Elsa Joubert (1922–2020)

  • 0

Sêgoed van Elsa Joubert:

“Die verste reis wat ’n mens kan onderneem, is van mens tot mens, deur die hart.” (Verste reis, 1958)

 “Dis ’n bedryf om te skryf. Ek kry nie bevliegings nie.” (Saffier, Augustus 1993)

Oor Poppie: “Maar dit was nooit my bedoeling om polemies te wees nie. Ek het ’n verhaal gehad om te vertel en dit wou ek so eerlik en boeiend as moontlik oordra.” (Bron onbekend, Maart 1990)

“Ek het grootgeword in ’n huis waar boeke baie belangrik was. As ons inpak om met vakansie te gaan, dan is die eerste ding wat ingaan ’n leeslamp vir elkeen. (...) As dit die slag vakansie is en ons is verveeld, dan het my ma vir my en my broer elkeen ’n oefeningboek gekoop en gesê: ‘Skryf nou elkeen ’n storie en kyk watter een is die beste’.” (De Kat, November 1988)

“Sonder Afrikaans is ek stom. ’n Taal word bedreig as hy nie meer die vanselfsprekende huis is waarin jy woon nie. So vanselfsprekend soos asemhaal.” (Die Burger, 10 Mei 2001)

“Die geskiedenis bied ’n metafoor vir vandag sonder weerga. Jy krap nie in die verlede om sin van die verlede te maak nie. Jy probeer om, deur ’n betrokke gebeurtenis of persoonlikheid uit die verlede te verken, sin te maak van vandag. Dis al rede waarom jy skrywe. Dit, in elk geval, glo ek. Om sin te maak van jou vandag.” (Transvaler, 22 Mei 1989)

“Skryf is vir my soos ’n manier van lewe – vandat ek ’n kind was, het ek dagboek gehou en my ondervindings neergeskryf. Jy wil jou ervaring in woorde skryf. Dis vir my lekker om met woorde te werk. Woordeboeke is vir my leesstof. Toe ek my eerste betrekking as vroueredakteur kry by die destydse Die Huisgenoot (weliswaar ’n gans ander een as die huidige) het ek gedog: hier doen ek wat ek die graagste in die wêreld wil doen, en dan word ek boonop daarvoor betaal. Wat meer kon ’n mens vra?” (Insig, Oktober 2002)

“Ons hele lewe is ’n reis op aarde. ’n Mens reis en jy vind dinge uit oor jouself, maar dit is nie die reis wat op jou kaart staan nie. Jy sien, wat vir my so interessant is, is as jy jouself verplant in ’n ander omgewing, hoe anders jy dinge sien. (...) Dit is waarom reis vir my so ’n vormgewende ervaring was. Maar dan moet ’n mens liefs alleen reis – dat dinge vir jou, op sekere tye, swaar word. Dan is jy meer op jouself aangewys en jy ervaar baie helderder. (...) Ek het altyd gevind dat as ek reis, daar iets is wat spark. En in fiksie – al my romans: Die verste reis, Die reise van Isobelle, Die swerfjare van Poppie Nongena – is baie keer, nee, ís deur ’n reis gevonk. Ek is lief om reisverhale te skryf. Dit verruim ’n mens se leeswêreld: die oplees oor ’n plek, naspoor van inligting. Maar nie te veel vóór die reis dat jou gedagtes reeds in ’n gang is nie.” (Insig, Oktober 2002)

“Dit alles kon ek net in Afrikaans doen omdat Afrikaans met my wese verweef is. Gedagtes staan in my op in Afrikaans. Afrikaans is my avontuur en my vennoot. Sonder Afrikaans is ek stom.” (Die Burger, 10 Mei 2001)

“Van jongs af was die geskrewe woord in my iets kosbaars. Al was dit net om ’n oomblik daarmee vas te vang – ’n klein wig teen die vervlietendheid in te slaan. Woorde het vir my ’n magiese kwaliteit – gedurig aan die verander, met nuwe skakerings van gevoel of betekenis wat bykom, intellektueel altoos aan die vibreer.” (Die Burger, 10 Mei 2001)

“Om met woorde te werk is ’n ryk avontuur. Gedurig gaan nuwe vergesigte vir jou oop, nuwe verbintenisse met ander woorde laat newels voor jou wegskuif. Af en toe word aan jou gegun om vorm te gee aan iets wat tot daardie oomblik vir jou onbekend was, of nie bestaan het nie. En dan kom daar ’n verdere toegif – wanneer jy oor iets geskryf het, word dit op ’n vreemde manier jou eie. So het daar, toe ek oor my ervarings in Afrika begin skryf het, ’n nuwe verbintenis ontstaan met die vasteland waar ons woon. ’n Nuwe verbintenis met sy mense het gekom toe ek met die vrou op wie se lewe Poppie Nongena gegrond is, begin praat het en haar lewe in woorde probeer ontrafel en vaslê het.” (Die Burger, 10 Mei 2001)

“So het die geskrewe woord my ook gehelp om in ’n nuwe verbintenis te kom met myself, en met my  mense en my geskiedenis en ’n nuwe begrip daarvoor te kry, deur die skryf van Die reise van Isobelle.” (Die Burger, 10 Mei 2001)

“Die Nuwe Suid-Afrika is eintlik ’n baie gemaklike land. Daar is ’n groot deksel afgehaal tot voordeel van ons musiek, kuns en drama. Hierdie nuwe bedeling bring egter sy eie sorge. Dit maak my hartseer dat Afrikaans oral afgeskaal word, maar ons probleme is nie uniek nie. In die Europese Unie is lidlande ook bekommerd oor soortgelyke uitdagings.”

“Ek het die skryf van ’n outobiografie ’n baie heilsame ervaring gevind. Na jare verbygegaan het, kyk jy terug op jou lewe en kry ’n klein tikkie insig oor hoekom jy destyds sus of so gemaak het. Jy sien stadig ’n patroon na vore kom; jy sien ten dele hoe die vóórkant van die tapisserie van jou lewe lyk, waar jy in die verlede slegs die onafgewerkte agterkant, die stukkies wol wat afgeknip is, raakgesien het. Dit word ’n ontdekkingsreis na jouself. Dit het ’n skoonmaakeffek op jou gemoed. Jy leer jouself vergewe; jy dink: dit was tog beter so.” (Beeld, 10 Maart 2012)

Oor reis: “Een van die hartseer dinge is dat reis vir baie mense beteken reisgroepe. En reis in groepe is nie reis nie hoor, dít is toeristies. Wat ek onder reis verstaan, is een lewe stopsit; jou wortels uittrek en dan toegerus met wat jy in jou het – dis ál wat jy het: wat in jou kop en in jou gemoed is ... en dán gaan jy op vreemde paaie. Álleen. Dis ’n swaar ding. Dis ’n moeilike ding.“ (Die Burger, 21 November 2009)  

Oor Afrikaans: “’n Gedagte of gevoel of situasie kom net in my tot stand deur Afrikaans. Ek kan nie in Engels kreatief dink nie. As ek nou iets moet sê van ’n boom en blare, is dit vir my ’n ander begrip as om te praat van ‘tree and leaves’. ‘Leaves’ is vir my heeltemal iets anders. Totaal iets anders. Dit is net … ánders; as ek dit gebruik, klink dit vals. Dit is vir my ’n herhaling van wat ek al alles in Engelse digters gelees het. Maar Afrikaans inkluseer, is dit die woord, eie gevoel in Afrikaans.” (Rooi Rose, Oktober 2002)

“Een rede waarom ek skryf, is om dinge vir myself te probeer interpreteer, om te besin daaroor, om dinge vas te lê. Die stroom van die lewe gaan so sterk en so vinnig verby. Deur woorde probeer ek ’n klein stroompie afkeer, ’n walletjie gooi, om te kyk hoe lyk dit as die water tot ruste kom.”

Hoe verander skryf (of die skryfdaad) haar as skrywer? “Dit verander my nie as skrywer nie, maar as persoon wel. Jy kry hopelik meer insig en begrip. Neem vir Poppie as voorbeeld: Ek is met haar vertellings ingedompel in ’n lewe en ’n gemeenskap wat ek op geen ander manier sou kon bereik nie.” (Rapport, 23 September 2018)

Gebore en getoë

Elsabé Antoinette Murray Joubert word op 19 Oktober 1922 in die Paarl in die Wes-Kaap gebore. Haar ma en pa stam albei van die Franse Hugenote af. Haar pa, WA Joubert, was hoof van die Onderwyskollege in die Paarl. Elsa gaan skool – vanaf sub A tot matriek – aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl. Sy behaal haar matriek in 1939.

In standerd drie gee Elsa haar eerste koerant uit en skryf sy gedigte in die “wonderlike Taal”. En so word die eerste saadjie geplant vir haar latere joernalistieke loopbaan. Net na die herdenking van die Groot Trek skryf sy ’n stukkie vir Die Burger oor “My grootste oomblik in die Ossewatrek” en slaan sy die tweede prys los.

Verdere studies en werk

In 1942 vertrek Elsa na die Universiteit van Stellenbosch, waar sy haar BA-graad in 1942 behaal. In 1943 verwerf sy ook haar Sekondêre Onderwysdiploma aan die US. Sy gaan gee vir ’n jaar onderwys aan die Hoër Meisieskool Cradock in die Oos-Kaap voordat sy na die Universiteit van Kaapstad gaan vir haar Meestersgraad, wat sy in 1945 verwerf. Hier ontmoet sy Klaas Steytler, haar toekomstige man. Vanaf 1946 tot 1948 is sy vroueredakteur van Die Huisgenoot.

Maar die reisgogga pak vir Elsa en in 1948 reis sy vrou-alleen deur Afrika tot by die Nyl – iets wat in daardie dae amper ongehoord was. In 1957 word haar eerste reisverhaal, Water en woestyn, gepubliseer wat vertel van haar reis in Uganda en Egipte. Hieroor vertel sy aan Amanda Botha (Op Ou LitNet): “Ek het baie hard daaraan gewerk. Daardie boekie wat verskyn het, was seker ’n derde van wat dit was. Ek was so begeesterd oor die vroeë geskiedenis van die hele Afrika en met die ontdekkingsreisigers. Ek het baie tyd in die African Biblioteek in Johannesburg deurgebring om op te lees. Die mense wat daar gewerk het, het alles geken en my baie gehelp. Ek het baie aangename ure daar deurgebring. Toe probeer ek dit alles in die boek sit, en die uitgewers was geïnteresseerd in my indrukke en my beskrywings … en ek moes van al daardie geskiedkundige agtergrond ontslae raak. Die Nasionale Boekhandel, [George] Minnaar was destyds daar, het nie kans gesien om dit uit te gee nie. Hulle het gesê dit is te swaarwigtig, te swaartrillend … en hulle het dit teruggestuur. ’n Joernalis wat geweet het dat ek die boek geskryf het, het gevra of hy die manuskrip kon sien. Hy stel toe voor dat dit ’n baie meer hanteerbare boek sal wees en ’n baie groter mark gaan hê as ek al die geskiedkundige agtergrondsinligting uitsny. Ek willig toe in. Ek was lus dat die boek nou gepubliseer word. Dit verskyn toe by Dagbreekpers in Johannesburg. Vir daardie tyd was dit toe heeltemal ’n treffer gewees, baie voorgeskryf in die Engelse skole. Die Engelse onderwysers het gesê hulle is so bly om iets in Afrikaans te hê wat nie die boere, droogte of ’n geworstel met die kwaad/goedheid is of die verhouding van die pa/seun behandel nie.”

