Afknouery en bullebakkery teenoor onderwysers

  • 5

Dis nie net kinders wat deurloop onder boelies se afknouery nie. Onderwysers kan net so swaar kry. Vir volwassenes is dit ’n nog meer komplekse situasie, want met wie gesels jy as jou werksomgewing toksies is? Boonop kleef daar ’n stigma daaraan as ’n volwassene in ’n leiersposisie dalk te kenne gee dat hy of sy self swaarkry.

Estelle Kruger gesels met Nehemiah Phooko en Helen Meyer oor hulle artikel saam met ander navorsers:

Hoërskoolonderwysers in die Vrystaat se ervaring van psigologiese geweld

Wat was julle elkeen se ervarings van skoolleierskap in die onderwysberoep voordat julle die akademie betree het?

Nehemiah: Wat my ervaring ten opsigte van skoolleierskap betref, mag nou klink asof dit uit die oude doos kom, maar dit was ietwat positief in vergelyking met dié van vandag. Onderwysopleiding was so intens dat aspirantonderwysers ver verby slegs klasonderrig voorberei was tot so ver as leierskapopleiding. Dit het daartoe aanleiding gegee dat skoolleiers altyd op hul tone gehou is deur ondergeskiktes wat toe oor min of meer dieselfde leierskapskennis beskik het. Leierskap was dan een van die domeine wat die sterkste op onderwysers se positiewe werksklimaat en selfs gesondheid ingewerk het.

Helen: Ek was eers werksaam as lektor, toe senior lektor, departementshoof en later afdelingshoof in ’n kollege vir Verdere Onderrig en Opleiding.

Wat is die agtergrond van die studie – maw watter omstandighede het hierdie navorsing geïnspireer? Hoe het julle bewus geword van die sielkundige geweld by sekondêre onderwysers?

N: Ek het etlike jare se ervaring met onderwysers wat as gevolg van sielkundige geweld gely het. Onderwysers het dikwels vir lang tydperke op siekteverlof gegaan en as jy hulle vra wat makeer, dan het jy ’n eenwoord-antwoord gekry: “Stres.” En daar het dit geëindig. Min, indien enige, persone was toe bewus dat dit in werklikheid die gevolge van sielkundige geweld kon wees. Die term was redelik onbekend en voeg daarby die subtiliteit waarmee dit toegepas is. Ek was self ’n slagoffer van sielkundige geweld, maar as jy my vra waar en wanneer dit in my onderwysloopbaan begin het, sal ek jou nie kan antwoord nie. Al wat ek kan sê, is dat dit ’n diep gat is waaruit jy slegs met baie moeite, geduld en ondersteuning sal kan kom. Dit voel asof jy herhaaldelik met die vuis op jou maag geslaan word terwyl jou beste vriend net toekyk. Hierdie gevoel van magteloosheid het my geïnspireer om meer te wete te kom oor sielkundige geweld en dit was net deur navorsing moontlik.

H: Ek het uit die aard van my werk in ’n bestuursposisie en in ’n professionele hoedanigheid (nasionale nasiener, eksaminator) gereeld kontak gehad met verskeie Kollege-werknemers, regoor die land. Hierdie werknemers het hul ervarings van sielkundige geweld met my gedeel en ek het dit ook self waargeneem.

Julle was albei in bestuursposisies ...

  • Hoe het julle sielkundige geweld in die werksituasie bestuur?

N: As skoolhoof moes ek uiters versigtig wees met my benadering tot sielkundige geweld in die werksituasie. Versigtig omdat daar ’n stigma aan verbind word en die term gevolglik ’n negatiewe konnotasie vir onderwysers gehad het. Hoewel daar dikwels in die literatuur aanbeveel word dat jy bedag moet wees op sielkundige geweld onder onderwysers, is dit nie so eenvoudig nie. Ek het met my ore op die grond geloop en maar gewag dat die betrokke onderwyser teenoor my moet oopmaak.

H: As afdelingshoof het ek oor gesag beskik om werknemers binne my omvang van beheer tot ’n mate teen sielkundige geweld te beskerm. Ek het ook werknemers aangemoedig om hierdie voorvalle nie goedsmoeds te aanvaar nie, maar meer selfhandhawend op te tree teen oortreders en om seker te maak dat hul werk so gedoen is dat ek hul voldoende kon beskerm.

