Albie Louw (1926–2017)

  • 5

(Foto van Albie Louw, met vergunning deur Philip de Vos)

Die baie bekende pianis, Albie Louw, is Sondagoggend (5 Februarie) oorlede. Hy sou op 10 Februarie 91 jaar oud geword het.

Philip de Vos, die digter, het op Facebook Louw se afsterwe gedeel: “ALBIE LOUW (1926 – 2017) ’n nederige persoon en vriend wat ontsettend baie vir my loopbaan beteken het.”

Wie was Albie Louw?

Albertus Johannes Louw is op 10 Februarie 1926 naby Malmesbury gebore. Hy het klavier en sang op Stellenbosch geneem en het daarna aan die College of Music in Kaapstad gestudeer. Tydens sy studie in Kaapstad het hy hom by die universiteit se operagroep aangesluit en het gedurende sy loopbaan, wat tot en met 1970 geduur het, rolle in operas soos Don Giovanni, Tosca en Le Nozze de Figaro vertolk. Louw het ook deur Skotland en Engeland getoer.

“Naas Piet Grobler is Albie waarskynlik die kunstenaar wat die meeste vir my loopbaan beteken het,” sê De Vos. “Albie was een van die nederigste mense wat ek geken het. Tog het hy geweldig baie vir ligte musiek beteken. Hy het jare lank in die Tygervallei-sentrum gespeel. Almal daar het hom geken.

“Hy het ’n pragtige baritonstem gehad,” onthou De Vos, wat ook ’n operasanger was.

Albie se grootste oomblik op die operaverhoog het in 1961 gekom. Die hoofsanger in John Joubert se splinternuwe opera Silas Marner het siek geword en die rol is vir Albie aangebied. “Albie het ’n baie kort tydjie gehad om die rol in te studeer,” vertel Philip. “Hy het en kon dus in die première sing.”

Albie se groot liefde was egter die klavier en hy het by geleentheid Gershwin se Rhapsody in Blue saam met die destydse Kaapstadse Stadsorkes gespeel.

Nadat hy ’n tyd lank saam met verskeie kunsterade getoer het, kon Albie uiteindelik sy eie musiekskool in Kaapstad oopmaak. Daar het hy sang en klavier aangebied.

Albie was veral lief vir jazz en salonmusiek en het ’n tyd lank sy eie orkes, Die Albie Louw-salonorkes, gehad. Hy sou veral bekend word as veelsydige komponis en verwerker van musiek. Benewens talle treffers op Springbokradio, het hy ook vir NARUK die musiek geskryf vir die musiekblyspel Aladdin geskryf.

Philip en Albie het later besluit om saam te werk.

“Dit was Deon Knobel wat my boeke na Albie geneem het. Albie het in daardie stadium sy musiekskool in Langstraat gehad en was dadelik begeesterd. Ek dink hy met maar drie weke lank gewerk aan die toonsettings van O, togga, dis ’n gogga.”

In daardie stadium het Philip in Kampstraat, in Kaapstad, gebly, terwyl Albie en sy vriend, Pietie Grundlingh, ’n huis in Kampsbaai gehad het. “Hy sou my bel en sê ek moet gou kom luister,” vertel die digter. “Ek het dan dadelik op my bromponie gespring en gou gaan hoor wat hy vir my het.”

Philip vertel dat talle kunstenaars sy verse getoonset het, maar van almal was Albie die een wat die sekuurste was in sy interpretasie van sy werk.

Albie en Philip het saam die getoonsette verse op toer geneem. “Ons het honderde skole besoek. Albie se toonsettings het my bekend gemaak, maar so, danksy al ons optredes, het Albie se gewildheid ook onder jongmense toegeneem.”

Soms het hulle gewonder of die kinders wel die verse en musiek verstaan. Philip onthou dat hulle eendag op Aurora, aan die Weskus, opgetree het. Daar was ’n klein groepie kinders in die saal, en die twee kunstenaars het gesukkel om die gehoor te lees. Jare later sou Kobus Burger, tans by RSG, vir Philip vertel hoeveel daardie einste vertoning vir hom beteken het. Wat meer is, die sanger Philip de Villiers was ook daardie dag in gehoor en sou ook veel later vir Philip en Albie vertel wat hul optrede ook vir hom beteken het.

Albie Louw en Nico Carstens is op dieselfde dag, 10 Februarie 1926, gebore. Op 26 Julie 2010 het die ATKV dié twee konings van die Afrikaanse ligte musiek vereer. Louw en Carstens was in daardie stadium elkeen reeds meer as 65 jaar lank op die verhoog en albei het nog opgetree.

Albie Louw se jare lange vriend, Pietie, het hom reeds tien jaar gelede ontval.

Louw se gesondheid het die afgelope tien jaar baie agteruitgegaan en hy is in ’n versorgingsoord in Durbanville oorlede. Philip onthou dat hy tydens sy laaste besoek aan Albie gevra het of hy nie alleen is nie? Waarop Albie hom toe antwoord het: “Ek leef met my herinneringe en ek is tevrede.”

  • 5

Kommentaar

  • Ek was in Matriek in 1958 en het elke Saterdagoggend van Kuilsrivier met die bus en trein tot in die Kaap gegaan om by Albie Louw te kon musiek neem. Ek het altyd die heel eerste klas gehad. Ek het hom later jare altyd gaan groet toe hy in Tygervallei gespeel het en later ook in Somerset Mall. Na al die jare het hy my nog altyd onthou. My musiekboeke waarin hy per hand die liedjies geskryf het, het vergeel, die ink het al verdof en van die blaaie is al stukkend......maar sy musiek sal altyd bly voortleef. Ek sal Albie nooit vergeet nie!!! RIP

  • Avatar
    Koos Holtzhausen

    Hy het in die Sestigs of Sewentigs ook 'n sanggroep, die Safarisangers, gestig, as ek reg onthou. Een van die liedjies was: Dis te ver om te ry.

    • Avatar
      Theo Terblanche

      Ek het 'n klompie jare gelede die bande van Albie oorgeplaas op CD, onder andere van die Safarisangers. Dit was Albie se "favourite" opname!

  • Avatar
    Boytjie Rohloff

    How I remember Albie when he used to tour with Gé Korsten with CAPAB in the 1960's and 1970's through all the small towns like Vryburg in the Northwest. I met him again in 2006 in Somerset Mall and he actually remembered those days of staying at the Grand Hotel in Vryburg.
    Wow, what an entertainer.
    May he rest In peace knowing what he inspired in so many people.
    To his family we wish only pleasant memories.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top