Die boek verskyn in ’n bepaalde politieke klimaat, apartheid was geformuleer, dis kort voor Sharpeville en ander woelinge, en dit het toe al vir Elsa binne ’n Afrikaner-gemeenskap geëtiketteer.

In 1949 reis sy en Klaas met rugsakke deur Europa en bly Elsa vir amper twee jaar daar terwyl sy vir die Verenigde Volke in Genève en die Suid-Afrikaanse Ambassade in Lissabon werk. Gedurende hierdie tyd voer sy ’n onderhoud met die burgemeesteres van die verwoeste Berlyn en saai die BBC dit uit. Hiermee verdien sy ’n stewige £25.

In 1950 trou sy met Klaas Steytler en vestig die twee hulle in Johannesburg, waar hulle vir vyftien jaar woon en Elsa self vir sewe jaar verbonde is aan die redaksie van Die Transvaler. Daarna trek hulle saam met hulle drie kinders (Elsabé, Henriëtte en Nicolaas) Kaapstad toe, waar sy vandag nog woon. Klaas is in 1998 oorlede.

Elsa skryf aanvanklik reisverhale soos Water en woestyn (wat ook in Braille oorgesit is), Die verste reis (1959) oor Wes-Europa, en Suid van die wind (1962) oor Madagaskar. Sy reis baie graag en wil dit wat vir haar treffend was, met ander deel. In 1964 volg Die staf van Monomotapa oor Mosambiek en in 1968 Swerwer in die herfsland oor hulle toer na Oos-Europa. In 2002 bel oudpresident Nelson Mandela vir Elsa met verjaardagwense en vertel haar dat Die staf van Monomotapa vir hom ’n baken was, want dit was die eerste keer dat hy kennis neem van ’n Afrikaner “wat die moontlikheid in die oë staar van ’n gedeelde swart-wit regering in Suid-Afrika”.

In 1974 verskyn Die nuwe Afrikaan waarin sy die gebied Angola dek, en wat vir haar ’n logiese voltooiing is van ’n reeks reise wat sy as jong meisie reeds in Afrika onderneem het. Sy win haar inligting vir hierdie boek in tydens ’n besoek van vyf weke aan Angola, wat sy per vliegtuig, motor, Jeep en trein deurkruis en waar sy op haar eie versoek met mense op alle vlakke skakel. Elsa se laaste reisverhaal is Die gordel van smarag (1997), wat sy skryf nadat sy en haar man op die spore van die digter C Louis Leipoldt na Sumatra en Djakarta in Indonesië is. Elsa erken in ’n radiopraatjie dat sy in haar jong dae “nogal verlief op Leipoldt was”.

Elsa se eerste roman, Ons wag op die kaptein, word in 1963 gepubliseer en is in Angola gesitueer. Die roman ontstaan nadat sy gedurende 1961 ’n beriggie in Die Transvaler lees van twaalf mense wat op ’n plaas in Angola deur ’n bende vermoor is en hoe die “verhoor” van hierdie mense drie keer uitgestel is terwyl die bende “gewag het op die kaptein” wat oor die rivier sou kom. Die insident gryp vir Elsa geweldig aan en die raamwerk van die verhaal neem rondom hierdie berig gestalte aan.

Die uiteinde van hierdie gebeure verneem ons nie in die roman nie; dit word oorgelaat aan die leser se verbeelding, gelei deur afskuwelike tonele wat die einde voorafgaan en die moontlikhede wat daaruit ontstaan. (De Kat, November 1988)

In 1963 het Sarie Marais daaroor berig: “’n Merkwaardige verhaal oor die pro­bleme van ons tyd. Maar dit sou veel meer word.”

“In daardie slotparagraaf wat so ont­wykend oor die karakters se uiteindelike lot is, het Joubert die essensie van ons vasteland se problematiek vasgevang, so roerend, so meesterlik en onderbeklemtoon dat dit vandag nog net so swaar dra aan betekenis: ‘Die oë van die wagtendes word verblind deur die stof, sodat swart en wit, vasklouend aan die hek wat tussen hulle is, nie meer weet: hierdie hand is swart en hierdie een is wit nie’.”

Met hierdie roman ontvang Elsa ook haar eerste literêre prys, die Eugène Marais-prys in 1964 saam met Dolf van Niekerk. Die roman is in 1982 in Engels deur haar man vertaal onder die titel To die at sunsetOns wag op die kaptein is later ook in ’n toneelstuk verwerk.

Afrika is dié een groot inspirasie in Elsa se werke – nie net vir haar reisverhale nie, maar ook vir haar romans. Haar romans weerspieël die konfliksituasies in die geskiedenis van die kontinent. Na Ons wag op die kaptein verskyn Die Wahlerbrug (1969) en Bonga (1971). Vir Bonga ontvang sy die CNA-prys vir 1972 saam met PG du Plessis. Tydens Elsa se aanvaardingstoespraak by die ontvangs van die CNA-prys in 1979 pleit sy dat die Minister van Binnelandse Sake die groot aantal verbode werke deur swart skrywers van die vyftiger- en sestigerjare in heroorweging moet neem: “Veel van die politiek en protes in daardie werke is vandag – byna twintig jaar ná Sharpeville – hoewel nie irrelevant nie, reeds geskiedenis.”

En toe, in 1978, verskyn Die swerfjare van Poppie Nongena. Hierdie roman, wat ’n verhaal bevat wat aan Elsa persoonlik oorvertel is, het ’n ingrypende invloed op die Suid-Afrikaanse gemeenskap gehad wat al vergelyk is met die impak van Multatuli se Max Havelaar in Nederland. Poppie, wat handel oor die swaarkry van swart mense onder die destydse politieke bedeling in Suid-Afrika, ontvang drie toekennings in Suid-Afrika: die CNA-prys in 1978 en die WA Hofmeyr- en Louis Luyt-pryse in 1979.

Oor die ontstaan van die verhaal vertel Elsa op LitNet dat hoewel sy al baie lande in Afrika deurkruis het, sy by Tsumeb tydens die uitvlug van mense uit Angola in 1974, eers werklik besef het: “Ook in ons land weet ons mense nie. Selfs dié van ons wat op eie manier apartheid teëgaan en verafsku, weet nie diep nie. Op die diepste vlak is die swart en bruin mense se lyding, om ons, elke dag, vir ons nie bekend nie. Ek het gevoel ek wil hierdie onkunde afbreek, ek wil nie alleen vir myself afbreek hierdie onkunde wat lei tot nie-begrip en vervreemding nie, maar ek wil daaroor skrywe, sodat ander ook kan weet.” [...]

“Daar by Tsumeb het dit hard en duidelik tot my gespreek: nou moet my oë oopgaan, ek moet my eie land se mense in volkome eerlikheid leer ken. Apartheid het ons van mekaar weggehou, ek moes ten spyte van apartheid die grense afbreek.”

So het sy ’n landswye reis na die townships gereis – na Nyanga en Langa, Khayelitsha wat nog in aanbou was, ’n plakkerskamp wat gereeld platgestoot is, na Philippi, na Crossroads, ’n droewe plek, na Guguletu, na Nyanga East, na die Transkei en na Soweto.

En toe het Poppie oor haar pad gekom. Sy het drie dae ’n week by Elsa gewerk, vertel Elsa op LitNet: “Drie oggende ’n week sou ons die telefoon van die mik haal, na die spaarkamer gaan en met ’n mikrofoon voor ons, ’n uur of meer gesels. Natuurlik ’n wonderlike toegif en binding dat ons albei in ons moedertaal kon kommunikeer. Die gesprekke was van hart tot hart omdat daar geen taalversperring was nie.”

“Vir eers het ek haar gevra om net te vertel soos sy dit op die hart het, brokke en stukke van haar lewe, soos ’n mens maar aan iemand iets probeer oorvertel. Ek het die stukke uitgetik, dit op die twee beddens in die kamer uitgelê, die stukkies wat bymekaar hoort, bymekaar gesit, min of meer die tydsverloop deur herkenbare anekdotes, uitsorteer, die volgende dae die vrae in bepaalde rigtings gestuur, nog besonderhede, nog motivering, nog menslikheid probeer bekom. Dat sy van ’n grootouma Kappie, grootpa Fanie, kleinma Hessie, antie Lena gepraat het, het daarop gedui dat sy en haar mense ’n Afrikaanse verlede het. Sommige van haar uitdrukkings was na aan Hollands. As kind in die kroek van Upington het haar ouma vir haar en haar boetie Mosie berispe: Hou op met Afrikaans praat, praat Xhosa, die mense sal dink julle is Boesmans. Maar Afrikaans praat was vir ons die lekkerste, ja, sê Poppie.”

“Ek het haar ma, haar susters, haar broers, Plank en Hoedjie en Mosie, almal uiteindelik deur die wette Kaap toe gedwing, leer ken. Ons het jolige aande om my eetkamertafel deurgebring; hulle het so gesels ek kon later met moeite die deurmekaarpratery, die gelag, die stories van die band af tik.”

“Geleidelik het daar ’n patroon ontstaan, kon ek die fragmente op die twee beddens beter sorteer, ’n geheelbeeld kry. Ek was gegru deur wat die Stellenbosse professore later sou noem ‘die strukturele geweld’ waaronder sy moes lewe: ’n ysterharde, onvermurfbare struktuur wat haar daaglikse kom en gaan, haar kinders, haar huislike lewe, haar man se werk, beheer het. Waarvan ek, as huisvrou, wat daagliks met huishulp, met tuinhulp in aanraking is, geen snars van geweet het nie. Ek is gedryf om die boek so vinnig ek kon, klaar te skryf.”

In 1980 ontvang Elsa die Winifred Holtby-prys van die British Royal Society of Literature vir die beste streekroman in Engels vir die vertaling van Poppie in Engels, The long journey of Poppie Nongena. Elsa het die boek self in Engels vertaal. Sy word ook vereer met ’n Fellowship van die British Royal Society of Literature. Sy erken dat sy probleme ondervind het met die vertaling as gevolg van Poppie se taal wat ’n mengsel van Kaapsafrikaans en die Engels van die townships is. Elsa het die helfte van die outeursaandeel uit die verkope van Poppie aan die vrou by wie sy die storie gehoor het, gegee, waarmee die vrou vir haar ’n huis in die Transkei gekoop en vir haar twee kinders ’n opvoeding gegee het.

