisteraar is die looporde en belewenis van die totale veertien snitte. Dis amper soos ’n vyfbedryf Shakespeariaanse toneelstuk. Dit het ’n inleiding, kontekstualisering, dramatiese opbou, katarsis, ontknoping en nadraai. Dit gee die luisteraar die bevrediging van ’n psigies-emosionele reis. Die geheel is groter as die losstaande elemente. Oom Jan Smuts se Holisme en evolusie kom hier ter sprake.

Ek meen, omdat ek ’n onafhanklike kunstenaar probeer bly, is ek minder uitgelewer aan sistemiese voorskrifte. Ek kan dus tot ’n mate onbevange werk. Ek verkies om te glo dis bydraend vir ons totale bedryf, as daar werke is wat nie noodwendig daarop gerig is om die laagste gemene deler te bevredig nie. Dit help dat ons nie inteel of in bloedarmoede verval nie. Ons het rebelle nodig, veral Boerrebelle. 

.........
Ek verkies om te glo dis bydraend vir ons totale bedryf, as daar werke is wat nie noodwendig daarop gerig is om die laagste gemene deler te bevredig nie. Dit help dat ons nie inteel of in bloedarmoede verval nie. Ons het rebelle nodig, veral Boerrebelle. 
...........

Die presiese antwoord het egter bloot met geld te make. Dis duur om onafhanklik ’n album te maak; dis gewoon makliker om net ’n enkelsnit uit te bring. Laastens wil ek net noem dat my toetrede tot musiek as vorm van uitdrukking nog in ’n bitter jong fase is. Ek leer nog die “ins & outs”, maar as jy nie deelneem nie, is daar niks. Ek moet nou eers weer die glas vol kry en ek weet nie hoe lank dit sal vat voor ek ’n volgende album uitbring nie. ’n Mens moet immers iets hê om te sê, pleks van om ’n nimmerversadigde monster te voer. Die ding kan eendag byt.

Jou album heet Allegaarkie vir ’n askeet. Vertel asseblief iets daarvan, en ook van die spelling.

As jy na die omslag kyk, het Rouleaux van der Merwe ’n wonderlike ding gedoen: Die A’s en die K’s in die woorde “Allegaarkie” en “Askeet” herhaal. Hy’t dit visueel uitgelig. Kyk na die blikbekerkoppie. Daar’s ’n “47” op. Dis hoe oud ek was ten tye van die skepping. Dis ook my tweede vollengte album in twee jaar. Die elemente spel dus AK47. Make of it what you want. 

Ek hou van die opponerende kragte van beide woorde. Apollinies en Dionisies as’t ware. Contradictio in terminis. Allegaarkie is natuurlik ’n “mixed grill”, ’n ietsie van alles. Die snitte op die album reflekteer dit. Dis ’n “vet” album met uiteenlopende klanke, musiekinstrumente, stemme, tale, ritmes. Dis polities, dis selfnegerend, dis hartstogtelik, dis histories, dis resent, dis komies. Ek dink dit poog om die totale spektrum van menslike emosie te ondersoek. Daar’s ook metafisika, wat natuurlik aansluiting vind by die asketiese.

Die askeet poog om vry te wees van menslike versoeking. ’n Askeet handhaaf toewyding, weerhouding en selfdissipline. Deur die skepping van die laaste paar werke, sedert Februarie 2020, was dit min of meer my situasie. Ek moes atomies, onafhanklik en in ’n tipe selfopgelegde kwarantyn werk, terwyl ek besig was met filmiese projekte in Meksiko, VSA, Nieu-Seeland, Namibië en Australië. Dis ’n alleenpad en mense verstaan nie altyd die geweldige opofferinge nie. Hoe klink ’n “Allegaarkie vir ’n askeet”? Luister gerus die album.

Jy is bekend as akteur, of wat was jou eerste liefde: sing of toneelspeel? Hoe verskil die twee van mekaar?

..........
Ek dink die twee lig mekaar toe. Ek dink die musiek kom eerste, hoewel ek dit eers baie later in my lewe begin doen het. ’n Mens se hartklop, die ritme, vertel my musiek kom eerste, voor taal selfs. Dis nou as ’n mens suiwer net van liefde praat.
...........

