Adam Tas: Vrydag die 13de en die klugverandering van die US-taalbeleid

  • 5

frederick_van_dyk650_240x148_cropIndien die voorgestelde nuwe taalbeleid, soos geformuleer deur die rektor se Bestuursraad, amptelike beleid word by die Universiteit Stellenbosch, sal Vrydag die 13de November as ‘n dag van blatante tirannie onthou word.

Dit sal ‘n dag wees wat in die verstande van die liefhebbers, sprekers, beleggers en belangstellendes van Afrikaans, isiXhosa en al agt ander Suid-Afrikaanse amptelike inheemse tale, asook die antieke Nama-, San-, en Khoi-tale, verewig word as ‘n dag waar gemiddelheid bo uitnemendheid geseëvier het.

Waar grondwetlikheid opgeoffer is vir ongeërgdheid.

Waar beloftes gebreek is en vertroue soos ‘n strooipop verbrand is.

Waar demokratiese deelname onder die hak van agterbaksheid moes sneuwel.

Dit sal, in die woorde van die digter Breyten Breytenbach op 13 November oor die saak, “onthou word as die dag waarop die onverantwoordelikheid, gemaksugtigheid, domheid en ruggraatloosheid van die universiteitsowerhede vir 'n oomblik in die geskiedenis duidelik was vir almal om te sien, insluitende dié wat nou hulle ‘oorwinning’ vier”.

Voordat ons egter ons beste pakke en rokke vir die begrafnis van Afrikaans se jare lange bydrae tot kennis op die Universiteit Stellenbosch aantrek, wil die Adam Tas Studentevereniging dit baie duidelik maak aan die US-owerheid:

 ‘n Lont is nou aan die brand gesteek. Daar is lank genoeg agter wollerige mooiwoordjies weggekruip. Julle het so pas hierdie Vereniging en almal wat erns het met Afrikaans en sy strydmakker isiXhosa , op die frontlinie geplaas van die begin van niks anders as ’n Derde Taalstryd nie.

Hierdie stryd is een wat deur die Grondwet se visie vir ’n meertalige Suid-Afrika gesanksioneer word, wat aan hierdie klein, moedige taaltjie Afrikaans, die Totius-doringboompie wat telkens weer vanuit die stof opgroei, die geleentheid gee om hande te vat met die ander inheemse tale van ons land om sáám as verdrukte en onderverteenwoordigde, onderontwikkelde proletariaat, die luiheid en Marie Antoinette-styl gemaksug van die “kennis-owerhede” eens en vir altyd aan die ore te pluk. Ons voer nie die stryd teen Open Stellenbosch (OS), SASCO of enige ander van ons medestudenteverenigings nie, siende dat ons almal saam behoort te praat oor die toekoms van die US. Ons mik wel ons felste kritiek teen die US-bestuur, wat nie hul verantwoordelikheid as owerheid nagekom het nie en nie demokratiese deelname aan die gesprek rondom dié besluit vir die wyer studenteliggaam gebied het nie.

Adam Tas maak eerstens kapsie teen die prosedurele onreg wat tydens die voorbereiding, opstel en voorstelling van die nuwe beleid gepleeg is, siende dat demokrasie onses insiens hard getref is deur die planne agter die beleid. Tweedens vind ons die substans van die beleid as onregverdigbaar, gegewe die gees, strekking en oogmerk van en die bepalings in die Grondwet van Suid-Afrika. Ook ag ons die lui redenering, gemiddeldheid en swak ondersteunde argumente vir die beoogde veranderinge as hoogs onvoldoende en geheel onaanvaarbaar. Adam Tas het weer in sy “Visie 2016” ditself daartoe verbind om ’n organisasie te wees wat Afrikaans onder al sy liefhebbers en belangstellendes as ‘n verenigende en versoenende krag bemark en ontwikkel. Inklusiwiteit, Eenheid in Diversiteit, die bevegting van irrasionale haat en vrees te wyte aan onkunde, en die bevordering van Versoening in en deur Afrikaans word deeglik omskryf en as ons vier hoofprinsiepe geïdentifiseer.

Om hierdie waardes gestand te doen, verbind Adam Tas ditself daartoe om

(a) voort te veg vir Afrikaans se huidige posisie as ‘n gevestigde akademiese en institusionele taal op die US

(b) sodoende ook die weg vir isiXhosa se aktiewe ontwikkeling en opheffing te baan, en

(c) leiding te neem in die stryd om die bevordering en ontwikkeling van ons land se inheemse tale op hoëronderwys-vlak in die algemeen.

