AD Keet (1888–1972)

  • 3
adkeet300

Sêgoed van AD Keet

“As daar iets is waarna ek opsetlik strewe, dan is dit eenvoud. Soos die Ierse skrywer dit gestel het: ‘The discrete simplicity which is so hard to reach.’”

“Die grondstof waarmee die digter werk, is nie net blote woorde nie: hy het gevoel, verstand, verbeelding en veral inspirasie nodig – inspirasie of intuïsie wat vir hom sê: ‘So moet jy jou woorde rangskik en nie anders nie.’”

“Die eis aan die digter is sag maar onverbiddelik. Die beloning is dat hy wat bedeeld is met hierdie talente, soos ’n begenadigde, ’n bevoorregte voel wat ’n roeping het om te vervul.”

“As ek net een reël in Afrikaans geskryf het, wat sal voortleef, is ek tevrede.”

In 1970 oor die modern poësie: “Hulle is veels te serebraal. Hul werke sê te min en bykans niks steek vas nie en gevolglik ontbreek ontroering. Die Sestigers probeer net skok en sleep gevolglik te veel seks by hul werke in.”

“My kunssin is iets wat aan my gegee is en die digter moet dankbaar wees teenoor Iemand. Die mens wat aan geen godheid glo nie, is dwaas en kortsigtig.”

“Myns insiens is dit noodlottig as die een digter die ander kritiseer.”

“O vra my nie my liefde,/ Ek het dit weggegee/ Aan 'n kleine koringblommetjie/ En aan die grote see.” (“Ek hou van blou” uit Gedigte, Swets en Zeitlinger, 1931)

Gebore en getoë

Albertus Daniel Keet is op 14 Oktober 1888 op Alice in die Oos-Kaap gebore. Hy was die jongste seun van ds BB Keet, die eerste Nederduitse Gereformeerde predikant van Kimberley en later ook op Alice en Humansdorp, en ’n broer van BB Keet, ‘n Bybelvertaler en professor aan die Kweekskool aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het ook nog drie ander broers en drie susters gehad.

Sy moeder was ’n suster van Albertus J Herholdt, minister van landbou in die Schreiner-kabinet wat saam met Schreiner die Kaapkolonie verteenwoordig het by die historiese Kruger-Steyn-Milner-konferensie in Bloemfontein in 1899.

As jongste moes hy menigmaal aan die kortste ent trek. Hy en sy broer BB Keet het byvoorbeeld as kinders by ’n watergat gespeel, toe sy broer hom in die water stamp. Hy kon nie swem nie, het byna verdrink en moes met veel gespartel self die kant bereik.

AD Keet is vir nege maande na Muir Kollege op Uitenhage, waar hy goed bevriend geraak het met sy klasmaat, Sam Hobson, een van die Hobson-broers.

Hy het in 1905 aan die Suid-Afrikaanse Kollege in Kaapstad gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Ná matriek is hy na die Universiteit van Kaapstad, waar hy hom as ’n BA-student ingeskryf het. In 1908 het hy sy graad behaal met wysbegeerte, Engels, Latyn, Grieks, Nederlands en Duits as vakke. Sy onderrig was meestal in Engels. Hy het ’n eerste plek in honneurs filosofie by die Kaapse Universiteitseksamens behaal.

AD Keet het hierna in ’n mediese rigting begin belangstel en het besluit om Nederland toe te gaan om hom daar verder te bekwaam. In April 1909 het hy aan boord van die Duitse skip die Burgermeister na Europa vertrek. Dit was juis in daardie tyd dat die Tweede Afrikaanse Taalbeweging met digters soos Marais, Celliers, Totius en Leipoldt tot stand gekom het.

Die hele Europa was tydens AD Keet se verblyf daar in die greep van die Eerste Wêreldoorlog, en hoewel Nederland neutraal in die stryd gestaan het, was honger ly aan die orde van die dag.

