China se pogings om die waardes en norme van bestaande internasionale organisasies te verander, is afhanklik van die ondersteuning van Afrika-regerings. Die hervorming van internasionale organisasies staan sentraal tot China se wedywering met die Weste. Die idee om ’n kragtige rol te speel in die hervorming van die internasionale regeerstelsel het vorm aangeneem tydens ’n strategiese werksessie van die CKP in 2018. Tydens die werksessie is besluit dat hervormings van internasionale organisasies en norme die kern van die land se buitelandse beleid sal uitmaak. Vanuit Afrika se perspektief kan China se pogings om internasionale organisasies te verander egter in stryd wees met die belange van burgers van Afrika self.
Die meerderheid Afrika-lande ondersteun China se hervorming van die internasionale regeerstelsel en multilaterale organisasies. Afrika verteenwoordig die grootste groep in die Verenigde Nasies (VN) se Algemene Vergadering met 28% van die stemme. Asië het 27%, die Amerikas 17% en Wes-Europa 15%. Afrika verteenwoordig 25% van al die stemme in die VN se besluitnemingsorgane en is ook die grootste enkele groep in ander agentskappe, soos die Wêreldhandelsorganisasie, die Groep van 77 en die Nie-Geallieerde Beweging (Non-Aligned Movement). Dié stemme is belangrik vir China om die argitektuur van internasionale organisasies te verander.
Die strewe om internasionale organisasies te hervorm, word opgesom in die volgende uitgangspunte. Eerstens is dit nodig dat die internasionale sisteem oor grootmoondhede beskik om reëls en regulasies daar te stel. China het reeds die vermoë bereik om die reëls van die internasionale organisasies te verander as gevolg van sy groeiende mag en lande se aanvaarding van Chinese norme en waardes. Dit word gesien in die vele leierskapposisies wat Chinese amptenare in suborgane van die VN beklee. Tweedens is dit vir grootmoondhede belangrik om ’n invloed uit te oefen oor lande in die onmiddellike omgewing. China het reeds aansienlike invloed oor lande in Suidoos-Asië en verander die reëls van die spel “rules of the game” om ekonomiese verhoudinge met die lande aan te gaan. Derdens vorm ontwikkelende lande een van die fondasies waarop die invloed van grootmoondhede gebaseer is. Samewerking word bevorder in multilaterale streeksorganisasies. As voorbeeld word verwys na die Assosiasie van Suidoos-Asiese Lande (ASEAN) en die Samevattende Streeksekonomiese Vennootskap (RCEP) wat gestig is om ekonomiese samewerking in Asië te bevorder. In Afrika is dit die Forum vir China-Afrika-samewerking (FOCAC). China belê groot bedrae geld in dié organisasies om sterker steun van die Globale Suide te ontvang.
Die Globale Suide en die herinterpretasie van internasionale norme
China wil graag as die leier van die ontwikkelende wêreld bekend staan. ’n Groot deel van die lenings wat China jaarliks van multilaterale ontwikkelingsbanke ontvang, ongeveer vyf miljard Amerikaanse dollar, word aan multilaterale organisasies in die ontwikkelende wêreld geskenk. Teen die einde van 2020 het China reeds meer as 200 miljard Amerikaanse dollar aan die VN se Vrede- en Ontwikkelingsfonds oorbetaal. Dit het geskied oor ’n tydperk van vyf jaar. Dié bedrag beloof om verdubbel te word in die volgende 10 jaar. Die Fonds ondersteun vredesendings, konflikvoorkoming en bemiddeling.
Die uitbreiding van multilateralisme vergroot China se bedingingsmag in internasionale organisasies. ’n Gevolg is dat dié organisasies se norme en werksmetodes aangepas word volgens Chinese standaarde. Die probleem egter is dat ontwikkelde lande China se norme en werksmetodes moet aanvaar om in aanmerking vir finansiële en ander materiële hulp te kom. China maak ook misbruik van sy sterk onderhandelingsposisie om aksies en programme van burgerlike en nie-regeringsorganisasies (NGO’s) te misken. In 2019, byvoorbeeld, het China en ander ontwikkelde lande dit moeilik vir waarnemers van menseregteorganisasies gemaak om verslag te doen oor wat in vredesendings en konflikareas gebeur. Die waarnemers is verhoed om konflikareas binne te gaan, omrede finansiële hulpverlening tot die VN se Menseregteraad gestop is. China lewer die grootste bydrae tot die Menseregteraad van al die VN-lidlande. Die waarnemers is afhanklik van fondse wat deur die Menseregteraad verskaf word, om hulle werk te doen. Dit kom daarop neer dat die VN se kapasiteit om menseregtevergrype in konflikareas te ondersoek in die wiele gery word. Van die areas wat geraak word is die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR), Die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Mali en Suid-Soedan. Van die ergste menseregtevergrype in die hele Afrika kom in dié gebiede voor.
Die rol wat Afrika-lande speel om China se internasionale invloed uit te brei
In 1971 het Afrika-lande met ’n oorweldigende meerderheid gestem om die Volksrepubliek van China (PRC) in die plek van Taiwan in die VN se Algemene Vergadering te kies. Mao Zedong het verklaar dat die besluit van Afrika-lande om China as die enigste verteenwoordiger van die Chinese nasie te erken, ’n era van volgehoue vriendskap ingelyf het. Tot vandag toe nog word dié besluit deur China in vergaderings van die Forum vir China-Afrika-samewerking op die prys gestel.