In 2005 word Elsa deur die Departement van Kuns en Kultuur vereer deurdat Poppie aangewys word as die beste prosawerk in Afrikaans. Dit haal ook die lys van die beste 100 boeke van die vorige eeu in Afrika. Oor hierdie eer gesels Elsa as volg met Amanda Botha op LitNet: “As ek terugkyk, was dit nie sommer ’n ‘flash in the pan’ nie … dat Poppie daar was nie. Dit was my hele werksingesteldheid wat daarop gerig was. Soos Elize Botha een keer oor my gepraat het, het sy gesê dat ek Afrikaners bewus gemaak het dat daar iets anderkant die Limpopo is. Dit was in die sewentigerjare. Toe was dit nog baie onbekend.

“Dit het vir my baie beteken, want dit was waarna ek eintlik onbewus na gestrewe het, om ander bewus te maak van die res van Afrika. Dit was vir my belangrik dat ons mense die boeke van Afrika moes lees. Daar is geen toekoms as ons nie ander mense ken nie. Om ander te sien soos hul hulself sien, dis belangrik. Sedert die sewentigerjare het ek dit op myself geneem om die Afrika-skrywers en -boeke hier bekend te stel. Ek het daaroor gepraat en ook gereeld in die koerante artikels daaroor geskryf. Ek wou veral Afrikaners in kontak bring met skrywers soos Chima Achebe, Wole Soyinka, Ngugi en ander. Dit was vir my so opwindend toe die lys boeke bekendgemaak word en dat ek so baie van die skrywers geken het en hul werk gelees het. Poppie is saam met Eugène Marais se Siel van die Mier (1934) die enigste Afrikaanse boeke op die lys. Met die erkenning van Afrika-tale op die lys en Afrikaans, naas Arabies, die eerste wat genoem word, het ek my meer as ooit gevoel dat ek nou hier – onder die skrywers van ons kontinent – tuisgekom het. Vir my is dit ’n stuk bevryding. Ek voel tuis in hierdie geselskap, veel meer so as toe ek byvoorbeeld deur die Royal Society of Literature in Londen erken is. Toe was ek ’n koloniale ‘peripheral writer’. Hier is ek nou in die hart van Afrika!”

Poppie word in veertien tale vertaal, onder meer in Frans, Duits, Nederlands, Hebreeus en Spaans. Saam met Sandra Kotzé verwerk Elsa die roman in ’n verhoogstuk en word dit ook in Engels vertaal. Tussen 1982 en 1984 is dit in talle lande op die planke gebring – by Off-Broadway, New York, die Edinburgh-fees, in Londen en San Francisco, Kanada en Australië. Dit verower die Olivier Award vir toneelspel in Londen se West End, asook die Obi Award vir die beste draaiboek in die Off-Broadway Theatre in New York. In Suid-Afrika is dit deur talle toneelgeselskappe in Afrikaans en Engels in al die groot stede opgevoer.

Elsa is saam met Klaas ’n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersgilde en vanaf 1984 tot 1985 is sy ook voorsitter. Hulle aanvanklike motivering was antisensuur, maar later jare het hulle saam met ander lede van die Gilde Afrikaanse boeke en tydskrifte aan skole voorsien.

In 1985 is Elsa en Klaas na Suid-Amerika na die elfde Internasionale Boekeskou in Buenos Aires. Dit val saam met die publikasie van die Spaanse vertaling van Poppie, wat ook een van agt boeke was wat spesiale vermelding gekry het. Daarna lê hulle besoek af aan die “Boerenasate” in Argentinië en kry hierdie besoek beslag in die novelle Pampas, een van twee novelles wat in 2002 verskyn onder die titel Twee vroue. Tydens hulle besoek aan Buenos Aires bring hulle ook besoek aan die Argentynse skrywer Jorge Luis Borges. Op ’n vraag van Klaas sê hy dat hy altyd die begin en die einde van ’n verhaal het en dan net die middel invul. Sy self het nooit die einde nie: “As jy styf opgewen is, as jy in die regte sleutel is, moet jy dinge laat gaan. As jou probleemstelling sterk genoeg is, moet jy die einde van die verhaal, wat vanself kom, aanvaar.” (Die Burger, 19 Oktober 2002)

Ook een kinderboek verskyn uit Elsa se pen en op haar vier-en-sestigste verjaardag word ’n eksemplaar van Die vier vriende en ander stories uit Afrika aan elk van haar kleinkinders, Christiaan (5) en Elsa (3) Brink, oorhandig. Hulle was die inspirasie vir die opteken van die fabels wat sy teengekom het in haar navorsing oor Afrika en uit ou reisbeskrywings opgediep het.

In 1988 verskyn Missionaris, wat aan Elsa haar tweede WA Hofmeyr-prys besorg. “Missionaris was ná Poppie en ek was baie uitgeput. Soveel het gebeur: die Amerikaanse en Engelse uitgawes, die toneelstuk hier en op Broadway, in Edinburgh, Londen, Australië, Kanada … Ek het genoeg van daardie politieke situasie gehad. Ek het gedink ek gaan ’n veilige ding probeer. Ek wou aan die werk bly en het gedink om oor ds Van der Lingen van die Paarl ’n boek te maak. My oupa het hom geken – my oupa was ’n kind toe hy daar predikant was. Ek kry toe ’n boek oor daardie ds Van der Lingen in die SA Biblioteek. Daar was al oor sy lewe geskryf, maar daar was net ’n paragraaf oor sy pa, Antonie van der Lingen. Hy staan toe in my belangstellingsveld. Ek dink dit was ’n reisiger wat hom teengekom het daar in die verre Noordweste by die groot rivier. Hierdie rooigebrande, verlate Hollandertjie, wat nie weet watter kant toe nie, wou die Woord bedien aan die Griekwas. Dit was vir my in ’n neutedoppie die hele probleem – die Westerling in Afrika. Dit was vir my ’n fassinerende tema.” (Aan Amanda Botha op LitNet)

Sy begin Missionaris skryf om weg te kom van die destydse Suid-Afrikaanse politieke problematiek. Maar die ironie is dat hoe langer sy met Van der Lingen besig was, hoe meer het hy haar teruggelei na die hede. Want hy, soos sy, het gesoek om te verstaan. (De Kat, November 1988)

Elsa voel dat haar boeke deel is van die verkenning van die onsienlike. “Daar is altyd ’n soektog deur die vreemde nader aan wat essensie is,” vertel sy vir Amanda Botha in Rapport, 20 Oktober 2002. “Die doel om die vreemdheid af te breek, kom van vroeg af. ... Iets in my wou – en wil steeds – die onsiende versperrings afbreek.” Hierdie behoefte om die versperrings af te breek, kom dalk die sterkste uit in Missionaris. “Dit kom die naaste by wat ek wou sê.”

In 1990 begin die beplanning wat sou lei na Die reise van Isobelle wat in 1995 verskyn en waarmee Elsa die grote – die Hertzogprys vir prosa – in 1998 verwerf. Die reise van Isobelle is in wese ’n reisverhaal van ’n familie deur ’n eeu (aan Amanda Botha op LitNet). “Isobelle se oorsprong is baie eenvoudig. As dit nie reg gelê het om geskryf te word nie, sou ek dit nie geskryf het nie. Toe ek (in 1981) in Londen was, het Margaret Body van die uitgewer Hodder & Stoughton vir my en Klaas vir middagete geneem. Sy was baie opgewonde oor Poppie en sy sê toe dat ek die lewe van ’n swart vrou oor drie geslagte – dis haar ma en haar ouma en haar kinders in Suid-Afrika – uitgebeeld het, maar waar kom die wit mens van Suid-Afrika uit? Toe sê ek: ‘Ek belowe jou ek sal nog die epiese roman oor ’n wit familie in Suid-Afrika skrywe … daardie selfde goed in Poppie van ’n ander hoek deurgaan.’”

Baie van wat Elsa geskryf het oor die jong meisie, Agnes, se ervaringe in Afrika in Isobelle het sy self ervaar toe sy as 26-jarige alleen in Afrika gereis het en weergegee het in Water en woestyn.

Met hierdie verhaal het Elsa die storie gehad en haar navorsing was net om haar te vergewis van sekere feite. Die roman is drie keer oorgeskryf en vir Elsa is dit die hoogtepunt van haar skrywersloopbaan. Gewoonlik skryf sy slegs soggens, maar met Isobelle is haar middae ook in beslag geneem. Haar gunsteling-karakter, Belle, kom uit Die reise van Isobelle (Rapport, 20 Oktober 2002): “Die karakter wat my die naaste aan die hart lê, is miskien Belle, wat deur apartheid ondergaan. Die punt hier is nie dat sy ’n man in ’n kortstondige liefdesverhouding verloor het nie, maar dat sy haar plek in haar volk verloor het. Sy is van haar inlewing in haar volk beroof net soos sy van haar kêrel beroof was. Toe sien sy alles duidelik – die enormiteit van wat aangaan in haar land.” Isobelle word in Engels en Duits vertaal. In 1996 word die WA Hofmeyr-prys vir die derde maal aan Elsa toegeken – hierdie keer vir Die reise van Isobelle. Isobelle is in 2011 herdruk.

Elsa se eerste twee reisverhale is vir skole voorgeskryf – vir nie-Afrikaanssprekende kinders. Dit was weg van die droogte, die plaasstories en plattelandse karakters, is vir haar verduidelik. Die staf van Monomotapa (1964) is egter afgekeur oor die prentjie van die swart en wit dogtertjies, maar daar was later ’n nadraai aan die storie.

Elsa vertel aan Amanda Botha (Rapport, 20 Oktober 2002): “Die dag nadat ek uit die hospitaal gekom het (Oktober 2002 na ’n heupvervangingsoperasie), het Nelson Mandela my gebel. Hy sê hy het in ’n Kaapse koerant gelees dat ek die val gehad het en dat hy my beterskap wil toewens. Hy wil net vir my sê: ‘Jy is nie alleen daar nie. Ons is almal by jou.’ Dit was vir my merkwaardig. Hy wens my geluk dat Poppie op die 100 boeke (100 Afrika-boeke van die eeu) was. Ons het nog ’n rukkie baie lekker gesels en hy sê toe dat hy baie van my werk hou. Hy het my boeke in die tronk op Robbeneiland gelees. Ek was nie ’n verbode skrywer nie en hy kon dit dus lees. Madiba sê toe hoe baie Die staf van Monomotapa vir hom beteken het. Daarin het hy vir die eerste keer van ’n wit Afrikaner-vrou of -man gelees wat die moontlikheid in die oë staar van ’n gedeelde swart/wit regering in Suid-Afrika. Hy sê toe spesifiek dat hy so ontroer was deur die foto van die klein swart en die wit meisietjie saam. Hy vertel dat toe hy sy vrou, Graça Machel, ontmoet het, het hy niks van haar land (Mosambiek) geweet nie, behalwe uit wat hy uit Monomotapa gelees het. Is dit nie ’n mooi storie nie … dat op hierdie ouderdom daardie ding nou vir my terugkom? En in ’n tyd toe ons ook baie geslote was. Al my ander reisboeke is een of ander tyd voorgeskryf. Maar daardie een het die uitgewer vir my spesifiek gesê dat die voorskryfmark het dit geweier omdat daar die prentjie was van die swart en wit kinders saam op die skoolbanke.”