In Nederland het AD Keet hom die eerste keer aan die digkuns gewaag. Hy het aanvanklik sy gedigte in Engels geskryf, maar later na Afrikaans oorgeslaan. Dit was ook hier waar sy bekende gedig “Muskiete-jag” in sy losieshuiskamer geskryf is.

Omdat sy gedigte inherent oor ’n groot mate van musikaliteit besit, is meer as 30 daarvan dan ook getoonset – party van hulle deur meer as een komponis. Talle van die gedigte wat hy geskryf het, is in Nederland en Vlaandere deur bekende komponiste daar, onder andere Emile Hullebroeck, Hendrik C van Oort en Cornelis Dopper, getoonset – ’n voorbeeld wat later deur mense soos S le Roux Marais, MC Roode en ML de Villiers gevolg is. Van sy gedigte wat etlike kere getoonset is, is “As saans”, “Kinderlied”, “Klaas Vakie”, “Maar een Suid-Afrika”, “Moeder” en “Sonnedaal”.

Ná voltooiing van sy mediese studie in 1918 het hy ’n pos as huisdokter in die Stedelike Hospitaal in Arnhem, op die grens met Duitsland, aanvaar, saam met dr BJ Havenga, broer van die oudminister. Hulle hoofdokter is aan griep oorlede en hulle twee moes toe feitlik alleen die leiding oorneem van daardie hospitaal en verskeie ander noodhospitale in Arnhem. Hy het nog by daardie hospitaal gewerk toe daar in 1919 ’n vryheidsdeputasie uit Suid-Afrika na die vredesluiting in Versailles gestuur is. Keet is toe deur dr WJ Leyds genader om as sekretaris van die afvaardiging op te tree en na ‘n groot gesukkel het hy daarin geslaag om los te kom uit die kontrak met die hospitaal.

Die dag waarop die afvaardiging in Rotterdam sou aankom, was AD Keet, vergesel van prof Bodenstein en nog sowat 20 ander Afrikaners, daar om hulle te verwelkom. Daar moes die verwelkomingskomitee ontdek dat adv EG Jansen en Daantjie Wolmarans aan boord was en dat hulle nagelaat het om te laat weet dat hulle reeds ’n sekretaris aangestel het. “En daar sit ek toe sonder ‘job’,” vertel Keet aan Anina Roux in Hoofstad van 25 Maart 1971.

In 1919 is Keet getroud met Nell van der Poll. Hy en Nell, wat ook ’n mediese dokter was, het drie kinders gehad: ’n seun en twee dogters. Die oudste seun is ’n dokter, die oudste dogter is ’n kinderspesialis (met ’n dokter getroud), terwyl die tweede dogter ’n sielkundige is en ook met ’n sielkundige getroud is.

Tydens sy verblyf in Nederland het hy ook so ’n ietsie van die joernalistiek ervaar. “Ek het ’n bietjie baie nodige sakgeld daarmee verdien deur aan die grootste koerante, soos Dietsche StemmenDe Toorts en De Nieuwe Rotterdamsche Courant, in Nederland bydraes te stuur oor Suid-Afrikaanse politiek en kulturele sake” – aan Anina Roux. Hy was tot in 1926 die Suid-Afrikaanse korrespondent van De Nieuwe Rotterdamsche Courant. Hy moes elke tweede week ’n lang brief aan die koerant skryf. Omdat hy later te besig was, kon hy nie daarmee aangaan nie.

Uit sy briewe wat opgeneem is in AD Keet aan die woord: ’n skakel met die Lae Lande, blyk dit duidelik hoe goed Suid-Afrikaners se kontak met Vlaminge en Nederlanders was. Op ’n kongres van die Algemeen Nederlandse Studenteverbond moes Keet namens die Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners praat en ná die toespraak het die Vlaamse studente opgestaan om glasies met hom te klink. Hy skryf in 1914 ’n brief aan Die Brandwag: “Ik hoor nog die refrein van meer dan één studenteliedjie. Als ik so die pragtige Vlaamse liedere hoor, als ik hulle toneelspelers sien, als ik mij midde in hul beskawing vind, dan voel ik als Groot-Nederlander trots, maar als Afrikaner ook ’n beetjie jaloers, moet ik erken. Wanneer bring ons dit nog ééndag so ver? Maar ons is nog maar jong …”

