- Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.
Agt uur en drie minute. Dít is hoe lank die gemiddelde voltyds werkende man in Suid-Afrika op ’n weeksnag slaap – langer as sy eweknieë in Duitsland, die Verenigde State of Noorweë, en langer as in enige van die ander 12 lande wat ’n groep ekonome onlangs ondersoek het. Volgens dié maatstaf wen ons.

Grafika: © Htc Erl, geplaas op 12 November 2020 (Pixabay.com)
Die vergelyking kom uit ’n onlangse artikel deur Cristián Jara, Francisca Pérez en Rodrigo Wagner in Economics and human biology. Hulle neem tydsbestedingsopnames, dagboeke waarin mense elke 10 minute aanteken wat hulle doen, uit 13 ryk en arm lande, en kyk dan hoe lank mans van werkende ouderdom slaap en vergelyk dit met die inkomstevlak van hul land. Die resultaat is ’n bietjie onverwags. ’n Mens sou dink welvaart koop vir jou meer van die goeie dinge in die lewe. Met slaap werk dit andersom: hoe ryker die land, hoe minder slaap sy mense. Noorweërs verdien omtrent sewe keer soveel as Suid-Afrikaners, maar slaap sowat ’n uur minder. Die Dene, wat nog ryker is, slaap die minste van almal.

Klik hier vir ’n groter weergawe.