Prosedurele onregte in die beleidsdokument

Die nuus van die Rekortsbestuursraad se nuwe beleid vir 2016 het na ’n sitting van die Senaat op die aand 12 November gebreek. Die Senaat het hierdie voorstel op dieselfde aand aanvaar, waarna dit publieke nuus geword het. ’n Verklaring getiteld “Statement by the Rector’s Management Team on the Language Policy and the implementation of language at the institution” is kort daarna vrygestel.

1. Tekort aan demokratiese deelname

Adam Tas betreur die feit dat slegs SASCO en OS deel gehad het aan die gesprekke wat tot hierdie besluit gelei het. Ons en ander studentegroepe het telkemale saam versoeke gerig en gesprekke gevoer met lede van die US-bestuur en ons wense uitgespreek om deel te word van konstruktiewe dialoog om die kwessies van taal te help oplos. Ons is telkens geïgnoreer. Ons het ook ’n konstruktiewe gesprek met ’n lid van Open Stellenbosch gevoer en ons bereidwilligheid om tot oplossende dialoog toe te tree, beklemtoon. Die OS-kollektief het die betrokke lid afgelag toe ons aanbod aan hul oorgedra is. Nou, maande later, word besluite deurgevoer sonder dat die breër studenteliggaam betrek is. Geen publieke referenda, ope vergaderings of enige soortgelyke forums is daadwerklik vir die ganse studenteliggaam aangebied nie. Nie Adam Tas of enige ander studentegroep is ingelig van enige onderhandelinge nie, en daar was geen uitnodigings nie. Hierdie besluite is dus geneem op die mees klandestiene en eksklusiewe maniere moontlik: deur algehele uitsluiting van die oorgrote meerderheid van die studenteliggaam. Die ironie in hierdie eksklusiewe behandeling van sekere pro-inklusiewe groepe deur die rektor se bestuurspan is skreiend en sieklik. Hiermee het die US-bestuur ons kultuur van jong demokrasie ’n behoorlike stertskop toegedien.

2. Onderduimse maniere van die beleidvoerende proses

Die worsmasjienwyse waarop die beleidsverklaring deurgedruk word, is ‘n tweede bittere pil vir die demokrasie op kampus om te sluk. Nie net was die aanvanklike besluitneming klandestien en sonder publieke deelname nie, maar die beleid is skynbaar stilletjies na die Senaat se tafel gebring. Ons het bronne wat sterk bewerings lug rondom die verkeerde prosedures wat gevolg is tydens die Senaatsitting van 12 November. Die sitting is glo as ’n inligtingsessie gereël, die agenda was nie vroegtydig uitgestuur nie en is maar kort voor die sitting se aanvang versprei, en die lokaal was (ampers geheimsinnig) ook op kort kennisgewing eers bekend gemaak. Daar is ook genoem dat die “inligtingsessie” ook die bespreking van ’n aanbeveling deur die rektor se bestuurspan sou insluit, wat oplaas die doel van die sitting was. Adam Tas neem hierdie bewerings baie ernstig op, aangesien pogings om demokratiese prosedures te kortwiek, baie ernstig is. In die lig hiervan word die legitimiteit van die beleidsdokument se aanvaarding sterk bevraagteken.

3. Verdagte tydsberekening van die aankondiging

Adam Tas beskou die tyd wat gekies is om die besluit bekend te maak as uiters verdag en onregverdig. Die beleidsdokument is skielik in die middel van die eindeksamen aan die publiek bekend gemaak. Studente en studenteverteenwoordigers het glad en geheel nie nou die tyd of prioriteit om te mobiliseer of daadwerklike standpunt in te neem teen die veranderinge nie, selfs al is die aard waarmee die beleidsdokument deurgevoer word, so skokkend ondemokraties. Die tydsberekening deur die US-owerhede is dus striemend vir demokratiese deelname en plaas studente en belangegroepe in ’n groot penarie. Adam Tas veroordeel hierdie skuif ten sterkste, aangesien dit ’n blatante manier blyk te wees om bevraagtekening en teenstand in die kiem te smoor. Duisende studente is dus nou in die posisie om te moet sit en kyk hoe lewensveranderende besluite oor hul toekoms deur ’n minderheid gemaak word, sonder dat die tydsberekening vir hul enige seggenskap gun.