  • Hoe het julle onderwysers wat slagoffers van sielkundige geweld was, ondersteun?

N: Ek het gebruik gemaak van professionele persone wat kwartaalliks met die personeel oor die onderwerp kom gesels het. In die meeste gevalle het die onderwysers aangedui dat hulle graag privaat met die aanbieders sal wil gesels. Afsprake is dan gereël waarvolgens sessies deurgewerk is. By die skool het ek agtergekom dat sommige onderwysers net ’n goeie oor benodig wat na hulle sal luister. Dan moet jy ’n klankbord wees waartydens hulle hul frustrasies laat uitvloei. Die trane het dan dikwels gerol en soms is daar kragwoorde geuiter, maar in baie gevalle het die onderwyser heelwat van sy bagasie in die kantoor afgelaai en kon hy weer aangaan.

H: My ondervinding is dat as ’n persoon eers geteiken word, dit moeiliker raak om hom te beskerm. Dit is asof daar mense vanuit verskeie bronne (selfs kollegas op dieselfde vlak) daarop uit was om die persoon te ondermyn en te teiken. My advies aan mense was dan om ’n laer profiel te handhaaf ten einde vir ’n ruk hulle kwesbaarheid te verminder, beter na hulself om te sien (fisiek en sielkundig) en hulle verhoudinge met hulle gesin/familie te koester. Voorgenoemde is belangrik sodat die slagoffer sielkundige weerbaarheid opbou, alvorens hy of sy gereed is om verdere stappe te doen. Aangesien sielkundige geweld die slagoffer nadelig raak, is slagoffers gewoonlik nie in staat om ’n saak teen die oortreder in hul huidige sielkundige toestand te probeer hanteer nie en daarom my advies om eers afstand te verkry. Ek het ook slagoffers aangeraai om geen gesprekke met die oortreder te hê indien dit nie voor getuies is nie, om ’n bandopname te alle tye teenwoordig te hê indien gesprekke plaasvind, en om alle voorvalle aan te teken en geskrewe bewyse soos e-pos-kommunikasie te bewaar, ingeval die saak verder gevoer word. Dit is ook belangrik om die verteenwoordigende liggaam of unie vroeg in die proses reeds van die gebeure in kennis te stel, sodat dit op rekord is.

Wat is die implikasies van sielkundige geweld op die gehalte van onderrig en leer in ’n skool?

N: Die gevolge van sielkundige geweld manifesteer dikwels in onderrig en leer, byvoorbeeld in ’n toename in afwesigheid deur onderwysers. Die onderwysers raak toenemend bewus van die ongesonde klimaat wat in die skool heers. Hulle raak dan haatdraend en kwaad en met hierdie negatiewe gevoel jeens die skool raak hulle gefrustreerd en depressief. ’n Swak kultuur van onderrig en leer bestaan dikwels by dié skole waar onderrig en leer tot stilstand gekom het. Hierdie toestand kom dikwels meer by hoërskole voor. Onderrig van hoë gehalte ly groot skade wanneer onderwysers afwesig is en met assistentonderwysers vervang word.

H: Sielkundige geweld raak nie net die gesondheid van die individuele slagoffer nie (byvoorbeeld siekte, sukkel om te konsentreer, afwesigheid, bedanking), maar navorsing dui daarop dat ook kollegas wat hierdie voorvalle waarneem, nadelig geraak word. Indien die personeel se moreel laag is, het dit ’n negatiewe uitwerking op hul produktiwiteit en vermoë om effektief klas te gee, wat weer die leerders nadelig raak. Sielkundige geweld floreer ook gewoonlik in ’n vyandige organisasiekultuur. Die hele organisasie, insluitende die onderrig-leer-proses, word dus nadelig geraak.

Nehemiah, hoe kon jy as skoolhoof die situasie hanteer wanneer dit leerlinge is wat die oortreders is?