Afrika-lande se steun van die Een China Beleid “One China Policy” is deurslaggewend vir China om Taiwan in die internasionale omgewing te isoleer. Tans is dit slegs Eswatini wat diplomatieke verhoudinge met Taiwan het. Daar is ook ’n ander element wat China se bilaterale en streeksooreenkomste met Afrika-lande kenmerk. Dit is Afrika-lande se ondersteuning van die verandering van die internasionale politieke en ekonomiese regeerstelsel. Die Dakar-aksieplan van 2022 spel onder andere in besonderhede uit hoe die internasionale regeerstelsel verander kan word. Verder help Afrika-lande se stemme om Chinese amptenare tot die suborgane van die VN te verkies. Chinese burgers het vyf van die 15 hoof-suborgane van die VN in die laaste verkiesings gewen. China op sy beurt het Afrika-lande weer gehelp om leiding te neem in vier van die suborgane. Oor die laaste dekade het China ook staatgemaak op Afrika-lande se stemme om groter mag in die VN se Sekretariaat, begrotingsdepartemente en finansiële liggame te verkry.
Afrika speel ’n groot rol in China se strewe na die verandering van internasionale ekonomiese organisasies. Suid-Afrika is byvoorbeeld die verteenwoordiger van Afrika-lande in die BRICS-groepering (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika). Die groepering stel finansiële meganismes aan Afrika-lande beskikbaar om Chinese lenings buite die Wêreldbank te bekom. Verder het verskeie Afrika-lande onlangs by die Chinees-beheerde Asiese Ontwikkelingsbank aangesluit. Die bank bied ander keuses aan ontwikkelende lande om lenings en finansiële instrumente te bekom.
Die Forum vir China-Afrika-samewerking van 2022
Tydens die laaste Forum vir China-Afrika-samewerking in 2022 het Afrika-regerings onderneem om meer betrokke te raak by Chinees-beheerde sekuriteitsorganisasies. Dit sluit in die groot privaatsekuriteit-kontrakteurs wat in Afrika bedrywig is. Deelname aan die organisasies verleen aan Afrika-lande ’n mate van internasionale legitimiteit en dit is voordelig om hulle eie sekuriteitsdienste te bemark. China se twee nuutste internasionale inisiatiewe, naamlik die Globale Ontwikkelingsinisiatief (GDI) en die Globale Sekuriteitsinisiatief (GSI), word ook heelhartig deur Afrika-regerings ondersteun.
Die GSI is die eksterne deel van China se nuwe sekuriteitskonsep. Dit staan in beleidsterme bekend as die “samevattende nasionale strategie”. Beginsels van die GSI sluit in nie-inmenging in die huishoudelike sake van ander lande, opposisie teen die unilaterale sanksies van die Weste en onverdeelbare sekuriteit. Laasgenoemde beteken dat China se sekuriteit onlosmaaklik verbind word met die sekuriteit van sy vennote. In Afrika het die GSI ten doel om ’n sekuriteitsnetwerk tussen China en sy vennote te skep om sekuriteitsuitdagings gesamentlik te hanteer. Tydens die tweede China-Afrika-Vrede- en Sekuriteitsforum wat in Junie 2022 gehou is, het Xi Jinping na die GPI verwys as ’n konsep wat China en Afrika op sekuriteitsgebied nader aan mekaar kan bring.
Daar is verskeie redes waarom Afrika-lande China in die hervorming van internasionale organisasies ondersteun. Van die belangrikste redes is die hulp wat China verskaf het in Afrika-lande se anti-koloniale en vryheidstryde en die siening dat ’n opkomende China die wêreld meer multipolêr gaan maak. Afrika-lande is reeds vir dekades lank in ’n wedloop gewikkel om op gelyke voet as die Weste in multilaterale organisasies verteenwoordig te word. China kan Afrika-lande help om die wedloop te voltooi. China se gebare van welwillendheid en ekonomiese hulpverlening word as die hoofredes beskou waarom Afrika-lande China ondersteun. Vennootskappe met China beskerm Afrika-lande van Westerse sanksies, terwyl China in multilaterale organisasies ondersteun word.
’n Kragtiger en selfgeldende benadering
China se nastrewing van internasionale erkenning en voortreflikheid het tradisioneel gepaardgegaan met die handhawing van ’n lae profiel en opsigtelikheid. Sedert die bewindsaanvaarding van Xi Jinping is die benadering egter besig om te verander. In die laaste dekade het China meer bygedra tot die skepping van nuwe multilaterale organisasies as die ander lede van die VN se Veiligheidsraad. Afrika-lande het in ’n groot mate daartoe bygedra. ’n Negatiewe aspek is dat China se selektiewe hervorming van sekere dele van die internasionale sisteem die potensiaal het om menseregte, grondwetlike hervormings en demokrasie te ondermyn.
Daar is al hoe meer protesoptredes van NGO’s in Afrika-lande teenoor die aksies van China. Chinese diplomate word veral aangeval tydens stemmery in die VN, byvoorbeeld in die Menseregteraad. Die hoofboodskap wat die NGO’s wil uitdra, is dat die beginsels, norme en waardes van Afrika nie in die slag moet bly in verhoudinge met China nie. Laastens word gesê dat Afrika-regerings versigtig moet wees om nie die integriteit van internasionale organisasies te verswak deur China se hervorming van die internasionale regeerstelsel te ondersteun nie.
Bronnelys
Feng, Y. 2020. China and multilateralism: From estrangement to competition. Londen: Routledge.
Stephen, M.D. 2021. China’s new multilateral institutions: A framework and research agenda. Londen: Oxford Academic Press.
Zhang, Q. 2021. China’s multilateral diplomacy. https://revistaidees.cat/en/chinas-multilateral-diplomacy/ (geraadpleeg 5 Mei 2023).

