
Barry van der Linde bied aan …
Regisseur en vervaardiger: Frans Swart
Met Ben Kruger
kykNet Hoërskoolsaal, ABSA KKNK, Oudtshoorn
Woensdag 3 April 2013, 20:30 | Donderdag 4 April 2013, 20:00
Vrydag 5 April 2013, 20:30 | Saterdag 6 April 2012, 20:30
Besprekings: Computicket by 0861 915 8000 of www.computicket.com
Groepe van meer as 10 en gasvryheidspakkette: Skakel 011 815 3000 of e-pos admin@lefra.com.
Een van die vertonings by vanjaar se KKNK waaroor daar groot verwagtinge is, is die Lefra Produksies-komedie Barry van der Linde bied aan … Die stuk, wat speel van 3 tot 6 April, is geskryf deur Jaco Botha, met Ben Kruger in die titelrol en Frans Swart wat die regie behartig.
Oor die stuk
Dit is die openingsaand van die Afrikaanse superster Duke Vermeulen se groot Comeback Toer. En die man agter hierdie sjampanje-geleentheid is die Wes-Randse promotor Barry van der Linde. Wanneer Duke egter nie opdaag nie, moet Barry speel vir tyd.
Barry van der Linde bied aan … is ‘n skreeusnaakse, eg Afrikaanse storie oor ‘n kansvatter wat homself uit die moeilikheid moet praat wanneer sy groot kans nie verwesenlik word nie, of gebeur dit dalk wel …?
Koop kaartjies
Kaartjies is beskikbaar by Computicket
Wen kaartjies
Vyf gelukkige lesers kan elk ‘n stel kaartjies vir Barry van der Linde bied aan … wen deur “Wen Litnet” gevolg deur jou naam te SMS na 35075. SMS’e kos R1,50 elk.

Eksklusief hier op LitNet is Jaco Botha nou in gesprek met Ben Kruger.
Lees ook:
Uittreksel uit stuk
Regisseur Frans Swart beantwoord ‘n paar vrae oor Barry
Meer oor die span agter Barry
Jaco: Ben, jy is bekend vir ikoniese rolle soos meneer Christo de Wet in Skooldae en Neef Gert in 7de Laan. Watter nuwe uitdagings bring Barry van der Linde vir jou as akteur?
Ben: Wel, Barry is 'n “song and dance-man” uit die ou skool, alhoewel hy nie baie goed is nie. Hy glo ook hy staan op die randjie van groot dinge, maar dan val alles uitmekaar en hy moet probeer om die gehoor gelukkig te hou terwyl hy wag vir die ster om op te daag. In die teks gebeur daar dus groot intuïsie-spronge, wat die teks redelik moeilik maak om te memoriseer. En daarmee saam moet ek nooit die Barry van die Oos-Rand lat val nie. Moeilik, maar lekker.
Jaco: As jy moet opsom in ‘n sin of twee, waaroor gaan die stuk vir jou?
Ben: Die mens se ongelooflike vermoë om homself in en uit die moeilikheid uit te lieg.
Jaco: Jy het op ‘n interessante plek jou woorde vir die stuk geleer. Vertel ons meer?
Ben: Ek was onlangs in die VSA en het die lang vlug (Jhb-Dubai-New York en terug) gebruik om aan die teks te werk en woorde te leer.
Jaco: Na watter toneel sien jy die meeste uit en waarom?
Ben: Wanneer Barry begin dans. Ek hou van dans. Ek dink mense gaan verstom wees as hulle my sien dans.
Jaco: Dink jy die stuk gaan darem ‘n paar mense laat lag?
Ben: 'n Ou wat uit Barry uitloop sonder om te lag, is nie lewendig nie. My dans alleen is genoeg om die meeste mense hulpeloos te laat.
Jaco: Voel jy die stuk bied ‘n geslaagde parodie op die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf?
Ben: Ek ken sulke mense soos Barry. (Dink Frans Swart ... Lefra: Vervaardiger van Barry Van der Linde bied aan ...) So nee, ek dink nie dis 'n parodie nie. Ek dink dis die waarheid.
*
Ben: Waar het die idee vir Barry van der Linde ontstaan?
Jaco: Brandewyn en Coke en laaaaaaanngggg gesprekke met Frank Opperman oor die geesteswelstand van die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf.
