Adieu, Bernard, ami de l’esprit et amateur sans pareil de ce monde: ’n Huldeblyk aan Bernard Stiegler (1 April 1952 – 5 Augustus 2020)

  • 1

Bernard Stiegler (fotobron: https://commons.wikimedia.org/wiki/File:2016_HTNM_Bernard_Stiegler_(30301265471)_(cropped).jpg)

Tydens een van my eerste gesprekke laat in 2001 met my destydse Franse studieleier, Régis Debray, het hy, wat uit eie reg ’n uitstaande filosoof van die tegniek en die tegnologie is, my aangeraai om die werk van Bernard Stiegler te lees.

Stiegler en sy werk was nie in daardie stadium aan my bekend nie, en die eerste van sy boeke wat ek gelees het, was band drie van sy reeks Tegniek en tyd, naamlik Le temps du cinéma et la question du mal-être (Gallimard 2001; later in Engels vertaal as Technics and time 3. Cinematic time and the question of malaise, Stanford University Press 2010).

Dit voel soos gister dat ek een koue, donker Desemberaand in die winter in Lyon by ’n wassery aan die boek begin lees het, vasgenael deur die briljantheid en ambisie daarvan. Hier, het ek gedink, hier is ’n denker van ons tyd wat dit beter verstaan as enige ander waarvan ek al iets gelees het.

So het my geboeidheid met die denke van Stiegler begin, wat uiteindelik onder meer daartoe sou lei dat ek my doktorale proefskrif[1] van 2009 tot 2011 onder leiding van Michael Janover aan Monash-universiteit, Melbourne sou skryf.

Om Stiegler se werk na waarde te skat, is dit bykans onvermydelik om by sy sonderlinge lewensverhaal[2] te begin. Stiegler is op 1 April 1952 gebore en het aan die buitewyke van Parys in Essonne grootgeword as die seun van ’n pa wat as TV-ingenieur werksaam was en ’n ma wat ’n bankamptenaar was.

In die ouderdom van 16 verlaat hy in 1968 die skool sonder matriek om aan te sluit by die betogings van studente en werkers wat die wêreldgeskiedenis sowel ten goede as ten kwade sou verander. Hy sluit selfs vir ’n kort tydjie aan by die Franse Kommunisteparty, maar bedank later uit protes teen wat hy beskryf as die Stalinisme van die destydse leier, Georges Marchais.

Toe hy 19 jaar oud was, is die eerste van sy vier kinders gebore, naamlik sy dogter, Barbara, vandag ’n filosoof uit eie reg verbonde aan die Universiteit van Bordeaux-Montaigne. Tot 1976 doen Stiegler verskillende werke, wat handearbeider, kantoorwerker, stuurjonge vir ’n argiteksfirma en plaasvoorman insluit.

Hierna open hy ’n musiekklub in die suidelike Franse stad Toulouse, waar ’n bekende filosoof aan die plaaslike universiteit, Gérard Granel, ’n medejazzliefhebber, een van sy gereelde besoekers is, en met wie hy bevriend raak. Die noodlot tref Stiegler egter toe die besuinigingsbeleid van die destydse Franse eerste minister, Raymond Barre, daartoe lei dat Stiegler se krediet by sy bank opdroog.

Om die boeke van sy klub te laat klop, gaan Stiegler vir die soveelste maal in sy jong lewe oor tot die daad en voer vier bankrowe uit. Na die eerste bankroof beland die polisie op sy spoor en tref hom een Sondagmiddag aan in ’n park waar hy vreedsaam met sy vrou en twee jong kinders besig met ’n piekniek was, en blaas die aftog omdat hulle nie kon glo die gesinsman kan ’n bankrower wees nie.

Stiegler se geluk loop egter uit en in 1978 word hy in die ouderdom van 26 vir vyf jaar tronk toe gestuur, wat ’n absoluut bepalende tyd in sy lewe sou word. Na die aanvanklike weiering van sy versoek om ’n enkelsel sodat hy kan studeer, gaan hy vir drie weke lank op ’n hongerstaking, en word sy versoek uiteindelik toegestaan.