Ek dink die twee lig mekaar toe. Ek dink die musiek kom eerste, hoewel ek dit eers baie later in my lewe begin doen het. ’n Mens se hartklop, die ritme, vertel my musiek kom eerste, voor taal selfs. Dis nou as ’n mens suiwer net van liefde praat. Musiek was die eerste abstraksie waarvoor ek lief geword het, voor ek woorde begin gebruik het, maar ek het vroegdag besef die vertolkingskuns is nie eksklusief of verwyderd van musiek nie. 

Ek kan mos my eie werk “perform”. Vertolk. Ek het nie ’n wafferse register nie, ek brom maar hier onderlangs, maar ek weet hoe om die bietjie wat ek het, op so ’n manier aan te bied dat dit toeganklik is. As mense nie so positief op die aanbod gereageer het nie, sou ek dit bes moontlik gelos het en maar eerder om die vuur saam met my pelle gesing het. Nou’t ek ’n lat vir my gat geknip, hahaha! 

Ek sou ook sê musiek is eerliker.

Dieselfde beginsel geld vir my met acting en musiek: Benader dit eerder as stokperdjie en kyk waarnatoe dit lei. As dit soos werk begint voel, moet ’n mens vrae begin vra. Mog die liefde en nuuskierigheid bly. En die hoendervleis. En die voetjie wat ritme hou.

Foto van Neil Sandilands: verskaf

Wat is die inspirasie vir jou liedjies? Dalk kan jy enkele liedjies uitsonder en daarvan vertel.

Jy weet, ek dink daar is iets aan die ander kant van die rasionele. Woordeskat en rede kan jou ’n hele ent vat, maar nie al die pad nie. Daar gebeur iets met musiek wat woorde nie kan omskryf nie. Dit ís net. Daaraan is ek behoeftig. Ek het nodig om weg te raak in ’n melodie of ritme en ’n mens neem daaraan deel met jou hele wese. Dit vibreer. Die voetjie en die hoendervleis. Ek dink nie AI (Artificial Intelligence) kan hoendervleis doen nie.

Nietzsche het die wonderlike aanhaling: “Without music, life would be a mistake.”

Die inspirasie, dus, is die lewe self. Die perd wat ek ry. Ervaring. Die dinge wat ek teëkom, die mense wat ek liefhet, die plekke, die reise, die lief, die leed. Die lied word erkentenis dat ek lewe. Dat ons, ek en jy, iewers gedeelde begrip regkry. So iets. Jammer, die woorde kom net tot hier.

..........
Die inspirasie, dus, is die lewe self. Die perd wat ek ry. Ervaring. Die dinge wat ek teëkom, die mense wat ek liefhet, die plekke, die reise, die lief, die leed. Die lied word erkentenis dat ek lewe.
...........

Ek vra jou oor toneelspeel en ek vra jou oor sing. Maar om ’n lied te skep, handel oor stem en oor liriek en oor musiek. Vertel asseblief van hoe die hele proses vir jou werk. Wat kom eerste, die woorde of die musiek?

Of die hoender of die eier? My liefde vir taal veroorsaak gewoonlik die eerste sonde, die liriek, maar nie altyd nie. Ek het ook al op die ukelele sit en tokkel en per ongeluk ietsie lekker raakgespeel wat dan vra vir ’n liriek. Soos die liedjie “Tastic” op die EP Die Groot 5. Dit was eerste die melodie en later die woorde.

Dit het ook al gebeur dat ek met ’n liriek afsonderlik gesit het, asook ’n melodie, losstaande, en dan ’n tune geforseer het. Dan maak ’n mens verstellings beide kante toe, jy pas die woorde aan of verander die melodie. Wat werk is miskien minder tasbaar as wat nie werk nie. Die liedjie “Verkenner” het presies só gebeur. Ons het twee losstaande elemente gehad en bymekaargegooi. In minder as 10 minute was die struktuur van die liedjie klaar. A shot of luck, reken ek.

Wat ek wel weet, is dat sommige tunes nie eers aan my behoort nie, dit was nog altyd daar. Ek was net op die regte tyd en plek om dit uit die eter raak te vat en lewe in te blaas, soos “Goue graal”, ek weet nie wie die skrywer was nie, haha! Ek kan dit ook nie herhaal nie.

  • 1

Kommentaar

  • Albertje Fouché

    Neil, dankie vir die mooi, suiwer Afrikaans wat jy besig. Die hele onderhoud getuig van jou hoë intellek. Dankie dat jy huis toe gekom het en jou talent met ons ouers kom deel het. Hoe bekom ek Allegaartjie en wat daarop volg. Hartlik geluk. Jy laat my hart oor baie jare warm klop - 40 jaar!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top