Ben: Riku Lättii (deesdae mos Victor Wolf) beweer jy bel hom twee-uur in die oggend om jou idees by hom te toets. Is dit waar en hoekom hy?
Jaco: Dit is waar. Riku is – hoe kan ek dit nou stel – my geestelike broer. Ons het al baie saam musiek gemaak en opgeneem. Hy is selfs meer otherwise as ek, wat help om dinge buite die boks te hou. Hy’t ‘n mooi hart en ontsaglik baie talent.
Ben: Ons het almal as kind een of ander ondervinding wat ons so beïndruk dat ons sekere lewenskeuses maak. Wat het met jou gebeur as kind wat jou daartoe gedryf het om 'n skrywer te word?
Jaco: Ag, ek het maar begin gediggies skryf om girls te beïndruk. Eers later het die grou oomblikke gevolg wat van my eerste boeke bevolk het. Vandag is alles meer helder.
Ben: Ken jy iemand soos Barry van der Linde?
Jaco: Beslis, daar’s baie Barry’s daar buite. Barry is die tipe ou wat jou op so ‘n mooi manier sal bedonder dat jy dit nie kan regkry om vir hom kwaad te wees nie.
Ben: Jaco, as jy ‘n wens vir die stuk het, wat sou dit wees?
Jaco: Dat dit baie mense sal laat lag. En, dalk: so een of twee, dalk drie, sal laat dink.
(Wes-Randse Promotor, Barry van der Linde op verhoog.)
BARRY: ‘n Spog geleentheid soos vanaand sou natuurlik gans en al onmoontlik gewees het sonder die volgehoue ondersteuning van prima borge soos Hantam Graan en Voer.
(Lees van papiertjie af.)
Hantam Graan en Voer is verskaffers van gehalte saad, kunsmis en omgewingsvriendelike spuitstowwe vir vandag se boer.
(Druk pamflet weer in sak.)
Kyk, toe ek die eerste keer daar by Coen Myburg se kantoor daar in Secunda ingestap het, toe kon ek sommer uit die staanspoor sien, hier is iemand wat die koring van die kaf kan skei.
Daai dag, kyk ek hom so.
(Wys.)
En ek sê vir hom, “Coen, is jy bereid om ‘n saadjie te plant vir Afrikaans?”
Man en sommer daar en dan bied hy vir my koffie aan en sê, “Barry, vertel my meer.”
En daar het ek toe my gap en ek vat daai gap en ek sê vir hom: “Coen, ek het ‘n droom … Knyp jou oë toe en stel jou net voor: Duke Vermeulen, die Sprinkelsproeierman, weer terug op die verhoog.”
En ek sien sommer dadelik ek het sy aandag en ek vat hom toe nog so bietjie verder.
“Knyp jou oë toe en visualiseer saam met my, Duke se Groot Afrikaanse Comeback Toer …” sê ek vir Coen en na ek hom in detail my volledige droom geskets het en ook vertel het presies hoekom ek die 500 kilometer tot in Secunda gery het om daardie droom eksklusief aan hom voor te lê, toe is hy amper daar. (Beat.)
Toe is sy sekretaresse ook daar met die koffie - so fraai ou blonde dingetjie – man, ek kry vanaand sommer weer so lekker jippel in die knippel gevoel as ek aan daai oomblik dink, want toe vra ek vir haar: “Maar ken ek jou dan nie van êrens af nie?” En sy skud haar kop.
“Nee man, was jy nie twee naweke gelede daar in Warmbad vir die naweek nie? Ek is seker jy en nog iemand anders was in die chalet langs myne.”
En ek sien sy kyk so half weirderig vir Coen en stap toe daar uit.
(Effe gesidetrack.)
O, oulike lyfie, daai sekretaressetjie van Coen.
Anyhow, minder as ‘n halfuur later stap ek toe daar uit met ‘n getekende borgskapskontrak in die een hand en ‘n komplimentêre hampertjie ontbytpap van
Hantam Graan en Voer in die ander.
Daar het jy dit nou, Coen het eenvoudig oë toegeknyp en ‘n saadjie geplant vir Afrikaans.
(Hy kyk in vervoering oor die gehoor.)
Mag ek vra, Coen, is jy en jou ou gesinnetjie ook hier vanaand?
(Wag.)
Nie. Ai tog. (Beat.) Ek het mos vir hom en sy ou vroutjie en die drie seuns almal kaartjies ge-organize vir vanaand se show, net om dankie te sê, maar lyk my nie hulle kon dit maak nie. Tog jammer.
