Ena Jansen skryf op Facebook:
Elsa Joubert (1922–2020) was altyd baie spesifiek oor plek – oor waar sy gestap en gereis het, oor Leeukop wat haar laaste uitsig was. Vanoggend wou ek nêrens anders stap as langs haar Oranjezicht-strate nie. Die eerste 4 foto’s is van haar en Klaas Steytler se huis in Belvederelaan waar sy onder meer Die swerfjare van Poppie Nongena (1978) geskryf het.
Die uitsig is noord stad toe oor die Moltenodam. Op daardie trappies het ek Elsa in 1974 ontmoet. Ek was saam met my tannie Alba Bouwer (my pa se kleinniggie) by wie ek in Hiltonweg gebly het. Dit was kort voor ek Nederland toe is en by Die Burger gewerk het. Ek was so onder die indruk van hierdie twee skrywers wat as buurvroue bymekaar langsloop en dadelik oor Patrick White begin praat!
Die ander foto’s is in Hofstraat geneem: links is die MediClinic waar Elsa Joubert gistermiddag 3 uur oorlede is. Lank gelede, toe dit nog die ou Volkshospitaal was, is Elsa se klein sussie, 8 jaar oud, daar oorlede. Regs in die straat is Berghof waar sy sedert 2001 gewoon het. Spes Bona (1915) is die damestehuis waar Elsa se ma (en myne) as jong vroue ’n tyd lank gebly het. Elsa se ma was trouens ook 97 toe sy oorlede is. Die laaste foto is in Hofmeyrstraat geneem. Dis die lieflike straat waarop Elsa se woonstel uitgekyk het, wes na Leeukop, waaroor sy so baie skryf in die onvolprese Spertyd (2018).
Ek plaas later die lang onderhoud wat ek vir Woordfees met haar gedoen het. Daarin verwys ek, na aanleiding van wat Hofstraat in haar lewe beteken, na TS Eliot se woorde “in your beginning is your end”. Sy herhaal dan: “Is your end”.
Dit was so ’n voorreg om Elsa Joubert te kon ken. Soos familie is grootliks geïnspireer deur Poppie Nongena se verhaal en deur haar uitstekende kortverhaal “Agterplaas”.
Kommentaar
Baie dankie vir die plaas van die memoriam, die pragtige foto's en die saamstap vandag. Elsa se wonderlike wonderlike werk sal baie baie lank voortleef tot verryking van die mensdom. Hartseer oor haar heengaan, maar ook verwonderd met so 'n vervulde, lang en liefdevolle lewe. Sag slaap x
Lieflike, dankie.
Baie besondere aanbieding! Ek het saam gestap en beleef wat jy vertel het. Sien baie uit na jou Woordfees-onderhoud met Elsa Joubert.
Wonderlik om Oranjezicht te sien. Ken al die plekke waarna jy verwys.