Actress-resensie: Niemand het genoeg hande om al die balle in die lug te hou nie

  • 0

 

As jy al ooit gevoel het dat die lewe ’n wipplankrit is tussen verskillende rolle – vrou, ma, dogter en beroepsvrou – is die musiekdramakomedie Actress presies die medisyne wat jy nodig het.

Ná groot sukses en verskeie gesogte toekennings in Gauteng het hierdie produksie uiteindelik sy Wes-Kaapse première by The Drama Factory in die Strand.

Die verhoog is kaal, afgesien van ’n ry veelkleurige reghoekige en vierkantige houers wat amper herinner aan die wolkekrabbers van ’n stad. Deur die loop van die vertoning word die houers rondgeskuif en dien dit as tafels, stoele, bankies, ’n worsrolletjiestalletjie, lessenaar en koffietafel.

Actress vertel die deernisvolle, dog skreeusnaakse storie van ’n vrou wat probeer sin maak van die verwagtinge wat die lewe (en sy self) aan haar stel.

.......
Actress vertel die deernisvolle, dog skreeusnaakse storie van ’n vrou wat probeer sin maak van die verwagtinge wat die lewe (en sy self) aan haar stel.
..........

Dis ’n reis deur die chaos van oudisies, die spanning van sukses, en die uitputting van alledaagse verantwoordelikhede. ’n Aktrise gaan soek haar heil in New York, maar na talle vergeefse oudisies, en geen kameraderie met ander akteurs, sangers en dansers nie, besef sy dat sy wil huis toe gaan.

Haar aanvanklike opgewondenheid en bereidwilligheid om hard te werk verslaan later. “Jy is voortdurend omring deur mense, maar daar is geen sin van gemeenskap nie,” is haar gewaarwording toe sy ’n worsrolletjie by ’n Egiptiese straatverkoper present kry. Twee Afrikane wat ingesluk is deur die anonimiteit van die Groot Appel, is vir ’n paar kosbare oomblikke in ’n noue verbintenis.

Die tema van “aanpas by nuwe verwagtinge” is iets waarmee enige gehoorlid sal kan identifiseer.

Terug in die land van sonskyn en braaivleis lyk dit of dinge uiteindelik weer hulle plek vind vir dié aktrise, maar die lewe het ander planne.

Talia Kodesh skitter nie net in die hoofrol nie, maar is ook die medeskrywer. Kodesh, bekend vir Beauty and the Beast (waarvoor sy ’n Naledi-nominasie ontvang het), We will rock you en RENT) herinner ons so tussen verskillende scenario’s deur waarom sy die Naledi-toekenning vir beste aktrise in ’n musiekblyspel gewen het. Actress het ook die Broadway World South Africa Award vir beste nuwe musiekblyspel ingepalm.

Die bekroonde skrywer en musikant Bruce Dennill het agt oorspronklike liedjies gekomponeer wat wissel van intieme, amper fluisteroomblikke, tot kragtige volbors liedjies. Hy speel gereeld saam met die Johannesburgse bands Forrest and Phringe, Memo en The Van Dyke Parks Board, en is ook ’n solokunstenaar. Sy musiek is ook dikwels klankbane van televisiereekse soos Isidingo, Going nowhere slowly en Sober companion.

Mens kan nie die sukses van hierdie musiekblyspel noem sonder om spesiale vermelding te maak van Stephen van Niekerk wat die rol van “Random Props Guy” (die woorde op sy swart T-hemp) speel nie. Sy uitdrukkinglose gesig met komiese bewegings vorm ’n integrale deel van die komediekant van ’n stuk wat eintlik diep en swaar kan wees – want dis die lewe, of hoe?

Die woorde “Ek weet hierdie is die werklikheid, want dis nie perfek nie” is ’n mantra van vele.

In een toneel staan Random Props Guy agter ’n plastiekbak met tennisballe. Hy gooi aanhoudend balle na die aktrise. Sy vang soveel moontlik, maar vra later mooi: “Stop asseblief, ek kan nie byhou nie.”

Wat Actress sulke lekker kykstof maak, is die kombinasie van rou eerlikheid en lekker vermaak. Die vrou in die stoel voor my het só goed met die karakter geïdentifiseer dat sy sommer teruggepraat en selfs haar wynglas in ’n heildronk gelig het – en agterna om verskoning gevra het aan medeteatergangers om haar omdat sy so meegevoer is.

Dit is verkwikkend om ’n produksie te sien wat die humor in die chaos van die moderne lewe vind terwyl dit steeds diep emosioneel tref.

Actress is meer as net ’n vertoning; dit is ’n viering van die menslike gees en die kuns van “balle in die lug hou” en soms laat val, maar ook van selfvergifnis en nuwe perspektiewe. Of jy nou daar is vir die mooi musiek, die skerp teks, of bloot om te weet jy is nie alleen in jou daaglikse stryd nie, is hierdie ’n produksie wat jou lank gaan bybly.

My 80-jarige buurvrou se fluisterwoorde toe ons uit die teater in die foyer instap: “Dis maar ons almal se storie” verras my. Die toneelstuk het haar net so diep geraak as vir my. Hoewel nie een van ons twee aktrises is nie, verstaan ons daardie metafoor van die tennisballe wat net aanhou kom en waarvoor jy net nie genoeg hande het nie. En hoewel dit fokus op vrou, ma, dogter en beroepsvrou, is dit eweneens ook net so geldig vir mans, pa’s, seuns en voltydse broodwinners.

“Ons kan almal vereenselwig met die uitdaging, chaos, drama en komedie wat die balansering van verskeie rolle kan meebring, veral wanneer dinge nie verloop soos ons verwag nie,” sê Sue Diepeveen, stigter van The Drama Factory, terwyl ons oor ’n glas vonkelwyn oor die produksie gesels.

Ek skaar my by die woorde op thesomethingguy.co.za: “It's a production that lingers in your thoughts long after the final curtain falls.

Actress

Met: Talia Kodesh en Stephen van Niekerk (“Random Props Guy”)
Deur: Talia Kodesh en Bruce Dennill
Regie: Daniel Geddes
Stel- en kostuumontwerp: Sarah Roberts
Beligting: Denis Hutchinson
Musiek: Bruce Dennill

The Drama Factory, Strand. Vertonings op 9, 10, 11 April om 19:30, 11 en 12 April om 15:00 en 12 April om 18:00

Kaartjies kos R220/R190 en kan bespreek word by www.thedramafactory.co.za/whatson#8April26

Wyn en peuselgoed by die deur te koop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top