Stiegler behaal in die tronk per korrespondensie die ekwivalent van matriek en sit sy studie in filosofie aan die Universiteit van Toulouse voort met die steun van Granel, wat ook dikwels vir hom boeke na die gevangenis sou bring. In waarskynlik sy laaste gepubliseerde koerantopstel vertel Stiegler hoe hy baie gou na sy opsluiting besef het dat sy psigiese oorlewing sal afhang van die vestiging van ’n streng persoonlike roetine, en die dissipline wat hy sodoende aangeleer het, sou ongetwyfeld ’n groot rol speel in sy insig in die noodsaak van kontemplatiewe praktyke vir die goeie lewe, asook in sy enorme produksie van 26 boeke tussen 1994 en 2020, tesame met nog ’n hele aantal boeke waarvan hy medeskrywer, samesteller of medesamesteller was.

Stiegler verlaat die tronk na vier jaar en agt maande en begin na kennismaking met Jacques Derrida ’n tweeweeklikse seminaar oor die tegniek aanbied aan die pasgestigte Collège International de Philosophie, Parys – ’n ope, eksperimentele universiteit en die soort instelling wat hom soos ’n handskoen sou pas. Sy seminaar maak so ’n sterk indruk dat hy ’n pos as navorser aan die Franse Ministerie van Navorsing bekom, terwyl hy werk aan sy doktorale studie onder leiding van Derrida en sy doktorsgraad in 1993 verwerf. Die werk wat hy onder Derrida gedoen het, vorm die basis van sy baanbrekende trilogie Tegniek en tyd.

In 1988 bied die Universiteit van Compiègne hom ’n dosentepos aan, en hy werk in dié hoedanigheid totdat hy in 1996 die eerste van ’n reeks prominente bestuursposte in instellings gemoeid met die tegniek in een of ander vorm aanvaar, naamlik as adjunkdirekteur-generaal van die Franse Oudiovisuele Instituut (INA), Parys, waar hy tot 1999 sou aanbly.

In 2002 aanvaar hy die pos as direkteur van die beroemde Franse Instituut vir Akoestiese en Musikale Navorsing en Koördinering (IRCAM), wat oorspronklik deur die beroemde Franse eksperimentele komponis Pierre Boulez gestig is.

In 2006 word Stiegler direkteur van Kulturele Ontwikkeling aan die Pompidou-sentrum, waar hy dieselfde jaar sy Instituut vir Navorsing en Innovasie (IRI) stig, en waar hy tot sy dood op 5 Augustus 2020 werksaam sou wees.

Bo en behalwe hierdie amptelike betrekkings was Stiegler, as filosoof vir wie om tot die daad oor te gaan van wesenlike belang was, ook die stigter of medestigter van ’n hele aantal verenigings wat gerig was op interdissiplinêre samewerking en eksperimentering, asook grondige institusionele en maatskaplike veranderinge. Dit sluit in die vereniging Ars Industrialis, wat jaarliks in die Franse somer openbare seminare sou hou; ’n internasionale, interdissiplinêre netwerk van navorsers, Internation, wat gerig is op ’n nuwe internasionale bondgenootskap gedryf deur nuwe idees oor die tegniek, die ekonomie en die politiek; en meer onlangs saam met ’n Franse wenner van die Nobelprys vir Letterkunde, JMG Le Clézio, die Vereniging van die Vriende van die Thunberg-generasie wat gerig is op ’n rondgaande skool vir jongmense om hulle op te voed vir handeling om die krisis van die Antroposeen teen te werk.

Dit is onmoontlik om hier reg te laat geskied aan die denke van Bernard Stiegler, aangesien dit omvattend, uiteenlopend, ingewikkeld, vernuwend en teen die tyd van sy voortydige dood steeds in wording was. Ek verwys dus slegs na enkele punte.

Toe Régis Debray my destyds van Stiegler se werk vertel het, het hy Stiegler beskryf as ’n “Heideggeriaanse tegnofiel”, wat steeds ’n uitstekende beskrywing is. Hoe omstrede Heidegger ook al weens sy Nazisme bly, is dit ewe waar dat hy sedert die publikasie van sy eerste groot boek, Syn en tyd (1927) ontwikkel het tot waarskynlik die invloedrykste Westerse filosoof van die 20ste eeu. Derrida, die grondlegger van die dekonstruksie, het dié term regstreeks aan Heidegger ontleen, en eens verklaar dat toe hy, wat uit eie reg ’n hoogs produktiewe skrywer was, nadat hy Heidegger begin lees het, nie gedink het hy sal ooit veel na Heidegger kan skryf nie.

Heidegger se invloed spruit ook voort uit sy beroemde siening dat die moderne tegniek en tegnologie die leefwêreld van die mens toenemend afsluit en bedreig, soos hy dit onder meer in sy beroemde opstel, “Die vraag aangaande die tegniek” (1954) aan die orde stel.