Opgesom is die eksklusiewe onderhandelinge, die mankolieke beleidvoerende proses en die verdagte tydsberekening drie probleme wat vir Adam Tas die rede gee om die US se besluit teen te staan.

Substantiewe mistastings en ongrondwetlike minagting

Wat die argumente van die US betref rondom die afskaal van Afrikaans en die groepering daarvan saam met isiXhosa as “addisionele tale”, soos in die beleidsdokument genoem, beskou Adam Tas die redenasies van die US-bestuur om die besluit te regverdig as sonder ordentlike intellektuele oorweging en sprekend van die ingee voor gemiddeldheid. Boonop word die grondwetlike aspekte hiervan sonder enige erns beskou. 

1. Onduidelikheid van die term “addisionele tale”

Die beleidsdokument hou Engels voor as die hoof akademiese en administratiewe taal op kampus, terwyl Afrikaans en isiXhosa as “addisionele tale” geag word wat nie gebruik mag word om studente uit te sluit nie. Eerstens is die gevolge van die status “addisioneel” baie onduidelik. Die dokument noem dat die universiteit steeds “ruimtes” wil skep waar betrokke tale en ander inheemse tale kan “floreer”, en dat Afrikaans en isiXhosa steeds as akademiese tale ontwikkel sal word. Wat Afrikaans betref is hierdie stellings sinneloos as die taal sy huidige, gevestigde en trotse posisie as goed-geakkommodeerde taal moet verloor. Waar bevind Afrikaans dit dan nou reeds anders as op ‘n gevestigde vlak van akademiese ontwikkeling? Om Afrikaans in sy amptelike hoedanigheid uit klaskamers en koshuise te haal is om rigiede sosiale parameters te stel oor hoe studente hul taal mag aanwend. Dit is verstaanbaar, gegewe ons multikulturele omgewing, dat Engels “ten minste” aangewend moet word in kontekste soos koshuise, en natuurlik in die verskynsel van parallel-medium klasse – wat Adam Tas self as ’n oplossing sien. Om egter te verkondig dat Afrikaans steeds akademies ontwikkel sal word wanneer die taal sy huidige, welverdiende status as mede-institusionele taal verloor, is kommerwekkend. Dit dan juis omdat Afrikaans se ontwikkelings- en gebruiksruimte (die insentief om in die eerste plek akademies te ontwikkel) sodoende drasties verklein word.

Tweedens is Adam Tas dit ook eens met die politieke ontleder en oud-Matie Heinrich Matthee se stelling dat die onthoofding van Afrikaans in sy akademiese verband en verdoeming tot die kantlyn ’n kragbron van kennis vir duisende Wes-Kaapse en ander Suid-Afrikaners afsny; ’n kragbron waarmee mense soos rektor De Villiers self internasionale sukses kon bereik. Daar is hard gewerk en gestoei om Afrikaans tot ’n taal van akademiese waarde te ontwikkel, en tans is Afrikaans op Maties ’n vlagskip vir die grondwetlike ideaal van ’n Suid-Afrika waar meertaligheid kan floreer en inheemse tale vir ons land sukses kan beteken. Afrikaans hét reeds floreer in hierdie posisie. Afrikaans ís ’n kragbron vir akademiese en navorsingsukses. Dit is ’n modeltaal wat as ‘n gevallestudie gebruik moet word om ook isiXhosa en ander inheemse tale te help ontwikkel. Met Afrikaans as inheemse taal wat so gedegradeer word, is die toekomshoop vir isiXhosa om ook groot te kan droom maar skraal, want dit blyk vir ons duidelik te wees dat die US ons inheemse tale as swakgedefinieerde bysake ag.

