AD Keet: Die man met die sandale agter "Muskietejag"

  • 10

AD Keet as mediese student in Nederland tydens die Eerste Wêreldoorlog. (Foto: verskaf)

AD Keet se “Muskietejag” is een van die bekendste gedigte in Afrikaans. Suid-Afrikaners van alle agtergronde, van kabinetslede tot vullisverwyderaars, resiteer dit dikwels uit die kop uit – natuurlik omdat generasies skoolkinders dit as voorgeskrewe vers teëgekom het. In hoe ’n mate “Muskietejag” in die volksmond tuis geraak het, word geïllustreer deur die manier waarop dit binne almal se verwysingsraamwerk is, soos wat hierdie Oppiestoep-episode van kykNET. Verskillende verwerkings en weergawes van die gedig is steeds in omloop, soos dié liedjie deur Annelie van Rooyen. In hierdie voorlesing van “Ek hou van blou” kan die digter se stem gehoor word.

Keet is byna vyftig jaar gelede op Saterdag 12 Februarie 1972 in sy huis op Senekal oorlede. Hy was 83 jaar oud. Hy kom uit ’n gesiene familie vir wie ’n goeie opvoeding en tersiêre studie belangrik was. In 1909 het hy per skip na Europa vertrek om hom in Nederland as geneesheer te bekwaam. Tydens sy Europese verblyf, vertel Erika Terblanche in AD Keet se ATKV|LitNet-Skrywersalbum, was die kontinent “in die greep van die Eerste Wêreldoorlog, en hoewel Nederland neutraal in die stryd gestaan het, was honger ly aan die orde van die dag”.

Die pamflet wat met AD Keet se begrafnis deur die familie uitgegee is. (Foto: verskaf)

Dit was in Nederland waar Keet ernstig begin gedigte skryf het. Daardie tyd in Suid-Afrika het die Tweede Afrikaanse Taalbeweging op dreef gekom met digters soos Eugène Marais, Jan FE Celliers, Totius en C Louis Leipoldt aan die voorpunt. En dit was juis in Keet se losieshuiskamer in Nederland dat “Muskietejag” neergepen is.

Ellen Botha en Rosa Keet, sy dogters, vertel dat hulle steeds kort-kort vergas word deur mense wat hulle oor “Muskietejag” uitvra en die gedig uit die vuis voordra. Keet se skryftalent loop deur sy dogters se are: Ellen (79) is geliefd as limeriekskrywer met ’n string publikasies op haar kerfstok, en Rosa (76) is ’n befaamde digter, skrywer, dramaturg, liedjie- en draaiboekskrywer.

Ellen Botha en Rosa Keet deel in hierdie artikel herinneringe oor hul bekende pa. (Foto’s: verskaf)

“Selfs die petroljoggies in Senekal kon ‘Muskietejag’ opsê, al was hulle nie altyd seker wáár die digter was toe hy die gedig geskryf het nie,” vertel Ellen. “Volgens een van hulle was dit iewers in Engeland, ‘ver oor die see’.” Sy onthou die keer toe twee Griekwas meubels by die Keet-woning op Senekal in die Vrystaat kom aflaai het, en die trokbestuurder die gedig vir haar pa voorgedra het. “My pa het dit só waardeer dat hy vir die man een van sy bundels gegee het. Net daarna kom sy helper, dra ook die gedig voor en verklaar dat hy dus ook ’n bundel verdien.” Keet het toe maar nog ’n bundel verniet moes weggee, al was dit “effens langtand”.

Die omroeper John Maytham het eenkeer “Muskietejag” op Cape Talk Radio sonder enige voorbereiding op die lug voorgedra. Maar dié gedig-opsêery het nie altyd byval by al die Keet-kinders gevind nie, veral nie as hulle self opgekommandeer is vir ’n resitasie nie. “Die enigste persoon wat op ’n keer prontuit geweier het om die gedig voor te dra, was ons jongste sussie, Carina, toe sy by die Normaal Kollege in Bloemfontein ontgroen is. As straf omdat sy dit nie wou doen nie, moes sy met haar rug teen ’n muur gaan staan en skree: ‘Hardegat, word sag!’” Net daar, vertel Ellen, het Carina haar tas gepak en die kollege het haar nooit weer gesien nie.

