Afrikaanse mense se links en regs

  • 14

Die uitgerekte Spur-moles is een van daardie Swart Swaan- (Grys Swaan-?) geleenthede wat allerhande dinge hulself laat ontbloot of laat uitspeel. Aan die regterkant van die politieke spektrum het dit gewys hoe organisasies wat hoog opgee oor hul stryd vir menseregte, tog maar op die ou end die kant van rassistiese boelies sal kies. Maar die interessante reaksies was dié aan die linkerkant.

Op sosiale media het ’n paar mense hul uitgespreek teen Solidariteit se aangryp van die affêre as ’n middel om die gatvol-faktor onder sy ondersteunerskring te bearbei – of in linkse taal, die brooshede van wit mense wat nie hul bevoordeling deur ’n rassistiese stelsel kan hanteer nie. Hulle skaam hulle vir Afrikaners of Afrikaanse mense en hul organisasies, het sommige “liberale” gesê.

Die meriete van die saak daar gelaat, is die paradoks hier dat linkse mense hulle nog kan skaam vir regse Afrikaners. Wat is die verband? Dit impliseer ’n mate van identifikasie, iets wat hulle in ander omstandighede sou ontken. Baie spreek dikwels die behoefte van ’n tweede ronde verskonings vir apartheid uit, iets wat dieselfde soort identifikasie met Afrikaners vereis as regses wat meen dis Afrikaners se plig om Geloftedag te vier.

Waarmee word geïdentifiseer? Afrikaners? Baie mense huiwer om hulself so te noem – waarskynlik die meerderheid onder die rassegroep wat sal kwalifiseer: wit mense wat Afrikaans praat. Bruin sal hulle nie wees nie. Daar was die debat oor “Afrikaanses”, “Afrikaanspraters” of net “Afrikaanse mense”. Groepsgevoel is dit nie, want daar is min sprake van ’n afgebakende groep. Samehorigheidsgevoel ook nie – dis ’n propagandawoord uit die donker dae van die totale aanslag.

Is dit die Afrikaanse gedagte waarvan NP Van Wyk Louw geskryf het? Nie regtig nie – sy omskrywing is gebonde aan sy tyd. Maar miskien kan ’n mens tog die frase gebruik as vertrekpunt, juis omdat dit in vandag se tyd so lekker vaag is. ’n Mens kan dit so stel: daar is ’n snit van die Suid-Afrikaanse bevolking wat iets deel wanneer dit kom by hul gedagte aan Afrikaans.

Maar alles sluimer ondergronds onder die “linkses”, vir wie Solidariteit irrelevant is en die woord “minderheidsregte” tot grappies oor Orania lei. Dis ’n toestand wat kwaai verskil van dié van die mees prominente minderheidsbewegings elders ter wêreld, soos Katalonië, Baskeland, onder die Koerde, en om nie te praat van die Palestyne nie. Onder hulle is die kwessies van outonomie, afskeiding en ’n eie tuisland diep gewortel in ’n hele spektrum van linkse diskoerse.

“Links” en “regs” is natuurlik relatiewe terme, hoogstens werksbegrippe. Onder Afrikaanse mense beteken “links” dikwels “liberaal”, terwyl onder Engelssprekendes “liberaal” veral vandag ewe dikwels ’n skelwoord vir skynheilige regses is. Maar wat ook al die term, in die breë, politieke diskoers staan “liberaal” vir ’n benadering wat vereniging en vermensliking voorstaan in die aangesig van die verdeel-en-heers-strategie van kolonialisme en apartheid en hul rassistiese verontmenslikings.

En dis natuurlik waarom minderheidsregte heel onder aan die lys kwessie vir politieke mobilisering onder Afrikaanse linkses is. Die stryd die laaste eeu, of vier, vyf geslagte was een van die onthulling en institusionalisering van onderdrukte gemeenskaplikhede oor sosiale grense heen. Die praktiese winste van openheid teenoor die uitsluitings van apartheid is legio – in my jong dae was om oorsee te gaan reis deels ’n politieke daad, want jy het geleer om ’n wêreldburger, en nie net ’n geïsoleerde Afrikaanse burger nie, te word. Nou doen jy dit net vir die plesier: om die “ander” te ontdek en te beleef is die nuwe avontuur.

