Afrikaners en die apartheidsgeskiedenis

  • 1
jakes_madiba_lloyd650

Nelson Mandela en Jakes Gerwel (fotobron: http://www.independent.co.uk/news/obituaries/professor-jakes-gerwel-mandelas-unsung-hero-8374234.html)

Alle wit mense, of meer spesifiek Afrikaners, is nie slegte mense nie, en alle wit mense het ook nie apartheid ondersteun nie – alhoewel alle wit mense uit aparte ontwikkeling voordeel getrek het.

In die boek Nelson Mandela – From freedom to the future (2003) skryf Jakes Gerwel oor nasiebou en versoening dat Madiba steeds glo daar is goeie mans en vroue in elke gemeenskap. Madiba het dié eenvoudige dog belangrike “lering” herhaal.

Met ander woorde: daar is ook goeie wit mense of Afrikaners wat hard werk om die nuwe Suid-Afrika te maak werk en wat jammer voel oor ons apartheidgeskiedenis.

Dit is ten spyte van die skeptisisme – gedryf deur (soms) oppervlakkige bitterbekkige lesersbriewe in die Afrikaanse media – wat ongelukkig die oorblywende besadigde denke en gesprekvoering tot nou toe oor die plek van die Afrikaner in die nuwe Suid-Afrika oordonder.

Nie dat skeptisisme in beginsel ʼn verkeerde verskynsel behoort te wees nie. Onder intellektuele behoort bedenking as ʼn aanvaarbare eerder as ʼn aanvegbare verskynsel verwelkom te word. Die gevaar is egter dat aanhoudende modieuse sinisme tot ʼn toenemende sinsverbystering kan lei.

Reeds daarom voel ek egter dat dié nugtere stemme in die Afrikanergemeenskap deur die oordonderde bittere stemme verdring word en dat dié bitterbekke in die algemeen as woordvoerders vir Afrikaners beskou en aanvaar word.

In dié verband is die nugtere stem van die gerespekteerde oudminister Roelf Meyer baie nodig. Meyer is bekend daarvoor dat hy Suid-Afrika, en in besonder die Afrikaners, ʼn goeie naam gee. Meyer was saam met die huidige adjunkpresident Cyril Ramaphosa onderskeidelik destydse hoofonderhandelaars vir die NP en ANC, en hulle het ‘n aandeel daaraan gehad om die einde van apartheid te onderhandel.

Meyer is reg: Suid-Afrika is nie ʼn mislukte staat nie en is ook nie daarheen op pad nie. Ja, ons land het baie uitdagings, soos leiers wat nie altyd die fundamentele beginsels van die Grondwet respekteer nie. Leiers wat hulle skuldig maak aan die genadelose najaag van hulpbronne en die plundering van die staatskas. Leiers wat geen respek vir basiese morele waardes toon nie.

Net soos wat apartheid nie kon oorleef nie, net so sal die huidige leiers wat ons deur hulle gedragswyse skaam maak, ook verdwyn. Meyer is reg: “Politieke gebeure het ʼn vreemde manier om hulself te herhaal.”

Soos Meyer is daar ander besonderse Afrikaners wat hul gemeenskap en Suid-Afrika trots maak. Oudminister Leon Wessels, wat verlede jaar gesê het ten spyte van ons gedeelde uitdagings het “die idealisme en opwinding van 1994 plek gemaak vir realisme en harde werk”, is so ’n  mens.

Daar is altyd hoop vir Suid-Afrika, want soos Jan Smuts gesê het, die beste en slegste gebeur nooit in ons land nie. Ek neem aan hy het bedoel ons beweeg altyd in die middel van die pad tussen die beste en die slegste – die goeie sal nooit die beste word nie, en die slegte sal nooit die slegste word nie.

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Dit is vanselfsprekend dat alle wit mense en spesifiek Afrikaners nie slegte mense is nie. Hieraan koppel Lloyd 'n voorwaarde: Mits hulle jammer voel oor ons apartheidsgeskiedenis. Ek, daarenteen, stel dit as my oortuiging dat mense, insluitende Afrikaners, goed kan wees sonder om noodwendig jammer oor die verlede te voel. 'n Mens kan redeneer dat geen verlede volmaak is nie. Ook dat die hede in hierdie land in sy geheel slegter as die verlede kan wees.

    Lloyd se siening is erg eensydig. Roelf Meyer en Leon Wessels word as Afrikaner-modelle voorgehou terwyl baie Afrikaners hulle insig bevraagteken en hulle dade veroordeel. Al hoe meer kommentators beskou die nuwe Suid-Afrika as 'n mislukkende of mislukte staat. Lees gerus die jongste boek van Alex Boraine (2014) en van RW Johnson (2015), twee outeurs in die liberale/humanistiese tradisie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top