
Boekomslag: Tursvy Uitgewers; foto van Mart-Marié Uys - aan die pers/media verskaf en verskyn met toestemming
Titel: Afrikanerman
Skrywer: Mart-Marié Uys
Uitgewer: Turksvy Publikasies
Jy kan die Afrikanerman nie in ’n boksie druk nie. Nie hoe hy lyk nie en ook nie hoe hy dink nie. Daar is geen stereotipes nie. Die Afrikanerman behoort tot ’n diverse groep.
Maar die oorgrote meerderheid sit met dieselfde trauma, bekommernisse en toekomsvooruitsigte wat hul gemoedsbeswaard maak.
Die Afrikanerman was ’n paar dekades gelede sinoniem met die plesierige liedjie “Ons hou van sonskyn, rugby, braaivleis en Chevrolet”.
En het sommiges nie heerlik gespot met die safaripakke nie. Deesdae is dit vervang met die two tone-hemde, khaki en ja, mens sien nog kniekouse en vellies op my buurdorp Brits. Ek wag nog net vir die kam.
Macho, patriargaal en in ’n magsposisie. Broodwinners, beskermers, leiers. Dis hoe ons geslagte lank Afrikanermans beleef het.
En nou?
Nou is die Afrikanerman vasgevang tussen “onthou en herontdek”, soos wat Mart-Marié Uys in haar nuwe boek Afrikanerman beskryf, wat reeds ’n blitsverkoper is.
Soos op die agterblad vermeld word, is nie alles wat in Suid-Afrika in 1994 verander het, sigbaar nie. Van die grootste verskuiwings het binne-toe plaasgevind.
Hierdie boek ondersoek hierdie verskuiwings na aanleiding van intensiewe en deeglike navorsing, deur middel van ’n uitgebreide vraelys aan ’n magdom deelnemers. Dit is boonop objektief en onbevooroordeeld aangepak – soms byna afstandelik waar nodig, maar ook met empatie en die begrip van ’n navorser en ’n skrywer met ’n PhD in Sielkunde as agtergrond.
Sy het haar toegespits op intensiewe wetenskaplike landwye navorsing onder Afrikanermans tussen 50 en 70 sonder om politiek of rassisme by te sleep. Dit gaan oor hul psige, reuse-aanpassings, aanvaarding en om anders as jou voorvaders te leer dink.
Dis nie Afrikaner-bashing nie en die boek is nie daarop ingestel om die Afrikanerman belaglik te maak soos wat soms al in die verlede met Afrikanersimbole, soos die Voortrekkermonument en tradisies soos volkspele, gespot is nie.
Maar dit bied ook allermins verskonings oor apartheid en die euwels van die verlede.
Die lewe vir die Afrikanerman is deesdae nie juis ’n sprokie nie. Werkloosheid, regstellende aksie en ’n gebrek aan bevordering in die werkplek laat talle landuit vlug. Deesdae vra jy nie meer vir mense of hulle kinders oorsee is nie, nee, jy vra eerder hoeveel van hul kinders het geëmigreer.
’n Ontstellende persentasie Afrikanermans is depressief of het selfs al met selfdoodgedagtes gestoei (syfers word verskaf), maar dan is talle ook veerkragtig soos wat hul voorouers was. Die meeste weier om hul goed te vat en trek, want hul harte klop suid.
Daar is ook ander navorsingsresultate wat mens verras, soos hul belewenis van aanpassing en veranderings en hoe hulle hulself moet herdefinieer.
........
Daar is ook ander navorsingsresultate wat mens verras, soos hul belewenis van aanpassing en veranderings en hoe hulle hulself moet herdefinieer.
.........
Uys ondersoek die uitwerking van diensplig en die grensoorlog op Afrikanermans – eintlik jong seuns – en die feit dat die algemene houding een was van “cowboys don’t cry”. Dit het duidelik baie sielkundige skade aangerig.
Sy verskaf ’n verstaanbare tydlyn van belangrike gebeure in Suid-Afrika as agtergrond en dek gebeure ná demokrasie in 1994, soos onder meer grondhervorming, werkloosheid, misdaad, transformasie, swak ekonomie, beurtkrag, xenofobiese aanvalle, Julius Malema se dreunsang “Kill the boer” en plaasmoorde.
Ek is bly dat sy ook oor laasgenoemde skryf, want dis ’n onderwerp wat talle mense vermy. Daar is ’n houding onder sommiges dat jy ’n rassis is as jy ontsteld raak oor plaasaanvalle.
Uys skryf dat plaasmoorde grusamer en meer sistematies word. En dat minderheidsgroepe, veral wit boere, geteiken word. Al het Cyril Ramaphosa so by Trump in Amerika gelieg deur te sê plaasmoorde bestaan nie.
Ek is bly dat sy die beeldmateriaal van die wit kruise en Malema se “Kill the boer” noem, hoewel dit uiteraard ook baie kritiek by sekere groepe uitgelok het.
Die grootste sout in boere se wonde is dat die Konstitusionele Hof besluit het dat Julius Malema se gewraakte dreunsang wat volgens baie van ons moord op boere aanmoedig, as “politieke uitdrukking” en nie as ”haatspraak” verklaar is nie.