Klik hier vir ’n groter weergawe.
Waarom sou dit wees? Slaap is gratis. ’n Mens sou dink mense met gemakliker beddens, minder kinders, stiller woonbuurte en meer geld om hul bekommernisse mee te probeer oplos, sal méér slaap, nie minder nie. Die navorsers se antwoord is eenvoudig: hoe ryker ’n land, hoe meer ander dinge is daar om met jou tyd te doen. Die tyd wat mense langer wakkerbly, word eerder op die internet, saam met vriende of aan geleenthede bestee – aan die ander dinge waarvoor ’n mens tyd maak indien jy dit kan bekostig. Slaap is dus nie ’n luukse waarvan ’n mens vir jou meer kan koop nie; dis eerder ’n goedkoop plesier wat maklik deur ’n ryker, besiger lewe opsygeskuif word. Die verband tussen inkomste en slaap is beskeie maar betekenisvol: Volgens die navorsers is dit sowat minus 4%. Met ander woorde, hoe hoër die inkomste, hoe minder slaap mense gemiddeld. Dieselfde patroon geld tussen lande én in dieselfde land.
Hierdie punt maak baie saak, want ’n nasionale slaapgemiddeld vertel net een deel van die storie. Bekyk ’n land se sake van nader en dieselfde patroon duik weer op: Mense met hoër inkomste slaap minder as mense met laer inkomste. In die meeste lande in die steekproef is die verskil sowat ’n halfuur. In Suid-Afrika is dit ’n volle uur: Mense aan die bokant van die inkomsteleer slaap elke nag omtrent ’n uur minder as dié aan die onderkant. Dit is een van die grootste verskille in die hele datastel, met net Nederland wat naby daaraan kom.
Die armes slaap dus meer. ’n Skrale troos, dalk? Die probleem is dat die verband tussen inkomste en slaap ons nog nie sê of meer slaap op sigself ’n verskil maak nie. Daarvoor moet jy mense meer laat slaap en dan kyk wat gebeur. En dit is presies wat ’n merkwaardige nuwe studie in die Journal of Political Economy gedoen het.
Osea Giuntella, Silvia Saccardo en Sally Sadoff voer ’n veldeksperiment met 1 149 studente aan die Universiteit van Pittsburgh uit. Elke student dra ’n Fitbit-slimhorlosie wat hul slaap minuut vir minuut aanteken. Die plan is eintlik eenvoudig: Die navorsers wil sien wat die effek is van ’n halwe semester se aanporring en ’n bietjie sakgeld. Studente kry $4,75 vir elke weeksnag waarop hulle minstens sewe uur slaap. Die sewe uur moet teen nege-uur die volgende oggend op die horlosie aangeteken wees. Studente word die vorige aand herinner om te gaan slaap en die volgende oggend kry hulle terugvoer oor hoe hulle gevaar het. Die navorsers wil ook weet watter deel van die plan eintlik werk, daarom kry sommige studente die beloning onmiddellik, ander eers later, en ander kry net die herinnering.
Die studie bevestig dat dit wérk om studente te betaal om te slaap. Dit is dalk nie so verbasend nie, maar wat daarop volg, is interessanter. Die aantal weeksnagte waarop studente ’n volle sewe uur slaap, het met 26% gestyg en hulle het gemiddeld sowat 19 minute meer geslaap per nag. ’n Mens sou kon verwag dat 19 minute ’n nag in die loop van ’n semester sou verdwyn. Glad nie. Kursuspunte het met 0,075 tot 0,089 van ’n graadpunt gestyg – klein in absolute terme, totdat ’n mens besef dat dit ongeveer ’n kwart is van die hele gaping tussen studente wat met bo- en ondergemiddelde hoërskoolprestasie universiteit toe kom. Daardie paar ekstra minute se slaap per nag oorbrug dus ’n merkbare deel van ’n gaping wat skole al jare lank met groot moeite en koste probeer verklein.
Twee besonderhede staan verder uit. Die eerste is dat onmiddellike belonings die uitgestelde belonings maklik klop – die betaling moes dieselfde oggend in die student se hand wees om sy gedrag te verander. Dit sê nogal iets oor hoeveel meer ’n beloning werd is as ons dit nóú kry. Die tweede is dat die gewoonte nie heeltemal verdwyn het toe die belonings ophou nie. Studente het in die daaropvolgende weke omtrent agt minute van hul ekstra 19 minute gehandhaaf, en hul punte het nog ’n semester lank beter gebly voordat die effek begin vervaag het. Hierdie ingreep was wel nie ’n permanente oplossing nie, maar ook nie niks nie. ’n Herinnering en ’n klein beloning wat oor en oor herhaal is, het tog ’n effek gehad.
As die Pittsburgh-eksperiment vir ons sê dat meer slaap die moeite werd is, dui ’n tweede studie daarop dat ons dalk heeltyd na die verkeerde maatstaf gekyk het. Daniel Windred en kollegas het in die vaktydskrif met die gepaste naam Sleep meer as 60 000 middeljarige Britte gevolg wie se horlosies nie net aangeteken het hoe lank hulle slaap nie, maar ook hoe gereeld hulle min of meer dieselfde tyd gaan slaap en wakker word. In die daaropvolgende jare toon die data dat mense met die gereeldste slaappatrone tussen 20% en 48% minder geneig is om te sterf as dié met die onreëlmatigste patrone. Hoe gereeld hulle slaap, was selfs ’n beter aanduiding van hul kanse op oorlewing as hoeveel hulle slaap. Wanneer jy gaan slaap, maak met ander woorde meer saak as hoeveel jy slaap.
Dit laat ’n mens ook anders na die Pittsburgh-resultaat kyk. Die intervensie het immers nie net ekstra slaaptyd opgelewer nie; die herinnering saans het studente ook gehelp om meer gereeld op dieselfde tyd te gaan slaap.
Ons het egter nie altyd beheer oor hoe lank óf hoe gereeld ons slaap nie. Bewyse daarvoor kom uit Fotis Grigoris, Gill Segal en Chao Ying se studie wat nog nie gepubliseer is nie. Hulle versamel slaapdata per minuut van 51 000 Amerikaners oor 19 miljoen nagte en vergelyk dit met die nuus. Wanneer ekonomiese onsekerheid skerp toeneem, byvoorbeeld as ’n bank in duie stort, of ’n oorlog uitbreek, slaap mense etlike nagte lank slegter en kry hulle minder diep slaap. Die skrywers beskryf dit as ’n soort wakkerlê en wonder wat volgende gaan gebeur, oftewel die wake-and-see-effek. Die implikasies strek selfs verder: Op oggende nadat die land sleg geslaap het, open die markte met minder handelsaktiwiteit en swakker vertoon. Die mense wat finansiële markte dophou behoort dalk ’n slaapaanwyser in hul modelle in te bou ...
Dit bring ons terug by daardie agt uur en drie minute se slaap en by ’n paradoks wat daarmee gepaard gaan. Slaap is goed vir ons, maar dit is die armes wat meer daarvan kry. Dis nie dat hulle te veel slaap nie, dis bloot dat rykes te min slaap. Welvaart koop dus nie vir die rykes meer rus nie, maar bring eerder al hoe meer afleidings. So verloor ons juis een van die goedkoopste dinge wat ’n mens se kop skerp hou. Suid-Afrikaners slaap gemiddeld steeds meer as mense in die ryker dele van die wêreld. Die kuns gaan wees om daaraan vas te hou voordat ons dít ook prysgee.