Die leerling word beskou as ’n kliënt aan wie die onderwyser ’n diens verrig. Hierdie siening het ek dikwels onder die leerlinge se aandag gebring. Ek het ook gereeld gebruik gemaak van skoolsielkundiges om sessies met leerlinge te hou. In gevalle waar leerlinge gereeld oortree het, het ek onder andere pastorale beraders gevra om te help. Ek het ook bewus geraak van die invloed wat die sportonderwyser op die leerlinge het. So het sport ook ’n waardevolle bydrae tot leerlingdissipline gelewer. Die onderwysers by skole in ander plekke was dikwels beïndruk wanneer ek saam met die leerlinge vir sportbyeenkomste opdaag. Min het ek besef watter samebindende effek dit onder die leerlinge teweeg gebring het.

Hoe sou julle die begrip sielkundige geweld verduidelik aan skoolhoofde om hulle meer betrokke te kry by die probleem en die oplossing daarvan?

N: Skoolhoofde moet eerstens ’n gedetailleerde beskrywing kry van wat sielkundige geweld is. Dit kan ook riglyne vir die identifisering van sulke geweld bevat. Aangesien die uitvoerders van sielkundige geweld in die navorsing ook skoolhoofde blyk te gewees het, kan daar verwag word dat hulle dalk traag sou wees om betrokke te wees. Daarom is dit noodsaaklik dat hulle die ernstige gevolge van sielkundige geweld moet besef. So ’n oriëntering moet hulle kan oortuig dat hulle betrokkenheid onontbeerlik is; nie slegs vir die gesondheid en welstand van die onderwysers nie, maar ook vir hoër produktiwiteit en gehalte-uitsette van die onderwys oor die algemeen. Hulle kan ook verwag dat die beskuldigende vinger na hulle kan wys, maar dat dit grotendeels van hulle afhang om, waar nodig, die kentering teweeg te bring. Sodoende kan hulle na hulself deur die oë van hul personeel kyk. Die verstaan van sielkundige geweld val dus binne die kader van twee uiterstes, naamlik die retoriek van herstrukturering, soos deur die bestuur uitgedruk, en die harde werklikheid soos deur die personeel ervaar.

H: Bestuurders (insluitende skoolhoofde) is nie altyd bewus daarvan dat sekere negatiewe gedragsvorme sielkundige geweld is nie en dat die uitwerking van sielkundige geweld net sulke nadelige gevolge soos fisieke geweld het. Ek sal hulle op hierdie gedragsvorme wys en ook aantoon dat dit nie verwar moet word met ’n eenmalige onderonsie tussen personeel nie, maar as die gedrag byvoorbeeld neerhalende aanmerkings in die openbaar, herhalend van aard is en op een persoon gemik is, daar sprake van sielkundige geweld is. In die geval van seksuele teistering sou ’n eenmalige handeling egter genoegsaam wees om as teistering geklassifiseer te word. Dit is belangrik om die bestuur bewus te maak hiervan en van die nadelige uitwerking daarvan op hul personeel en organisasie. Dit help ook om vir die bestuur die koste van sielkundige geweld in monetêre terme uit te druk.

Dit blyk uit julle navorsing duidelik dat daar ooreenkomste is tussen die verskynsels van boelies (bullebakkery) met gedrag van intimidasie en teistering aan die een kant en sielkundige geweld aan die ander kant, in die werkplek. Verduidelik asseblief.

N: Die ooreenkomste tussen die verskynsels van bullebakkery en sielkundige geweld het juis daartoe gelei dat daar in die navorsing opgemerk is dat bullebakkery by skole ’n belangrike bydrae kan lewer tot navorsing oor sielkundige geweld. Dit kan die verstaan van sielkundige geweld verbreed. In beide gevalle behels dit negatiewe gedrag tussen twee of meer persone. Beide word veral gekenmerk deur herhaalde en intense aggressiwiteit. In beide gevalle bestaan daar ook ’n wanbalans in mag waarin dit moeilik is vir die slagoffer om hom te verdedig. In die werkplek, asook gedurende bullebakkery, word dreigemente dikwels gebruik. Sielkundige geweld manifesteer in verskillende vorme, waaronder sielkundige druk, isolasie en/of onverbiddelike kritiek. In beide gevalle weet die toepasser wat sy uiteindelike doel is met sy optrede teenoor die slagoffer. In beide gevalle word bende- of groepsaggressie dikwels toegepas. Dit staan ook bekend as mobbing en dit behels vals beskuldigings en viktimisering. In vandag se tegnologies gevorderde lewe maak toepassers ook gebruik van kuberaggressie. Afgesien van die vele ooreenkomste tussen bullebakkery en sielkundige geweld is daar ook die een oorkoepelende ooreenkoms, naamlik die doel van die toepasser. Die toepasser het die algehele vernedering, isolasie en verleentheid van die slagoffer ten doel. In beide gevalle kan drie opvallende groepe onderskei word, naamlik die toepasser, die slagoffer en die waarnemer.