Tydens die KKNK van 1996 word Elsa saam met André Brink vereer met die Afrikaans Onbeperk-toekenning. In die commendatio word gesê: “Haar grootste bydrae tot die kweek van goeie buurskap in ons deel van Afrika is Die swerfjare van Poppie Nongena. Dis ’n roman, dus per definisie fiksie, maar dit is net so sorgvuldig nagevors as haar reisverhale. Die leser kan hom nie in die aangesig van die onthutsende gegewens daaraan troos dat hy met fiksie te make het nie. Daar is waarskynlik geen ander boek wat so onweerlegbaar ’n mens-onterende sisteem blootlê as Poppie nie. ... Dat die verhaal hoofsaaklik deur die Afrikaanse Poppie vertel word, het die Afrikaanse literatuur en die Afrikaanse taal onmeetlik verruim en verryk.” (Die Burger, 23 Maart 1996)

In 2001 word Elsa deur haar alma mater (Universiteit van Stellenbosch) vereer met die toekenning van ’n eredoktorsgraad in die letterkunde vir haar uitsonderlike bydrae op die gebied van die Afrikaanse letterkunde en vir die ingrypende invloed van haar werk op die samelewing. Die Universiteit van Pretoria vereer haar op dergelike wyse in 2007.

Die Afrikaanse Skrywersvereniging ken in 2001 die Patrick Petersen-gedenkprys aan Elsa toe. Hierdie prys verleen erkenning aan uitsonderlike bydraes tot die Afrikaanse letterkunde en gedenk die nagedagtenis van die digter Patrick Petersen wat in 1998 oorlede is. In 2003 ontvang sy die ATKV Prestige-prys vir haar volgehoue bydrae tot die Afrikaanse kultuur. Die Staatspresident vereer haar in 2004 met die Orde van Ikhamanga (silwer) vir haar letterkundige bydrae en haar vroeë betrokkenheid as skrywer met die Afrika-problematiek, asook vir haar bydrae tot die ontwikkeling van die joernalistiek in Suid-Afrika.

In 2005 ken die klub van studenteraadsvoorsitters aan die Universiteit van Stellenbosch hulle erepenning aan Elsa Joubert toe.

Tydens 2012 se Woordfees op Stellenbosch is Elsa aangewys as die Woordkunstenaar van 2010 se Woordfees vir Reisiger. In 2011 se Suidoosterfees in Kaapstad het sy saam met Hennie Aucamp en Abraham H de Vries opgetree in ’n program Drie legendes. Haar kortverhaal “Die sendeling se dood” is vir die verhoog verwerk en is tydens die Suidoosterfees en die Woordfees van 2011 op die planke gebring. Dit is saam met Hennie Aucamp se verhaal “When the saints go marching in” opgevoer.

Albei verhale is gedurende die apartheidsjare as “gewaagd” en “plofbaar” beskou, omdat dit raskwessies aanraak. Alhoewel nóg Joubert nóg Aucamp verhale met ’n beplande morele of etiese doel geskryf het, was dit onmoontlik om gedurende daardie jare onaangeraak te bly deur die omstandighede waarin hulle geleef het.

“Ek sê nou die dag vir iemand as ek oor ’n butterfly skryf, sal die butterfly seker per ongeluk in die verkeerde groepsgebied kom!” het sy aan Elsa Krüger (Beeld, 10 Desember 1988) gesê.

“Die dood van die sendeling” vertel die verhaal van ’n sendeling se weduwee wat graag wil hê dat sy bruin sendinggemeente die begrafnis in die moederkerk moet bywoon, maar die wit kerkraadslede is nie daarvoor te vinde nie. Wanneer sy dan besluit om die sendeling in die sendingkerk te laat begrawe, wil die bruin gemeentelede ook nie ’n blok aan die wit mense van die moederkerk afstaan nie.

In die verwerking van hierdie verhaal vir die verhoog het Lida Botha die rol van die sendeling se weduwee vertolk. Zane Meas, Denise Newman en Stian Bam was ook in die toneelstuk, getiteld Sendeling, te sien. Die VGK-koor van Eersterivier-Suid se sang het oor die verhoog opgesweef en die twee predikers in die toneelstuk het Bybeltekste in dramatiese beligting voorgedra.

Joubert se kortverhaal het die eerste keer in 1973 in Die Huisgenoot verskyn, maar dit was ’n stryd om dit gepubliseer te kry. “Mense het gedink dit is te plofbaar en hulle wou dit onderdruk.” Hennie Aucamp het egter gehelp met die kanonisering van dié verhaal, want hy het dit op ’n radioprogram waarvan hy die aanbieder was, gespeel en dit ook in die bundel getiteld Bolder uitgegee. “Dit was in die eerste plek ’n baie goeie verhaal,” het Aucamp by die bespreking gesê.

kykNET-Fiëstas het Elsa in 2012 met ’n goue beeldjie vereer vir haar lewenslange bydrae tot die woordkuns. Sy was ook een van die vroue op wie die fokus geval het in kykNET se reeks van 13 episodes getiteld Formidabele vroue. Daarin het die fokus geval op vroue wat ’n verskil gemaak het in Suid-Afrika.

In 2005 verskyn die eerste deel van Elsa Joubert se jeugherinneringe onder die titel ’n Wonderlike geweld by Tafelberg.

In die tydskrif Kakkerlak skryf die resensent dat ’n Wonderlike geweld in essensie ’n “karakterroman” is wat die vormingsjare van een van Afrikaans en Suid-Afrika se bekendste skrywers aan haar lesers bekendstel.

“Elsa Joubert groei op in ’n geborge omgewing, maar verlang terselfdertyd na ’n meer uitdagende lewe waarin sy haar kreatiewe talent tot uiting kan bring. Haar ouers speel hierin ’n kardinale rol: haar komplekse ma wat haar lewe probeer beheer, maar vir wie sy tog mettertyd begrip ontwikkel namate sy besef watter invloed die sterfte van ’n sussie gehad het en haar simpatieke en ondersteunende pa van wie sy soms skerp verskil. Boeiend is ook ’n verhouding waarin godsdiens, musiek, weemoed en erotiek saamsmelt in die verwarde gemoed van die jong meisie – dié met haar vioolonderwyser Herr Metzler.

“Die outobiografiese vertelling oorskou Joubert se Bolandse kinderjare, haar studie aan die Universiteit van Stellenbosch, haar ervaring as onderwyseres op Cradock, haar nagraadse studie aan die Universiteit van Kaapstad en haar werk as joernalis by Die Huisgenoot. Totdat sy op 8 Maart 1948 as vyf en twintigjare op die dek van ’n skip – die diep, donker water onrustige onder die kiel – staan, in afwagting op ’n alleenreis deur Afrika.

“Dit is ’n verhaal wat met verstommende detail ’n bepaalde era in die land se geskiedenis uitbeeld, en daarby ook die wording van ’n skrywer. Met opwinding ontdek Elsa Joubert haar verbondenheid aan haar volk, maar ook die dwalinge van Afrikanernasionalisme. Die blywende beeld is dié van ’n vrou wat as kind reeds die drang na woorde ervaar, wat te midde van uiteenlopende invloede in die onstuimige tyd na die Tweede Wêreldoorlog haar onafhanklike stem as skrywer vind.”

In Rapport van 4 Desember 2005 het André P Brink ’n Wonderlike geweld  beskryf as ’n “vervelige, selfkoesterende en swakgeskrewe relaas wat liefs moes begin het waar die huidige narratief eindig: Elsa Joubert, in haar middeltwintigs, op pad om op haar eie deur Afrika en na Europa te reis.”

Maar op Ou LitNet verskil Desmond Painter baie van Brink. Vir Painter lê dit die “emosionele geografie van ’n Afrikaanse leefwêreld in die 1930’s en 1940’s” bloot die tydperk van “nasionalistiese uitbundigheid en konsolidering”.

“Die derdepersoon-perspektief waarin die boek geskryf is, word by tye afgewissel met dagboekinskrywings, wat tot die onmiddellikheid en emosionele intensiteit van die vertelling bydra. Soos JM Coetzee se Boyhood en Youth oortuig Joubert se boek eweseer as ’n roman, maar as ’n blik op ’n stuk kultuurgeskiedenis is Joubert dalk selfs meer oortuigend as Coetzee – dalk net omdat sy meer deelnemend en intens betrokke is by die wêreld wat sy beskryf, en minder kil en afsydig daarteenoor staan. (...)

“Brink se ‘who cares’-houding oor wat hier opgeteken is, berus op sy oordeel dat Joubert nie universeel genoeg omgaan met haar gegewens nie, dat sy vasgevang bly in die persoonlike en die partikuliere. Dit is egter juis die onherhaalbare, vinnig vervagende, maar steeds  selfs vir ’n veel jonger leser soos ek – bekende werklikheid wat hier beskryf word wat hierdie boek so ’n besonderse leeservaring maak. Wat Joubert regkry, is om ’n geskiedenis wat ’n mens van buite ken, meermale al opgeteken in boeke soos Hermann Giliomee se Die Afrikaners en etlike van JC Kannemeyer se skywersbiografieë, van binne te belig. En dit doen sy uitstekend. Die gewoontes, praktyke, ritmes en teksture van ’n gewone Afrikaanse lewe in die 1930’s en 1940’s word tasbaar, en die leser word asemloos deel van die emosionele opwellinge, vergesigte en irrasionaliteite van die era. (...)

“Eerder as dat haar verhaal nie ‘universeel genoeg’ is nie, bied dit die leser juis ’n insig in hoe een lewe, en haar unieke ervarings van grootword, gesinslewe, seksuele ontwaking, en dies meer, vervleg is met die veruniverselende, betekenisgewende narratiewe van ’n bepaalde tyd. (...)

“Joubert gee mens inderdaad ’n dieper begrip van die alledaagsheid waarbinne Afrikanernasionalisme en ’n bepaalde stel begrippe oor Afrikaans en Afrikaans-wees tot stand gekom het en genormaliseer is. Haar jonger self, ’n sensitiewe, emosionele en soms driftige jong kind en vrou, word die perfekte instrument vir Joubert om die verskuiwings, groot sowel as subtiel, in die Afrikaanse wêreld van haar tyd mee te registreer.

“Maar dit is nie net ’n verhaal van politieke ontwaking nie. Joubert skryf ook met groot sensitiwiteit oor die bietjie vreugdes en baie bemoeienisse van adolessensie; en soos ’n mens kan verwag, ontmoet die leser ook vele skrywers: haar latere man, Klaas Steytler, Leipoldt, Rykie van Reenen, Jan Rabie, en (my gunsteling-ontmoeting in die boek) ’n jong Etienne Leroux ... Ek wil nie sy manewales hier verklap nie; dus sal ek maar net sê dis regtig hoog tyd dat ons ’n biografie van Leroux te lees kry!

