"Keer die grendelstaat om in die vryheid om iets te beleef"

  • 1

Hierdie artikel deur die filosoof Bernard Stiegler het oorspronklik op 19 April 2020 in die Franse dagblad Le Monde verskyn. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw.

In hierdie artikel kyk Stiegler terug op die tronkstraf wat hy tussen 1978 en 1983 vir bankrowe uitgedien het, asook op die voorwaardes waaronder hy dit in iets deugsaams kon omskep.

’n Gevangene in sy sel in die Muret-gevangenis (Haute-Garonne, Frankryk) in 2006, waar Stiegler sy tronkstraf uitgedien het (Foto: Georges Gobet/AFP)

Hoe teenstrydig dit ook al mag wees, pas na ek in Februarie 1983 verneem het dat ek in die komende dae vrygelaat sou word ná tronkstraf wat ek in die Muret-gevangenis (Haute-Garonne, Frankryk) uitgedien het, is my aanvanklike vreugde by die wete dat ek binnekort weer by my geliefdes sou wees, byna onmiddellik vervang met die vraag na hoe ek die beste sou kon handhaaf van dit wat ek in die loop van vier jaar en agt maande kon verken – dit wat ek die deug van die gevangenis noem.

Aangesien ek die vorige jaar by twee geleenthede toegelaat is om tydelik die gevangenis te verlaat, het ek onmiddellik besef dat my vrylating goedskiks tot ’n nog groter vervreemding kon lei as die een wat my in die tronk laat beland het. Tydens my tronkstraf, en met die ondersteuning van die filosoof Gérard Granel (1930–2000), het ek noukeurig vir myself ’n uiters streng dissipline ontwikkel wat mettertyd vir my die mees intense bevrediging gebring het – natuurlik teen ’n sekere prys, maar so is dit nou eenmaal (soos met bergklim of ’n marathon).

Ek het baie gou besef dat as ek nie wou ly vanweë die absolute leegte wat die gevangenis ’n mens oplê nie, ek intensief sou moes werk. Dit is waarom ek binne ’n paar weke daarin geslaag het om ’n daaglikse roetine vas te stel danksy waarvan ek vanaf die oomblik wat ek soggens ontwaak het (of byna), my gewend het tot wat die wetenskapsfilosoof Karl Popper “die derde wêreld” noem, “synde bowenal die wêreld van die wetenskaplike denke, die poëtiese denke en kunswerke”. Destyds het ek altyd dié koers ingeslaan deur te begin met die lees van ’n teks van Mallarmé – dit het my idees in posisie geplaas. Ek het my dag dan weer geëindig met Proust, en tussen die twee het ek gestudeer deur soggens te lees en smiddae te skryf (in die eerste plek vanuit wat ek gelees het).

Dit is welbekend dat die neutralisering, opskorting of onderbreking (in Grieks sou ons praat van die épokhè) van die verhouding met wat Popper die eerste en die tweede wêrelde noem, oftewel die fisiese omstandighede van die wêreld en die gemoedstoestande van die mens, dit begunstig wat ons in die psigoanalise sublimering noem. Dit het ek dag na dag sonder enige uitkomkans beleef, en dit het gelei tot ’n uitsonderlike avontuur in hierdie derde wêreld – ondersteun deur die akademiese raamwerk van studie aan die Filosofiedepartement van die Universiteit van Toulouse le Mirail, en danksy afstandsonderrig (per korrespondensie, nie per video nie).

Dit was moontlik slegs danksy Granel, die ondersteuning van my gesin, die intelligensie van die gevangenisdirekteur, en omdat ek alleen in my sel was. Destyds was daar nie telefone of televisies in die gevangenis nie, maar slegs radio, koerante (vir diegene wat dit kon bekostig) en boeke (uitgeneem by die biblioteek of deur Gérard gebring). Die radio het my in staat gestel om kortliks van die nuus op hoogte te bly (ek het daagliks oor middagete na die nuusbulletin om 12.30 geluister), en boeke het aan my toegang gegee tot die derde wêreld, waarmee ek my probeer voed het ten einde eendag na die eerste en tweede wêrelde terug te keer.

Wat betref die voorwaardes waaronder die huidige grendelstaat vrugbaar kan wees, is dit vergelykbaar met wat ek gedurende my tronkstraf beleef het – ongelukkig eerstens in die opsig dat baie min gevangenes hul gevangenisstraf tot hul voordeel aanwend omdat vir die meeste van hulle die nodige voorwaardes daarvoor nie bestaan nie, beginnende by die feit dat hulle buiten in die gevangenis normaalweg losbandig leef, dat hulle dikwels nie weet hoe om te lees nie, dat daar deesdae TV’s in selle is, ens; dit alles bo en behalwe die feit dat hulle nie vergesel word deur ’n beskermengel soos Gérard Granel nie.