AD Keet en sy vrou Rina by sy “deurmekaar” lessenaar. (Foto: verskaf)

Rosa Keet sê dat mense baie verbaas is wanneer hulle uitvra of sy dalk “verlangs familie” van AD Keet is, en dan hoor sy is Keet se dogter. Onmiddellik trek die vraers dan gewoonlik los met staaltjies van hoe hulle “Muskietejag” op laerskool tydens kunswedstryde moes voordra.

Oor die Keets se familiestamboom sê Ellen, bemind vir haar kwinkslae: “Ons voorsate kom oorspronklik uit die Rynvallei. Die eerste een wat hier voet aan wal gesit het, was ’n matroos, toe nie ’n seerower soos ons gedink het nie. Die van Köht is later verander na Keet.”

AD Keet was drie keer getroud en daar was generasiegapings tussen gesinslede, vertel Rosa. “My ma, Rina, was 30 jaar jonger as my pa en ek is gebore toe my pa 57 jaar oud was. Uit my pa se eerste huwelik is my halfbroer en twee halfsusters gebore. Maar die ouderdomsverskille was groot genoeg om te sorg dat hulle vir my eerder soos ooms en tannies gevoel het.”

Ellen vertel dat die verskil in jare tussen haar ouers nie ’n kwessie was nie. Rina het die digter soos ’n stukkie goud opgepas en hy was haar hele lewe. “Dit was beslis nie net sy sensitiwiteit en sy sin vir humor wat my ma se hart verower het nie, maar sy hele persoonlikheid.”

Die digter in sy studeerkamer. (Foto: verskaf)

Daar was ook ’n politikus in die familie. Keet se moeder was ’n suster van Albertus J Herholdt, wat as minister van landbou in die Schreiner-kabinet van die eertydse Kaapkolonie gedien het. En Keet se vader was eerwaarde BB Keet, die eerste Nederduitse Gereformeerde predikant van Kimberley. AD Keet se broer BB (Ben) was ’n Bybelvertaler en professor aan die Universiteit Stellenbosch se Kweekskool. Rosa onthou hom as “’n wonderbaarlike man vir wie elke dominee op Senekal bang was”. Sy vertel hoe ’n dorpspredikant, dominee Roux, “byna flou geval het toe hy besef dat oom Ben tydens ’n kuier uit Stellenbosch in die kerk teenwoordig was”.

As pastoriekind moes AD Keet en die ander seuns in die gesin Sondae beurte maak om die ou kerkorrel “op te pomp” sodat hulle moeder dit tydens die erediens kon speel. “Hulle het niks daarvan gehou nie,” sê Ellen. Ouma Keet was baie streng en sy wou ook nie hê haar seuns moes rugby speel nie. “Maar toe Ben (later die Bybelvertaler) as student sy been in ’n wedstryd gebreek het, is hulle die dood voor oë gesweer indien hulle dit ooit iewers aan haar sou laat uitglip.”

Volgens Rosa was haar pa van nature ’n nuuskierige, leergierige man. “Hy wou weet oor nuwe dinge en wat in die wêreld aangaan. In die dae lank voor die internet het hy uit oorsese koerante en mediese tydskrifte, asook wye korrespondensie, op hoogte van wêreldsake gebly.”

“As distriksgeneesheer het my pa ’n besonder besige lewe gehad,” vertel Ellen. “Daar was tot 12 plase waarheen hy smiddae moes gaan, dan was almal nie eens in dieselfde rigting nie.” Keet was geliefd en het gereeld by die boere karmenaadjies as blyk van waardering ontvang. “Wanneer ’n privaat pasiënt nie kon betaal nie, het hy net twee keer ’n rekening gestuur – en daarna is hulle gratis behandel.”

“Dr Keet se Vaalpille”, waarvan hy die resep self gemaak het, was gewilde medikasie onder die mense van die omgewing en omliggende dorpe. En uit die aard van sy werk moes hy gereeld getuienis in hofsake lewer. “Op ’n dag het hy voor die aanvang van ’n moordsaak gesweer dat hy ‘die waarheid en alles behálwe die waarheid’ sou praat,” onthou Ellen. Natuurlik moes die dokter-digter die eed herhaal.

