
Aggressiewe water
Erika Viljoen
Uitgewer: Karavan Press
Prys: R320
Jeanne Goosen skryf in ’n gedig oor haar ma:
as ek haar nie neerskryf nie
is ons sonder geskiedenis
Met Aggressiewe water is dit die ma wat aan die woord is. En sy doen self die bewaring hier. Sy openbaar ’n kosbare tydperk in haar en haar gesin se lewens. ’n Storie oor bloed wat dikker as water is, al is dit hoe aggressief, want die radikale teerheid van hul familieband is wraggies ’n boek werd.
Die skrywer Erika Viljoen is self hier aan die woord. Sy en haar man, wat slegs “Geliefde” genoem word, raak keelvol vir die sement-oerwoud en besluit om ’n kans te waag. Om blindelings jou eie bloeiende hart die onbekende in te volg. Dit wat meeste van ons te bang is om te doen. Hul twee kjeeners, Roland en Mika, pak saam die tog aan uit die stad uit, met ’n bittersoet gevoel, soos sy hier skryf: “Als van die stad is bekend tog onbemind” (143). En daar mik die vier nie vir ’n kleindorpie met kerkklokke wat “praat met ’n plattelandse stem” nie, soos Goosen oor haar eie memories van Parow skryf. Nee, die Brady bunch besluit om nog meer hardcore te gaan. Hulle besluit om ’n kaal stuk aarde te koop wat hul na Krotoa (later hieroor) vernoem.
Aanvanklik is die boerebure skepties oor die eksentrieke nomads. Erika en haar gesin is egter min gespin. Sy is gewoond aan eenkant en anders voel, anders dink. In die eerste hoofstuk, “Lachesisme en feminisme”, skryf sy oor hoe sy al meeste van haar lewe probeer loskom van Afrikanerdom en die verwagtinge wat daarmee saamkom. Dus is hier geen Emsie Schoeman-nostalgia nie. Sy en haar gesin slaan skaamteloos tent op. ’n Feestelike vakansie-ekspedisie. Die verteller bly egter skepties deur al die verfrissend impulsiewe gebeure. Nagte om wonder sy of dit die regte besluit was om uit hul voorstedelike gemaksone te reis, weg van ons wat eens hul identiteit gevorm het en totaal oor te begin. Wat haar egter ’n opwindende narrator maak, is die feit dat sy moerse hardkoppig is. Sy xham so aan daai droom van haar, om onafhanklik, groen, na aan die aarde en vry te leef. Erika word gedryf daardeur om haar en haar gesin se wortels in die aarde te gaan plant.
Alles is egter nie net mooi sonsondergange en ge-gebergtes nie.
Later, toe die klomp ’n wendyhuis opslaan, word hul deur slange verwelkom, dan weer gewoond raak aan buitetoilets, bouers wat sloer, Geliefde wat diep in Afrika moet gaan werk, kjeeners wat skole moet change en boonop ’n koddige Jack Russel wat in ’n erdvarkgat beland.
Of die klomp die lewe op die platteland en erger die plaas oorleef, moet julle maar self uitvind. Wat ek wel kan sê, is dat Aggressiewe water ’n meditasie van liefde, familie en drome is.
Die prosa bestaan meestal uit ’n klomp lang sinne waarvoor die skrywer en haar uitgewer ’n maklike oplossing voor kon kry, om dit bloot af te wissel met kort, kragtige sinne en sodoende die kontras tussen die wêrelde en gebeurtenisse sterker te belig. Die skone eenvoud van die gesin se kosbare verhoudings, idilliese natuurskoon met die strak werklikheid van aanpas by ’n vreemde omgewing, nie inpas by die gemeenskap nie, finansiële en infrastrukturele uitdagings. ’n Verskeidenheid in die strukturele aanbod sou die leesproses baie meer vloeiend maak, waar die lang sinne ’n mens laat uitasem voel met die lees daarvan. Stilte en asemhaling is belangrik. Veral met skryfwerk waar die inhoud geen konvensies soos ekstreme konflik of nagevolge behels nie. Hoe meer eenvoudig die storie, hoe skerper kyk die lesersoog na struktuur.