Die omwentelings van 1994 het ’n diep gevoel van bevryding ook vir Afrikaanse mense meegebring. En hoewel hulle taalkwessies grootliks geïgnoreer het, was daar min terughoudendheid wanneer dit by die genieting van die ontploffing in Afrikaanse kultuurprodukte gekom het. Vir my bly die embleem van hierdie nuwe Afrikaanse boheme ’n poedelnaakte Pearly van Schalkwyk wat in Deon Opperman se Whore in Potchefstroom se stadsaal mans in die gehoor nooi om haar vagina te kom besigtig.

Die bevryding is nog verder versterk deur die infotegnologiese revolusie. Die internet was die nuwe Wilde Weste, die nuwe Transvaal anderkant die Drakensberge vir kaalvoetmeisies om oor te steek. Afrikaans en allerhande soorte Afrikaanse groepe het gedy, met al die ongebondenhede wat daarmee gepaard gaan.

Minderheidsregte? Dit was die minste van jou bekommernisse. Wanneer dit wel ’n kontensieuse saak geraak het, soos toe Julius Malema voor stok gekry is oor haatspraak, het die Grondwet doeltreffend genoeg gewerk. Een woord het opgesom waarom “linkses” nie eens veel daaraan wou dink nie: “selfbeskikking”, ’n begrip wat sentraal staan in minderheidsdiskoerse elders ter wêreld.

Hier te lande kom dit so reg uit die apartheidsverlede met sy tuislandfantasieë. Inderdaad ’n woord om oor skaam te voel, oor te “cringe”. Maar sy etimologie vertel alles omtrent die niediskoers. Daar is geen uitsluitsel waarna die “self-” verwys nie. Afrikaanse mense het goddeloos geraak, met ander rasse begin trou, oorsee verhuis en Nataniël die nuwe Emsie Schoeman gemaak.

’n Mens sou Afrikaanse wit mense as volg kon klassifiseer: Heel regs is die Verlore Seuns, steeds besig met hul veertig nagte in die woestyn. ’n Bietjie minder regs, die Christelik-Nasionale Afrikaners van Solidariteit, AfriForum, die Vryheidsfront Plus en dalk ook die Afrikanerbond, hoewel ’n mens nooit sal weet nie. Dan die groot groep in die middel, met die leuse “Afrikaners is plesierig”. Hulle kom met almal oor die weg, deel sekere rassistiese grappe met swart mense en wil net hê die Springbokke moet weer wen. Ingesluit by hulle is die nuwe armblankes, en die groeiende Boeremafia, nie die rykes van Stellenbosch nie, maar die Afrikaanse onderwêreld self, mense wat nie skrik vir kniekoppe afskiet nie. Heel links is die Opofferaars, wat steeds wil boete doen vir apartheid en wie se leuse die patriotiese “ons sal offer wat jy vra” is, en Afrikaans graag sal oorhandig as offerande. ’n Bietjie minder “links” is die Ontwaaktes, die “woke” mense wat skielik besef dat swart rassisme nou hier is en daar geen waarborg is dat Afrikaans tot sy reg sal kom nie, dat dit en ander inheemse tale inderdaad nie gelyk is aan Engels nie, en dat die empire nog steeds Engels is.

Die Afrikaanse “self” bestaan nie meer nie, of dan net as ’n spektrum. Sou jy Afrikaans as die bindingsmiddel voorstel, moet jy onmiddellik die meerderheid insluit, die sogenaamde bruin mense, met ’n heel ander verhouding met Afrikaans wat sy eie spektrum vorm (een waaroor ek my liefs nie sal uitlaat nie – ander mense is beter bevoeg). As daar ’n Afrikaanse self is, is dit ’n gesplete self, want hoewel rasseverhoudinge onder wit en bruin Afrikaanspraters verreweg die mins gespanne is en die Afrikaanse taalgroep eintlik die verste gevorder het met integrasie, is daar nog diep klowe en ongelykhede tussen Afrikaanspraters en leef hulle nog grootliks net so apart as altyd.

En die tragedie vir Afrikaans is dat wit en bruin polities in Engels mobiliseer. Afrikaans is nog te veel gekoppel aan die Groepsgebiedewet in die gemoedere van leidende bruin mense.

