Hoe omskryf ’n mens ’n ervaring en meelewing van byna vyf dekades met iemand soos Elsa Joubert? In hierdie jare was daar sulke uiteenlopende belewenisse – opwindend, voedend, vreugdevol, plesierig, teleurstellend en hartseer. Elke emosie binne die konteks van ’n spesifieke ervaring.
Nee, weet ek, jy kan nie alles in ’n enkele nabetragting opvang nie. Uit my talle notas soek ek nou na die essensie van haar menswees wat ek geken het. Met die lees van my notas hoor ek hoe sy praat, ken ek haar gesigsuitdrukking en houding, hoor ek hoe sy woorde beklemtoon. Vir my dus nou ’n gesprek van herinneringe.
My eerlikste poging om haar te beskryf, is as iemand met ’n onfeilbare geloof in die ambag van die skrywer en die krag van woorde om ruimtes te ontsluit en grense te verskuif. As ek ’n deurlopende tema in ons persoonlike gesprekke kan uitsonder, is dit die reismotief.
In haar woorde: "Dit is nie net die onbekende as ’n ander kontinent of ’n ander persoon nie, maar dit is die bekende wat jy in jouself herken. Dit is die groot ding. Ek het dit altyd gepoog, somtyds reggekry, maar nie altyd nie, dat my reisverhale ’n tweede reis impliseer. Dit is die reis wat jy het in jouself – deur nuwe aspekte van jouself te ontdek.
"In dié verband het my reisboek, Suid van die Wind, vir my baie beteken. Die slotsom waartoe ek gekom het, bly my by. Dit was vir my ’n innerlike reis."
’n Anekdote wat sy een keer vertel het, onthou ek weer: "Iemand het aan my gesê: ‘The trouble with travel is that you take yourself along.’ Toe sê ek: ‘But you always bring someone else back!’ Jy bring jouself nie terug soos jy weg is nie."
Nou dink ek, reis was die wesentlike aard van Elsa – as skrywer en mens. Om te reis het meer betekenislae gehad as om net ’n gebied geografies of sosiaal-polities te verken. By haar was dit ’n inherente wete hoe "reis" op ’n ervaring én op jouself inspeel, om persepsies te stroop om jou oop te kan stel om nuwe ervaringe en gewaarwordinge te karteer.
Later het ek besef dat elke roman van Elsa Joubert in sy kiem ’n reisverhaal het en vra haar daarna.
"Poppie – ja, Poppie (Die swerfjare van Poppie Nongena ) kom ook uit ’n reisverhaal. Ek het gedink dat ek te veel oor ander lande geskryf het en wou reisverhale in ons eie land skryf. Ek het met navorsing begin. Ek het na al die tuislande gegaan; ek is na Langa, Nyanga, Gugulethu. Ek het daar gegaan na skole, ek het na kore geluister, na die hof gegaan waar die ma’s vir onderhoud vra en na die paskantore gegaan. Ek het dit alles gedoen met die doel om ’n reisverhaal in ons eie land te skryf.
"Ek het gevoel ons weet nie wat om ons aangaan nie. Ek wou probeer om die sluier te lig van wat net tien kilometer van ons in Kaapstad aangaan. Ek was in Soweto, ek was orals. En toe ontmoet ek vir Poppie – en ek besluit om rondom haar ervaringe ’n storie te doen. Maar dit was ook direk uit my kennis van wat ek vir ’n reisverhaal voorberei het.
"Almal sê dat ek so gelukkig was dat dié vrou spesifiek na my toe gekom het. Dit was nie ’n geval van geluk nie; ek was reg vir haar. Ek het al die inligting al versamel gehad. As sy iets sê, het ek geweet waarvan sy praat. Ek het die hele toneel gesien, want ek was in daardie kantore. Ek het by die kommissie wat die 1976-onluste ondersoek het, se sittings ingesit. Ek het my huiswerk gedoen gehad."
Met ’n vorige gesprek het ons oor die "winste" van reis gepraat. ’n Siening wat ons gedeel het.
"Ek het altyd iets saamgebring as ek teruggekom het. Ek het dit altyd vasgeheg aan iets hier. Dit was vir my ’n spieël wat ek ophou, dit was nie net buitekant nie. Dit het reflekteer op ons, na binne, op onsself."
Ek kon ’n reis met Elsa eerstehands meemaak. Etlike maande na haar man, Klaas Steytler, se dood in 1997, het sy my genooi om in Junie 1998 saam met haar in Rusland te reis. Sy het die reisreëlings behartig en ons het via Londen na Moskou gevlieg en as die enigste Suid-Afrikaners deel geword van ’n internasionale toergroep.
