Heindrich Wyngaard neem bestek op ná ’n video-gesprek met Christian Martin, voorsitter van die Oos-Kaapse komitee vir geografiese name, en Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk.
*
Dit is nie iets waarvoor hy self sou vra nie, maar dit is tog net menslik (en Allan Aubrey Boesak is ook maar net mens) dat ’n voorstel om die Universiteit van Wes-Kaapland na hom te vernoem, ter viering van sy 80ste verjaarsdag, ’n warm gevoel in sy binneste sou laat.
Dié afleiding kan veilig gemaak word van sy antwoord op ’n vraag hieroor op RSG se ontbytprogram Op en wakker: “Ek was totaal oorweldig toe ek dit sien,” het hy aan Gustav Greyling en Renske Jacobs gesê. “Dit was waarskynlik die laaste ding wat in my eie kop was.”
Maar dan onmiddellik ook: “Dit sal nie wees dat my hart sal breek en dat my lewe sal oor die afgrond stort as dit nou gebeur nie.” Want: “Daar’s te veel ander goed wat die Here my mee geseën het en wat ek nou nog, elke dag, ervaar.” Soos dié dat hy tans bevoorreg is om te beleef wat in vers 10 van Psalm 90 se gebed van Moses, man van God, geskrywe staan: “Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed.”
Die vernoeming van UWK na hom sou dus, wat sy ondersteuners aanbetref, ’n ongelooflik gepaste verjaardaggeskenk vir hom wees.
Behalwe dat die universiteit intussen aangekondig het dat hulle die voorstel afkeur. Dat hulle Boesak reeds met ’n eredoktorsgraad vereer het, meen die universiteitsbestuur skynbaar, is genoeg bewys dat reeds erkenning gegee is aan sy bydrae tot die struggle en die transformasie van UWK van ’n universiteitsinstelling tot Jakes Gerwel se “tuiste van die linkses”.
In die radio-onderhoud het hy nie verwagtinge vir homself gestel nie. “Maar dit is vir my interessant dat daar tog mense is wat dink dit moet gebeur. So ons sal maar sien.” Selfs al het UWK nou hul besluit bekend gemaak, ook bevestig deur die visekanselier en rektor, Robert Balfour, teenoor Wyngaard Weekliks, verander dit nie hoe die voorstanders van die voorstel voel nie.

Allan Boesak in 1986: Rob Croes vir Anefo, CC BY-SA 3.0 NL, via Wikimedia Commons
Ons een gas van die week, Christian Martin, voorsitter van die Oos-Kaapse komitee oor geografiese name, hou voorbeelde voor van ander universiteite wat na struggle- en (swart) historiese figure vernoem is: Sol Plaatjie-universiteit, Nelson Mandela-universiteit en Walter Sisulu-universiteit; en wat laasgenoemde betref, moet ’n mens ook noem, het die Walter en Albertina Sisulu-stigting ook hul steun aan die Boesak-voorstel toegesê.
Die kern van die argument van die ander gas, Danie van Wyk van DAK Netwerk, is dat Boesak ongetwyfeld verdere erkenning verdien, maar nie in die vorm van ’n naamsverandering vir UWK nie. Ander opsies wat hy aan die hand doen, is ’n leerstoel in Boesak se naam of die bou van ’n nuwe Allan Boesak-teater op die kampus.
Oor een kwessie, dalk twee, stem Van Wyk en Martin saam: dat die Wes-Kaap as agteros die kraal binnekom met betrekking tot die verering van inheemse (en bruin) histories saakmakende persoonlikhede; en ook dat daar in sommige gevalle – soos met Madiba – ’n oorverering bespeur word. “Hulle maak of hy die struggle self was,” laat waai Martin. Balans moet gevind word, glo hy én Van Wyk.
Martin, wat ook as ’n Khoisan-aktivis bekend is, was invloedryk in die hernoeming van die ou Port Elizabeth Internasionale Lughawe in Gqeberha na hoofman Dawid Stuurman. Hy glo dat Van Wyk se organisasie, wat vernoem is na die Khoisan-ikone Doman, Autshomato en Krotoa, daarop behoort aan te dring dat nie slegs die Khoisan se plek nie, maar ook hul afstammelinge s’n, op Suid-Afrika se regstellingsagenda beklemtoon word.
Van Wyk vertel dat DAK reeds in 2021 ’n toekenning aan Boesak oorhandig het en dat hy ook ’n onvergeetlike toespraak (oor “die chaos in ons bloed”) by die einste DAK-geleentheid gelewer het. Omdat hy nou gekant is teen die voorgestelde naamsverandering, “is niks persoonliks nie”, maar “[ek] staan op my punt: Begin iets nuuts waardeur ons dr Boesak kan vereer.”
Naas Van Wyk het minstens drie ander bruin Afrikaanssprekende kommentators – Johann Maarman (rubriekskrywer) in Die Burger, Hein Willemse (letterkundige) op Netwerk24 en Christo van der Rheede (FW de Klerk-stigting) in Rapport – ook die naamsveranderingsvoorstel afgekeur. Soos Van Wyk, het hulle Boesak egter ook terselfdertyd gehuldig vir sy onmiskenbare rol in die bevryding van die land en UWK as ’n tersiêre instelling.
Martin se laaste woord is dat die Waarheid-en-versoeningskommissie se finale verslag dit ’n verpligting gemaak het dat naamsveranderings as deel van die versoeningsprojek moes geskied. Die debat is duidelik nog nie afgehandel nie – spesifiek gegee vanjaar se 30-jarige herdenking van die eerste sitting van die WVK én die viering van die aanvaarding van die nuwe Grondwet, óók drie dekades gelede, in 1996.
Hierdie vierings sal vir sommige ’n pynlike herinnering wees van die “swaarkry en leed” (uit Psalm 90) wat Boesak en sy volgelinge in die ou dae beleef het.
Kyk die volledige gesprek hier:
Wyngaard Weekliks: Ja of nee dat UWK na Allan Boesak vernoem word?


Kommentaar
Heindrich Wyngaard het 'n paar jaar gelede vanuit RSG heel bedaard begin as die AfriForum-filiaal Kaapse Forum se "uitvoerende voorsitter". Deesdae raak hy polities al meer rammetjie-uitnek. Hoe lank en ver sal Flip Buys en kie se Solidariteit Beweging hom laat begaan?
Hoekom gaan vra jy nie vir Flip Buys self nie, Hanno? Dan hoef jy mos nie so te sit en wonder nie? Of kontak Solidaritiet en doen navraag daar. Jy kan sommer 'n ou e-possie stuur. Hoef nie eens jou sitkamer te verlaat nie!
Mnr Visage, waarin sien jy die filiaal-storie? Jou aantyging is nogal disrespekvol en ongefundeerd dat Heinrich ondergeskik staan aan Flip Buys en kie. Of wil jy jou stelling vir ons bewys met goeie argument and bronne? Heinrich staan op vir die saak van bruinmense en met reg. Wat doen jy vir jou mense?
PS Swathe, moenie lui wees nie en google self: "Leierskap: Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van AfriForum, dien ook op die direksie van die Kaapse Forum.
Netwerk: Die organisasie vorm deel van die breër Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum ook 'n lid is." (Flip Buys is die voorsitter/hoofleier van die Solidariteit Beweging.) - JMS (Hanno) Visagie.