Maar die tweede deel van die woord “selfbeskikking” is óók ’n probleem: Wie moet beskik? In die bundel opstelle saamgestel deur Heinrich Matthee, Kultuurvryheid en selfbestuur, word die meeste aandag aan die begrip van “gebiedsongebonde selfstandigheid” gegee, en daar is veel wat belowend is daarin. ’n Mens moet dit sien in die konteks van die snelontwikkelende vierde nywerheidsrevolusie, waarin ’n al meer geglobaliseerde kommunikasie-opset in ’n robotiserende ekonomie – met die hele internet as die grootste bot – afwentelings van nuwe sosiale formasies oor politieke grense meebring. In hierdie afwentelings speel taal ’n kardinale rol.

Die begrip kan ’n “linkse ding” genoem word, want onder die voorste teoretici daarvan was die Marxisties-gegronde Karl Brenner en Otto Bauer, volgens Bertus de Villiers in Kultuurvryheid. Maar die boek wys ook, waarskynlik onbedoeld, wat die probleem in die Afrikaanse opset sou wees. Kortliks gestel behels die begrip dat lede van ’n kultuurgroep wat geografies versprei is, hul lot sal inwerp by ’n “kultuurraad” wat sekere beperkte magte sal kry om besluite te neem wat die lewens van sy lede sal verbeter, alles binne groter nasionale en internasionale verbande. Deon Geldenhuys kom met ’n hele rits voorwaardes vir so iets om hier te kan werk, en ’n mens sou hulle kon opsom as “liberale riglyne”. Die motivering vir sulke voorwaardes is natuurlik dat “kultuurrade” ’n mens onmiddellik aan die bekrompe, onderdrukkende opset van die apartheidsera laat dink. Onder baie van die skrywers van die boek is daar inderdaad ’n versugting na “regeer”, “beheer” en “bestuur”, soos in die titel.

Afrikaanse mense is vandag nie baie lus om oor beskik te word nie. Die argetipe bestaan van die Boer as ’n dwarstrekkende alleenloper, en die volkskonsensus wat vir drie generasies vir Afrikaners soveel materiële voorregte gebring het, het nie lank na 1994 gehou nie – hier is die afvalligheid op die spits gedryf in die Boetmansage, vergestalt in die vol sale by die kultuurfeeste by Pieter Fourie se verhoogweergawe van Chris Louw se boek.

Die Voëlvrytoer som natuurlik alles op. Die gevoel onder baie lede van daardie geslag, vandag se invloedryke Afrikaanse middelklas met sy regslui, dokters, akademici en mediamense, is dat dieselfde soort mense wat so hard probeer het om die voël hok te slaan, vandag aan die stuur van die taalstryd is, en of hulle reg of verkeerd is, dis die persepsie wat tel.

’n Beter onderskeid as links teenoor regs is miskien Deleuze en Guattari s’n tussen risomatiese en hiërargiese strukture. ’n Voorbeeld van ’n risomatiese struktuur is ’n miernes wat opbreek om ’n tweede, gelyke nes in ’n lukrake rigting te vestig, en daarna verder tot ’n netwerk ontstaan; ’n boom is hiërargies, met ’n sentrale stam en ’n penwortel waarvan die res afhang. Die bevryding van Afrikaans uit die keurslywe van apartheid het baie gou uitgeloop op die spontane ontstaan van onafhanklike, selfbesturende kultuurfeeste soos die KKNK, Aardklop, die Vryfees, onderhewig aan geen (amptelike) sentrale struktuur nie. Maar hierdie bevryding het saamgeval met die vestiging van die mees uitgebreide risomatiese struktuur op die aardbol: die internet. Vandag is Afrikaanse groepe en gespreksgenote legio op sosiale media, en ek dink nie ek oordryf as ek sê daar is iets unieks, iets tipies Afrikaans aan die poste van mense soos Annelise Erasmus, Cobus Bester en Fanie de Villiers, om maar net enkele voorbeelde uit my eie kring te noem nie.

Die mees suksesvolle risomatiese struktuur is natuurlik LitNet, wat die gelukkige dubbele betekenis van “net” in Afrikaans so goed ontgin het in risomatiese afdelings soos SêNet en LêNet. Die Afrikaanse letterkunde self het sterk risomatiese neigings, hoewel daar ewe sterk dryfkragte na die hiërargiese is met sy groot klem op bemarkbaarheid, wedywering en prystoekennings.