Sy was broos en soms hartseer. In die begin het ons gesprekke gehandel oor Klaas, haar verdriet oor sy heengaan, haar waardering vir hom dat hy, as skrywer in eie reg, haar op elke denkbare manier ondersteun en aangemoedig het om haar ideale as skrywer na te volg. Hy was haar gesprek- en sielsgenoot. Na hom het sy opgesien as haar mentor, haar eerste leser en haar raadgewer.
Klaas se byna voltooide manuskrip oor die Anglo-Boereoorlog het sy op die reis saamgeneem. Vir haar was dit baie belangrik dat die manuskrip gepubliseer moes word. Dit is ongelees gelaat. Sy wou vertel het – van Klaas se familie-agtergrond en meermale hoe Klasie Havenga, ’n eertydse invloedryke politikus, integraal deel van Klaas se jeugwêreld was. Dit was boeiende gesprekke.
Elsa kon nie anders as om haar geleidelik te laat intrek in hierdie nuwe ervaring nie. Ek het met verwondering toegekyk hoe sy eers net as waarnemer deelneem. Eerste was die verrassing dat al die aankondigings op die boot in Nederlands, Russies en dan Engels gedoen is. Ons Russiese toergids het vlot Nederlands gepraat, en aangesien dit die naaste aan Afrikaans was, het sy ons op hierdie manier verras. Daarna het Elsa elkeen in ons geselskap betrag en agterna bespiegel oor wat ons waargeneem het. Nie dat sy nie nuuskierig was nie, maar meermale haar fassinasie hoe enkeles haar herinner aan sekere figure uit die wêreldletterkunde.
’n Onvergeetlike moment was toe ons ure in ’n tou moes staan om die gebalsemde Lenin in sy praalgraf te besigtig. Terwyl ons daar staan het ons verskeie kere gewik en geweeg of dit alles die moeite werd is om nou juis vir Lenin te sien, toe twee jong Russiese mans in Afrikaans met ons kom praat het.
Dat ons toergids met ons Nederlands praat en hierdie mans nou in Afrikaans met ons kom praat, was vir Elsa net te wonderlik. Sy vra uit en hoor dat hulle as deel van hul opleiding as Russiese troepe Afrikaans geleer het om destyds in Angola teen die SA Weermag te kon veg.
Met ’n fronsende wag wat ons tot eerbiedige stilte wil forseer, terwyl ons rondom Lenin beweeg, vra Elsa saggies: "Kan jy dit glo? Hulle praat Afrikaans ... en goeie Afrikaans, suiwer ..."
’n Hartsaak was haar liefde vir Afrikaans en later haar kommer oor die toekoms daarvan. Sy het met Jan Rabie, wat sy "soos ’n broer" beskou het, ’n "brandende" liefde vir Afrikaans gedeel. Sy het – soos hy – kon sê dat "ek niks sonder my taal is nie".
Haar voedingsaar was altyd Afrikaans. Ek vra haar op ’n keer hoe sy dit sou verwoord. "Ek kan net sê dat ’n gedagte of gevoel of situasie kom net in my tot stand deur Afrikaans. Ek kan nie in Engels kreatief dink nie. As ek nou iets moet sê van ’n boom en blare, is dit vir my ’n ander begrip as om te praat van ‘tree and leaves’. ‘Leaves’ is vir my heeltemal iets anders. Totaal iets ánders. As ek dit gebruik, klink dit vals. Dit is vir my ’n herhaling van wat ek al alles in Engelse gedigte gelees het. Maar Afrikaans inkluseer, is dit die woord? - ’n eie gevoel."
"Afrikaans is vir my baie belangrik ... geweldig belangrik. Maar ’n mens kan nie Afrikaans en ’n volk gelyk stel nie," het ek haar meermale hoor sê.
Op my vraag oor haar aangetrokkenheid tot Afrika, vertel sy my van ’n destydse kêrel wat haar in die middel 1940’s na Natal genooi het.
"Tydens ons besoek aan Swaziland het die broeiende Afrika, so totaal anders as die landelikheid van die Boland, my aangegryp. Ek was skielik bewus hoe ons aan die suidpunt van Afrika, afgesny is van ons kontinent. Die bewustheid oor Afrika, as kontinent soos ons dit vandag ken, was daar nie. Ek het geweet ek moes dit verken, deels uit nuuskierigheid, deels uit avontuur, maar veral om kennis te maak met die vreemde om ons. Ek wou die lewe deur Afrika ontdek, ek wou met die onbekende in Afrika kennis maak. Ek wou mense wat anders as ek was, leer ken."
Elsa was nie gereken as deel van die Sestigers nie, maar sy het verwyderd gevoel van die destydse Afrikaanse geestesklimaat. Haar tuiskoms, as skrywer, was in die Afrikaanse Skrywersgilde, waarvan sy en Klaas stigterslede was. Dit het haar laat voel dat "ek nou deel is van die skrywerskorps van Afrikaans."
