Agterstories: Wat ons op skool leer

  • 1
  • Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.

Hier is wat ek onthou van skool: In standerd vier het ek die fout gemaak om in ’n wetenskapvraestel te skryf die manlike vorm van ’n hoender is ’n kraai. In ’n standerd twee-vraestel het ek geskryf die indringerplantspesie wat op die Bergrivier groei is “Ens”. (Niemand het my vertel ens staan vir ensovoorts nie.) Iewers in hoërskool-Geskiedenis het ons oor Stalin se vyfjaarplanne geleer. Ek onthou spesifiek die woord Jakaterininburg. (Korrekte spelling: Jekaterinburg.) In matriek het ons Bonga gelees in Afrikaans Eerstetaal, meestal omdat die betrokke onderwyser ook Paarl Gim se eerste rugbyspanafrigter was. Ek het steeds geen idee waaroor die storie gaan nie. (Bonga, geskryf deur Elsa Joubert, handel oor “die konflik tussen die 'primitiewe' kultuur van Afrikastamme en die Christendom, en speel [af] in die negentiende eeu in die Zambezi-vallei in Mosambiek”, vertel Wikipedia my. Moet eerder maar nie vir ChatGPT vra nie.) Iewers in Skeinat het ek geleer dat magnesium brand met ’n verblindende wit lig.            

Dit is die som van wat ek op skool geleer het.

Nou goed, die leser mag wonder oor die teenfeitelike realiteit: Sou ek kon lees en skryf en somme doen en weet dat Egipte ’n Afrikaland is as ek nie op skool was nie? Sou ek sonder skool universiteit toe kon gaan, ekonomie studeer en nou ander leer oor die redes hoekom sommige lande ryk is en ander arm?

Miskien nie.

Maar daar is ’n goeie kans, skryf die libertynse ekonoom Bryan Caplan, professor in ekonomie aan George Mason-Universiteit, dat baie van wat ek op skool leer, absoluut nutteloos is. En omdat dit tyd en (staats-) geld kos om kinders op skool te hou, is dit nie net nutteloos nie, maar ook uiters duur, ’n las op die samelewing. Daar is gans te veel onderwys, verduidelik Caplan in sy boek The case against education.

Hier is sy argument. Natuurlik leer ons iets op skool, veral lees en skryf en somme. Maar daar is baie wat ons leer wat heeltemal oorbodig is:

Think about all the classes you ever took. How many failed to teach you any useful skills? The lessons you’ll never need to know after graduation start in kindergarten. Elementary schools teach more than reading, writing, and arithmetic. They also require history, social studies, music, art, and physical education. Middle and high schools add higher mathematics, classic literature, and foreign languages – vital for a handful of budding scientists, authors, and translators, irrelevant for everyone else. Most college majors don’t even pretend to teach job skills. If you apply your knowledge of Roman history, Shakespeare, real analysis, or philosophy of mind on the job, you have an odd job.

Caplan draf dan deur die nuutste navorsing oor hoe min ons werklik onthou van skool. Amerikaners het gemiddeld vier jaar se hoërskool-Geskiedenis, maar toets hulle as volwassenes en hulle het geen idee van selfs die basiese feite van die geskiedenis nie. (Ek kan dit beaam: In my tweedejaarsklas toets ek elke jaar studente se geografiekennis. Ek wys vir hulle ’n kaart van Afrika en vra om die gemerkte lande te lys. Dis gewoonlik lande soos Botswana, Kenia, Nigerië en Senegal – en miskien een “moeilike” een soos Mauritanië. Die gemiddeld? 1 uit 5. Elke jaar, nou al vir ’n dekade. 30% van die klas weet nie waar Botswana is op ’n kaart nie. Voetnota: Hierdie is die room van die room van studente in Suid-Afrika.) Caplan bespreek ook ’n literatuur oor hoe vinnig ons vergeet:

Extensive research on “summer learning loss” compares students’ scores at the beginning of the next school year. The average student intellectually regresses roughly one full month during a three-month summer vacation. The older the students, the steeper their decline. For reading, to take the clearest case, first- and second-graders actually slightly improve over the summer. By the time students are in middle school, however, one summer vacation wipes out over three months of reading proficiency.