In Nederland het Keet ook aktief aan sport deelgeneem en voetbal en krieket gespeel. Dit was op die sportveld dat hy kennis gemaak het met die Nederlandse Tagtigerdigter Herman Gorter, wat self ’n geesdriftige krieketspeler was. Voorts het hy hom lewendig vir die saak van Afrikaans in Nederland beywer en met die bekende Vlaminge Modest Lauwerijs, Emil Hullebroeck en René de Clerq bevriend geraak. Op aanmoediging van Keet het Lauwerijs Afrikaans aangeleer en Suid-Afrika twee maal (1920 en 1933) besoek.

Gedurende sy verblyf in Nederland het Keet ook rugby gespeel en hy het vertel van die eerste drie in Amsterdam. “Dit was toe twee Suid-Afrikaanse studentespanne in ’n vertoonwedstryd in Amsterdam teen mekaar gespeel het. Die veld was ’n modderbad en dit het maar swaar gegaan. Totdat die Springbok Stevie Joubert ’n gaping slaan en gly-gly deurglip en die bal aan my gee. En die eerste drie word op Hollandse bodem geplant” (aan Roux).

Met die Keet-egpaar se terugkeer na Suid-Afrika is hulle na Humansdorp. Daar het twee telegramme op hulle gewag waarin die Nasionale Pers aan Keet die redakteurskap van Die Volksblad aangebied het. Dit was toe Die Volksblad twee keer per week verskyn het, maar Keet is die versekering gegee dat dit spoedig ’n dagblad sou word. Salaris: R120 per maand. “Ek het aangebied (dit was in Desember 1919) om hulle te help net tot die algemene verkiesing in Maart 1920, maar hulle het toe iemand anders gekry. Nou ja, ná langdurige mediese studie en baie skuld, het ek nie kans gesien vir die ‘job’ nie.”

Hy het ’n mediese praktyk op Senekal in die Vrystaat gekoop, waar hy vanaf 1920 onafgebroke as dokter gepraktiseer het en ook vir ’n geruime tyd distriksgeneesheer was. Hy het in 1969 afgetree.

AD Keet se vader was predikant op Humansdorp en die familie Keet het elke jaar saam op die naburige Jeffreysbaai vakansie gehou. Terwyl AD Keet een jaar daar was, het hy van ’n plaas naby hierdie kusdorp te hore gekom en hy het dit in 1926 gekoop. Kort nadat hy dit gekoop het, het hy besef dat die skulpgruis op dele van die plaas van ’n besonder hoë gehalte was. Hy het sy sakebelange mettertyd in daardie rigting uitgebrei en selfs koöperasies het later baie sakke van die skulpgruis, wat veral vir voël- en hoenderboerdery gebruik is, bestel.

Hy het sowat 20 jaar van die skulpgruis verkoop, maar in die laat 1960’s, toe sake begin skaars word het, het hy dié bron van inkomste laat vaar kort voordat hy die plaas in 1970 vir meer as ’n miljoen rand verkoop het. Hierdie plaas is later ontwikkel tot die woonbuurt Wavecrest in Jeffreysbaai.

AD Keet se eerste digbundel, Gedigte, het in 1920 verskyn en het ses herdrukke beleef. Byna al die gedigte wat in die bundel opgeneem is, het toe reeds in tydskrifte soos die ou BrandwagOns Moedertaal en Die Huisgenoot verskyn. Dit het natuurlik sonder vergoeding geskied; soos hy gesê het: “Dit was net vir die begeerte en drang om iets by te dra tot die opbou van ons volk se leesstof.”