In hierdie uittreksel in ’n toespraak beskryf AD Keet sy studentejare in Nederland. (Foto: verskaf)

Bo en behalwe Keet se status as dokter, was hy beroemd as digter – nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Nederland en België. Rosa vertel dat Keet se faam darem in Senekal ook erkenning geniet het. “Iemand – seker die burgemeester – het ’n AD Keet-aand in die stadsaal gereël toe ek bitter jonk was. En kind wat ek was, was die ding wat die grootste indruk op my gemaak het, die feit dat ek báie laat kon gaan slaap …”

Ellen en Rosa se broer, AD Keet Jnr, wat ’n klompie jare gelede oorlede is, vertel in sy boek AD Keet aan die woord dat menige van Keet se kinderrympies aan die gesin se etenstafel ontstaan het. Uiteraard het Ellen en Rosa die rympiesmakery meegemaak. “Die etenstafel was die groot gesels- en saamkomplek in ons familie,” vertel Ellen. “Hier het ons pa altyd ’n antwoord gehad op enigiets wat ons gevra het. Sy kennis van omtrent elke onderwerp onder die son was verbysterend. Die rymelary was soms meer geskik vir grootmense, maar het vir jare ná sy kinderboek se verskyning steeds aangehou.

“As my ma die dag ’n rok met ’n effense lae halslyn gedra het, sou Pa opmerk: ‘Ah! My valley of temptation!’ Ma sou dan vinnig reageer met: ‘Solank dit nie my valley of desolation is nie!’”

In Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur I verwys John Kannemeyer na AD Keet se gewildheid as digter in Nederland en België. Verskeie van sy verse is getoonset deur komponiste van die Lae Lande, en hier te lande was mense soos Rosa Nepgen, Hennie Joubert, ML de Villiers en Dirkie de Villiers enkele van die komponiste wat Keet se werk musikaal geïnterpreteer het. “Daar is nie ’n samevattende bundel met toonsettings van my pa se gedigte nie,” sê Ellen. “Dit is in verskeie sangbundels opgeneem. Die radiostasies het hom wel laat weet dat Mimi Coertse byvoorbeeld ’n toonsetting van sy ‘Moeder’ op Moedersdag sou sing. Dan het ons almal ingeskakel om daarna te luister.”

Illustrasies van Keet se kinderverse is in AD Keet aan die woord opgeneem (gepubliseer met die toestemming van AD Keet se literêre eksekuteur):

As bekende skrywer het AD Keet hom ontferm oor aspirantdigters. Hy het altyd alles gelees wanneer mense hul skryfsels vir raad en kritiek aan hom gestuur het, en dan vriendelik daarop reageer. Keet het nie net Afrikaanse digters soos Tryna Visser, wie se Die hartseer likkewaan later gepubliseer is, bygestaan nie. Engelse vriende soos John Luscombe het destyds vanuit die huidige Tanzanië verse vir kommentaar gestuur. Ook het hy die dogter van die regter-president in die destydse Rhodesië met uitgebreide korrespondensie van raad voorsien. “Dit was vir hom ’n jammerte dat hy haar skrywes moes afkeur,” sê Ellen, “nadat hy ’n ander taalman se opinie ook gevra het – net om 100% seker te maak.”

Op ’n dag het hy ’n eienaardige versoek van ’n jongman uit die Karoo ontvang, wat ’n “bestelling” geplaas het: drie liefdesgedigte, ’n gedig oor ’n moeder en ongeveer ses klaagliedere. Hierop het Keet ’n kort antwoord gehad – “die liefdesgedigte sowel as dié oor ’n moeder was reeds in sy bundel, maar vir die klaagliedere moes hy maar sy Bybel by die hoofstuk oor Jeremia gaan oopmaak,” vertel Ellen.