(Lyk afgehaal, maar ruk homself reg.)
‘n Interessante feit om te onthou wanneer u nou volgende keer weer ‘n ou toebroodjie nuttig, is dat daar is meer as ‘n 17.4 persent kans dat daardie broodjie van Coen Myburg se saad in het. (Beat.) Weereens baie dankie in sy afwesigheid aan Coen en al die goeie mense daar by Hantam Graan en Voer vir julle vriendelike ondersteuning. In resessionêre tye soos hierdie weet ons wie ons brood gebotter hou.
Koop kaartjies: Kaartjies is beskikbaar by Computicket
Frans Swart beantwoord ‘n paar vrae oor Barry
V: Frans, Lefra kom uit ‘n tradisie van groot, gewilde produksies vir die Afrikaanse gesinsmark, produksies soos Groet die Grotman, My Vrou se Man se Vrou, Fiela se Kind ens – val Barry van der Linde bied aan … ook binne hierdie tradisie?
A: Beslis. Dit was nog altyd ons visie by Lefra om lekker vermaaklike stukke aan te bied. Nie noodwendig net altyd komedie nie. Alhoewel ons besef dat mense graag wil lag. Maar ons het nog altyd geglo dat enige vermaaklike stuk kan gehore trek. Barry van der Linde bied aan … is vrek-snaaks en ek is seker ons gehore gaan dadelik van die karakters herken. ‘n Has-been promotor en ‘n has-been platinum-prins-sanger is die twee hoofkarakters, en rondom hierdie twee karakters word lekker die spot gedryf met die Afrikaanse musiekbedryf. Beslis tong-in-die-kies!
V: Wat maak jou opgewonde oor hierdie komedie?
A: Jaco Botha het ‘n lekker komedie geskep en Ben Kruger vertolk die rol van Barry van der Linde perfek. Alles is natuurlik fiksie, alhoewel daar wel ‘n paar raakpunte is met die Afrikaanse musiekbedryf. Dis nuut en vars en is nog nooit in Afrikaans gedoen nie. Jaco Botha het dit ook uit Suid-Afrikaanse bodem geskep. So die karakters is so eg en waar. En dan kom Ben Kruger met net so ‘n aardse en lekker snaakse vertolking van Barry. Behalwe vir die lekker komiese oomblikke is daar ook heelwat patos in die stuk. Dit was vir my en Ben baie belangrik om ook die patos in die produksie te speel. Net om te wys dat die vermaaklikheidsbedryf nie altyd net glamour is nie.
V: Siende dat die stuk so bietjie die draak steek met die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf, glo jy dit gaan dalk ‘n paar vere deurmekaar skrop?
A: Nee wat, ek dink nie dis die doel van die stuk nie. Dis ‘n vermaaklike stuk wat mense gaan laat lekker lag. Ek dink ook nie dis ons werk om die vermaaklikheidsbedryf aan te vat nie. Ons kan wel kommentaar lewer, en dit doen Barry goed. Maar dit is steeds vir die kyker om sy eie opsomming te maak.
V: Indien iemand vra: “Hoekom moet ek die stuk kyk?”, wat sou jy antwoord?
A: Barry is ‘n wonderlike karakter. ‘n Mens kan nie anders as om lief te word vir hom nie. By al sy planne en skelmstreke is hy ‘n wonderlike ou en ek glo Barry van der Linde gaan volksbesit word. Elvis is immers sy “pa”!
V: Wat is julle visie vir die produksie?
A: Ons open nou by die ABSA KKNK en ons hoop om die land vol te toer. Enigiemand wat al ‘n konsert gereël het vir ‘n kerk of ‘n skool of ‘n diensorganisasie gaan raakpunte beleef met Barry van der Linde. Want om die vermaaklikheidsbedryf in Suid-Afrika aan die gang te hou, is blerrie harde werk, en al ons kunstenaars het die Barry van der Lindes nodig … of ons dit nou wil erken al dan nie. Maar as ons nie die Barry van der Lindes het wat ons kaartjies verkoop nie, gaan daar net nooit shows wees nie.
V: Is dit waar dat die karakter Barry van der Linde losweg op Frans Swart gebaseer is?