2. Gemiddeldheid bo uitnemendheid; eentonigheid teenoor diversiteit

Afrikaans as taal het geweldige hoogtes op talle vlakke bereik en is ’n multifunksionele taal – ’n kritieke eienskap wat as’t ware ’n taal se oorlewing en florering help bewerkstellig. Vir die US om deel te neem aan effektiewe afranseling van die Afrikaanse taal deur dit luiweg af te gradeer tot ’n institusionele bysaak, is om ’n ledemaat van die taal af te sny; om ’n pad wat mense tot die inwin van inligting het, toe te stop. Dit is onregverdig teenoor die sprekers, die belangstellendes, die beleggers en liefhebbers van Afrikaans wat soveel tyd en energie spandeer het om die taal tot ‘n bate uit te bou wat sy doel nog keer op keer getrou dien. Afrikaans verdien sy plek en sy strewe na uitnemendheid. Die US maak dus ‘n klassieke denkfout om gelykheid te probeer bewerkstellig deur een taal relatief tot ‘n ander af te gradeer, en dan te spog dat “gelykheid” en dus regverdige waarde bereik is. Inteendeel, die netto waarde van wat taal kon bied, is net gereduseer, siende dat Afrikaans losgesny is van sy vermoë om ’n waardetoevoegende rol te speel en nou ingeperk is met minder funksies, hetsy sosiaal, administratief, in korrespondensie of akademie en navorsing. Adam Tas ag hierdie denkfout van die US as ’n ondeurdagte keuse teen uitnemendheid, en vir die “makliker” dog luier en vernietigende vlak wat ons ken as gemiddeldheid.

In ’n diverse Suid-Afrika is dit te verwagte dat ons kampusse mikrokosmosse van die nasie se verskeidenheid sal wees, soos Stellenbosch Universiteit ook is. Dit is dus geheel skynheilige gedrag van die US-bestuur om aan die een kant ’n verbintenis tot diversiteit en die uitbou daarvan te verkondig, en aan die ander kant – soos professor Wim de Villiers in ’n Netwerk24-artikel van 13 November noem – verklaar dat die voortbestaan van Afrikaans nie die US se “verantwoordelikheid” is nie. Adam Tas is hoogs teleurgesteld oor hierdie gedrag van die US-bestuur, wat duidelik, tesame met die beleidsdokument, dui op ’n keuse vir die “makliker” eentonigheid van ’n meer gestandaardiseerde enkeltaalstelsel, teenoor hul vroeëre innige beloftes om ‘n “wêreldklas, veeltalige universiteit” uit te bou. Wat die US-bestuur vergeet, is dat ‘n taal saam met hom ’n groot verskeidenheid kulture dra, en deur ’n taal dus af te druk na die vlak van ’n bysaak met ’n verkleinde rol, is om ’n groot aantal unieke Suid-Afrikaanse kulture hul waarde te ontsê. Hierdie verdrukking van diversiteit, gekoppel met ’n ampers gewetenlose skynheiligheid en onverantwoordelikheid, spreek vir Adam Tas van ’n arrogante houding deur ’n bestuur wat nooit die moeite gedoen het om al sy studente daadwerklik mee in dialoog te tree nie.

3. Grondwetlike onversoenbaarheid van die beleid

Daar word dikwels geargumenteer dat artikel 29(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, wat die saak stel vir openbare onderwys in amptelike tale van keuse, ’n interne beperking bevat in die vorm van die frase “redelikerwys doenlik”. Artikel 29(2) lui as volg:

Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde doeltreffende toegang tot en verwesenliking van hierdie reg te verseker, moet die staat alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings, oorweeg, met inagneming van–

(a) billikheid;

(b) doenlikheid; en

(c) die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, reg te stel.

Wat Stellenbosch Universiteit betref, word hierdie interne beperking soos dit in subsubartikels (a), (b) en (c) op uitgebrei word, juis tevrede gestel, met die gevolg dat Afrikaans as die moedertaal van baie Matie-studente wel ’n taal van opvoeding behoort te wees.

Die redes is eerstens dat Afrikaans op die US reeds ’n lang-gevestigde tradisie as ’n institusionele taal het met veelvlak-toepassing, wat dit dus beide (a) billik en (b) doenlik maak om die taal hier te ontwikkel. Billik, sover as wat Afrikaans nie studente van ander taalgroepe keer om kwaliteit-onderwys te ontvang nie (‘n vereiste wat Adam Tas ten sterkste mee saamstem) en sover daar ‘n vraag is na die behoud van Afrikaans in sy oorspronklike institusionele toepassings – iets wat ook duidelik is uit die sin daarin om korrespondensie en navorsing, wat groot aspekte van die universiteit is, ook in Afrikaans beskikbaar te maak. Doenlikheid lê daarin dat die universiteit die kapitaal en kapasiteit moet hê om Afrikaans ook te kan akkommodeer. Nêrens in die beleidsdokument word finansiële beperkinge as ‘n rede vir die verandering uitgelig nie. Groot, ou, gevestigde alumniborge, beleggings, trusts, ensovoort gee vir die US die posisie om wel Afrikaans in die instituut in terme van artikel 29(2)(b) as doenlik te moet ag.