’n Wonderlike Geweld is ’n boek wat ryk is aan atmosfeer en teksture, wat die leser betrek by intieme en soms intense detail. Vir hierdie leser het die boek ’n amper hipnotiese kwaliteit gehad. Miskien omdat ’n mens weet waaraan hierdie dikwels onskuldige, onwetende alledaagsheid ook geboorte sou gee.”

Die tweede deel van Elsa se outobiografiese herinneringe, Reisiger, word in 2009 deur Tafelberg gepubliseer. In hierdie “outobiografiese bestekopname kry mens ’n binneblik op die wyse waarop die letsels van apartheid ons landskap versteur het tot dit wat ons vandag steeds aanskou,” skryf Melt Myburgh op LitNet.

In Reisiger word die besonderse band tussen Elsa en haar moeder onder die soeklig geplaas. Haar ma het 97 jaar oud geword het en haar verstand was tot die einde helder. In 1979 het sy op 88-jarige ouderdom meegehelp om Poppie in Engels te vertaal, vertel Elsa. Sy het ook op gevorderde leeftyd die belastingkantoor in die Paarl gaan wys op foute wat in haar opgawe gemaak is. Elsa self was nog nooit bang vir die ouderdom nie, alhoewel sy na twee heupvervangings bietjie sukkel. “Die liggaam is soos ’n ou kar. Maar binne jou kop het jy toegang tot dieselfde avonture van ouds, ten spyte van die liggaam se beperkinge.”

Met die skryf van Reisiger het sy opnuut onder die indruk gekom van hoe alles wat oor haar lewenspad gekom het, sinvol met mekaar verband hou: die reis langs die Nyl, na Madagaskar se sterwende woud, na die Portugese gebiede soos Mosambiek en Angola – elke onderneming het beslag gegee aan ’n volgende projek.

En deurentyd is sy gedryf deur die wil om feite na óns mense te bring. “Wit mense het nie besef daar moet rekening gehou word met die groot land ten noorde van ons nie. Ons mense se oë was tóé! In Tsumeb, met die Portugese vlugtelinge wat oor die grens gestroom het, het ek besef ek móét skryf oor my eie land.

“Ek was dedicated om die feite vir ons mense te bring. Wat is die woord vir dedicated nou weer?” Sy is nie tevrede met toegewyd nie en die begrip waarna sy soek, is eerder nader aan opdrag.

Die blootstelling aan die mense van Afrika en in Europa tydens die jong Elsa Joubert se vele reise het haar destyds laat besef hoe geslote die Suid-Afrikaanse samelewing was: “Ons was net vreeslik apárt! In ons land was die uitdagings feller, omdat ‘Apartheid te wetboek gestel’ was en mense onwillig was om verby die ‘colour bar’ te dink.”

Elsa se voorsate was Franse Hugenote en sy was te preuts om oor die tou te trap. Mens moet ook nie die Engelse Victoriaanse invloed onderskat nie – dis op dié manier dat die “colour bar” in die vesel van die Suid-Afrikaanse samelewing ingeweef is. Gelukkig het tye ingrypend verander. Die verhouding met Mahmoed waaroor sy so openhartig in Reisiger vertel, sou pre-1994 groot opspraak verwek het, terwyl daar nou geen haan na kraai nie.

Elsa se motivering met die skryf van hierdie twee outobiografiese vertellinge was ’n “diep begeerte om die lewe van ’n gewone wit vrou in die tweede helfte van die 20ste eeu op skrif te stel, binne die sosiale strukture van destyds. Nie ’n geskiedenis van dié era nie, net die geleefde ervaring van een mens. Laat dit dan my protes wees,” vertel sy verder aan Melt Myburgh.

“Een spesifieke vryheid het die outobiograaf: hy kan speel met tyd. Vooruitkyk was vir my taboe. Maar jy kan tyd vries en in minuskule detail ’n oomblik ondersoek, dan weer met ’n sprong vorentoe gaan.

“My doel was om die leser, as hy eers aan die lees is, saam met my te laat voortbeweeg. Niks verder gaan nie as wat ek beweeg. ’n Versoeking was byvoorbeeld om direk ná die Verwoerd-skietery verder te vertel dat hy ses jaar later in die Volksraad deur Tsafendas doodgesteek is. Ek kon dit nie doen nie. Ek sou daarmee die hele werklikheidsillusie van die oomblik deur dié stukkie agternawysheid heeltemal vernietig. Ek wou niks vooruitloop nie.”

Oor Reisiger skryf Naòmi Morgan (Volksblad, 10 Januarie 2010): “Dit is in die eerste plek ’n skrywersoutobiografie en die goue draad wat daardeur loop, is die stryd met woorde, die soeke na ’n eie stem en styl, ’n aktiwiteit wat eindelik die aftree-oord waarheen sy verhuis ná Steytler se dood, weer ’n bekende werk- en skeppingsplek maak en weer sin aan haar lewe gee. Die leser is verstom oor die besonderhede wat Joubert nog kan onthou, en haar vermoë om weer die stem te vind van die jong vrou wat ’n byna mistieke verhouding met Mahmoed, ’n tuberkulose-lyer, gehad het. Haar kennismaking met hom is ook die begin van haar lewenslange soeke na identiteit op die Afrika-kontinent – Mahmoed is, soos sy, nie oorspronklik van Afrika nie, en tog is dit hy wat die Afrika-bos vir haar ontsluit en magies maak deur sy pragtige verhale.”

“Joubert se liefdesverhouding met Afrika is ’n ander tema van haar oeuvre, die onderwerp van verskeie van haar romans en die bron van haar politieke oortuigings. Die kroon op dié Afrika-gerigte oeuvre was die insluiting van Die swerfjare van Poppie Nongena as een van die 100 beste boeke deur 20ste-eeuse Afrika-skrywers, en indirek die erkenning van Afrikaans as een van die tale van die kontinent.

“Taal is die skrywer se kosbaarste instrument, daarom is hierdie outobiografie ook ’n liefdesverklaring aan Afrikaans. Ander skrywers (soos Jaap Steyn in Hoeke boerseuns ons was) het ook al taal genoem as die hoofrede vir hul terugkeer na Suid-Afrika: ‘Waarom gaan ek terug? Omrede my taal, wat my medium is, omrede my gehegtheid aan die stuk aarde waarop ek gebore is, en, voel ek, omrede ’n gevoel van betrokkenheid, selfs verantwoordelikheid teenoor hierdie stukkie aarde’ (bl 60). Skryf is ’n manier van lewe, van insig verkry oor jouself: ‘Want die skrywer skryf eintlik vir homself, om oor vrae wat hom pla, waarvoor hy sterk omgee, te probeer helderheid kry’ (487). Dit is gepas dat Joubert se Afrika-ingestelde lewe die kringloop voltooi het: vanaf die ontdekking van die Afrika-bos op haar eerste reis die ‘donker’ kontinent in, tot die hoë bome wat voor haar venster in die aftree-oord groei en wat sy uit verskillende hoeke kan sien danksy spieëls wat haar ’n blik gee op die raaisel wat sy van boek tot boek eerlik en onverskrokke probeer oplos het.”

Naas Poppie is Missionaris die roman wat haar die naaste aan die hart lê, al het sy voorbehoude daaroor: “Dis te lank, die gebruik van die Nederlandse aanhalings sou ek vandag anders aangepak het.” Sy het in 2009 aan die Engelse vertaling van die boek gewerk, wat beslis meer vaartbelyn sou wees.

Miskien is die tegnologie wat so vinnig ontwikkel en hierdie wêreld in ’n globale voorstad omskep, die antwoord vir ons vrese oor die taal. “Al die verbindings is so maklik. Niks is meer afgeslote nie.” Die kleinkinders bombardeer haar juis oor die moontlikhede wat Facebook bied.

Die rekenaar waarop sy nou werk, is die derde of vierde in haar besit. “Ek het in die dae toe daar nog nie eens ’n muis was nie, al gewerk op ’n rekenaar.” Sy gebruik hom nou wél net as ’n “glorified tikmasjien”, maar die uitgewer Riana Barnard kom gereeld met “so ’n dingetjie wat lyk soos ’n sigaar” om manuskripte af te laai.

“Voor die oorgang in 1994 kon ons nog grappe vertel oor ons verskille; nou probeer almal dinge regmaak om korrek voor te kom.”

Sy is bekommerd oor so baie mense se stilswye oor kwessies soos misdaad en plaasmoorde. Mense probeer dit vergeet; wil dit nie beleef nie ... Om oor plaasmoorde te praat is soos om ’n faux pas in ’n geselskap te maak. Mense vermy die onderwerp, want hulle is te bang om dit in die oë te kyk.

“Ek was ontsteld oor die joernalis Chris Louw se selfmoord. Dit het my so geruk. Dis so ’n drastiese ding om te doen. Dis ’n baie simboliese ding met die AK47; alles is nie pais en vrede nie. Dit was so ’n desperate, significant daad. Vir wat was hy gatvol?”

Toe Elsa in Oktober 2012 negentig jaar oud geword het, het haar seun Nico (Volksblad, 17 Oktober 2012) onder andere geskryf: “Sy was in ’n ander wêreld (as die Sestigers), in ’n gesinshuis in Johannesburg waar haar skryfwerk sy plek moes vind in die ruimte van kinders grootmaak. Maar af en toe het die boheemse lewe van skrywervriende teen haar voorstedelike bestaan geskuur. In haar boek Reisiger bespeur ’n mens tog ’n verlange by haar as Jan en Marjorie met hul afdak-karretjie in Johannesburg by ons huis opdaag en hul vryheid ten toon stel.

“Dat sy wel die vryheid gesoek het, blyk uit haar reis na Madagaskar in die jare sestig. Pa hou huis terwyl sy die onbekende verken. Die tweespalt tussen gesin en vryheid kom ná baie jare weer na vore. My dogter verower as sestienjarige ’n plek om in ’n afgesonderde deel van Thailand in ’n dorpie ontwikkelingswerk te gaan doen. Sy kon nie wag om die nuus met haar avontuurlike ouma te deel nie. Ag nee, my hartjie, dis te gevaarlik! kom die onverwagte en, vir my dogter, teleurstellende reaksie. Hoekom wil Ouma nie hê ek moet gaan nie? 

“Miskien lê die antwoord in die liedjie wat sy altoos met haar kleinkinders uitgevoer het. “’Hansie slim, berg wil klim, in die wye wêreld in, stok en hoed, pas hom goed, hy is vol van moed. Maar die moederhart is seer, Hans is in die huis nie meer. Hoor nou net, Moeder sug, Hans is gou-gou terug.’ Die ouma het die avonturier getroef.