Dit is teen hierdie opvatting dat Stiegler reageer met die publikasie van die eerste band van Tegniek en tyd,[3] waarvan die titel ’n duidelike verwysing na Heidegger se Syn en tyd is. Soos Heidegger in Syn en tyd aantoon dat die mens (Dasein) ten diepste deur haar tydelikheid en tydsbelewenis gevorm en bepaal word, so voer Stiegler in hierdie eerste boek aan dat die tegniek ten diepste ons tydsbelewenis bepaal. In regstreekse teenstelling tot Heidegger voer Stiegler ook in hierdie boek aan dat die mens se leefwêreld nie noodwendig deur die moderne tegnologie afgesluit word nie, maar dat die vraag of die tegniek ons leefwêreld afsluit of ontsluit ten nouste saamhang met hoe ons die tegniek toe-eien (adopter) en aanpas (adapter). Laasgenoemde hang op sy beurt af van behoorlike insig in die samehang tussen tegniek en mens, wat Stiegler lei tot die ontwikkeling van wat ek elders ’n tegnoantropologie genoem het, en waarvolgens daar géén menslike leefwêreld hoegenaamd sonder die tegniek bestaan nie. Die tegniek kan verstaan word as die veruiterliking en optimalisering van aspekte van menswees, byvoorbeeld klere wat my vel se vermoë om my liggaam te beskerm veruiterlik en optimaliseer, of skoene wat my voete se vermoë om te beweeg veruiterlik en optimaliseer. Dit is waarom Stiegler die tegniek in sy beroemde, geniale bewoording omskryf as “die voortsetting van die lewe deur ander middele as die lewe self”.

Hierbenewens ontwikkel Stiegler ook in hierdie eerste boek sy insig dat alle vorme van tegniek tegelyk ook vorme van herinnering is. Hy demonstreer dit met verwysing na die werk van die paleoantropoloog André Leroi-Gourhan oor die maak van gereedskap wanneer hy verduidelik dat die eerste klipmes die veruiterliking van iemand se idee in ’n stuk materie (klip) is, en dat elke keer wanneer daar weer ’n klipmes gemaak word, dit ’n daad van herdenking en herinnering aan daardie eerste daad, daardie eerste veruiterliking van bewussyn in materie in dié vorm, is.

Uit sy insig dat die tegniek altyd ’n vorm van geheue is, ontwikkel Stiegler sy hoogs briljante teorie oor industrialisering as die industrialisering van die menslike bewussyn self, in soverre moderne geheuetegnologieë soos die fonogram, die kamera, die rolprent, die radio, televisie, die rekenaar, die internet en natuurlik digitale tegnologieë soos die MP3 of MP4 dit is wat ongekende skaalbesparings vanaf die laat 19de eeu meebring. Hierdie skaalbesparings vind beslag in wat Stiegler die programbedryf noem, waarin die massamedia, die advertensiewese, die nuuswese en “sosiale” media mense se lewens, bewussyne en wêreldbeskouings grondig omvorm en selfs vervorm.[4]

Stiegler verduidelik[5] dat wat fossielbrandstowwe as energiebron vir vroeë industrialisering was, aandag vandag is vir wat hy die hiperindustriële samelewing noem. Pleks dat die mensdom soos vanaf die 1960’s voorspel, ’n sogenaamde postindustriële tydperk betree het, waarin immer verbeterende produksiemetodes veronderstel was om al hoe meer vrye tyd beskikbaar te stel, het ons inderwaarheid die hiperindustriële samelewing betree, waar bogenoemde programbedryf daarop gemik is om ons aandag elke oomblik van die dag in beslag te neem.

Soos die proletariër in die industriële ekonomie die werker is wat ’n bestaan deur die verkoop van sy liggaamlike energie maak en beserings aan diens liggaamlik van aard is, so is die nuwe proletariër in die hiperindustriële ekonomie die werker wat ’n bestaan maak deur haar aandag te verkoop (mense in die dienstebedryf soos finansiers, opvoeders, programmeerders, kunstenaars en wat nog), en is ’n besering aan diens geestelik van aard (depressie, bipolariteit, uitbranding, ens).

Om hierdie wanhopige toedrag van sake om te keer, pleit Stiegler vir ’n nuwe otium van die volk, oftewel die aanwending van hierdie geheuetegnologieë vir werklike geestelike verheffing en massadeelname deur almal aan die ekonomie en die politiek ten einde ’n nuwe intelligente samelewing tot stand te bring.

