Al wat ek weet: ’n filmresensie

  • 0

Met Jonan Mouton en Antoinette Myburgh
Regie: Jason Jacobs en Devon Delmar

Devon Delmar en Jason Jacobs het reeds talle pryse gewen as regisseurs en draaiboekskrywers vir juwele soos Carissa en Variasies op ’n tema. Laasgenoemde is Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die 2027-Oscars as beste internasionale rolprent.

Al wat ek weet het boonop onlangs die Jeugjurieprys by die Schlingel Internasionale Filmfees in Chemnitz, Duitsland gewen met ’n spesiale vermelding. Dit is ook aangewys as die 2026-Silwerkskermfees se gehoorgunsteling en het twee tegniese pryse vir beste klankontwerp en produksieontwerp gewen.

Dit is gebaseer op Marita van der Vyver se geliefde gelyknamige jeugroman oor die uitdagings en slaggate van adolessensie. Hier gaan dit oor ’n bruin tienerseun en die inwyding van Gabriel Lombard in ’n stroewe wêreld op pad na volwassenheid. Jonan Mouton lewer weldeurdagte spel in die rol. Hy het sy ma onlangs in ’n motorongeluk verloor, en moet nou uit hul huis trek. Die ergste is dat Gabriel nog soek na identiteit, en veral sy eie plekkie in die Kaapse son. En hy moet vrede maak met sy afwesige en apatiese pa, gespeel deur Waldemar Schultz.

........
Al wat ek weet gaan oor die verwerking van verlies en ondersoek hoe ’n tiener ontwortel word wanneer hy noodgedwonge by sy ouma en tante in Woodstock moet intrek. Hierna vind daar allerlei komplikasies plaas as hy, met ’n emosionele agterstand en swak selfbeeld, op ’n mooi meisie uit ’n gegoede woonbuurt verlief raak.
.........

Al wat ek weet gaan oor die verwerking van verlies en ondersoek hoe ’n tiener ontwortel word wanneer hy noodgedwonge by sy ouma en tante in Woodstock moet intrek. Hierna vind daar allerlei komplikasies plaas as hy, met ’n emosionele agterstand en swak selfbeeld, op ’n mooi meisie uit ’n gegoede woonbuurt verlief raak.

Delmar en Jacobs weet hoe om te onderspeel en voorspelbare clichés van bendegeweld, dwelmmisbruik en woeste bendegevegte te vermy. Vir hulle gaan dit om die eensaamheid van ’n seun wat geïsoleerd in selfopgelegde ballingskap tussen sy maats en familie verkeer en watter skuiwe hy en die lewe telkens maak in die proses van grootword.

Hul regie is bedaard en simpatiek. Gabriel se pogings om uit sy kokon te ontsnap en as ’n meer volwasse man te funksioneer word veral treffend uitgebeeld. Eers later begin Gabriel ’n beter insig kry en leer hy hoe om sy tragiese omstandighede te verwerk. Maar die emosionele wonde en beserings klou soos rowe aan hom vas, en die lewe hou aan om daaraan te krap.

Tog is dit nie Delmar en Jacobs se beste rolprent nie, moontlik vanweë ’n onewe tempo en ’n minder persoonlike aanslag as met hul eie stories vantevore. Hul verwerking van die roman bied nie so ’n gemaklike toegang tot Gabriel se hart en die karakters by wie hy moet aanpas soos in hul ander rolprente nie, spesifiek Carissa. Wat nie beteken dit is ’n swak poging nie. Inteendeel. ’n Mens is egter geneig om (dikwels onregverdig), vergelykings met hul vorige werk te tref omdat kykers hier skielik uit hul jeugverhaalgemaksone gehaal word.

Die tempo is dikwels stadig. Daarmee word nie bedoel dat ’n jeugverhaal op ’n konvensionele, blitsige manier vertel moet word nie, maar dit stel tog uitdagings aan die kyker wat geduld moet beoefen. Die feit dat dit 2026 se gewildste rolprent onder Silwerskerm-gehore was, spreek egter boekdele.

Na sy ma se dood moet Gabriel by sy familie intrek. ’n Verpleegster, die altyd betroubare Zenobia Kloppers as tant Lotta wat nooit ophou praat nie en gedurig inmeng, bring ’n lig-komiese ligpunt na die rolprent. Dit gebeur veral wanneer sy deure oopmaak sonder om te klop! ’n Besadigde June van Merch as ouma Lenie slaag daarin om ’n persoonlikheid en gesag na ’n vrou te bring wie se lewe gaan stilstaan het. Haar teenwoordigheid is soos dié van die ouma in Variasies op ’n tema. Sy is ’n stil, sterk teenwoordigheid. Dit is verrassend om June in so ’n onkonvensionele rol te sien.

Die regisseurs neem nie afdraaipaadjies na oormatig mooi Kaapse poskaartnatuurtonele nie. Die beelde weerspieël die hartseer verlatenheid van die hoofkarakter tog treffend. Alles is stil, stroef, en hartseer. Die skrynende emosionele verwaarlosing en stryd om ’n identiteit te vind is belangrike temas wat ontgin word.

Die rolprent herinner aan iemand wat nou terapie ondergaan, maar wie se emosies en frustrasies in sy keel bly vassteek. Hy kan nie daarvan ontslae raak nie, byna soos ’n vinielplaat wat vasgehaak het en probeer om uit ’n groef te spring. En geen terapeut kan help nie.

Gabriel word natuurlik ook beïnvloed deur musiek, veral van die Kaapse Klopse, en hulle laat sy verbeelding ontvlam. Musiek speel dus ’n belangrike rol, maar word nie altyd oortuigend of treffend genoeg met die gebeure en narratief vervleg nie.

Poësie speel gedurende sy ontwakingsproses ’n toonaangewende rol, want woorde, dikwels dit waarna nog gesoek word, is die enigste manier waarop Gabriel sy diepste gevoelens kan uitdruk. Die rolprent speel op klasverskille en emosionele afsondering. ’n Onvermoë om te wys wat hier binne broei en om ’n begrip te vorm van presies waaroor liefde gaan en hoe sterk dit ’n jong lewe kan beïnvloed.

Ouers en kinders kan saam hierna gaan kyk. Moet net nie die gewone, tradisionele jeugverhaal met ’n uitbundige slot verwag waarin alles gerieflik vasgeknoop word nie. Die rolprent strek veel dieper as dit. Dit is ’n uitdagende ervaring wat baie van die kyker vereis.

Lees ook:

Al wat ek weet: ’n onderhoud met Marita van der Vyver

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top