A: O gits NEEEEEEEEE!!!!! Ek hoop nie so nie. Want dan voorspel dit nie ‘n baie goeie toekoms vir Frans Swart nie. En ag ja … daar is baie raakpunte. Frans Swart was ook al baie keer hartseer as shows nie verkoop nie en jy het werklik alles probeer om dit te bemark. Maar alle promotors of impresario’s is darem ook nie skelm nie. Nou nie dat ek sê Barry van der Linde is skelm nie … dit was net ‘n kwessie dat die Platinum Prins, Duke Vermeulen, nie opgedaag het vir sy show nie. En dit na al die papierwerk reeds in plek was! Kom kyk gerus – en sien of daar ooreenkomste is tussen Barry van der Linde en Frans Swart is!
Ben Kruger vertolk die rol van Barry van der Linde. Sedert sy verskyning in 1981 as Christo de Wet in televisie se Skooldae is Ben ‘n huishoudelike naam in Suid-Afrika. Ander televisiewerk sluit onder andere sy rolle as Kobus Koen in The Game en Sakkie Bezuidenhout in Zero Tolerance in, maar dis 7de Laan se Neef Gert wat Ben weer eens bevestig het as een van Suid-Afrika se mees geliefde akteurs. Hy het ook in verskeie plaaslike en internasionale rolprente opgetree – een van sy gunstelinge is natuurlik Cry the Beloved Country, met Richard Harris en James Earl Jones. Ben se grootste oomblik in die fliekwêreld so ver was The Mandela and De Klerk story met Michael Caine en Sidney Poitier. Poitier was Mandela en Caine het FW de Klerk gespeel. Ben was James Gregory, een van Madiba se tronkbewaarders wat later een van sy goeie vriende geword het. “Dit was ‘n plesier om saam met een van die legendes van die rolprentwêreld te werk en al my tonele was teenoor Sidney Poitier,” sê Ben. Sy eerste liefde is die verhoog en sal dit altyd bly. Hy was te sien as die astrante Grotoupa in Lefra Produksies se Groet die Grotoupa deur Lizz Meiring, en het tot op hede in meer as 50 verhoogproduksies opgetree.
Jaco Botha is die skrywer van In Drie Riviere en Sweisbril (kortverhaalbundels) asook Miskruier (‘n roman), uitgegee deur Human & Rousseau. In 1997 is die MNet-beurs vir skeppende skryfwerk aan hom toegeken. As TV-skrywer het hy ook meegewerk aan reekse soos Casper Rasper Weer (kykNET), Jozi Zoo (e.tv) en die situasie-komedie Skwizas (SABC2). As TV-regisseur was hy oa in 2011 verantwoordelik vir die regie van die NatGeo Wild-reeks Big Baboon House. Jaco boer deesdae met bye en groente in Knysna en werk as kopieskrywer vir verskeie advertensie-agentskappe.
Frans Swart is beide vervaardiger en regisseur van Barry van der Linde bied aan … Hy is ook die vervaardiger van trefferproduksies soos Groet die Grotman, Groet die Grotvrou, Fiela se Kind, Liewe Heksie en My Vrou se Man se Lyk se Tas;van die laaste twee was hy ook die regisseur. Hy het tydens die jaarlikse Naledi-teatertoekennings in 2011 die uitvoerendedirekteurstoekenning ontvang vir sy bedrae tot teater in Suid-Afrika. Frans vertel: “Lefra Produksies het in 2005 ‘n omwenteling in Afrikaanse teater veroorsaak met die aanbieding van Groet die Grotman met Hannes Muller. Dis nou nege jaar en meer as 900 uitverkoopte vertonings later, en Lefra Produksies hou nou die amptelike rekord vir die toneelstuk wat die langste in Afrikaans gespeel het.” Na Groet die Grotman het Groet die Grotvrou ook met groot sukses gevolg. En daarna het Groet die Grotoupa, ook met Ben Kruger, sy verskyning gemaak. Met net soveel wonderlike sukses! “Lefra Produksies is dus heeltemal daarop ingestel om suksesvolle eenman-vertonings aan te bied, en ons glo dat Barry van der Linde bied aan … beslis ook baie suksesvol gaan wees,” sê Frans.
Bespreek jou kaartjies vir Barry van der Linde bied aan ... nou by Computicket by 0861 915 8000 of www.computicket.com. Vir groepbesprekings en gasvryheidspakkette, skakel Lefra Produksies by 011 815 3000 of stuur ’n e-pos na admin@lefra.com.