“Maar ’n Sewentiger was sy by uitnemendheid. Binne die kring van Afrikaanse skrywers vind sy ’n geborgenheid – die Skrywersgilde. Met die kinders uit die huis vind sy en my pa ’n kring vriende van Afrikaanspraters, teen-sensuurpraters, lekkerpraters. Dit gee vir haar ’n bevryding van die bevange dampkring van die tradisionele Afrikaner-wees. 

“Die dinamika tussen skryf en gesin word ook gekarteer in haar werkruimte. In ons huis in Johannesburg werk sy in die sitkamer: haar lessenaar in die boogvenster, die Remington-tikmasjien en papiere netjies weggepak wanneer ons van die skool af kom. Nie ’n teken van skryf nie, hoewel sy later beken dat sy notas op die agterkant van ’n sigaretdosie maak terwyl die kinders aan ’n swemgala deelneem.

“Met die skuif Kaapstad toe in die 60’s, na Belvederelaan 35, bly sy steeds aan ’t skryf in die sitkamer op dieselfde klein lessenaartjie, nou op ’n elektroniese tikmasjien, terwyl my pa die weelde van ’n eie studeerkamer kry. Weer maak sy haar lessenaar elke middag skoon wanneer kinders en later kleinkinders huis toe kom. Dis eers met die skuif na Belvederelaan 29, dertig jaar later, dat sy ’n werkkamer van haar eie kry. 

“Toe sy die huis ná my pa se dood in 1998 moes opgee, betrek sy ’n woonstel in Berghof, ’n aftreekompleks. Ewe skielik was die wêreld van twee vertrekke te klein, geen plek vir haar ou lessenaar nou met ’n rekenaar daarop, geen ruimte vir gedagtes nie, vir stories om hul loop te neem nie. Toe as tagtiger, nou chronologies, bekom sy nog ’n vertrek oorkant die gang wat sy as werkplek omskep vir haar boeke, papiere, foto’s. Dáár kan sy skryf. Daar speel sy ook wegkruipertjie met haar ál groter wordende kleinkinders. 

“Nou as negentiger wag die studeerkamer nog elke dag vir haar. Daar is nog stories om te skryf. Daar is nog stories om vir die kleinkinders te vertel, soos nou die dag – tot hul skok en plesier, die storie van hoe hul ouma op ’n Nyl-boot met Skotse skeepsoffisiere flankeer. 

“Die skrywer én die ouma is altyd daar.”

Amanda Botha wou weet of Elsa gedryf word deur ’n tema of deur ’n boodskap. Elsa reageer: “Daar is altyd ’n bietjie verwardheid oor boodskap en tema. Ek hou nie van die woord boodskap nie, want ’n skrywer moenie ’n boodskap hê nie. Hy is nie ’n predikant nie. Klaas het altyd vir my gesê: ‘Jy is nie op ’n preekstoel nie’. ’n Boodskap is die laaste ding wat jy moet bring. Die keuse van jou tema is alreeds ’n boodskap. Byvoorbeeld, toe ek gekies het om oor Poppie te skryf … toe was die boodskap mos nie in wat ek daaruit haal of te vertel het nie. Die boodskap is die hele tema waarin ek besluit het om my in te verdiep. Die boodskap is al klaar jou tema, jou tema is al klaar jou boodskap.”

Oor die skakeling tussen haar reisverhale en romans sê Elsa aan Botha dat elke roman sy kiem in ’n reisverhaal het. Die twee stories in Twee vroue (2002) het albei uit reise ontstaan. “Pampas” speel af in Patagonië en is gebaseer op ’n reiservaring wat sy en Klaas in die St Katherina-klooster in die Sinai-woestyn gehad het. “Dit is iets wat jou daar prik en daardie ding bly by jou. Jy wil dit verwerk. Want ek vind dat as ek reis, is ek oper vir situasies waar ek ’n probleem of iets kan sien wat ek kan ontgin. Die Wahlerbrug (1969) was direk uit ’n ervaring wat ek gehad het in een of ander museum in München. Bonga (1971) was direk beïnvloed toe ek oor die aringa (nedersetting van die Massangano aan die oewer van die Zambezirivier) gevlieg het. Ons wag op die kaptein was direk beïnvloed deur die mense waar ek gebly het in Lissabon toe ek by die Ambassade gewerk het in die maande voor my troue. Die Laaste Sondag (1983) kom direk uit ’n besoek in Angola.

Poppie – ja, Poppie (Die Swerfjare van Poppie Nongena, 1978) – kom ook uit ’n reisverhaal. Ek het gedink ek het te veel oor ander lande geskryf en wou reisverhale in ons eie land skryf. Ek het met navorsing begin. Ek het na al die tuislande gegaan; ek is na Langa, Nyanga, Gugulethu. Ek het daar gegaan na skole, ek het na kore geluister, na die hof gegaan waar die ma’s vir onderhoud vra, en na die paskantore gegaan. Ek het dit alles gedoen met die doel om ’n reisverhaal in ons eie land te skryf. Ek het gevoel ons weet nie wat om ons aangaan nie. Ek wou probeer om die sluier te lig van wat net tien kilometer van ons in Kaapstad aangaan. Ek was in Soweto, ek was orals. En toe ontmoet ek vir Poppie … en ek besluit om rondom haar ervaringe ’n storie te doen. Maar dit was ook direk uit my kennis van wat ek vir ’n reisverhaal voorberei het. Almal sê dat ek so gelukkig was dat die vrou spesifiek na my toe gekom het. Dit was nie ’n geval van geluk nie; ek was reg vir haar. Ek het al die inligting al versamel gehad. As sy iets sê, het ek geweet waarvan sy praat. Ek het die hele toneel gesien, want ek was in daardie kantore. Ek het by die kommissie wat die 1976-onluste ondersoek het, se sittings ingesit. Ek het my huiswerk gedoen gehad.”

Oor die vrouekarakters in haar boeke sê Elsa dat hulle meestal soekend is. “Net Poppie nie. Sy is die sterkste van almal. Sy soek nie. Sy moet net haar familie laat oorleef. In só ’n situasie word die vrou sterk. Dalk lê Belle (in Die reise van Isobelle) haar die naaste aan die hart. Belle wat ondergegaan het deur apartheid. Party mense sê hulle weet nie hoekom sy so ondergegaan het nie ... ná ’n liefdesverhouding na drie of vier dae nie. Die punt was nie net dat sy daardie man verloor het nie, maar ook dat sy haar hele plek in haar volk verloor het. Sy het eintlik haar inlewing met haar volk ook verloor. Sy was beroof van haar volk net soveel as wat sy van hom beroof is. Toe sien sy alle dinge duidelik en sy sien die enormiteit van wat aangaan in haar land.”

In ’n mate is dit ’n toespeling op Elsa self, aangesien sy reeds in die veertigerjare ook in ’n mate haar volk verloor het. “Ek is baie lief vir Afrikaans. Afrikaans is vir my baie belangrik … geweldig belangrik. Maar ’n mens kan nie Afrikaans en volk gelyk stel nie.”

In haar werke het sy twee manlike hoofkarakters geskep, naamlik Bonga en Van der Lingen. Teenoor Amanda Botha twyfel Elsa of sy ’n moderne man sou kon uitbeeld, “maar hierdie Bonga was … ek het sy milieu, sy probleem en sy situasie so goed geken. Ek het gevoel dat ek daarin kon opgaan. Ek het ook gevoel dat ek in Van der Lingen kan wees. Ek het natuurlik sy briewe en sy dagboek gehad. Ek het gevoel ek is in hom. Phil du Plessis kom een Woensdagmiddag kuier. Toe ek die deur oopmaak, vra hy: ‘Wat makeer jou, hoekom huil jy?’ Ek sê: ‘Van der Lingen is nou net dood.’ Jy weet toe is hy nou net dood. Ek was heeltemal, ja, heeltemal verweef met hom. Die twee mans … by Bonga was dit die situasie van geestesgoedere wat die meesterras nie wou deel met die ander nie en hoe dit tot albei se vernietiging gelei het. Dit was die toespeling. Toe, snaaks, ek het eers probeer om hierdie hele tema in Suid-Afrika te probeer afspeel. Dit het glad nie gewerk nie. Ek moes dit ver weg geplaas het. Die missionaris was ook ’n idee gewees, dit was ’n ideëroman van hoe die Westerling, die Hollander, aangepas het met sy geloof, sy lyf en met alles in hierdie dorre Afrika …”

In 2018 verskyn die derde deel van Elsa Joubert se outobiografiese tekste getiteld Spertyd. Die aanvanklike titel was Doodloopstraat. By die bekendstelling van Spertyd in Berghof waarheen Elsa verhuis het, spreek die redakteur van die boek, Etienne Bloemhof, sy bewondering uit vir Elsa Joubert se ongelooflike intellek. (LitNet)

“Langs die pad is daar een of twee klein hobbels, soos die uwe wat dink die teks is bestem om (soos enige ander) deur die normale redigeringsprosesse te gaan ... totdat mevrou Steytler my gedurende die eerste informele werksessie vriendelik dog ferm daarop wys dat die struktuur van die boek, met sy lange paragrawe, min interpunksie, die aaneenloop van gedagtes, ens, baie doelbewus beplan was om te illustreer ‘hoe deurmekaar ’n ou mens se gedagtes raak’. Die bewussynstroomtegniek, oftewel dit wat my vriend die joernalis Erns Grundling noem ‘die amperse James Joyce wat Elsa gedoen het’, en wat nogal groot uitdagings aan die uitlegkunstenaar, die proeflesers én redakteur Bloemhof gestel het, werk egter soos ’n absolute bom, en dit beklemtoon hoe interafhanklik, hoe onlosmaaklik, hede en verlede is, hoe assosiatief ’n mens se gedagtes.

“En met watter verstommende intellek het ons nie hier te make nie! Nie alleen sê Spertyd meer as byna enige ander boek wat ek ken oor die oudwordproses nie, maar – en dit sê die skrywer self – ‘Dis eintlik ’n boek oor die menslike bestaan.’ Om die flapteks aan te haal (want ek reken dis een van my beter oomblikke): ‘Dit bied nie alleen helder insig in die skrywer se lewensbeskouing nie, maar nooi ten slotte elke leser uit om diep na te dink oor sy of haar eie bestaan.’ En dít sonder enige sweempie van sentimentaliteit; trouens, mevrou Steytler het dit – vriendelik dog ferm – geveto toe ek een van my gunstelingwoorde, ‘deernis’, in die blakerteks wou inspan.

“In ’n jaar wat gekenmerk word deur groot boeke uit NB-Uitgewers se stal – ek dink aan dié van Etienne van Heerden, Eben Venter, Karel Schoeman, Marlene van Niekerk, en ja, ook Jacques Pauw – is Spertyd ’n publikasie waarop ons geweldig trots is. Dit is ’n belangrike boek wat een van Afrikaans se gróót geeste se reputasie opnuut bevestig. Klokhelder. Dit is ook ’n boek wat vir my en Solette Swanepoel die bevrediging bied – so hoop en vertrou ons – dat ons darem niks gedoen het om die indrukwekkende inhoud skade aan te doen nie!