Nou op die onderwerp van Krotoa, na wie die plaas van die verteller vernoem is. Sy word ook geken as Eva van de Kaap. Die 17de-eeuse Khoivrou wat as tolk in Jan van Riebeeck se huis ingebring is en wat later met Pieter van Meerhof getroud is. ’n Historiese figuur met ’n pynvolle verlede van uitbuiting en verslawing. En wat al verskeie kere kultureel wanuitgebeeld is. Soos die kunstenaar, Lizelle Kruger, wat onlangs vele kritiek ontlok het na sy ’n “herverbeelde” weergawe van Krotoa vir die Castle of Good Hope geverf het. Kruger noem dat sy graag die historiese figuur se onskuld en waardigheid wou herwin.
Erika noem weer dat die rede agter die benaming soos volg is:
Haar tragiese geskiedenis van alkoholisme en verbanning na Robbeneiland was ons inspirasie, vir my as vrou en vir ons almal as Afrikane, om eer te bewys aan die eerste inwoners van ons hartseer land. (49)
Kort hierna bevraagteken sy of dit kulturele appropriasie kan wees dat hulle die plaas na Krotoa vernoem het en noem woorde soos arrogant en naïef (50).
Dis ’n teer saak. Die claiming van Krotoa as ons ammal se voorouer. Dit voel bietjie soos ’n cop-out, as to say: Ek’s nie ’n indringer nie, want ek’t ook haar bloed in my are. Om van witskuld ontslae te raak. Wat egter verligtend is, is die feit dat die spreker ook nie bang is om haarself te kritiseer nie en tik gelukkig haarself oor die vingers soos enige iemand anners dit kan doen. ’n Narrator met insig, consciousness en deernis.
Die boek se krag lê in die kleurvolle gesinslede. Erika, die feminis-boervrou met ’n polities bewuste uitkyk en groot hart, wat sy baiekeer met stortende trane langs die buitekraan weg van haar kroos moet leegmaak. Haar Geliefde is weer ’n vrygees-prokureur wat nie skrik vir sy hanne vuilmaak, onverskrokke weerloos wees en om skaamteloos aan sy familie liefde te toon nie. Veral die tonele waar die ouers hartstogtelik elke oggend hul liefde aan hul kjeeners toesnou, het my nogal xhouboe lat voel. Gewonner hoe dit moes wees om ouers te hê, veral ’n pa wat vrylik voor mense vir my kon soen en druk. Kon sê hy’s lief vir my. Trots op jou. Dan voel ek leeg met die lees van hoe die tranerige ouers agterbly, terwyl die twee kleintjies met die skoolbus verdwyn. Tog is dit inspirerend om te dink dat ons ons Calvinistiese kettings kan losbreek en mekaar dalk eendag sonder inhibisie kan bemin sonner die vloek van kil ordentlikheid wat meeste ouers van kjeeners skei. Om mekaar op ’n afstand te hou. Om gevrees te word. Om nie raak te sien dat jou ouers ook net fucked up soos die res van ons is nie. En dis okay. Dis eintlik nogal blerrie mooi.
Dan is daar die oudste, Roland, ’n nie-binêre kanniedoodgees wat van kleins af alles gee in alles waaraan hul deelneem. Al vaar hul maar power op die sportterrein, blink hul weer uit op die drama-afdeling. Hul is vandag ’n belowende teatermaker in die stad met ’n unieke stem. Mika, die bybie, is weer van kleins af elke onderwyser se oogappel, al is hy ook soms ’n rabbedoe. ’n Sagte en liefdevolle mens wat later ’n suksesvolle beroepsman word.
Aggressiewe water sal jou as leser opnuut herinner dat ons onlosmaaklik verbind is aan mekaar ennie aarde. Al word die titel kort voor die einde verklaar, is dit egter soveel meer as net die letterlike. Nes Goosen se odd-ball familie wat sukkel om van mekaar los te kom, is Erika s’n die bloed wat dikker as water is. Dit is die rooi water wat deur ons ammal vloei. Die geestelike vlegsel wat ons ammal saamknoop. My ouma Mollie het op Sondae vir my ’n storie vertel. As ons klaar chutney-hoender, rys en soetkwepers geëet het, dan het ons twee op die groot dubbelbed in die buitekamer ’n middagslapie gevang. Sy vertel my dan dat ons ammal eendag na waters sal terugkeer. ’n Stormstil, swart see onner al die planete.
Hier neem die verteller ons na ’n innerlike oerbegin-einde, waar die drang na drome gevolg word.
- Fotobord van Pixabay