Een van Keet se bekendste gedigte, wat feitlik elke Afrikaanssprekende kind van die 20ste eeu geken het, is “Muskiete-jag”. Hy het dit in Nederland geskryf toe ’n yslike muskiet hom so kwaad gemaak het dat hy hom gejaag het totdat hy hom teen die muur vermorsel het. Die reëls van die gedig het hom skielik te binne geval en hy het dadelik na ’n flentertjie papier gegryp – hy was geneig om sy gedigte op stukkies papier, sigaretdosies of koerantpapier neer te skryf – en die reëls neergeskryf.

Die “held” in die gedig is ene Van der Merwe. “Die naam is net gekies omdat ek eerste daaraan gedink het, en dit goed in die rym gepas het.”

Die langste gedig wat hy geskryf het, is “Twee boodskappers”. WJ Leyds het hom gevra om die gedig te skryf na aanleiding van ’n foto van ’n groep Boeremeisies, onder wie die dogter van genl De la Rey, wat met ’n Vierkleur dans nadat hulle die verkeerde boodskap gekry het dat die Boere die oorlog gewen het. AD Keet het lank met die foto in Amsterdam rondgeloop. Een oggend in die trem op pad na die universiteit het hy skielik aan ’n gedig gedink. En dadelik het hy langs die rand van die koerant wat hy by hom gehad het, die reëls neergeskryf. Hierdie gedig is ook later in Gedigte van AD Keet opgeneem. 

Keet kan beskou word as die baanbreker van die Afrikaanse minnepoësie. Hy was die eerste Afrikaanse digter wat sy liefde so sober en tog ook so teer kon vertolk. Een van sy mooiste liefdesgedigte is, volgens Anina Roux, “Ek hou van blou”, waarin die fynheid van klank en siening opval.

In Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur, Band 2 het JC Kannemeyer die volgende oor Keet se Gedigte geskryf: “Die bundel word tematies verdeel in vier rubrieke, wat agtereenvolgens natuurverse, gedigte oor die ‘lewe’, liefdesverse en vaderlandse poësie bevat. In die vaderlandse gedigte sit hy die tradisie van Celliers voort en met ’n kragtige vers soos ‘Maar een Suid-Afrika’ voer hy in die Afrikaanse poësie die ‘gee my’-kultus in, wat later deur Leipoldt en ID du Plessis verder voortgesit is. Oor die algemeen is sy liefdesverse sangerig, heel dikwels met ’n afwisseling van die kort en lang reël. Terwyl sy natuurgedigte konkrete beelding mis en soms deur die katalogisering en die ‘waar’-konstruksie in die sinsbou aan Leipoldt herinner.

“Met verse soos ‘Amsterdam’, ’n geestige gedig soos ‘Muskiete-jag’ en die talle toonsettings van sy tekste deur Vlaamse komponiste soos Hullebroeck het hy ook in Nederland en België ’n bekendheid en gewildheid verwerf wat buite alle verhouding tot die intrinsieke waarde van sy poësie is. In die meeste gedigte hinder die retoriese beeldspraak en swak woordkeuse, en op die lange duur word die triviale boustof en die beperktheid van die wêreld en emosies ’n belangrike beswaar teen die bundel. Sy beste werk lewer hy met enkele fyn verwoorde waarnemings, wat ’n voorspel is op die vroeë Dertig, ’n paar eenvoudige liefdesverse (‘Ek hou van blou’) en enkele gedigte waarin daar sprake van verset is (‘Weemoed’).”

In Die Huisgenoot (Augustus 1920) het L van Niekerk geskryf dat die treffendste kenmerk van Gedigte van AD Keet die eenvoud en klaarheid daarvan is. "Dit is eienskappe wat nou nie juis op hulleself die hoogste artistisiteit waarborg nie, maar wat tog altyd ’n onderdeel vorm van alle ware kuns. Keet is ’n gevoelige persoonlikheid wat sy aandoeninge in soetvloeiende verse uit.