Dit hoef in geen opsig noodwendig so te wees nie. Die uitdiening van ’n straf kan eweseer so ver moontlik ’n geleentheid wees – nes ’n siekte ook ’n geleentheid kan wees, soos Georges Canguilhem ons leer deur onderskeidelik Ludovic Dugas en Friedrich Nietzsche aan te haal: “’n Siekte is … ’n ervaring van die subtielste orde, wat deur die natuur self meegebring word in baie bepaalde omstandighede en op wyses waaroor die menslike kuns nie beskik nie: dit bereik die onbereikbare” (Dugas). “Die waarde van alle morbiede toestande is dat dit sekere toestande onder ’n vergrootglas plaas, wat, ofskoon hulle normaal is, moeilik onder normale omstandighede sigbaar is” (Nietzsche).

Die grendelstaat, of dit nou in die tronk is, weens gesondheidsredes of weens oorlog, is ’n soort sosiale patologie, en wanneer dit afgedwing word, is dit goed om dit te verander in die vryheid om iets te beleef. Dit kan buitengewone verrassings meebring wat die potensiaal van ’n waterskeiding mag inhou, en mag lei tot wat Canguilhem ’n normatiwiteit noem, oftewel die uitvinding van ’n nuwe leefwyse. Maar nes ’n siekte kan so ’n ervaring ’n mens ook vernietig of dood – hierdie risiko is die prys wat daarvoor betaal word.

Vir die meeste gevangenes is opsluiting in die tronk ’n katastrofe wat hulle altyd nog verskrikliker in die noodlot laat wegsink. En tog kan so ’n ervaring vir soverre mens daarvan ’n ervaring pleks van ’n straf kan maak, van onskatbare waarde wees.

Die huidige grendelstaat moet ’n geleentheid word vir ’n omvattende besinning oor die moontlikheid en die noodsaak om ons lewens te verander. Dit moet geskied in die vorm van wat ek in Mécréance et discrédit (“Ongeloof en diskrediet”, Galilée, 2004; in Engels vertaal as Disbelief and discredit, Verso), ’n otium van die volk noem. Dit moet ’n geleentheid wees vir die herwaardering van stilte; van die ritmes wat ’n mens vir jouself gee pleks van waarvolgens jy jou skik; van ’n baie spaarsamige en oordeelkundige blootstelling aan die media en aan alles van buite wat die mens daarvan weglei om mens te wees. Om jouself veral soggens van enige media-indringing te vrywaar, is wesenlik: Sodoende kan die oggend vandag die vrug dra van die maagdelike, die immergroen en die skone vir soverre dit beoefen word met wat die Stoïsyne die tekhnè tou biou en Foucault die tegniek van die self noem.

Dit is iets wat aangeleer moet word, en iets wat dus inspanning verg – en wat moet staan in die hart van die nadenke van diegene wat in die toekoms hulle weg ná COVID-19 moet vind. Toe ek saam met Patrick Braouezec voorgestel het dat ons by die Plaine in Seine-Saint-Denis, ’n openbare instelling waarvan ek die president is, moet eksperimenteer met ’n basiese toelaag vir elkeen, was dit een manier om so ’n otium van die volk te ondersteun, soortgelyk aan deeltydse teaterpraktisyns wat slegs met tussenposes werk op voorwaarde dat hulle so ’n otium kultiveer, dit wil sê ’n vrug dra van hulle sonderlinghede.

Hier dink ek in die besonder aan die generasie van Greta Thunberg ten behoewe waarvan ek saam met die romansier Jean-Marie Gustave Le Clézio die Vereniging van die Vriende van die Thunberg-generasie gestig het, en waarmee ons probeer om ’n rondgaande skool op die been te bring wat sodanige otium kultiveer met die oog daarop om “die katastrofe te verbaas” (om Patrick Boucheron aan te haal, wat op sy beurt Victor Hugo aanhaal), en sodoende ’n nuwe normatiwiteit te skep.

Die Thunberg-generasie beleef ’n biosferiese vorm van opsluiting kenmerkend van die einde van die Antroposeen-era waarin ons almal ons opgesluit voel, en waar ons neig om al hoe nader aan wanhoop te leef. Wanhoop is ook ’n ervaring waaruit ’n mens baie kan leer (is dit nie die betekenis van die Pase vir Christene nie?) – op voorwaarde dat ons sorg dra met dit wat onder sekere omstandighede ’n sublieme vorm van energie kan word.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top