Hiërargiese strukture en die fascisme waartoe dit lei, was nog altyd Afrikaans en Afrikaanse mense se groot probleem. ’n Mens kan ’n hipotetiese argument aanvoer dat die tuislande risomatiese strukture sou kon geword het, maar dat dit verongeluk is deur die fascisties-hiërargiese nasionaal-sosialisme wat die Nasionale Party op swart mense wou afdwing, met HF Verwoerd, toe hy in beheer van Naturellesake was, die eerste van ’n rits diktators, Lucas Mangope die laaste. Baie Afrikaanse mense se renons in Afrikaans het ontstaan weens die taalfascisme waarin hul op skool en elders blootgestel is – rassevoorskrifte oor suiwerheid (Germaanse woorde versus anglisismes) en die sensuur van skrywers soos Brink en Breytenbach.

Vir die Opofferaars is die winste van die nuwe bevryde Afrikaans so groot dat hulle die taal liewers tot landelike patois verklein sal sien as om dit weer aan die CNA’s te oorhandig – so ook baie van die Ontwaaktes, terwyl ’n groot deel van die Plesieriges veel eerder ’n Afrikaans beperk tot braaivleis, rugby en Vuisboek sal bedryf as om moeite te doen met Christelik-Nasionale Afrikaner-projekte (sogenaamde CNA-projekte).

Dis hier waar die regse Afrikaners se doodloopstraat reeds is, nie soseer weens die anti-Afrikaanse ingesteldheid of stappe van die ANC-meerderheidsregering of ander groepe nie. Tegnies gesproke is Solidariteit en AfriForum gedugte organisasies, en hoef ’n mens nie jou neus op te trek vir die werk wat hulle doen met ’n geregtigheidskultuur vestig of die ubuntu wat hulle toepas onder armblankes nie (want wie anders gaan dit doen?). Daar is ook ’n lekker kreatiwiteit in baie van hul optredes wat ’n mens kan geniet as jy jouself toelaat om uit jou politieke konformisme te tree. Maar dis min of meer die limiet – ek mag verkeerd wees, maar dit lyk nie of hulle ooit genoeg steun onder hul “eie mense” gaan kry om ’n politieke faktor te word nie.

Die CNA’s en ander konserwatiewes is hopeloos te veel gebonde aan Afrikaners se hiërargiese verlede. Om in hierdie tye te wil teruggryp na die idees van Paul Kruger of MT Steyn of die Gelofte dui op ’n diep gebrekkige begrip van wat die laaste paar dekades in hierdie land gebeur het.

Maar ook die risomatiese strukture onder die meerderheid Afrikaanspraters het sy uitdagings. Die eerste is dat hulle té los is, en nie kan bestaan sonder om ingebed in iets anders te wees nie – die grond van die miernes-voorbeeld. Kultuurfeeste loop op Chinese geld en die middelklas se beursies en is afhanklik van die ekonomiese welstand van feesgangers. En ’n mens kan ook net na sóveel eenmansvertonings op die dramaverhoog kyk. Die swakhede van Facebook – silodenke, narsisme, eggokamers, filterborrels – is ook dié van risomatiese Afrikaans.

Die instellings wat hiermee sou kon help, werk soms baie goed – ’n mens dink aan die verskeie borge en befondsingsorganisasies van allerlei kulturele inisiatiewe – maar is te dikwels onder die vaandel van die CNA’s of is besig om in duie te stort weens ekonomiese druk. Naspers het homself uitverkoop aan die mark en die kerk – wel, hoe minder ’n mens sê, hoe beter. Die enigste instansies wat werklik standhoudend lewenskragtig is, is getransformeerdes soos RSG of nuwes soos LitNet en kykNET.

Taal is inherent ’n risomatiese struktuur, en skep sy eie infrastruktuur, maar die infrastruktuur moet iewers staan. Dis waar die staat inkom. In die huidige opset is daar min begrip vir die behoeftes van tale, en nog minder hoe om te verseker dat hul risomatiese lewenskragtigheid kan gedy. Daar is bykans geen verwysing na taal in die Nasionale Ontwikkelingsplan nie. Elders is daar veel geskryf oor die gebreke van die land se taalbeleid.