Enkele jare voor Keet se afsterwe het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom ’n penning as erelid aangebied. Ellen het die geleentheid bygewoon: “Vir dié uitsonderlike toekenning moes hy Pretoria toe gaan, waar dr Con de Villiers dieselfde aand ’n soortgelyke eretitel ontvang het.

“My pa, ietwat ongemaklik in ’n behoorlike paar skoene in plaas van sy gerieflike ou sandale, het die gehoor gaande gehad met sy humoristiese toespraak. Onder luide toejuiging het hy net hierna sy plek langs ons ingeneem en die eerste woorde aan my ma wat hy kon uitkry, was dat ‘ou Con’ sowaar sandále met groen sokkies aan het!”

AD Keet met die sandale waarvoor hy so lief was. (Foto: verskaf)

Ellen vertel ook van die keer toe hul suster Carina se kêrel moes ouers vra. “Carina se kêrel is van Senekal na die Oos-Rand verplaas en net daar besluit hulle dis beter om te trou as om so ver van mekaar te wees. Die volgende naweek ry Robbie Senekal toe om ouers te vra, maar sy moed begewe hom. Die naweek daarop is Robbie wéér daar. Teen hierdie tyd weet my ouers al die rede daarvoor, maar Robbie is stil-stil sonder die groot vraag terug.

“Toe hy die derde naweek daar opdaag en hulle die Saterdagmiddag op die voorstoep sit, sê my pa ewe kalm vir hom hy mag maar met Carina trou as hy vir almal ’n roomys by die kafee sou gaan koop!”

Die legendariese dr Petronella van Heerden, die eerste vroulike geneesheer in Suid-Afrika, was ’n huisvriend van die Keets. Van Heerden en Keet het mekaar leer ken toe hulle medestudente in Nederland was. Sy was haar tyd ver vooruit en het konvensies uitgedaag en haar nie deur die duiwel en die diepblou see laat stuit nie. Toe sy in Harrismith geboer het, het sy gereeld in Senekal by die Keets aangedoen.

’n Brief wat Petronella van Heerden aan AD Keet geskryf het. (Foto: verskaf)

Rosa vertel hoe sy as dogtertjie die voordeur oopgemaak het toe die formidabele vrou die eerste keer aanklop: “Ek het my vrek geskrik. Sy het ’n kakiebroek en -hemp gedra. Daar was ’n pyp in haar hempsak. Om haar kakiehoed was ’n luiperdvelband en sy het groot borste gehad, maar haar stem wat vra ‘Waar is AD?’ was dié van ’n vrou.” Agterna het Rosa glo vir haar ma gevra of “die oom regtig ’n tannie is”.

Ellen onthou die keer toe daar byna konsternasie op die werf was nadat Petronella haar geduld met Rina oor ’n rit Bloemfontein toe verloor het. Die vroue het saam van Senekal na Bloemfontein gery, elkeen in haar eie motor. “Ma was nie bekend daarvoor dat sy stadig gery het nie, maar dié dag ry sy voor en Nell agter haar. Ma wou nie jaag nie, en het die regte afstand tussen die twee motors probeer hou. Dit het ál stadiger gegaan en toe hulle uiteindelik in Bloemfontein land, was albei van hulle ewe vies vir mekaar, omdat my ma so ‘aangekruie’ het!” Die vrede tussen die vroue is ná oor-en-weer verduidelikings darem herstel.

AD Keet se graf. (Foto: verskaf)

AD Keet het die plaas Noorskloof by Jeffreysbaai besit – vir hom ’n bron van vreugde waar hy gereeld kon uitrus ná ’n jaar se harde werk as distriksgeneesheer. Ná sy dood is die plaas in erwe opgedeel, vandag bekend as Wavecrest. Ellen vertel dat daar ’n spookstorie loop oor die dokter-digter wie se teenwoordigheid nog in die oorspronklike plaashuis aangevoel kan word: “Iemand het ’n ruk in die ou plaashuis gewoon en vertel dat hy snags kon hoor hoe ‘die digter’ stadig in die gange beweeg en van sy eie gedigte ‘prewel’.

Oor dié gerug glimlag die Keet-dogters breed, soos wanneer hulle staaltjies oor hul bekende vader deel. Want hy sou ook.

