ABSA KKNK 2015: Koeitjies en kalfies met Marion Holm

  • 0

Marion Holm (foto: Naomi Bruwer)

Marion Holm is skreeusnaaks. Maar vanjaar by die ABSA KKNK oorreed dié komediant en storieverteller haar gaste om hul spesiale stories by die ATKV-Karoo Kafee vir háár te vertel. Sy vertel vir Naomi Meyer hoekom die feesgangers moet kom luister.

Hallo Marion, met wie gaan jy vanjaar by die KKNK koeitjies en kalfies praat – en hoekom met hierdie mense spesifiek?

My gaste is (in géén volgorde nie) Lizz Meiring, Babette Viljoen, Olga Leonard, Alyzzander Fourie, De Klerk Oelofse, Albert Maritz, Chris van Niekerk, Brendon Daniels, Zanne Stapelberg, Wessel Pretorius, Jak de Priester, Magdalene Minnaar en Herman Lensing. Hulle vertel almal stories: waar stories, spookstories, hartseer stories, liegstories, snaakse stories en mooi stories. Ek het eerstens gekyk wie is almal hierdie jaar by die ABSA KKNK (mens kan nie dat mense spesiaal inry vir dit nie, want ons het nie ‘n begroting nie) en toe het ek mense gekies wie ek al gehoor het lekker kan stories vertel. Ek het ook probeer dat daar ‘n verskeidenheid mense optree, bv iemand wat ligte musiek sing, ‘n jong akteur, ‘n operasanger, ‘n ouer akteur ... Die hele punt van die program is om weer by die gehoor die liefde vir storievertel aan te wakker. Dis deel van ons menswees hier in Afrika en ons wil poog dat ouers weer stories vertel as hulle saam om ‘n tafel sit en eet. Dat dít hulle kinders se herinneringe sal wees: Pa en Ma se stories. En nie net TV-stories nie.

Die feesprogram verklap jy gaan mense oorreed om “hul spesiale stories te vertel, mooi stories, hartseerstories, spookstories, opgemaakte stories en regte-egte stories”. Maar hoe kry mens daardie spesiale stories uit iemand uitgetrek? Wat is jou geheim(e)?

Lag ek al weer. Nee, geen geheime, ek sê net dis wat ek van hulle wil hê en hulle doen dit! Miskien lyk ek so kwaai dat hulle bloot gehoorsaam is uit vrees!

By die fees gaan jy nie net luister nie, of hoe? Vertel ook gou vir ons lesers na watter optredes hulle kan kom kyk as hulle jou as aktrise in aksie wil sien?

Ek debuteer met my nuwe eenvrouvertoning by die ABSA KKNK genaamd Die Kaap is weer Holms. Ek speel 4–7 April in die kykNET-venue en die vertoning gaan basies daaroor dat mens nie moet wag dat ánder mense jou lewe moet lekker maak, jy moet dit self elke dag doen.

Besoek Marion Holm se webtuiste vir nog inligting oor haar optredes by die ABSA KKNK.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top