H: Sielkundige geweld omvat verskeie negatiewe gedragsvorme, onder andere werksplekaggressie, teistering, intimidering, samespanning teen ’n kollega, misbruik, dreigemente en bullebakkery (boelie). Bullebakkery word weer onderverdeel in byvoorbeeld skinder, verspreiding van gerugte, isolasie, uitsluiting, skreeuery en negatiewe nieverbale gedrag. Al hierdie negatiewe gedragsvorme het ’n nadelige invloed op slagoffers se gesondheid en kan dus as sielkundige geweld geklassifiseer word. Beide sielkundige en fisieke geweld word geklassifiseer as geweld in die werksplek.

Hoe verklaar julle die stilswye van slagoffers van sielkundige geweld?

N: Die stilswye van die slagoffer ontspring aan verskeie faktore. Die eerste lê in die denke van die slagoffer self in die sin dat hy stilbly omdat hy verdere intimidasie en teistering deur die toepasser vrees. Soms bly die slagoffer stil met die hoop dat die negatiewe optrede sal oorwaai, terwyl hierdie hoop mettertyd vervaag. Die slagoffer kan ook skaam voel om dit openbaar te maak, want hy is bekommerd oor wat ander sal sê. Indien hy wel kla, kan ander hom weer as ’n swakkeling tipeer. Hy is ook bekommerd dat ander hom nie sal glo nie. Die toepasser laat die slagoffer dikwels verstaan dat hy (die toepasser) met mense hoër in die Departement in verbinding is en gereeld op hoogte gehou word. Die slagoffer kan dus nêrens gaan kla nie. In sommige gevalle word daar dikwels na die slagoffer verwys as “die een met die houding” of “die ander een” of “die ongehoorsame” of “die een met die sielkundige probleme”. Hierdie etikettering word dikwels tot op die hoogs moontlike vlak van die Departement gekommunikeer sodat dit as basis vir latere verwysings teen die slagoffer gebruik kan word. ’n Ander moontlike rede vir die stilswye kan wees dat die amptenare dikwels partydig optree ter verdediging van die toepasser. Sarkasme deur die toepasser maak dit ook moeilik vir die slagoffer om sy woede na die vyandige optrede terug te voer. Isolasie van die slagoffer lei dikwels daartoe dat hy nie met ander kan kommunikeer nie en maar stilbly.

H: Slagoffers is bang om te praat, omdat dit aanleiding kan gee tot meer teistering. Hulle verduur dus die situasie met die hoop dat dit sal oorwaai en omdat dit hul bron van inkomste is wat hul nie kan verloor nie, en dit verklaar ook die geweldige trauma en spanning wat hul ervaar. Die stilswye is egter nie wenslik nie, aangesien navorsing toon dat indien ’n persoon eers geteiken word en sielkundige geweld ’n aanvang geneem het, dit gewoonlik voortgaan en vererger. Die stilswye stel ook die oortreder gerus dat hy of sy maar voort kan gaan met die ongewenste gedrag omdat daar geen gevolge is nie. Aangesien die meeste oortreders in ’n bestuursposisie aangestel is, help dit ook nie dat slagoffers die saak aanhangig maak op ’n hoër vlak nie, aangesien die bestuurder dikwels sy gesagsposisie misbruik om mensehulpbronbeamptes en ander bestuurders en kollegas negatief teen die slagoffer te beïnvloed.