Die rede hiervoor is nie moeilik om te bepaal nie. Soos ek in my resensie oor Kultuurvryheid gesê het, “in veral die Britse kolonialisme was die manipulering van minderhede – divide and rule, valse stamme en konings, opstook van faksies – ’n sleutelstrategie om bevolkings in toom te hou. Dit is natuurlik vervolmaak in die ramp van die tuislande, daardie fascistiese postkoloniale pseudostaatjies wat eintlik maar reusagtige konsentrasiekampe was.”

Taalverskille is die meeste uitgebuit. Die taalput is vir ewig vergiftig deur kolonialisme, apartheid en die tuislandbeleid. En dis die tweede rede waarom die stryders vir minderheidsregte in ’n doodloopstraat is. Afgesien van die uitdaging om Afrikaanse mense oor te haal, omgewe ’n geur van verraad teenoor die massiewe integrasiebeweging van die laaste eeu die skrille eis tot minderheidsregte. Die kanse is uiters skraal dat so ’n strategie op enige demokratiese wyse sal werk.

Maar soos taalnavorsers en denkers aantoon, is die een of ander staatsopset noodsaaklik vir ’n taal en sy afgeleide kultuurmomente om te gedy, en is volle menseregte nie moontlik daarsonder nie. ’n Federale opset help hiermee, en so ook gebiedsoutonomie. Gebiedsongebonde selfstandigheid se beperking lê daarin dat dit in die laaste instansie iewers ’n anker nodig het in die een of ander staatlike raamwerk wat op sy beurt tog wel in ’n geografiese basis gesetel moet wees. Vir Afrikaans is die voor die hand liggende oplossing outonomie vir die Wes-Kaap.

Afgesien van die behoeftes van taal, is dit wel so dat meerderheidsregering gebaseer op ’n diep historiese rassekonsensus, soos dié van die ANC en ander swart-oorheerste partye, vele sosiale gevare inhou. Die ANC is ’n uiters swak regering, en daarom het die swart rassisme wat die laaste paar jaar so wydverspreid en in sulke groot volumes uitgespreek is, nie veel van ’n effek nie, weens ’n gebrek aan kapasiteit. Maar die gerusstelling dat dit noodwendig so sal bly weens die liberale Grondwet, is op sy beurt ’n voorbeeld van rassistiese onkunde – die hoop dat swart rassiste magteloos sal bly weens hul huidige onbevoegdheid sal beskaam word.

Die misdaad van die verengelsing van Stellenbosch is reeds een voorbeeld van mag wat wel teen ’n minderheid gebruik word, so ook pogings om die nasionale demografie op staatsaanstellings in die Wes-Kaap af te dwing. Om nie te praat van die veel groter misdaad van versuim – op dieselfde vlak as Thabo Mbeki se versuim met Vigs – om nie die weermag te gebruik om bendegeweld op die Kaapse vlaktes te beveg nie. ’n Deurlopende tema, of praktyk van ekstreme profilering in die uitbarsting van swart rassisme die laaste tyd, is dat alle wit mense dieselfde is, en almal, selfs die “born-frees”, nog steeds aandadig is aan apartheid. Nou is dit nog grootliks beperk tot sosiale media en woedebuie in restaurante, en die Grondwet het ’n gedugte bolwering geword, maar daar is geen absolute waarborg dit so sal bly nie, veral nie met die EFF en ANC wat saam genoeg steun het om daardie Grondwet te verander nie.

Daar is op ten minste ’n teoretiese vlak ’n goeie saak uit te maak vir outonomie, of ’n nuwe, meer federale opset vir die land om sy geweldige diversiteit te verreken, al het sulke idees tans bitter min steun. En hoewel dit onteenseglik waar is dat dit baie moeilik sal wees om ’n nuwe bestel demokraties te verwerf, soos Lawrence Hamilton aantoon, weens die uiters konserwatiewe aard van die Suid-Afrikaanse politiek, is daar tog moontlikhede vir die toekoms om te bedink.