AD Keet was ook bekend as iemand wat baie lief vir kinders was en hulle baie goed verstaan het. Hierdie insig wat hy in kinders se wêreld gehad het, blyk duidelik uit sy bundel Verspotte gediggies vir verspotte kinders wat in 1931 verskyn het en aan die kinders van Kroonstad opgedra is. In die voorwoord het hy die "verspotte uitgelatenheid" wat so baie maal ’n kenmerk is van kinders se lewens gehuldig.Hoe goed hy kinders verstaan het, het veral geblyk uit die gediggie “Kindertaal”, wat ’n kind se begrip van gister, vandag en môre weergee: “Môre het ek daar gewees/ Gister sal ek gaan –/ En die mooiste is dat jy wat lees/ Hierdie taal verstaan!”

AD Keet was ook iemand wat baie diep emosies geopenbaar het en nêrens anders kom dit duideliker na vore as in die gedigte wat hy geskryf het ná sy vrou Nell se dood aan kanker op 32-jarige leeftyd op 16 Oktober 1932 nie.Die liefde en verering wat hy vir haar gehad het, het duidelik uit die gedigte geblyk. Om haar nagedagtenis te laat voortleef, het hy met die finansiële hulp van familie en vriende 300 eksemplare van ’n bundel, In memoriam, dr Nell C Keet, laat druk. Dit was die enigste oplaag hiervan wat ooit gedruk is.

In sy liefdesgedigte was Nell die figuur wat sentraal gestaan het en dít wat hy vir haar gevoel het, kan met een woord uitgedruk word: aanbidding. Die verse in die gedenkbundel spreek duidelik van sy diepe weemoed en hartseer na haar dood.

AD Keet is later* weer getroud, met Catharina (Rina) van der Merwe, ’n suster van die bekende historikus van Stellenbosch, PJ van der Merwe. Drie dogters is uit die huwelik gebore: Rosa, ook ’n bekende digter, Ellen, ’n limeriek-skrywer, en Carina.

Keet het baie in die beeldende kunste belanggestel en onder meer werke besit van Anton van Wouw (die bekende beelde Slegte Nuus), Hugo Naudé, JH Pierneef, Erich Mayer, Sydney Carter, Stefan Apenberger en Tinus de Jongh. Hy was ’n aktiewe lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en het teen die einde van sy lewe erelidmaatskap van die Akademie ontvang. Hy het ook erelidmaatskap van die Afrikaanse Skrywerskring ontvang.

In briewe het die jong Keet geskryf dat hy die Nederlandse Tagtiger-digters soos Perk, Kloos en Gorter “verslind” het: “Almal se werke was vir my soos ’n frisse seelug na die deftige akademiese bedompigheid van Kaapstad. (…) En toe kom die wonderwerk – die geboorte van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging, ons eie, mooi sêgoed. Wat ’n onverwagte openbaring van skoonheid. Wat ’n verbluffende originaliteit – Marais, Celliers, Totius en Malherbe nog enigsins herinnerend aan hulle Europese leermeesters, maar Leipoldt ‘met albei pote’ op Suid-Afrikaanse bodem.”

AD Keet kon vlot Nederlands, Afrikaans en Engels praat en heel moontlik ook Duits. Hy was baie geïnteresseerd in geloof, asook in die wetenskap. In 1969 het hy in ’n brief aan C de Jong oor sy eie digkuns geskryf: “Ek besef maar alte goed dat ek nie een van die grootste Afrikaanse digters is nie!” Desnieteenstaande was sy gedigte baie gewild en volgens alle aanduidings het dit baie mense geraak.

Keet, se oudste seun, AD Keet jr, gee in 2004 ’n boek uit getiteld AD Keet aan die woord: ’n skakel met die Lae Lande. Ena Jansen (Die Burger, 16 Desember 2004) skryf dat dit duidelik blyk uit die boek dat AD Keet die tien gelukkigste jare van sy lewe in Amsterdam deurgebring het toe hy tussen 1909 en 1919 daar gestudeer het. "Hy was ’n sentrale figuur in die invloedryke Suid-Afrikaanse Studentevereniging in Amsterdam. Daar is talle verwysings uit dié tyd na vriende soos Petronella van Heerden, Frans Karel te Water Naudé, Theo Wassenaar en Ben Havenga."