"Ek het altyd gesê dat die gilde die groep is waarin ek tuis gekom het. Ons het as groep anders gedink en kon openlik met mekaar praat. Daardie groep het vir my baie beteken. Ek het altyd meer tuis in die literêre groep gevoel as in ’n volksgroep. Die gilde was die groep waar ek behoort het."
Destyds was ek die sekretaresse van die Afrikaanse Skrywersgilde en Elsa was vir die ses jaar van my termyn op die gildekomitee. Hier is dikwels en indringend gepraat oor hoe belangrik dit in die 1970’s en vroeë 1980’s was om die benaming van die gilde Afrikaans te hou en as Afrikaans te erken. Versoeke van Engelse skrywers soos Nadine Gordimer en JM Coetzee om die Afrikaans uit die benaming weg te laat om meer inklusief te wees, was nooit juis ernstig oorweeg nie. Hierteen was die meeste skrywers gekant. Die sterkste teenkanting het van Elsa en Jan Rabie gekom. "Nee, Afrikaans is ’n taalprestasie van Afrika – en dus oop en toeganklik vir almal," het sy meermale driftig gesê.
Vir haar werk en bydrae het Elsa Joubert wye erkenning ontvang – hier en internasionaal. Toe ons op ’n keer praat oor die belang van erkenning, praat ons veral hoe Poppie se storie die wêreld deurkruis het.
Toe ek sê dat ek die erkenning wat sy vir Poppie ontvang het om gelys te wees as een van die belangrikste Afrika-boeke in 2001 (100 Afrika-boeke van die Eeu) vir my dié uitstaande prestasie was, antwoord sy: "Ja, dit het vir my baie beteken, want dit was waarna ek eintlik onbewus na gestrewe het, om ander bewus te maak van die res van Afrika. Dit was vir my belangrik dat ons mense die boeke van Afrika moet lees. Daar is geen toekoms as ons nie ander mense leer ken nie. Om ander te sien soos hul hulself sien, dis belangrik. Ek wou veral Afrikaners in kontak bring met skrywers soos Chinua Achebe, Wole Soyinka, Ngugi en ander."
(In die 1970’s het Elsa Joubert ’n gereelde bydrae tot Die Burger se Boekeblad geskryf op versoek van Schalk Pienaar, wat vir ’n ruk as Boekeredakteur diens gedoen het).
"Dit was vir my so opwindend toe die lys (Afrika-) boeke bekendgemaak word en dat ek so baie van die skrywers geken het en hul werk gelees het. Poppie is saam met Eugène Marais se Siel van die Mier die enigste Afrikaanse boeke op die lys. Met die erkenning van Afrika-tale op die lys en Afrikaans, naas Arabies, die eerste wat genoem word, het ek my meer as ooit gevoel dat ek nou hier – onder die skrywers van ons kontinent – tuisgekom het. Vir my is dit ’n stuk bevryding. Ek voel tuis in hierdie geselskap, veel meer so as toe ek byvoorbeeld deur die Royal Society of Literature in Londen erken is. Toe was ek ’n koloniale ‘peripheral writer’. Hier is ek nou in die hart van Afrika!"
’n Laaste herinneringsmoment beskryf Elsa in Spertyd. Ons tuinparty by Berghof op voorstel van Attie de Villiers, Audrey Blignault se wewenaar. In die tuin was twee tafels uitgesit met vyf stoele. Ek het Attie met sy rolstoel in my motor na die agterhek geneem en Elsa, wat as gasvrou ingestaan het, het ons vriendelik ontvang. Ons het met tee en koek begin en met vonkelwyn afgesluit. ’n Feesparty waarin ons die lewe kon vier.
Ek bly dink aan Sheila Cussons se gedigreëls, "die ryp geel kring" wat van volronding en afsluiting praat. Jare se blootstelling het elke keer aan my bevestig dat ons mekaar, inderdaad, net ten dele ken. Ek eer Elsa nagedagtenis en sê dankie.
Kommentaar
Dankie Amanda vir hierdie mooi huldiging. Ek was bevoorreg om saam met Klaas by Tafelberg te kon werk en deur hom ook vir Elsa ’n bietjie te leer ken.
So ’n mooi huldeblyk, dankie Amanda. Baie oor haar werk geskryf, veral nou na haar dood. Hierdie skrywe gee egter ’n effens anderse perspektief en laat jou met ’n diepe waardering vir Elsa die mens asook haar werk.
Baie dankie Amanda lekker gelees. Suid van die Wind het ek op skool leer ken.
Dankie vir n baie deernisvolle huldeblyk.
Dit raak die hoeke van my hart.
Dankie dat jy jou herinneringe en insigte met ons deel en ons Elsa so kan onthou en waardeer.