Politiek is die kuns van die moontlike. Die geheim is dus om die huidige tendense en strominge te aanvaar as dié waarmee jy moet werk. Soos reeds gesê, word politiek en gemeenskap onder bykans alle bevolkingsgroepe oorheers deur die wil tot globalisering en integrasie. Die ander diskoers wat in die laaste jare op sy voete gekom het, veral hier te lande, maar ook elders ter wêreld, is die antikoloniale. Daar is natuurlik baie teenstrydighede, maar eintlik val hierdie drie strominge saam vir die meerderheid van Suid-Afrikaners, veral onder jongmense van alle rasse.

Afrikaans sal tot sy reg kom net as sy stryders ook hierdie vaandels opneem. Risomatiese Afrikaans is reeds een van die sterkste middels tot integrasie, en met sy bande wat drie sterk spore volg, na minderheidskulture in Europa, na kreolisering in Afrika en na etimologieë in die nabye Verre Ooste, het dit vele globaliserende impulse, iets wat net bevorder sal word deur Brexit. En soos Neville Alexander gesê het, was die Boere die eerste antikoloniale stryders. Maar hierdie strategieë sal kan werk slegs as Afrikaanssprekendes gemene saak met swart mense maak. Dit doen jy nie deur die kant van ’n wit Afrikaanse boelie in ’n kitskosrestaurant te kies nie.

Dink ’n mens globaal, is daar vele moontlikhede op praktiese vlak. As ’n mens ernstig is oor dekolonisering, moet die kunsmatige grense van die koloniale tye aangepak word. Op kontinentale vlak lyk iets soos ’n anti-Berlynkongres hoogs onwaarskynlik, maar op streeksvlak is dit wel denkbaar. Inderdaad is daar vele dekolonialiserende momente aanwesig in die planne vir die Suider-Afrikaanse Ontwikkelings Gemeenskap, byvoorbeeld in die wens vir ’n vrye handelsgebied en in die onuitgesproke aanvaarding van die vrye beweging van mense oor grense heen.

Die uiteindelike doelwit is die verampteliking van hierdie vrye beweging van al die lande se burgers, soos in Amerika. In so ’n opset sal daar veel meer begrip onder die hele gebied se mense wees vir minderheidsregte en die beskerming van taal en kultuur. Daar is ’n paradoksaliteit in die Europese Unie wat in sy verenigingsdrang en menseregte-fokus ten einde ’n herhaling van apokaliptiese oorlogvoering te vermy nog die verste gevorder het om ’n geregtelike raamwerk uit te werk vir minderhede – en daar is ’n goeie behandeling daarvan in Kultuurvryheid en selfbestuur. Maar dis ’n paradoksaliteit wat aansluit by die ontgogeling met globalisering met sy imperialistiese hegemonisering rondom Amerikaanse verbruikersbehoeftes en kultuurprodukte.

Dit maak dit ook moontlik om ’n hipotese op te stel, ’n “rule of thumb”: daar waar die verband waarbinne integrasie op menseregte-grondslag plaasvind groot genoeg is, en funksionele regering onder stres raak, is afwenteling na kleiner bestelle onvermydelik. Dis hierdie dinamika wat taalstryders kan ontgin; of anders gestel, dis die énigste dinamika wat oorbly om te ontgin. In Suid-Afrika vereis dit die paradoksale beywering vir groter integrasie, nog wyer as net die Suid-Afrikaanse – waar elf tale duidelik nie kompleks genoeg is om die eenpartysindroom te ontduik nie – waarna en waartydens ’n nuwe raamwerk vir minderhede bedink en onderhandel kan word. En dan alleen as dit nie in isolasie nie, maar ook oor nasionale en kultuurgrense heen gedoen word.

Die opstel van ’n uiteindelike grondwet vir ’n Verenigde State van Suider-Afrika sal die enigste werklik realistiese kans bied om die gebreke van die Suid-Afrikaanse Grondwet die hoof te bied – want daardie dokument sal waarskynlik as riglyn gebruik word. Die gebrek aan behoorlike rugsteuning vir minderheidsregte is natuurlik die grootste van hierdie gebreke.

Alleen so ’n soort nierasgebaseerde projek – en ja, dis baie ambisieus en nog ver in die toekoms – sal die hele spektrum Afrikaanse mense met hul gedugte talente noop om verder te gaan as net gedagtes aan Afrikaans.