Keet se digkuns was baie kenmerkend van die digters van die Twintigergeslag, veral die stemmingskarakter van sy gedigte. Sy liefdesgedigte was ’n nuwe klank in die Afrikaanse digkuns van daardie jare, hoewel sy verse nie so openhartig was soos die digters van die dertigerjare se poësie nie. Nog ’n vernuwing in sy verse is die ligte rebelsheid wat veral in sy bekende gedig "Weemoed" aangetref word, al het hy dit in die slot gestel dat hy berus in God se wil. Hy kan gesien word as ’n voorloper van die Dertigers, veral in sy bewustheid van sy digterskap. Hy het ook natuurgedigte geskryf en die beteres op hierdie gebied was dié gedigte wat op mense betrekking gehad het. Sy patriotiese verse bevat ’n optimisme wat hom van die Driemanskap en Eugène Marais onderskei.

Op Saterdagaand 12 Februarie 1972 is AD Keet in sy huis op Senekal oorlede. Hy het die vorige week ’n hartaanval gekry en daarna in ’n koma verkeer. Sy gesondheid het tien jaar vantevore agteruit begin gaan en sy vrou van 32 jaar, Rina, het hom versorg.

Huldeblyke

  • PJ Nienaber: "Hy was ’n beminlike en minsame mens wat geen kwaad in iemand anders gesien het nie. Hy was altyd ’n heer teenoor sy medemens, teenoor sy meerdere, teenoor sy mindere en liefdevol teenoor vrou en kinders. Daar was altyd ’n glimlag in sy oë, want hy het ’n fyn humorsin gehad en ’n onuitputlike bron van geestighede en grappies. Keet was nie ’n digter met ’n gekompliseerde gemoedslewe nie, en hy het ook nie gestrewe na grootse kuns nie. Krag, sterkte, sterk momente sal ons nie in sy poësie vind nie, maar heel dikwels bevalligheid, bekoorlikheid en ’n hoë mate van sangerigheid. Hy het ook sterk vaderlandse gedigte geskryf." (Volksblad, 14 Februarie 1972)
  • Gerhard Beukes: "AD Keet was ’n egte en opregte mens. So was sy gedigte ook – sonder pretensie." (Volksblad, 14 Februarie 1972)

Publikasies:

Publikasie

Jan Celliers als digter en denker

Publikasiedatum

1917

ISBN

(hb)

Uitgewer

Utrecht (Nederland): Uitgeverij Dietsche Stemmen

Literêre vorm

Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Gedigte van AD Keet

Publikasiedatum

  • 1920
  • 1922
  • 1925
  • 1926
  • 1932

ISBN

(hb)

Uitgewer

Amsterdam: Swets & Zeitlinger

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Verspotte gediggies vir verspotte kinders

Publikasiedatum

  • 1931
  • 1935

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Bloemfontein: Nasionale Pers
  • Pretoria: Nasionale Pers

Literêre vorm

Kinderversies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Boeke oor AD Keet:

Artikels oor en deur AD Keet beskikbaar op die internet:

* In die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek word vermeld dat AD Keet in 1939 die tweede keer getroud is met Dorothea Johanna Dreyer, en dat Catharina van der Merwe sy derde vrou was. Dit is egter al bron waar dit genoem is.

Bronne:

  • Kannemeyer, JC. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Band 2. Pretoria: Academica.
  • Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek. Deel V. Pretoria: RGN, 1987
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 3

Kommentaar

  • Hoe lekker om so bietjie my kinderdae te herleef tydens die Corona “lockdown”. Nav ’n vervlakste muskiet wat my pla terwyl ek probeer leer, onthou ek toe die gedag “Muskietejag” en kom toe op hierdie bietjie geskiedenis af. Lank lewe Afrikaans!:-)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top