Tweedens kan subsubartikel (c) nie geïnterpreteer word as ‘n bepaling wat daarop neerkom dat ’n taal soos Afrikaans beskou moet word as ’n “diskriminerende praktyk” van die verlede nie. Die US se inklusiwiteit-probleem lê eerder op die plekke waar Afrikaans gebruik is as enigste in pleks van een van die taalopsies. Dit is dus ’n geval van die baba met die badwater uit te gooi as Afrikaans, soos in die beleidsdokument, heeltemal verwyder word om meer inklusiwiteit toe te laat! Die oplossing sou eerder wees om seker te maak dat Afrikaans sy sterk en waardegewende rol as multifunksionele en hoëvlak institusionele taal behou, gelyk met Engels, sonder om só oorverteenwoordig te wees dat sommige Maties se interaksie met die universiteit bemoeilik word. Afrikaans se teenwoordigheid is dus nie die probleem nie, maar wel wanneer dit so oorverteenwoordig word dat die gelykheid met Engels vervaag. Adam Tas reken dus dat die oplossing nie is om Afrikaans as’t ware te “straf” deur dit te reduseer relatief tot Engels nie, maar eerder om die gebruik van Afrikaans saam met Engels te herstruktureer, sodat nie een taal die ander verdruk en sodoende sekere Maties se toegang tot inligting en uitleef van taal en kultuur bedreig nie. Welke benadering die voorbeeld sou stel en isiXhosa ’n stap nader daaraan bring om aktief ontwikkel te word om in die nabye toekoms op die institusionele vlak van Engels en Afrikaans by die US te wees – iets wat grondwetlik gesproke ’n geweldig eerbare prestasie sal wees.

Op dié manier sal die Grondwet gedien word wat artikel 29(2) betref, veral as dit saamgelees word met artikels 6(2) en (4), wat onderskeidelik die plig van die staat (lees: publieke instellings) om die historiese onderontwikkeling van ons inheemse tale prakties en daadwerklik teen te werk, en voorts ook die inheemse tale te monitor, en die gelykheid van al ons inheemse tale uithef.

Vir die US-bestuur om nie hierdie grondwetlike aspekte deeglik te noem nie, is ’n hartseer versuim wat in die beleidsdokument skort. Adam Tas reken egter op die Grondwet as ons hoogste gesag, en dus ook die legitieme behoud van Afrikaans en isiXhosa as inheemse tale wat danksy lui konstitusionele oorweging deur die US, nou gelyk in hul bedreiging staan.

Gevolgtrekking en die pad vorentoe

Die Adam Tas Studentevereniging herhaal hiermee sy verbintenis tot die stryd vir Afrikaans, en vir die taal se voortbestaan op ons kampus as ’n institusionele taal wat welverdiend sy posisie as hoëvlak-bate tot die US beklee. Ons herhaal, met erns, dat ons stryd een van deurlopende en onstuitbare aktivisme teen diskriminasie en demonisering van Afrikaans sal wees. Ons sal nie toelaat dat halfhartige prosedures en lui, leë redenering die positiewe bydraes wat die liefhebbers van Afrikaans al in die taal kon vermag, so blatant en onregmatig kom kortknip nie.

Adam Tas dring aan op die volgende:

(a) die terugtrek van die beleidsdokument, op grond daarvan dat dit prosedureel nielegitiem en dus niebindend is

(b) dat ’n plan opgestel word om in 2016 goed-bemarkte, goed-gefasiliteerde, ernstige, kampuswye en inklusiewe onderhandelings oor die taalkwessie op die been te bring

(c) dat die implementeringsdatum van die beleidsdokument geskrap sal word sodat die proses in b) ’n demokraties-gesanksioneerde konsensus of kompromie kan bereik waar alle studentegroepe ’n inset sal hê

(d) dat die grondwetlike aspekte van die situasie soos vervat in artikel 29(2) saamgelees met artikels 6(2) en (4) as hoogste standaard geag word

(e) ’n versekering van die US-bestuur dat geen beleid geïmplementeer of selfs enigsins oorweeg sal word as Afrikaans en isiXhosa nie in ’n beter en meer regverdigbare posisie is ná die verandering as voor dit nie.