“Ek vermoed Spertyd is ’n boek wat vir velerlei lesers ’n velerlei verskillende dinge gaan beteken. ’n Ryk boek wat baie verskillende invalshoeke kan akkommodeer. Net vanoggend skryf Erns Grundling byvoorbeeld aan my: ‘Waarvan ek veral hou is dat Elsa Joubert nou eers besef al haar boeke – romans en reisboeke – het gegaan oor die storie van die onderdruktes, die gemarginaliseerdes ... Op ’n manier is Spertyd dalk ’n voortsetting hiervan. As ’n mens dink aan bejaardes se uitdagings, hoe hulle uitgeskuif word in die samelewing ...’

“Hierdie boek is een wat homself by uitstek nie maklik laat inperk of kategoriseer nie. Ek dink dadelik aan die heerlike humor rondom StomJapie (die loopraam op wiele) of die amper burleske beskrywing van ’n groot ete saam met medenegentigjariges. Dan is daar die sober, deurtastende blik op maatskaplike en ander baie belangrike sake. En dan weer die sjarmante blik op ’n intieme gesinslewe ... Ek dink nie dis vergesog om te sê nie: dis ’n belangrike boek wat veel sê oor hoe dit is om in Suid-Afrika te lewe.

“Mevrou Steytler het nou al by ’n paar geleenthede genoem dat sy nie meer die energie het om op reis te gaan nie. Maar uiteraard ís Spertyd ’n reisboek ... oor die binnereis, ‘om die ouderdom as ’n kontinent te verken ...’ Bowenal is dit ’n geskenkboek – dit is ’n geskenk aan alle Elsa Joubert-aanhangers wat by die lees van dié boek opnuut sal besef, wel, presies hóékom hulle Elsa Joubert-aanhangers is.”

In sy resensie op LitNet skryf Chris van der Merwe dat hoewel Spertyd beskou kan word as ’n vervolg op ’n Wonderlike geweld en Reisiger, dit ook ’n teks is wat op sy eie bene kan staan. “Dit handel oor die belewing van ’n hoë ouderdom, maar die ouderdom is verstrengel met die verhale van vroeër. In die afsluiting van haar lewe is ’n ganse leeftyd opgeneem.

“In haar resensie in Rapport (26 November 2017) wys Louise Viljoen daarop dat die woord ‘spertyd’ verskillende betekenisse kan hê. ‘Spertyd’ dui op tyd wat verbygaan, op ’n taak wat betyds voltooi moet word. ’n Mens dink aan die Engelse woord ‘deadline’, wat vir hierdie boek baie relevant is, want die dood is hier die finale sperdatum. Dit speel ook mee in die titel van die eerste hoofstuk, ‘Doodloopstrate’. Viljoen wys egter daarop dat ‘sper’ ook etimologies met ‘wyd oopmaak’ verband hou; dink maar aan ‘oopgesperde oë’. Ook dié betekenis is hier van belang, want Spertyd is ’n boek oor sowel die afsluiting van die lewe as dinge waarvoor die oë in die laaste lewenskof oopgaan.”

Van der Merwe sluit sy resensie af: “Spertyd is ’n wonderlike boek, ryk aan insigte en met ’n verskeidenheid van emosies. Dis ’n boek wat ontstel maar ook inspireer; wat die leser ontroer en laat glimlag; wat die skok van die mens se verganklikheid balanseer met die troos van dinge wat standhoudend is.”

In rooi rose (5 Februarie 2018) vergelyk Willie Burger Spertyd met Karel Schoeman se boek oor oudword Slot van die dag wat postuum in 2017 verskyn het. “’n Mens kan byna nie vermy om hierdie twee outobiografiese beskouings van die oudwordproses deur twee belangrike Afrikaanse skrywers, met mekaar te vergelyk nie. Een van die vernaamste verskille tussen Schoeman en Joubert is dat Joubert kinders en kleinkinders het.

“Soos Schoeman, skryf Joubert sonder skroom oor die verlies wat hoë ouderdom meebring (...). Sonder om sentimenteel te raak, sonder om selfbejammerend te wees, beskryf Joubert in Spertyd hoedat ’n ouerwordende mens se wêreld al meer ingeperk raak, dat ’n mens ‘met vermindering op elke terrein0’ leef. Maar dan vra sy haarself af wat die ‘seën van ’n geseënde hoë ouderdom’ dan sou wees. En sy antwoord: ‘Wat hier met helder ligte uitstaan, is jou kinders’. (...)

“Om te skryf is ’n manier om ervarings weer te bedink, om betekenis aan alles te kan gee. Joubert het haar lewe lank geskryf om haar bestaan in hierdie land te begryp. Sy doen dit steeds in Spertyd. Haar ‘agternaloop met woorde’ bied vir haarself insigte en gee sin aan haar al meer ingeperkte bestaan. Sy beskryf die inkrimping op nugtere manier sonder om haar aan ’n verlammende nostalgie of moedeloosheid oor te gee. Sy probeer steeds nuwe sin gee, nuwe dinge leer al is dit hoe om sinvol met haar afgetakelde liggaam om te gaan. En omdat sy steeds wil leer en oop is vir nuwe maniere van verstaan, is Spertyd nie so pedanties en negatief as Schoeman se Slot van die dag nie.”

Op Woorde wat weeg is Joan Hambidge eweneens beïndruk met Spertyd. “Spertyd sit vol vinjette wat vir die leser en Joubert-liefhebber sleutels gee tot haar sosiale gewete. Dit is ’n boek waarin die skrywer hardop dink, onder andere oor taal. Sy nuanseer telkens haar gevoelens. Enersyds is sy krities oor die Afrikaner se groepdenke (met Afrikaans wat nou ook in die spervuur is); andersyds weet sy Engels is die wêreld- en kompertaal. Sy is wel ’n taalpatriot, bely sy, en maan ons om eerder die klein erfie wat jou toebedeel is, te bewerk (128).

“Daar is herhalings wat te make het met die sirkelgang, met herbesoeke, met hardop-dink. Vriendskappe word beskryf (Audrey Blignault, Rita Scholtz, Annari van der Merwe, die taxi-bestuurder …) en die belangrikheid van haar kinders en kleinkinders – en natuurlik: haar man, wyle Klaas Steytler, ’n onderskatte skrywer.

“Wat Elsa Joubert skryf oor die behoud van boeke, moet ons almal ter harte neem. Hoe boeke (regte boeke) vertroos. Sy verwys na ’n boek uit 1926, Sahara, en hoe onmoontlik dit sou wees om hierdie boek op elektronies te lees. Hoe boeke om haar staan, wegraak, asemhaal, ja dit kan ’n mens nie vergeet nie.

“Eweneens boeiend, is die verhouding met haar liggaam en siekte; die agterbaksheid van die liggaam. Dan is daar ’n sterk besinning oor stilte wat in ons almal skuil. Boeiend, prikkelend, sensitief …”

In 2018 ontvang Elsa Joubert die kykNET-Rapport-niefiksieprys van R250 000 vir Spertyd.

“Hulle sê jy sak terug na jou wortels wanneer die winde van tyd jou liggaan en jou gees begin skeeftrek,” is die eerste sin van die commendatio vir bogenoemde prys (Rapport, 23 September 2018). Die beoordelaars het verder geskryf: “Spertyd is deels tragikomiese beskrywing van die lewe in ’n gegoede Kaapse aftreeoord met ’n aantal van Kaapstad se kulturele en intellektuele elite – skrywers, uitgewers, kunstenaars – as hoof- en bykarakters. Dit is ’n merkwaardige meditasie oor oudword in die stem van ’n beleë skrywer; dit lees gemaklik, onderhoudend. Joubert beskryf die kil afdraand van die dag in helder, soms humoristiese, deurgaans deernisvolle taal [...]. Die vertelling is egter nóg anekdote nóg klaaglied – Joubert gebruik haar fyn, self-relativerende waarneming van die alledaagse as ’n vertrekpunt vir die bepeinsing van meer universelse bemoeienisse [...].”

In Mei 2020 is Spertyd weer bekroon – hierdie keer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat die Louis Hiemstra-prys vir niefiksie daaraan toegeken het.

In Mei 2020, midde-in die COVID-19-pandemie, rig Elsa Joubert ’n brief aan haar huisdokter, Hans Woermann, as deel van ’n pleidooi aan die regering en president Cyril Ramaphosa om beheerde besoeke deur familie aan inwoners van aftreeoorde moontlik te maak.

Sy skryf: “Ek is self in die 90 en daar is iets wat my diep hinder. Menslik gesproke is ons in die laaste weke en maande van ons lewe. En ons wat in tehuise of inrigtings bly, hoe wonderlik ook al, is totaal van ons familielede afgesny.”

“Daardie kloppende verbintenis tussen ouer en kind, vir elke kind eenmatig, vir elke ouer iets individueel, is uitgeskakel. Hierdie unieke persoonlike  verbintenis is  baie belangrik. Dit word uitgestuur van en na ouer en kind, na albei kante. Al is jy nie bewus daarvan nie. Al gebeur dit onbewustelik. Kinders word by die deur weggewys. Vrae help nie. Dit is teen die wet om enige besoekers te ontvang. Ek kwyn daaronder. Telefone en video's en Skype en vele meer help, maar dit is nie genoeg nie. Dis ook dieselfde. Werklike verbintenis gaan veel dieper.”

Die versoek is nie toegestaan nie en op Woensdag 3 Junie 2020 het Elsa Joubert siek geword. COVID-19 is op 6 Junie by haar gediagnoseer en sy is die volgende dag in die Mediclinic naby haar blyplek opgeneem in ’n saal vir COVID-19-pasiënte. Hier is sy om ongeveer 15:00 op Sondag 14 Junie oorlede. Sy laat haar seun, Nico, en twee dogters, Elsabe en Henriëtte, agter.