Maar hier is Caplan se dilemma: Waarom is die verdienstepremie van ’n universiteitsgraad bo 70% in die VSA? Anders gestel: Hoekom verdien mense met grade soveel meer as dié daarsonder? Selfs matrieks verdien meer as dié sonder matriek. Seer sekerlik is dit tog genoeg bewys dat onderwys wél waarde toevoeg, dat wat mens leer op skool en universiteit jou méér produktief maak?

Wag ’n bietjie, sê Caplan. Dis nie die inhoud wat belangrik is nie. Nee, ’n kwalifikasie is bloot ’n sein wat studente stuur aan voornemende werkgewers dat hulle slim is en hard kan werk. Caplan verduidelik:

Even if what a student learned in school is utterly useless, employers will happily pay extra if their scholastic achievement provides information about their productivity. Suppose your law firm wants a summer associate. A law student with a PhD in philosophy from Stanford applies. What do you infer? The applicant is probably brilliant, diligent, and willing to tolerate serious boredom. If you’re looking for that kind of worker – and what employer isn’t? – you’ll make a generous offer. You could readily do so knowing full well that nothing the philosopher learned at Stanford applies on the job.

In kort: Onderwyskwalifikasies is bloot ’n sein van ons inherente vermoëns en karakter.

Daar is by my geen twyfel dat Caplan ’n deel van die waarheid beet het nie. Maar ek stem nie met als wat hy voorstel, saam nie. Ek dink, byvoorbeeld, dat dit ook belangrik is om te dink wat die alternatief tot skool is. Vir Caplan is dit speel. Dit maak sin as tieners kan “speel” in ’n veilige omgewing, veral in die natuur, maar die meeste kinders in Suid-Afrika sal sonder skool in onveilige krotbuurte maklike prooi word vir misdadigers; skool verskaf vir baie ’n veilige ruimte en vir enkeles ’n kans op ’n beter lewe. ’n Beter skoolstelsel sou selfs meer kon regkry om sosiale mobiliteit te bevorder.

En dan is daar ook ’n nuwe studie oor wat ons in hoërskool-Biologie leer – en onthou. Benjamin Arold se “Evolution vs. creationism in the classroom: The lasting effects of science education” gebruik die gefragmenteerde infasering van ’n wetenskapskurrikulum tussen verskillende Amerikaanse state om te bepaal wat die oorsaaklike impak van ewolusieleer op studente se kennis daarvan, oortuigings en lewenskeuses is. Hy vind, eerstens, ’n toename van ewolusie-inhoud in Biologie-klasse lei tot ’n toename in kennis oor ewolusie onder studente; dalk nie ’n verbysterend interessante resultaat nie, maar in die lig van Caplan se kritiek, ook nie onbelangrik nie. Meer belangrik is egter dat hierdie kennis behoue bly totdat hierdie studente volwassenes is. En dis gróót: 79% meer van dié wat die volle kurrikulum van ewolusieleer ontvang het, “glo” in ewolusie, in vergelyking met dié wat nie van ewolusie in die Biologie-klas geleer het nie. Interessant genoeg het hierdie kennis van ewolusie geen effek op hierdie volwassenes se godsdienstigheid nie en beïnvloed dit ook nie hul politieke assosiasies nie.

Laastens vergelyk Arold die loopbaankeuses van dié wat blootstelling aan ewolusieleer gehad het, teenoor dié daarsonder. Hoërskoolleerders met omvattende blootstelling is baie meer geneig om loopbane in die lewenswetenskappe te kies, veral in biologie.

Arold se studie beklemtoon dat wat ons leer op skool, nie heeltemal nutteloos is nie. Ons onthou dalk nie die feite nie en moontlik is ons matriekpunte bloot ’n sein aan werkgewers en universiteite oor ons vermoëns eerder as ons kennis. Tog, dit wat ons opdoen in daardie klaskamers – die blootstelling aan nuwe idees en die ontwikkeling van kritiese denke – kan ons lewens beïnvloed op maniere wat ons dalk nooit besef nie.

Soos die haan kraai, so koer die hen.

Lees ook:

Agterstories: Die ekonomie van styl

  • 1

Kommentaar

  • Kyk na die "braai-" en "eet-"programme op TV en let noukeurig op die spyskaarte wat hulle wys. Wat het die braaiers en kokers op skool geleer van spelling in Afrikaans?? Blykbaar niks tot bitter min!!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top