Stiegler se werk is nie vry te spreek van kritiek nie, en ’n mens kan vermeld dat sy teorie van die moderniteit as industrialisering nie rekening hou met die aanloop tot die moderniteit vanaf die 13de eeu in teologiese debatte (realisme vs nominalisme), die opkoms van vroeëre tegnologieë soos die meganiese uurwerk, die kompas, en wat Ivan Illich die “bookish object” noem, of die opkoms van die moderne territoriale staat nie.[6] In my eie kritiek op sy werk het ek die gedagte ontwikkel dat sy werk, ondanks die uitgesproke ateïsme daarvan, inderwaarheid geweldig sterk op ’n aantal Christelike kernbegrippe steun, waarvan die otium soos dit volgens sy eie erkenning in die Middeleeuse Latynse Christendom beslag kry, maar een is, sodat ’n mens na Stiegler se werk kan verwys as die voortsetting van die Christendom deur ander middele as die Christendom self.

Hoe dit ook al sy: Ek is nie bewus van ’n eietydse denker wat ons tyd so briljant gediagnoseer het nie, en wat die absolute sentraliteit van die menslike gees en die noodsaak van ’n nuwe metafisika so oortuigend as Stiegler bedink het nie. Omdat sy werk en sy persoon so grondig dialogies van aard was en is, skep Stiegler die moontlikheid vir ’n nuwe bondgenootskap en ’n nuwe gesprek tussen die eietydse filosofie en die groot geestelike tradisies – iets waarin hy besonder geïnteresseerd was tydens my laaste gesprek met hom in Junie vanjaar, waarin ons beplan het aan sy besoek aan Kovsies in September 2020.

Ek het kEk is nie bewus van ’n eietydse denker wat ons tyd so briljant gediagnoseer het nie, en wat die absolute sentraliteit van die menslike gees en die noodsaak van ’n nuwe metafisika so oortuigend as Stiegler bedink het nie.ort daarna die voorlopige program aan hom gestuur, en ongewoon vir Stiegler, nooit ’n reaksie ontvang nie. Die rede daarvoor het duidelik geword toe ek met die grootste ironie op die diaboliese medium Facebook (wat Stiegler met reg met ’n passie gehaat het) op Vrydagoggend 7 Augustus verneem het dat die nuus van sy dood op die 75ste herdenking van die grootste tegnologiese katastrofe van die geskiedenis – Hirosjima – bekend geword het. Dit was so simbolies van die risiko’s van ’n ondeurdagte toe-eiening van die eietydse tegnologie waarteen Stiegler ons deurgaans gewaarsku het.

En nou is die jeugdige, energieke en diep menslike Stiegler vir altyd weg – een van die min ware filosowe van ons tyd. Dog sy werk laat ons met die deurdringendste insigte in die fabelagtige moontlikhede én die katastrofale bedreigings wat die eietydse tegnologie vir die mensdom inhou.

Soos Stiegler ons geleer het, en soos hy dit self geleef het: Hierdie vraagstuk sal uiteindelik deur die menslike versorging of verwaarlosing van die siel besleg word.

       Adieu, Bernard, ami de l’esprit et amateur sans pareil de ce monde.

Eindnotas

[1] Bernard Stiegler and Western Modernity: Tracing the theological in Stiegler’s philosophy and politics. Ongepubliseerde proefskrif, 2012.

[2] Vir van die biografiese inligting in hierdie huldeblyk het ek gesteun op twee doodsberigte oor Stiegler wat op 7 Augustus in Le Monde verskyn het, naamlik “Le philosophe Bernard Stiegler est mort à l’âge de 68 ans” (skrywer nie vermeld nie) en “Bernard Stiegler, philosophe de la technique au parcours atypique, est mort” deur David Zerbib.

[3] La technique et le temps: 1. La faute d’Épiméthée (Gallimard, 1994); in Engels vertaal as Technics and time 1. The Fault of Epimetheus (Stanford University Press, 1998).

[4] Ek het hierdie sake indringender behandel in Rossouw (2014) en Rossouw (2015).

[5] Vir ’n grondiger bespreking van hierdie sake, kyk Rossouw (2015).

[6] Kyk Rossouw (2010).

  • 1

Kommentaar

  • Fanie Olivier

    Dankie, Johann, vir die pragtige stuk en die lekker wyse waarop jy sorg dat Stiegler in die Afrikaanse denkwereld 'n kleim kan kom afsteek. Sal beslis gaan loer wat ek uit die verwysings verder kan leer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top