Ek het ook gelet dat uitgewers skrikkerig is om boeke oor plaasmoorde uit te gee. Afrikaanse koerante berig wel daaroor.
Uys skryf oor die drastiese verengelsing van die staatsdiens en universiteite, regstellende aksie wat tot heelwat frustrasie lei by goedopgeleide en bekwame Afrikanermans wat nie werk kry nie, oor die wanadministrasie van munisipaliteite (ja, ons beleef dit gereeld), die Onteieningswet en die 27 000 moorde wat jaarliks in Suid-Afrika plaasvind.
Teen hierdie agtergrond moet die Afrikanerman nog steeds sterk staan.
Haar nugter inleiding oor Afrikanermans teen ’n agtergrond van ’n gevaarlike en chaotiese wêreld is objektief. Niemand kan haar van partydigheid of vooroordeel beskuldig nie.
Maar met die lees hiervan, besef jy waardeur Afrikanermans gaan. Baie het nog steeds outydse waardes wat hul werk, geloof en gesin betref, maar die frustrasie oor ’n donker toekoms word ook benadruk.
Dis nie iets waaroor sy kerm, kla en jeremieer nie. Sy kyk na wat reeds post-apartheid verander het en wat die Afrikanerman deur volharding bereik het.
Intussen lyk dit asof sport ’n groot uitlaatklep vir mense aan alle kante van die kleurlyn is. Rugby is immers al Suid-Afrika se “nasionale godsdiens” genoem. Natuurlik gepaardgaande met koue bier, sterk brandewyn en politieke praatjies. Daarmee kan mens nie stry nie. Dit bestaan loud and clear. Ek het al gehoor van mans wat gate in mure slaan van pure opgewondenheid as hul gunstelingspan wen of van frustrasie as hulle verloor.
Ons weet almal hoe luidrugtig en uitbundig hulle tydens ’n rugbywedstryd raak. Maar sport is ook vir samehorigheid verantwoordelik, want vir die kykers gaan dit, soos sy skryf, nie meer oor kleur nie, maar oor die beste man vir die span.
Uys stel dit duidelik dat sy nie daarop uit is om die Afrikanerman te verdedig of te veroordeel nie. Afrikaners word nie as heiliges uitgebeeld nie, maar is beslis ook nie “rock spiders” en “hairy backs” nie.
Inteendeel.
Sy fokus baie op verlies. Die Afrikanerman het sy mag verloor. Maar dis maar een van talle verliese; ander is werk, respek, goeie diens en gemoedsrus – veral oor die toekoms. Dis hoe dit is en die data bewys dit.
Daar is interessante, verrassende en selfs skokkende statistieke oor wat sy as ’n “rouproses” vir die Afrikanerman beskryf.
Wat geloof betref, glo 81 persent steeds in God, maar 77 persent is vervreem van die kerk en in besonder van die NG Kerk.
Oor Solidariteit wat deur sekere groepe as “regs” bestempel word, sê sy syfers toon dat meer as 78 persent van Afrikanermans die organisasie as hul grootste bron van hoop beskou.
Dis ook interessant dat 73,2 persent van respondente hulle veilig en tuis voel by universiteite soos Akademia.
Dis egter verontrustend dat tweederdes onseker oor die toekoms voel. Ons weet wat dit beteken vir kundigheid in ons land. Die sogenaamde brain drain.
Moedertaalvervreemding is iets wat tot talle lesers sal spreek, omdat jou taal veel meer as net ’n taal is.
Ek is egter nie heeltemal pessimisties oor die toekoms van Afrikaans nie. Daar is soos die skrywer tereg opmerk, talle Afrikaanse kunstefeeste, boekbekendstellings en selfs Afrikaanse musiek wat anders as in die sestigerjare, byvoorbeeld, deesdae as cool bestempel word. Daar land ook maandeliks talle Afrikaanse boeke.
Ek dink egter nie Afrikaanse boeke verkoop beter as in die verlede nie. Uitgewers en skrywers bars en dit raak al hoe moeiliker om ’n manuskrip gekeur te kry. Geld vir bemarking is ook skraps.
Nie dat dit die skrywers keer nie. Daar is ’n toenemende aantal wat self uitgee en soms ’n duur prys daarvoor betaal. Mens skud jou sak vir iets wat soms as vanity publishing beskou word. Hierdie boek voldoen beslis nie aan daardie definisie nie.
Mense koop ook nie altyd minder boeke, omdat hulle nie lief vir Afrikaans is nie. Die ekonomie knyp. My ervaring is egter dat Afrikaanse lesers oor die algemeen baie lojaal is en eerder ’n Afrikaanse boek as die Engelse vertaling lees. Hulle is ook besonder lojaal teenoor sekere skrywers. Die naam is genoeg om die note uit te rol.
Dit is so dat Afrikaanse joernalistiek aan die uitsterf is, al is daar nog aanlyn publikasies en gedrukte tydskrifte. Ek onthou hoe baie vryskutjoernaliste tydens die pandemie oornag werkloos was nadat sowat 12 tydskrifte in een stal alleen gevou het.