  • 14

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Ek vind dit moeilik om sin van hierdie teks te maak. Dit lyk asof Afrikaners volgens Pienaar uit die bose is, des te meer as hulle regs en dan blykbaar noodwendig fascisties is. Daar is 'n nuwe woord wat hy koester: risomaties. Dalk is Pienaar die enigste wat helderheid oor al hierdie myns insiens onherderheid het. Ek sal bly wees as hy die betekenis van die volgende frase opklaar: "Baskeland onder die Koerde."

    • Uitputtend lank, onsamehangend om te lees, 'n poging na hoogdrawendheid! Pleks om enige waarde daarin te vind kom 'n mens tot die gevolgtrekking dat dit 'n pedantiese opstelling is.

    • Ek stem saam - en ek sal graag na Pienaar se verduideliking wil kyk ... en hoop dat ek dalk dan die lig sal sien.

  • Avatar
    hans Richardt

    Lang relaas. Verregs of links bly etnosentrisme in hierdie land vol retro etikettering tradisies.
    Ek voel VERREGS is nou openlike rassistiese benaming en verwysing na wit Afrikaners wat duidelik standpunt inneem.

  • Ek stem saam met vorige kommentare oor die onleesbaarheid/onverstaanbaarheid van Pienaar se relaas. Hy gebruik begrippe wat min mense (insluitend myself) sal verstaan en hy maak daardeur sy kernboodskap ongedaan. Dit is na my opinie arrogant om op so 'n wyse te probeer (wat nou weer?) verduidelik wat eintlik aan die gang is rakende Afrikaans en Afrikaanse mense in SA. Tensy ek dit natuurlik heel verkeerd verstaan ...

  • Die onderskeid tussen "risomaties" en "hiërargies" kom darem uit 'n baie basiese behandeling van laat twintigste eeuse filosofie.
    Ek skat ek wil drie punte te maak:
    1. "Linkse" wit Afrikaanssprekendes is of bereid om Afrikaans op te offer ter wille van 'n fantasie van nasionale eenheid, of het besef die staat en Anglosentriese elite gee nie 'n duit om vir ander tale nie. Maar laasgenoemde soort Afrikaanssprekende wil nie lewendig of dood saam met stryders vir minderheidsregte soos Solidariteit gesien word nie.
    2. Regse Afrikaners is in 'n doodloopstraat as hulle 'n hele veldtog wil bou rondom 'n regse boelie met 'n verlede van geweld oor 'n voorval in 'n restaurant. Nie net skiet hulle hulself in die voet teenoor swartmense nie, maar dryf die oorgrote deel van wit Afrikaanssprekendes weg van politieke kwessies soos minderheids- en taalregte.
    3. In ag genome dat politiek die kuns van die moontlike is, is daar net een manier om 'n nuwe grondwet te kry wat minderheidsregte fasiliteer by wyse van byvoorbeeld outonomie vir die Wes-Kaap. Dit is om die antikoloniale herontwerping van die gehele Suider-Afrika (van die Kaap tot die Kongo) te promoveer, met 'n nuwe federale grondwet wat vir die hele gebied geld en waarin taalregte ingeskryf is. Kanse is maar skraal.

  • Linkse Afrikaners is hoogs intelligente INDIWIDUE wat 'n liberale filosofiese raamwerk propageer deur middel van die gewilde media, sonder enige georganiseerde aanhang onder Afrikaners soos wat die geval met regs en verregse Afrikaners die geval is nie. Die oorgrote meerderheid Afrikaners, elk met persoonlike agendas, is konserwatief, merendeels sentimenteel eens met die regse groepe, maar terselfdertyd intelligent genoeg om te weet dat Afrikanerheil nie by hulle uitkyk berus nie. Hierdie konserwatiewe groep is ook oopkop genoeg om te weet dat wat die linkse liberalisme aanbied, nie in die been en murg van die Afrikaner sit nie.

  • Johannes, ek weet nie? Hoekom wil jy die Baske deur die Koerde laat regeer? Daar is minstens een hele see tussen die twee.

  • Hans, jy vergeet van ‘n sekulêre nasionale front. Nie almal wat aan die regterkant is, is CNA nie. Net terloops.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top