Julle navorsing berus op ’n holistiese ekosistemiese teorie. Verduidelik asseblief kortliks vir ons wat dit beteken.

N: Die holistiese ekosistemiese teorie is afgelei van die metabenadering en is gesetel binne die sisteemteorie. Die sisteemteorie benadruk die ekologie of die wetenskap van onderlinge verwantskappe wat op die geheel fokus en waarvan die eienskappe nie tot kleiner eenhede gereduseer kan word nie. Die holistiese ekosistemiese benadering se beskouing van die mens is dat hy ’n geheel is wat in vyf kenmerkende, en onderling verweefde, kontekste bestaan. Al vyf hierdie kontekste (sielkundig, biologies, spiritueel, ekologies en metafisies) is holisties betrokke by die lewe van ’n persoon. Aangesien daar wedersydse interaksies tussen die vyf kontekste bestaan, kan verandering binne een konteks al die ander beïnvloed. Lewe sonder een konteks is dus byna ondenkbaar.

H: Alhoewel die mens in verskeie kontekste (sielkundig, biologies, spiritueel, ekologies en metafisies) bestaan, is hierdie kontekste interaktief en ’n nadelige uitwerking op een konteks sal dus ook ander kontekste nadelig raak. Met ander woorde, indien die persoon byvoorbeeld angs en woede as gevolg van sielkundige geweld ervaar, en veral as dit gereeld gebeur, sal dit ook sy fisieke gesondheid benadeel (byvoorbeeld hipertensie) en uitkring na sy verhoudings met kollegas en familielede, en ook sy werksverrigting nadelig beïnvloed.

Julle navorsing het ’n kwantitatiewe navorsingsontwerp met statistieke gehad. Is julle bewus van kwalitatiewe studies oor sielkundige geweld in Suid-Afrika wat narratiewe voorbeelde daarvan behels (dus in die vorm van verhale oor werklike ervarings)? Verduidelik asseblief.

N: Bo en behalwe die kwantitatiewe navorsingsontwerp het my navorsing ook ’n kwalitatiewe navorsingsontwerp ingesluit. Dit was dus ’n gemengde-metode-navorsingsontwerp. Die kwalitatiewe data-insameling het met behulp van semigestruktureerde onderhoudsvrae met 32 onderwysers geskied. Onderwysers het op die kwantitatiewe vraelyste aangedui dat hulle aan die individuele fenomenologiese onderhoude sou wou deelneem. Die onderhoude is op drie wyses gevoer, naamlik individuele, telefoniese en groepsonderhoude. Hiertydens het ek ook narratiewe voorbeelde van sielkundige geweld soos deur die onderwysers ervaar, in my proefskrif1 aangeteken.

H: My proefskrif2 het gehandel oor sielkundige geweld en ek het gebruik gemaak van die gemengde navorsingsontwerp wat beide die kwantitatiewe en die kwalitatiewe ingesluit het. Die kwalitatiewe data is verkry deur middel van onderhoude wat uit verhale bestaan het, maar slegs sekere aanhalings is ná dataontleding en kategorisering gebruik.

Daar is aanduidings dat voorbeelde van navorsing oor sielkundige geweld in Suid-Afrika tekens toon van oa onredelike spertye, blootstelling aan onbeheerbare werkslading, isolasie as gevolg van negatiewe gedrag, en mikrobestuur wat baie ooreenkom met uitermatige monitering. Is dit nie maar wat in enige werksplek die geval is nie? Verduidelik asseblief wat die verskil is (indien enige).        

N: Daar blyk nie verskille te wees nie. Die waardes en norme van ’n spesifieke werksplek beïnvloed ook die verstaan van sielkundige geweld binne daardie bepaalde konteks. Indien verskille wel voorkom, kan dit in die intensiteit van die geweld wees. Ander komponente van werksplekgeweld is fisiek en struktureel. Die verskillende vorme van werksplekgeweld kom egter dikwels saam voor; waar ’n persoon byvoorbeeld in die werksplek aangerand word, dien die daad van aanranding en die gevolge daarvan insgelyks as ’n daad van sielkundige geweld.