Maar op Facebook word daar nog heerlik in Afrikaans geklets, gestry, baklei en bewierook (om Rudie van Rensburg se woord in sy Hans-reeks te gebruik). Dankie tog!
En dan is daar die jonger Afrikaanse ouers wat oorsee woon wat steeds Afrikaans as huistaal gebruik, en die oumas wat pligsgetrou Afrikaanse kinderboeke vir hul kleinkinders in die vreemde neem. Nie net word verseker dat hulle nie net ’n taal verloor nie, maar ook ’n hele kultuur. Hoe meer tale jy magtig is, hoe groter word jou wêreld. Kenners meen in elk geval dat ’n kind tegelykertyd drie tale kan leer, maar elke taal moet met een persoon geassosieer word.
Ek hou baie van die gesprekke wat Uys met individue gevoer het vir die boek. Dit bring die mense-element (ons noem dit human interest by die koerante) na vore. Jy wil die deelnemers se woorde uit hul eie monde hoor. Hierdie boek gaan dus oor veel meer as net syfers.
Dit is ook vir my ’n pluspunt dat Uys oor die bruin Afrikaanssprekende studente berig wat ook hul taal verloor het. Kyk net na al die variante van Afrikaans en Kaaps-Afrikaans.
Uys bespreek ook die holruggeryde aanname dat gelowiges (die Afrikanerman was tradisioneel besonder christelik) onnosel en ongelowiges slim en oopkop is. ’n Verkrampte standpunt.
Sy skryf: “Intellektuele eerlikheid beteken nie noodwendig geloofverwerping nie.”
Die skulde van die verlede word openhartig aangepak. Baie van ons arme kinders is nog nie eers gebore voor 1994 nie. En nou moet hulle die spit afbyt. Hierdie hoofstuk is dan ook gepas getiteld “Die sondes van die voorvaders”.
Onskuldig is die Afrikaners ook nie, laat sy blyk. Veral as daar gepraat word oor “apartheid wat toe nie so erg was nie”, en die fokus op alles wat vandag in die land skeefloop.
Dis teleurstellend dat haar navorsing toon dat meer as 87 persent van mense ’n anti-Afrikanersentiment beleef en dat meer as 54 persent meen dat rasseverhoudings in hul omgewing verswak het.
Hoe lank gaan dit dan duur voor dinge normaliseer? En hoe lank gaan die kollektiewe skuldgevoelens oor die verlede aankarring?
Mens sou nooit kon raai dat 23,3 persent van die deelnemers meen dat hulle aan depressie ly nie.
Onder weermagveterane is dit byna 60 persent, wat glad nie verbasend is nie. Hulle was kinders wat kanonvoer geword het. Erger nog, is dat 61,8 persent van die deelnemers wat selfdoodgedagtes gehad het, ook al hul eie lewens probeer neem het. Wat ’n somber prentjie is dit nie!
Afrikanermans het baie kwellinge wat hul snags wakker hou en sy verduidelik die redes hiervoor in detail.
Uys se skryfstyl is toeganklik en gemaklik. Sy probeer nie met hogere akademiese terme beïndruk nie. Sy vertel net die storie. Soos ’n goeie ondersoekende joernalis sou doen.
Mens is dikwels skepties teenoor boeke van hooggeleerdes en navorsers, omdat jy soms so met droë, vervelige feite en pretensie oordonder word, dat dit aan ’n formele teksboek herinner eerder as aan ’n lekkerleesboek. Dan is dit eintlik ’n marteling om so ’n boek aan te durf.
Wie sal by die boek baat vind? Enigeen wat in die psige van die Afrikanerman belangstel.
Met haar sielkundige agtergrond was Uys beslis die regte keuse om hierdie onderwerp met wetenskaplike bewyse, sowel as emosionele intelligensie aan te pak.
Die oorheersende gevoel is dat sy probeer verstaan.
Ja, Hermann Giliomee het Afrikaners in die sestigs die “muishonde van die wêreld genoem”.
Maar intussen het Afrikaners vir hulle ’n nuwe identiteit gebou en ernstig en krities oor hulself begin dink.
Nostalgie word mos deur talle as ’n vloekwoord beskou. Want dan verlang jy mos terug na die “goeie ou dae”.
Tog is daar ook goeie nuus. Die Afrikaner bly veerkragtig. Die meeste wil nog steeds hier aan die stormagtige suidpunt van Afrika bly en ’n verskil maak. Dis mos die stof waarvan bittereinders gemaak is.
In haar slot skryf Uys: “Moet nooit stilbly oor wie jy is nie. Moet nooit skaam wees vir jou taal of jou storie nie. Hou aan bou. Hou aan hoop. Elke lewe wat met waarheid geleef word, wys die koers vir ander.”
Lees ook:
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: ’n videogesprek oor Afrikanerman deur Mart-Marié Uys


Kommentaar
Carla, dankie vir jou eerlike resensie.
Groete,
Mart-Marié