 

Lees AD Keet se ATKV|LitNet-Skrywersalbum hier:

AD Keet (1888–1972)

  • 10

Kommentaar

  • Avatar
    Hannaleen van der Merwe

    Só trots om 'n Afrikaner te wees! Wonderlik om dit te lees! Ek 'print' dit uit om lekker te lees!
    Lief vir julle, al ken ek net vir Ellen (wie ek só graag sal wil ontmoet! Groete vanuit Engeland.
    (My oupa, dr. Gerrit Stefanus van der Merwe (OuGert) het saam met AD Keet in Nederland
    medies studeer.)

  • Wonderlike verhaal, vol legendariese figure en met heerlike anekdotes van die susters. Wat 'n indrukwekkende gesin en vriendekring. Die digter se broer, B.B. Keet, was een van die belangrikste en invloedrykste kerklike figure van sy tyd. Sy studente (waaronder ook my pa) het 'n groot bewondering en ontsag vir hom gehad. Hulle was geskok toe hy apartheid veroordeel het, vroeg reeds, in 'n merkwaardig geleerde toespraak voor die Instituut van Rasse-aangeleenthede (https://www.sahistory.org.za/archive/ethics-apartheid). Maar toe sy biblioteek later afgebrand het, het hulle en masse gehelp om vir hom weer 'n boekery bymekaar te maak. Petronella van Heerden was ook 'n formidabele vrou, die eerste Afrikaanse vrouedokter (toe vroue nog voor die potte moes wees), wat net so 'n unieke, sterk persoon was met menings wat haar tyd ver vooruit was. Haar outobiografieë is spesiaal. Dr. Con het ek dikwels op Stellenbosch in daardie sandale gesien. Ek wonder of hy gewone skoene gehad het. Ek kan my goed indink dat hy met die sandale in 'n bekroningsgeleentheid sou instap. Hy was net so 'n eie, unieke, non-konformerende mens, maar ook 'n knap akademikus en gewilde skrywer van kontreiverhale. En nog baie ander dinge in die artikel is net heerlik om te lees. Dankie, Melt vir 'n knap geskrewe werk.

  • Avatar
    Corlietha Swart

    Heerlik gelees - dankie, LitNet en aan sy kinders vir hul interessante staaltjies oor hul geliefde vader, A.D. Keet, gunsteling van véle. Sou nie omgee om hom in daardie plaashuisgang raak te loop en 'n klankopname vir NALN te maak terwyl hy sy gedigte voordra nie ...

  • Dankie dat jy ons weer op die paadjies van die verlede laat loop het, Melt. Mooi herinneringe sal daar áltyd wees!

  • Avatar
    Hannes Stander

    Baie interessant. Ek is bly dat AD Keet hier erkenning vir sy gedigte ontvang. "Daar is ink in die Keets se are" was die baie gepaste titel van 'n program wat op RSG enkele jare gelede uitgesaai is.

  • Avatar
    Douwleen Bredenhann

    Wat 'n heérlik-interessante artikel! Pragtige foto's. Ellen en Rosa, jul ouers was waarlik storieboekmooi. Ek kan dink hoe trots jul harte gloei om deel te kan wees van hierdie aantreklike, begaafde en boeiende familie. Julle drie dogters het meetsnoere op lieflike plekke gehad om na te streef, en kyk net hoe uitsonderlik het julle die talente verder gedra en vlerke gegee.
    Baie dankie Melt, Ellen en Rosa.

  • Avatar
    Marianne de Jong

    Ek het 'n Nederlandse vertaling van Muskietejag gevind in my ma se lesboekie uit haar tyd as laerskoolleerling in haar tuisdorp Bodegraven, provinsie Holland, in die jare 1920. Hulle moes dit leer en voordra. Ek haal daaruit aan:

    Jou vabond, wag ik zal jouw krij,
    Van jouw zal net een bloedkol blij,
    tegen mijn kamermuren.

    Ek was stomverbaas. Ken iemand die geskiedenis hiervan?

  • Marianne de Jong, dankie, ek onthou vaagweg soiets. Het hulle dit nie "Muggenjag" genoem nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top