H: Indien hierdie negatiewe gedragsvorme soos onredelike spertye gereeld (meer as een maal oor ’n tydperk van ses maande) voorkom, is dit ’n geval van sielkundige geweld. Soos reeds vermeld, toon navorsing dat dit die gesondheid van slagoffers nadelig raak. Hoe meer gereeld en hoe langer sulke negatiewe handelinge voorkom, hoe nadeliger is die uitwerking daarvan op die gesondheid van slagoffers.

Verskil die voorbeelde van sielkundige geweld in Suid-Afrika van dié in ander lande?

N: Die voorbeelde van sielkundige geweld in Suid-Afrika verskil in ’n mate van dié van ander lande vanweë Suid-Afrika se jong demokrasie en sy kulturele diversiteit. Waar daar dikwels slegs een kultuur in ’n ander land mag voorkom, verskil die siening ten opsigte van sielkundige geweld in Suid-Afrika van kultuur tot kultuur. Direkte vergelykings oor lande heen is ook moeilik te tref vanweë die verskillende navorsingsbenaderings in daardie lande.

H: In die Skandinawiese lande is kollegas op dieselfde vlak meer geneig om mekaar te teister, maar in Amerika, die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika en die meeste ander lande is oortreders meer geneig om persone in gesagsposisies te wees wat ondergeskiktes teister. Die terme verskil ook soms van land tot land – party verkies die term bullying, terwyl ander weer na harassment, workplace aggression of mobbing verwys. Daarom verkies ek die term sielkundige geweld, as ’n sambreelterm wat al hierdie negatiewe gedragsvorme insluit.

In ’n ideale wêreld – hoe sou julle die oplossing van die probleem van sielkundige geweld sien? Wie kan iets daaraan doen om by hierdie ideaal uit te kom?

N: Die oplossing van die probleem lê in algehele gesondheid. Algehele gesondheid beteken nie slegs om vry van siekte te wees nie, maar ’n staat van algehele fisieke, sielkundige, kognitiewe en sosiale welstand van die individu en omgewing. Algehele gesondheid is dan die prerogatief van alle rolspelers, waaronder die staat, privaatsektor en gemeenskap.

H: Aangesien sielkundige geweld op alle vlakke van die samelewing voorkom, behoort ’n multivlakbenadering (nasionaal, organisatories, leierskap, in groepsverband en individueel) gevolg te word om die probleem daadwerklik aan te spreek, insluitend met behulp van voorkomende primêre, sekondêre en tersiêre maatreëls.

Watter verrassings het julle in hierdie navorsingsprojek gekry?

N: Daar was verskeie onaangename én aangename verrassings. Gedurende die data-insameling het ek byvoorbeeld by een skool twee onderwyseresse in die personeelkamer gevind waar hul hare deur leerlinge gevleg word. Toe ek die skoolhoof daaroor uitvra, wou hy my summier van die perseel afsit en het hy selfs gedreig om my aan te rand, maar hy het betyds besef dat hy laaste sou kom as hy my durf te lyf gaan. By ’n ander skool het hulle weer ’n skaap op die skoolterrein geslag. Onderrig het dus nie plaasgevind nie, omdat dit kwansuis die hoof se verjaarsdag was. En by ’n ander skool het ek die skoolhoof, afgesien van ’n bevestigde afspraak, besope in sy kantoor aangetref. Ek noem hierdie onsmaaklikhede om te wys hoe ver mense kan gaan onder die dekmantel van kultuur.

Ek was aangenaam verras toe ek by ’n skool in die diep platteland, met my moed in die skoene ná die vorige ervarings, aankom. ’n Algehele stilte het daar geheers. Ek het gedink dat die skool dalk vroeg verdaag het. By nadere ondersoek het ek die hoof aangetref waar hy klasgee en so ook die res van die onderwysers. Die leerlinge se skooldrag het van armoede getuig. Hempsknope was dikwels nie deurgaans dieselfde nie; die broeke was gelap, maar hul skooldrag was sonder uitsondering skoon en netjies gestryk. By ’n ander skool het die onderwysers teen vyfuur nog klas gegee en my ook daarna te woord gestaan. Oor die algemeen beskou, is daar tog hoop vir ons onderwys, en veral met onderwysers soos hierdie.