Huldeblyke:

  • Nico Steytler, haar seun: “My ma se siekte en dood is ’n groot skok. Al was sy baie oud, was sy so vol lewe.” (Die Burger, 15 Junie 2020)
  • Etienne Bloemhof van NB Uitgewers: “Ek is geskok oor haar dood. Toe ek saam met Solette Swanepoel van Tafelnerg Uitgewers die publikasie van Spertyd meegemaak het, het ek onder die indruk van Elsa Joubert se ruimheid van gees gekom. Ook van haar verbysterende intellek en haar groot nederigheid. Die gawe van breed en stip kyk, dit was hare. Om werklik aan haar nalatenskap reg te laat geskied, daarvoor ontbreek die woorde helaas.” (Die Burger, 15 Junie 2020)
  • Christiaan Olwagen, regisseur van Poppie Nongena: “Wat haar so merkwaardig gemaak het, is dat sy ’n intellektuele reus was, maar ook ’n gewone vrou. Sy was hierdie groot gees in ’n klein lyfie. Sy was ’n ongelooflike mens. Ek was bevoorreg om haar te ontmoet.” (Die Burger, 15 Junie 2020)
  • Marita van der Vyver: “Spertyd vir Elsa Joubert. Dit word ’n nare, nare maand vir legendariese Afrikaanse vroue wat skryf. Sy was ons almal se voorloper. Ek voel verlore vanaand.” (Die Burger, 15 Junie 2020)
  • Willie Burger: “Elsa Joubert het lewenslank aangehou om die onbekende uit te daag – ook toe haar wêreld al meer ingeperk geraak het, het sy tot op 94-jarige ouderdom in Spertyd daaroor bly skryf, steeds gemoeid met die spannings wat alleen deur vertellings opgelos kan word. Sommige ander skrywers verwoord ook die spanning tussen Afrikanerwees aan die een kant en skaam wees aan die ander kant, sommige met meer woede en skaamte, ander met meer lojaliteit en trots.
  • “Joubert neem ’n mens in haar oeuvre, veral in Die reise van Isobelle, op ’n omvangryke reis deur die geskiedenis en ontstaan van hierdie spanning, soos geen ander werk nie. Sy wakker die trots aan en skeur dit weer pynlik los, daarom bly Joubert ’n reisgids tot ’n ander bestaansvlak, deur die hart.” (Die Burger, 15 Junie 2020)
  • Eloise Wessels, hoof van NB Uitgewers: “Elsa Joubert was a pioneer, she was ahead of her time. She successfully reached her own people with her political message  something that evaded other Afrikaans writers. Apart from the cultural and political dimensions of her work it also carries a powerful human element. (Netwerk 24, 14 Junie 2020)
  • Anroux Marais, minister in die Wes-Kaap regering: “The Western Cape and South Africa have lost another big voice in the literary world with the passing of writer Elsa Joubert. Elsa Joubert played a major role in opening narrative spaces for the stories of women in South Africa. Her groundbreaking novel, Die swerfjare van Poppie Nongena, told the story of the complex relationship between women of different races living under the Apartheid era. With this work, she brought a very important political message to her audience. She was a woman of strength in Afrikaans literature who continued to publish many works and was also awarded with the Hertzog prize. Poppie was also recently adapted to a movie and received high praise for the story which still resonates with audiences today.” (https://www.westerncape.gov.za/news/minister-marais-mourns-loss-literary-giant-elsa-joubert)
  • Ena Jansen: “Dit was so ’n voorreg om Elsa Joubert te kon ken. Soos familie is grootliks geïnspireer deur Poppie Nongena se verhaal en deur haar uitstekende kortverhaal “Agterplaas”.” (LitNet)
  • Tyrone Pretorius, rector and vice-chancellor of UWC: “One of my fondest gifts was a signed copy of Ms Joubert’s book (Poppie Nongena). She had a close affinity to the University. Apart from her son, Nico, working at UWC, she held the University very close to her heart and was on occasion even a guest lecturer here. She was very supportive of UWC and had a personal relationship with our former Rector and Vice-Chancellor, Professor Jakes Gerwel, as they both were renowned literary figures.” (https://www.uwc.ac.za/News/Pages/Tribute-to-Ms-Elsa-Joubert.aspx)
  • Isabeau Steytler, kleindogter: “Ek en my broer, Nicolasi, was bevoorreg om ons ouma naby ons te hê in ons grootwordjare. Sy het so baie vir my beteken. Sy was altyd liefdevol en ondersteunend. Soos wat ek groter geword het, het ons verhouding verander. Sy was steeds liefdevol, maar ons het lekker gesels en oor verskeie onderwerpe gedebatteer. Sy het my mening gerespekteer en my ernstig opgeneem. Dit was wonderlik om met so ’n intellek en verstand te kommunikeer.” (Die Burger, 17 Junie 2020)
  • Francois Smith, dosent in letterkunde en kratiewe skryfkuns: “Elsa Joubert het ’n klein stem en figuur gehad, maar hoe langer ’n mens haar geken het, hoe duideliker was haar intellek. Sy het daarvan gehou om kontak met mense te hou. [...] Ek onthou haar herinneringe met die skryf van ’n Wonderlike geweld. Sy kon haar jeugjare goed onthou - die sintuiglike en selfs erotiese, en sy kon evokatief daaroor skryf. Sy kon daardie binnewêreld van ’n jong meisie weergee. Selfs met die afstand van tyd het sy kontak gehad met die roering van ’n jong kind. Sy was as skrywer nie net die optekenaar van feite nie.” (Die Burger, 18 Junie 2020)
  • Anne-Marie Beukes, uitvoerende hoof van die Akademie: “Ek het die voorreg gehad om Elsa Joubert te kon inlig dat sy die LW Hiemstra-prys vir Spertydgaan ontvang. Haar reaksie: 'Baie dankie, dis ’n groot eer.' Ek is só dat sy dit geweet het.” (Die Burger, 18 Junie 2020)
  • Petrovna Metelerkamp, uitgewer van onder andere die Engelse vertaling van ’n Wonderlike geweld: “Ek het nou nog ’n lang bandopname waarop ek en Elsa gesels. Ons het baie goed reggekom, jy weet, respek vir mekaar. Sy was ’m baie goeie luisteraar. Ek het gesien hoes sy leef, hoe sy werk (in haar twee woonstelle in Berghof): die dissipline, die toewyding.” (Die Burger, 18 Junie 2020)
  • Lizette Rabe, departement joernalistiek, US: “Haar dood is nie net ’n slag vir die Afrikaanse letterkunde nie, maar ook vir Afrika. Sy was so ’n unieke stem wat tot die einde nog namens soveel kon praat: om bejaardes die voorreg van kinder- en kindskindersbesoek te mag gun. Ek het ’n verhoog met haar gedeel toe La Rochelle Meisieskool in 2010 sy 150ste bestaansjaar gevier het. Ná daardie geleentheis het daar op ’n dag ’n brief van haar opgedaag, en so begin korrespondensie op die ou manier: Briewe wat gepos word. Wat ’n voorreg; die bondeltjie briewe bevat kosbare rigtingwysers oor lewe en dood, vreugde en verlies.” (Die Burger, 18 Junie 2020)
  • Riana Barnard, oud-uitgewer: “Ek dink aan die stilte wat die tyding van iemand se afsterwe bring. Elsa, ons het so lank die voorreg gehad om jou te ken: jou durf, jou liefde vir Afrikaans en veral jou menslikheid. Nou hou ons vas aan die rykdom wat jy vir ons agtergelaat het in jou voorbeeld, jou boeke en aan die streep sonlig.” (Die Burger, 18 Junie 2020)

Publikasies:

Publikasie

Water en woestyn: ’n reis deur Afrika van die oorsprong van die Nyl tot by sy mond

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1960
  • 1961

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die verste reis

Publikasiedatum

1959

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Suid van die wind: die verhaal van drie eilande

Publikasiedatum

  • 1962
  • 1965
  • 1968
  • 1969
  • 1970
  • 1974

ISBN

062400435X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ons wag op die kaptein

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1968
  • 1971
  • 1973
  • 1977
  • 1979
  • 1980
  • 1981
  • 1982
  • 1983
  • 1985
  • 1986
  • 2005 (Klassieke Uitgawe)

ISBN

  • 0624004120 (hb)
  • 0624009696 (hb)
  • 0624021769 (sb)
  • 0624042715 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 1964

Vertalings

Engels vertaal deur Klaas Steytler 1982

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die staf van Monomotapa: reisjoernaal oor Mosambiek

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Swerwer in die herfsland

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1972

ISBN

0624002861 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die Wahlerbrug

Publikasiedatum

1969

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Bonga

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1976
  • 1985

ISBN

  • (hb)
  • 0624022277 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

CNA-prys 1971

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die nuwe Afrikaan: ’n reis deur Angola

Publikasiedatum

1974

ISBN

0624005739 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die swerfjare van Poppie Nongena

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1979
  • 1986
  • 1993
  • 2000

ISBN

  • 0624011984 (hb)
  • 0624023338 (sb)
  • 0624123757 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • CNA-prys 1978
  • Louis Luyt-prys 1979
  • WA Hofmeyr-prys 1979
  • British Royal Society of Literature Winifred Holtby-prys 1980

Vertalings

  • Engels vertaal deur die outeur 1980, 1981, 1985
  • Frans vertaal deur D Petillot 1981
  • Spaans (Buenos Aires) vertaal deur Y Salvá 1981
  • Duits vertaal deur KH Kosmehl, 1981, 1982
  • Bulgaars vertaal deur C Karag’ozova 1982
  • Nederlands vertaal deur A Swierenga 1985
  • Amerikaanse weergawe deur die outeur 1985
  • Hebreeus vertaal deur M Singer 1987
  • Italiaans vertaal deur B Armellin 1987
  • Spaans (Madrid) vertaal deur Y Salvá 1987

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Melk

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624014969 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die laaste Sondag

Publikasiedatum

1983

ISBN

06240022412 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur A Jonker 1989

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Poppie – die drama

Publikasiedatum

1984

ISBN

0624020436 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die vier vriende en ander stories uit Afrika

Publikasiedatum

  • 1985
  • 1987
  • 1997

ISBN

  • 0624021181 (hb)
  • 0624025217 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur die outeur 1987

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Missionaris: roman

Publikasiedatum

1988

ISBN

0624026639 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  •  WA Hofmeyr-prys 1989

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dansmaat

Publikasiedatum

1993

ISBN

0624030326 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die reise van Isobelle

Publikasiedatum

  • 1995
  • 2011

ISBN

  • 0624034232 (sb)
  •  9780624053088 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • WA Hofmeyr-prys 1996
  • Hertzogprys 1998

Vertalings

  • Engels 1998
  • Duits vertaal deur Stefanie Schäfer 2005, 2007

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gordel van smarag: ’n reis met Leipoldt

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624036065 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Twee vroue: novelles

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2006

ISBN

  • 062404145X (sb)
  • 06240444319 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Novelles

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Wonderlike geweld: jeugherinnerings

Publikasiedatum

2005

ISBN

0624042898 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur Irene M Wainwright 2014 (A lion on the landing)

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Reisiger: die limietberge oor

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624048121 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

  • UJ-prys vir letterkunde 2010
  • Recht Malan-prys vir Niefiksie of Nieliterêre werk 2010
  • Louis Hiemstra-prys vir Niefiksie 2011

Vertalings

Engels, vertaal deur Irene M Wainwright 2017 (A daughter of Africa)

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Spertyd

Publikasiedatum

  • 2017
  • 2018

ISBN

9780624084327 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

  • kykNET-Rapport-prys vir niefiksie 2018
  • Louis Hiemstra-prys vir niefiksie 2020

Vertalings

Engels 2019

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gordel van smarag: ’n reis met Leipoldt

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624036065 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

’n Keur van artikels oor Elsa Joubert op die internet beskikbaar

Artikels deur Elsa Joubert beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top