Ons belofte

Hiermee verklaar Adam Tas Studenteverenging sy verbintenis om tot die einde saam met enige ander liefhebbers, sprekers en belangstellendes in Afrikaans en ons inheemse tale te staan, totdat hierdie gekombineerde taalstryd gewen is. Die nuwe taalstryd word nie deur ras of etnisiteit geken nie, maar as ’n multikulturele samespanning, oor alle grense heen, om die brutale tirannie van gemiddeldheid en vertrapping van ons taalvryhede teen te staan.

like_litnet_op_facebookLank lewe die Grondwet!

Lank lewe veeltaligheid!

Lank lewe Afrikaans en die tale van Suid-Afrika!

  • 5

Kommentaar

  • Breyten Breytenbach

    'n Uitstekende artikel en stellingname, Frederik van Dyk! Prakties, wys, mededeelsaam en toekomsgerig … Dankie dat daar 'n jonger generasie is met 'n oper ervaring van die werklikheid en met 'n suiwerder begrip van die potensiaal van 'n land soos Suid-Afrika met haar onderling verrykende kulture en gemeenskappe. En dankie dat julle bereid is om 'n bietjie gesonde verstand onder die neuse van die dom universiteitsowerhede te vryf.

    • Etienne Terblanche

      Ek stem heerlik saam met Breytenbach se veertjie in jou hoed, Frederik, en die lyf van sy antwoord en jou berig. Ek hou van julle vereniging se lekker naam, Adam Tas, ek rol hom op die geskiedkundige tong. Breytenbach se beeld (in 'n ander berig van hom) van die liggaam in die slangvel laat my diep dink oor taal, oor haar beweeglikheid, oor dit (die vel) wat haar beskerm én laat deelneem aan die omgewing, soos 'n membraan, aktief poreus. Maar my taal word openlik verkrag (ek gebruik dié woord nie sommer nie, hy's inherent gewelddadig). En Afrikaans is 'n energie, veel ouer, wyer, en dieper as wat die ou Natte haar wou maak. Om dié energie nou te vervreem, terwyl Afrikaanse mense beur en skouerskaaf om die land vorentoe te stoot, is dom, selfs ekonomies dom. It don' make no business sense ... not even that! Hoeveel maal moet die land nog eens 'n neusduik uitvoer in ons m**** in? Hoe lank moet Afrikaans nog die handige sondebok op sleeptou wees vir de leste krisis in die plek? Jou berig gee vir my ook hoop, hou rustig net so aan, en moenie dat die druk julle onderkry nie; gaan swem, gaan drink ook 'n bier, gaan praat sommer net lekker Afrikaans met iemand nu en dan ... en kom soos varsvleeskool terug om verder verset te bied en saam te gesels, nie waar nie? Hoe ook al, lank lewe jou berig!

  • R.I.T.A.MÜLLER

    Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld waar Afrikaans gepraat word. Indien in ander lande Afrikaans gebruik word , is dit omdat dit Suid-Afrikaners is wat DIE TAAL gebruik. Waar kry mens nog 'n taal waarin mens so besonders jou SIEL KAN UITLEEF! Ons ei9e TAAL in SA gebore en ontwikkel!

  • Etienne Viviers

    Baie geluk met 'n hoogs vermaaklike essay. Was dit opsetlik verwoord soos 'n parodie van Open Stellenbosch se persverklarings? Of het dit per ongeluk gebeur?
    Ek is nietemin moeg vir holruggeryde verwysings na 'n "klein moedige taaltjie", en 'n "doringboompie" en voel dat hierdie spesifieke emotiewe woordeskat nie gepas is vir enige beoogde multikulturele en nie-rassige Derde Taalstryd nie.
    Onafwendbaar aktiveer dit al die onstabiele universalismes en hegemonie wat die Tweede Taalstryd se aktiviste blind gemaak het vir ander inheemse taalsprekers se maatskaplike en kulturele belange. En as gevolg van daardie katastrofale historiese fout sal ek graag wil sien of die sprekers van inheemse tale anders as Afrikaans werklik nou "strydmakkers" wil wees teen die eerloosheid van Engelse monoglottisme aan Suid-Afrikaanse universiteite.
    Watter pogings en prosesse (outreach) het Adam Tas alreeds in plek om vanuit verskillende taalgroepe teen Engelse monoglottisme te probeer stry?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top