H: Daar was nie vir my eintlik verrassings nie, want tydens my PhD-navorsing is ek reeds sekondêr getraumatiseer tydens die data-insameling (spesifiek die onderhoude) as gevolg van die erns van geweldig negatiewe ervarings wat slagoffers met my gedeel het.

Wat het julle elkeen as persoon geleer in die proses van navorsing en die publikasie van julle bevindinge in hierdie artikel?

N: Die verwysing in die individuele fenomenologiese onderhoude dui daarop dat ook skoolhoofde sielkundige geweld ervaar. Dit lei dikwels daartoe dat die onskuldige onderwyser as weerligafleier vir dié druk gebruik word. Ek het ook gedurende die navorsing agtergekom dat die kwellinge van die onderwysers nie weerklank vind by die Onderwysdepartement nie. Die enigste manier waarop dit die Departement bereik, is deur middel van artikels. Een onderwyser het selfs verklaar dat tesisse net op die boekrakke beland en stof vergaar.

H: My PhD-navorsing het my as persoon verryk, omdat ek so baie van die deelnemers kon leer. Die vertroue wat hul in my gestel het en die feit dat hulle hulself blootgestel het (hoewel ek ten tye van die navorsing self aangestel was in ’n bestuursposisie), was vir my kosbaar. Hulle wou gehoor word en deur hul ervarings te publiseer kan ek hul stem na vore laat kom en dit onder die regte persone se aandag bring sonder dat hul geïdentifiseer word.

Is daar enige nuwe navorsingsprojekte op julle horisonne?

N: Ja. Ek sal graag wil weet wat die aard van sielkundige geweld onder amptenare van die Onderwysdepartement is. Dit kan moontlik ’n omvattende verstaan meebring van die faktore wat die toepasser van sielkundige geweld se optrede laat gedy.

H: Ek sal graag soortgelyke navorsing in die hoëronderwysinstellings (universiteite) wil onderneem. Navorsing toon dat sielkundige geweld meer geneig is om te floreer waar daar veranderinge in die werksplek plaasvind, wat tans die geval is by hoëronderwysinstellings.

 

Eindnotas

1 Phooko, N. 2013. Die aard en impak van psigologiese geweld op sekondêreskool-onderwysers: Riglyne vir ondersteuning. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.

2 Meyer, H.W. 2011. The nature and impact of psychological violence on staff members’ health in FET Colleges: Strategies for prevention and support. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.

  • 5

Kommentaar

  • Ongelooflik dat daar indiepte-studie bestaan oor hierdie onderwerp.
    Soveel insig ... Die status quo sal egter bly; om redes soos in artikel genoem, en dus sal die slagoffers altyd die ... offer wees.

  • Ek stem saam; slagoffers sal daar altyd wees, maar bekendmaking van die bestaan van die probleem moet so wyd moontlik aangekondig word. So kan die impak daarvan gekelder word en selfs heeltemal voorkom word soos meer mense daarvan bewus raak. Dankie vir u opbouende kommentaar.

  • Avatar
    Melanie van Eeden

    Praat so reg in my kraal. Tans besig met my tesis. Drama as stress management. Dink toekomstige navorsing oor die stigma van stress in die werkplek sal help met bewusmaking daarvan.

  • Avatar
    n Wrak in werksplek

    Om te dink ek het begin wonder wat fout is met my ... hardwerkend ... trots op werk ... wil net beter en meer doen, maar niks is goed genoeg of reg nie. My direkte hoof 'n nare boelie ... my hoop is slegs op die dae wanneer bietjie menslikheid deurskemer.

    • Dit maak nie saak hoe goed jou werk is nie - navorsing toon dat bullebakke juis die persone teiken wat meer eties, meer hardwerkend en konsekwent is - dus word jy dikwels vir jou 'positiewe' eienskappe geteiken. Die rede is omdat bullebakke hul slagoffers dikwels as 'n bedreiging beskou en sy of haar mag misbruik om jou 'uit te werk' of vals gerugte rondom jou te versprei aan ander meerderes/hoofde om vir jou 'n slegte reputasie te 'skep', dus 'samespanning' wat ook 'n vorm van magsmisbruik is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top